DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (27)

Dr Eschel Rhoodie (1984)

Lees reeks by Die ware inligtingskandaal

Die doel met die plasing van hierdie inligting oor die destydse Inligtingskandaal is om die leser perspektief te gee oor hoe Suid-Afrika tot by die haglike verval van 'n swart regering gekom het. Die verraad wat destyds in die kabinet van Vorster, PW Botha, Pik Botha en De Klerk plaasgevind het, nie net teenoor ons Boerevolk nie, maar ook onder en teenoor mekaar in die parlement, getuig van hul veragtelike motiewe en handeling.

KRAKE IN DIE PLAFON

Wat het verkeerd gegaan?

Hierdie vraag is baie keer aan my gestel. Deur vriende in Europa, deur my prokureurs en advokate terwyl ek in Frankryk in die gevangenis was, deur vriende en familie in Suid-Afrika tydens my verhoor, en ná die Appèlhof-uitspraak deur omtrent elkeen met wie ek in aanraking gekom het.

Waarom het die dak op John Vorster, die Departement van Inligting en die res van ons ingeval? Waarom het ons die teiken van mnr. P.W. Botha se politieke laksmanne geword?

Wie was verantwoordelik vir die lekkasie van geheime inligting aan die pers, inligting wat tot my bedanking, toe na Mulder s’n en, uiteindelik, die van dié Staatspresident self gelei het?

Terwyl ek in Frankryk was, het ek meer as genoeg inligting gehad om my ’n
idee te gee van wat gebeur het om die eerste krake in die plafon te veroorsaak. Maar terwyl ek op die uitspraak van die Appèlhof gewag het, het ek genoeg vryheid van beweging gehad, al was dit tot Pretoria en Johannesburg beperk, sodat ek vriende in die regering, in die Buro vir Staatsveiligheid, die Departement van Buitelandse Sake en Inligting, joernaliste wat vir jare aan die saak gewerk het, advokate, politici en oud-Kabinetsministers, kon kontak. ’n Hele paar het my uit hul eie kom sien. Met ander het ek self in aanraking gekom. Met sommige van hulle moes ek met die uiterste omsigtigheid te werk gaan. Hulle het my van die stukkies en brokkies voorsien waarmee ek amper die legkaart van
Die Groot Inligtingskandaal kon opvul.

Dit was egter meer as ’n jaar later, na die publikasie van Les de Villiers se boek Secret Information en Muldergate van Mervyn Rees en Chris Day dat ek bloot per toeval op die ontbrekende legkaarte afgekom het. Ek was besig om sekere inligting in laasgenoemde boek met dié van De Villiers s’n te kontroleer toe dit my skielik getref het dat wat Rees in ’n memorandum in 1978 geskryf het, en ook deur De Villiers in sy boek herhaal is, aan slegs vier of vyf persone bekend was. Van hierdie persone was dit so onwaarskynlik dat drie van hulle die inligting aan enige koerant sou verstrek, om nie eens van die opposisie pers te praat nie, dat slegs een persoon, hoogstens twee, oorgebly het.

Die oomblik toe ek hierdie betekenisvolle ontdekking gemaak het, het ek besluit om die twee boeke bladsy vir bladsy met mekaar te vergelyk. Daama het ek dit met die gepubliseerde getuienis van die Erasmus-Kommissie vergelyk, al 6 000 bladsye in soverre dit die getuienis van ’n half dosyn mense betref het. Eindelaaste het ek ’n skedule opgestel van diegene wat van sekere geheime transaksies, kodes, skuilname en besondere opmerkings en insidente geweet het. Dit was soos om onverwante brokkies inligting in ’n komper te voer en dan aan die einde, met die druk van ’n knoppie, skielik ’n hele betekenisvolle beeld op die skerm te kry.

Wat ek ontdek het, het my nie juis verbaas nie (alhoewel dit die skroeiende vlam van woede wat ek eens op ’n tyd in Frankryk ondervind het weer opnuut aangeblaas het) maar nou het my belangrikste vermoedens ’n totale oortuiging geword.

Een; die lekkasie van Gerald Barrie se hoogs geheime verslag aan Kitt Katzin van The Sunday Express, was versigtig op die hoogste politieke vlak beplan.

