Die blindederm is altyd beskou as ‘n nuttelose aanhangsel aan die dikderm, vandaar die naam: appendiks. Vir eeue is geglo dat dié struktuurtjie geen doel of funksie het nie.
Die enigste kere wat die mens bewus word van die blindederm is wanneer dit erg ontsteek is tot so ‘n mate dat die blinderderm kan bars – ‘n mediese noodgeval. In so ‘n geval word gewoonlik ‘n noodoperasie uitgevoer waartydens die ontsteekte blindederm verwyder word.
Onlangse navorsing wil egter voorgee dat hierdie “nuttelose aanhangsel” tog wel ‘n doel het en ‘n bepaalde funksie verrig. Dié studies is voortvloeiend uit die bevinding dat die toestande van prikkelbare-dermsindroom asook kolorektale kanker meer gereeld voorkom by pasiënte waarvan die blindederm verwyder is.
Die blindederm dien as ‘n reservoir vir die goeie derm-flora – voordelige bakterieë wat in hul miljoene in die derm voorkom en daar ‘n geweldige belangrike rol speel. Dié bakterieë help met spysvertering en absorpsie van voedingstowwe, en die mens se immuunstelsel staan grootliks onder beheer van hierdie derm-flora. Die toestand waarin die derm-bakterieë verkeer kan bepalend wees in die ontstaan van toestande soos ulseratiewe kolitis, kolorektale kanker en selfs Parkinsonisme en lupus. Dit speel ook ‘n kardinale rol om diarree te voorkom.
Daar is bevind dat jong volwassenes wat ‘n appendisektomie ondergaan het se risiko om ‘n Salmonella-infeksie (maagkoors) te ontwikkel, meer as dubbeld soveel is as dié van pasiënte wat steeds hul blindederm het.
Dit is dus raadsaam om alles moontlik te doen wat kan verhoed dat die blindederm verwyder moet word. Infeksie in die blindederm moet betyds gediagnoseer en aggressief met antibiotika behandel word ten einde die ontsteking op te klaar en ‘n noodoperasie te vermy. Die antibiotikum moet dan opgevolg word met ‘n kursus pro-biotikum (die voordelige derm-bakterieë).
Dit is duidelik dat verdere studies oor die blindederm en sy rol in ons gesondheid gedoen moet word. Die huidige navorsing dui ook daarop dat baie meer aandag aan derm-gesondheid, en meer spesifiek die derm-flora geskenk moet word. Dit is veral van belang na die gebruik van ‘n kursus antibiotika wat altyd groot skade aanrig aan die “vriendelike” bakterieë in die dermkanaal. Die skade wat deur die antibiotikum aangerig is moet altyd herstel word deur aanvulling met ‘n pro-biotikum.