‘n Volk met ‘n gelowige leier is baie geseënd. So 'n volk was ons tot 1966. So 'n leier se gees is te edel om die volksvyand te bevoordeel en sy liefde vir sy volk te groot om hulle leed aan te doen. So ‘n leier sterf in werklikheid nooit nie, maar bly vir altyd in die gees van sy volk voortleef.
En waar daar 'n Godlose regime aan bewind is, kan geen volk rustig en in vrede saamleef nie, sal hulle voortdurend rusie met mekaar soek, mekaar verraai, verneder en vernietig. Daar is net een grondslag waar dit verkeerd geloop het: Jesus het die wetgeleerde op sy vraag wat die "groot gebod in die wet is" só geantwoord: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en met jou hele verstand. En die tweede watgelyk hieraan staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Ons verskeurde ou volkie weet nie meer wat naasteliefde beteken nie. En as ons die tweede gebod nie eers kan onderhou nie moet ons onsself nie bluf en dink dat ons God so liefhet as wat Hy ons beveel nie. En dan wil ons nog aanspraak maak op die voorregte van 'n volk van God!