DRAAI TERUG NA GOD! (1)

(Outeur wil anoniem bly)

Aanmaningsbrief aan die nageslag van die burgers van die Zuid-Afrikaansche Republiek en die nageslag van die burgers van die Republiek van die Oranje Vrijstaat. (Die Gelofte-volk)

Daar is ongekende verdeeldheid in ons land en tussen sy mense. Elkeen het ‘n eie opinie oor sake. Ons is verdeel in soveel kampe en soveel kerke...ag, selfs soveel Bybels. Ons is verdeeld oor definisies en beginsels. Ons is verdeeld oor die krisisse wat ons as volk in die gesig staar en ons is verdeeld oor die oplossings...

Daar word sinies geskerts dat die enigste keer wat die Boerevolk saamgestaan het was op die skip na Sint Helena... want, daar was nie plek om te sit nie.

C. Louis Leipoldt (1880 – 1947) sou later skrywe: “...My land is nie meer myne nie; My volk is doodgestry; My moed is nie meer heldemoed - O God, vergewe my! (uit sy gedig: “My nuwe vaderland” 1911)

Dis uiters ironies dat ons so verdeeld is terwyl ons geskiedenis van leuses op landswapens nie die gedagte aan eenheid wou laat vaar nie. Eens op ‘n tyd was die leuse vir ons land, die Zuid Afrikaansche Republiek (1857 – 1902):“eendracht maakt macht”, vir die Republiek van Vryheid (1884-1888): “Eendragt, regtvaardigheid en Liefde”. Later in Latyn vir beide die Unie van Suid-Afrika(1910-1961) en die Republiek van Suid Afrika (1961-1994) : “Ex Unitate Vires” (eenheid van krag) en na 1994 die onspelbare woorde waarvan die letters skynbaar:“!KE E: /XARRA //KE”,is (in ‘n Khoisantaal van die lXam-mense) wat na bewering “verskeie mense verenig”, beteken.

Weinig van hierdie “eendragtigheid”, “eenheid” of “verenigdheid” is sigbaar in ons geskiedenis.

Die Apostel Paulus skryf in 1 Korintiërs 1:10-13 oor verdeeldheid en daar staan:

10Ek pleit by julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging.11My broers, ek is deur Chloë se mense ingelig dat daar twiste onder julle is.12Wat ek bedoel, is dat elkeen van julle sê, “Ek is van Paulus,” of, “Ek van Appollos,” of, “Ek van Sefas,” of: “Ek van Christus”.13Is Christus verdeel? Paulus is tog nie vir julle gekruisig nie? Of is julle dan in die naam van Paulus gedoop?

Die drie:“vers dertien-vrae”, is dodelike kruisondervragingsvrae! Sien julle hoedat Paulus die gesag in die hande van die Here Jesus plaas? Hy herinner jou met sy drie vrae daaraan dat jy die Here Jesus nie moet verloën nie.[1](Ek wil jou hier halt roep! Het jy voetnoot 1 gelees? Dis uiters belangrik dat jy moet verstaan wat die Bybel se definisie van verloëning is!)

Paulus sê as’t ware met sy boodskap hierbo: as enigiets wat ek vir julle geskryf het vir julle gewig gee aan julle eie argumente, toets dan julle argument teen die beslissings van Christus[2] en sien dan of jou argument oorleef.

Die Apostel Petrus doen dieselfde wanneer hy in 2 Petrus 3:15-17 skryf: “En beskou die lankmoedigheid van ons Here as ‘n geleentheid tot verlossing, soos ook ons geliefde broer Paulus, volgens die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, soos in al sy briewe waarin hy oor hierdie sake praat. Daarin kom sekere moeilik verstaanbare dinge voor, wat onkundige en onstandvastige mense tot hulle eie ondergang verdraai – soos hulle ook met die ander geskrifte maak. Julle dan, geliefdes, aangesien julle hierdie dinge vooruit weet – wees op julle hoede om nie deur die dwaling van beginsellose mense meegesleur te word, en so julle eie standvastigheid te verloor nie.Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennisvan ons Here en Verlosser, Jesus Christus[3].

Dit is ook die Vader se opdrag! Hy sê in Maleagi 4:5-6:

Kyk, Ek gaan Elia, die profeet, vir julle stuur voordat die groot en verskriklike dag van die Here kom. Hy sal ouers met kinders versoen en kinders met ouers, sodat Ek nie hoef te kom en die land met ‘n banvloek tref nie.”–

As dit nog nie vir jou klink soos ‘n opdag van die Vader om na Jesus Christus te luister nie, kom die opdrag onomwonde in Matteus 17:5: “Terwyl hy nog praat, het ‘n helder wolk skielik ‘n skaduwee oor hulle gegooi, en kyk, ‘n stem uit die hemel sê: ‘Dit is my geliefde Seun, oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” (Ook Markus 9:7 en hier is die opdrag met ‘n uitroepteken! Verder ook Lukas 9:35)

Die antwoord op Paulus se eerste 1 Korintiërs 1 vers 13 vraag: “Is Christus verdeel?”, is beslis nee.Maar in plaas daarvan dat ons die gesuggereerde antwoord van die eerste vraag (soos dit deur vers 10 van 1 Korinthiërs 1 gesuggereer word) blindelings aanvaar, laat ons nie lui wees nie, laat ons nie ons Heiland verloën nie – wat is die Here Jesus se beslissing oor verdeeldheid?

