EGSKEIDING EN WEER TROU

In hierdie moderne tyd dink ons dat die Bybel se betekenis soos al die ander dinge verander het, maar dit is die een saak wat so vas soos 'n rots staan: die Bybel het vandag nog presies dieselfde betekenis as al die eeue. Met betrekking tot egskeiding sê Jesus vir sy dissipels: "Wat God saamgevoeg het mag geen mens skei nie". Ook dat die man en die vrou egbreuk pleeg wanneer hulle weer met iemand anders trou – lees Markus 10: 6 ...van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak.

7 Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef,

8 en hulle twee sal een vlees word, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees.

9 Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.

10 En in die huis het sy dissipels Hom weer oor dieselfde saak gevra.

11 En Hy sê vir hulle: Elkeen wat van sy vrou skei en ’n ander een trou, pleeg egbreuk teen haar;

12 en as ’n vrou van haar man skei en met ’n ander een trou, pleeg sy egbreuk.

Die uitsondering waar God ‘n tweede huwelik toelaat is wanneer een huweliksmaat gesterf het; iets heeltemal buite die beheer van die mens. Nog dink mense niks daarvan om te skei en te trou nie. Daar word gesê dat drie uit vier huwelike deesdae in die skeihof land.  Dit beteken driekwart van ons mense pleeg die sonde waaroor God ons in Markus 10 waarsku! Wie dínk ons ís ons om hierdie woorde van Jesus in die wind te strooi asof dit nie meer vandag op ons van toepassing is nie – wat maak óns geslagte so besonders dat óns los en vas mag trou en skei!