NUWEJAARSWENSE

Ons hier by Gelofteland wens elkeen van ons lesers 'n baie veilige, Godsbeskermde en vreugdevolle 2019 toe.

Ons boodskap aan u is dat u God se verbond nie moet vergeet in hierdie nuwe jaar nie, dan sal Hy ons nie onbeskermd laat in 'n land waar daar tans baie woelinge en misdaad is nie.

Ons vyande is besig om die Afrikaner in hierdie land te probeer vernietig en die aanslae sal in 2019 verskerp.

Onsself is nie in staat om hierteen die hoof te bied nie maar ons Skepper en Redder sal op sy eie tyd 'n wonderwerk verrig om hierdie saak te verander. Ons mag nie mismoedig word oor al hierdie onregte teen ons nie maar moet ons oë omhoog rig in fokus met Hom. As daar een ding is wat vasstaan, is dit dat die God van Israel, en ook van die Afrikanervolk, geen behae daarin het om ons te sien ly nie.

Niks wat voorheen gebeur het en ook vorentoe sal gebeur is sonder ons Vader se wete nie; Hy bly in beheer maar Hy laat sekere dinge toe wat selfs baie pynlik vir ons is, dinge wat ons weer dwing om ons oë op Hom te vestig.  Nou is die tyd naby dat daar groot dinge in Suid-Afrika sal gebeur en kan ons nie 'n enkele treë sonder Hom stap nie.

Laat ons dan in 2019 opstaan uit hierdie strafgerig oor ons, ons verbond met Hom herbevestig en aan Hom toon dat ons bereid is om met ons hele hart 'n volk vir Hom te wees want as ons harte reg ingestel is, sal ons hele saak, insluitende ons volkskap en die herstel van ons pragtige land, reggestel word.  Moet asseblief nie dat iemand u wysmaak dat die huidige toestand in hierdie godgegewe land onomkeerbaar is nie – dit strek aan ongeloof in Hom. By God is NIKS onmoontlik nie; Hy sál ons op die regte tyd van hierdie juk verlos en ons weer as volk in ons eie land herstel.

Mag 2019 dié jaar wees waarin elke volksgenoot sy hele hart aan God oorgee, en met oortuiging, moed en volkome geloof die pad met Hom stap. Mag dit ook die jaar wees waarin ons dwarsdeur die smeltkroes aan die hand van ons hemelse Vader die bevryding aan die ander kant beleef.