Vervolg...

 


[1]Josua 24:27: “Josua het vir die hele volk gesê: ‘Kyk, hierdie klip sal ‘n getuie teen ons wees, want hy het al die woorde van die Here wat Hy met ons gepraat het, gehoor; en hy sal teen julle ‘n getuie wees, sodat julle nie julle God verloën nie” – hierdie woorde herinner nogal aan die woorde van die Here Jesus in Lukas 19:40 en die geestelike boodskap van Petrus in 1 Petrus 2:5; Job 31:25-28: “as ek my verbly het oor my groot rykdom, ja, omdat my hande geweldig baie bereik het; as ek na die son gekyk het hoe dit skyn, en na die maan wat met grootsheid beweeg, sodat my hart in die geheim verlei is, en my hand na my mond gebring is vir ‘n soen, sou dit ook ‘n strafbare sondeskuld wees, omdat ek God daarbo sou verloën.”; Jeremia 5:12: “Hulle het die Here verloën; hulle het gesê: ‘Nie Hy nie! ‘n Ramp sal nie oor ons kom nie; en swaard en hongersnood sal ons nie beleef nie.”; Matteus 10:33: “Maar wie My voor die mense verloën, sal Ek ook voor My Vader in die hemele verloën.” (ook Lukas 12:9); Matteus 16:24: “Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: ‘As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (ook Markus 8:34, Lukas 9:23); 2 Petrus 2:1: “Daar was egter ook vals profete onder die volk, soos daar ook onder julle vals leraars sal wees, wat vernietigende ketterye sal insmokkel, en selfs die Heer wat hulle vrygekoop het, verloën.”; Judas 1:4: “Want sekere mense oor wie die oordeel reeds lank tevore opgeteken is, het julle geledere binnegesypel, goddeloses, mense wat God se genade in losbandigheid laat ontaard, en ons enigste Vors en Here, Jesus Christus, ontken (1953: verloën);

[2]Johannes 1:1-3 en 14: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. En die Woord het vlees geworden onder ons kom woon, en ons het [Sy] heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid.” Jesaja 5:1-2: “My geliefde het ‘n wingerd gehad op ‘n vrugbare heuwel. Hy het dit bewerk, die klippe uitgehaal en edeldruiwe daar geplant. Hy het ‘n toring gebou in die middel daarvan, en ook ‘n giskuip daarin uitgekap. Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe gelewer.” Lukas 2:41-43 en46-47: “Jesus se ouers het elke jaar vir die fees van die Pasga na Jerusalem gegaan. Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle oudergewoonte vir die fees daarheen gegaan. Ná afloop van die fees het hulle teruggekeer, maar die Kind Jesus het sonder [Sy] ouers se medewete in Jerusalem agtergebly. Ná drie dae het hulle Hom op die tempelterrein gekry, waar Hy tussen die leermeesters sit en na hulle luister en hulle uitvra. Almal wat na Hom geluister het, was verstom oor [Sy] insig en [Sy] antwoorde.” Johannes 4:26: “Jesus sê vir haar: ‘Ek Is, is die Een wat met jou praat’”. Johannes 10:14: “Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie, en my eie ken My.” Hebreërs 4:12: “Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.” Efesiërs 6:17: “Dra ook die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die word van God.” Saam met Openbaring 1:12 en 16: “Ek het omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Toe ek omdraai, het ek sewe goue kandelare gesien, en in die middel van die kandelare, iemand net soos die Seun van die Mens. Hy het ‘n kleed wat tot op die voete hang, gedra, met ‘n goue band wat om [Sy] bors vasgebind was. In [Sy] regterhand het [Hy] sewe sterre gehou, uit [Sy] mond het daar ‘n skerp swaard met twee snykante gekom, en [Sy] gesig was soos die son, wat in al sy felheid skyn.” Romeine 13:12 en 14: “…trek die wapenrusting van die lig aan.. Beklee julle egter met die Here Jesus Christus.”

[3]In ooreenstemming met die opdrag in Hosea 6:6: “Want Ek verwag troue liefde, nie offers nie; kennis van God eerder as brandoffers.” Of die verwyt in Hosea 4:1 : “Luister na die woord van die Here, Israeliete, want die Here, het ‘n regsaak teen die inwoners van die land: “Omdat daar geen betroubaarheid, geen troue liefde, en geen kennis van God in die land is nie…” Hosea 4:6 “My volk kom om weens ‘n gebrek aan kennis. Omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy nie meer vir My priesterdiens doen nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou seuns vergeet.” Markus 12:24: “Jesus sê vir hulle:Is dit nie die rede waarom julle dwaal nie: omdat julle die Skrifte nie ken nie, en ook nie die krag van God nie?’” (ook Matteus 22:29); Johannes 6:45: “In die profete staan daar geskryf, ‘En hulle sal almal deur God onderrig word. ‘Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het kom na My toe.