Twee; Gerald Barrie se besluit om skielik ’n diepgaande oudit van my Departement se ope- en geheime rekeninge te loods is op instruksies van “bo” af onderneem en nie omdat Barrie self gevoel het dat sy ondersoek geregverdig was nie. Barrie, wat veronderstel was om geheel en al onafhanklik te wees en net aan die Parlement verantwoordelik te wees, soos die Wet voorsien, het ’n politieke pion geword. Toegelaat dat hy gebruik word. Die wet oortree.

Drie; dat die Rand Daily Mail se twee bronne gedurende 1977 en 1978 gereeld Rees ontmoet het en horn van ons mees geheime doen en late ingelig het, maar sonder om dokumentêre bewyse te verskaf.

By die eerste aanslae op die Departement van Inligting, het talle mense in die wêreld aangevoel dat daar iets radikaals verkeerd was. Dit is waar dat Gerald Barrie later verklaar het dat hy in 1977 in die geheime reise van Inligting begin belangstel het omdat hy in die koerante gelees het van besoeke van amptenare van die Departement aan die buiteland wat hy nie met die Departement se ope rekening kon vereenselwig nie. Dit word ongelukkig nie deur die feite gestaaf nie. Nie minder nie as drie ouditeure van Barrie se kantoor het gereeld in die Departement gewerk en deur ’n eenvoudige proses van optel en aftrek moes hulle ontdek het dat ons miljoene meer spandeer as wat ons van die Parlement gekry het. Daarbenewens moes hulle dit al sedert 1973 geweet het. Nogtans hetBarrie nie voor 1977 stappegeneemnie,meeras vyf jaar nadat die ouditeure van die geheime fondse geweet het. Daar was baie berigte in die pers oor my reise in 1973-74. Waarom het Barrie tot 1977 gewag om navraag te doen?

Toe sekere koerante na my bloed begin dors het, het ander mense in die wêreld dit gou ontdek en aan my boodskappe ter ondersteuning gestuur. Een so ’n brief het byvoorbeeld van Aartshertog Otto van Habsburg gekom, die Oostenrykse edelman wie se voorvaders oor Oostenryk-Hongarye geheers het en wat self ’n welvarende en invloedryke sakeman in Europa geword het. In teenstelling met Pik Botha, het Von Habsburg my klaarblyk nie vir ’n parmantige amateur-amptenaartjie aangesien nie.

Ek is oortuig daarvan dat indien die Aartshertog hierdie boek lees en ek is seker hy sal, hy baie ontsteld sal wees om te verneem dat die aanval nie van buite nie, maar vanuit die magsvesting van die Nasionale Party self geloods is.

Reg van die begin af het ek nie gehuiwer om aan die ministers die gevolge van hul handeling uit te wys nie. Ek het dit gedoen toe Jimmy Kruger as Minister van Justisie die swart koerant, The World en sy redakteur verban het. [1]“Waarom verban u nie ook die S.A. Observer en sy redakteur S.E.D. Brown nie,” het ek pertinent aan Kruger gevra. “Dan kan ons ten minste aan die wêreld vertel dat die regering teen ekstremisme gekant is, hetsy deur swart of wit kwytgeraak?”

“Dit is ’n baie goeie idee”, het Kruger geantwoord, “maar dit is nou te laat. Die verbanningsbrief is alreeds aan hom bestel. Waarom het jy dit nie eerder aanbeveel nie?”

“Omdat u my nie gevra het nie en wat meer is, het u nodig gehad om dit te doen reg in die middel van ’n internasionale konferensie oor ons buitelandse beeld wat deur die Universiteit van Suid-Afrika geborg is? Kon u nie nog ’n maand gewag het nie? Of nog ’n week?”

Hierdie soort uitlatings het my nie by die ministers bemind gemaak nie en ek het regtig my eie keel afgesny, in ’n politieke sin, toe ek in Mei 1977 aan die regering oor die aktiwiteite van die Departement van Inligting in 1976 verslag gedoen het. Ek het in my verslag geskryf dat in die oë van die wêreld-pers mnr. Vorster gesien word as ’n man wat nie in staat is om verwikkelinge in Suid-Afrika te beheer nie, en ook nie in staat is, of miskien onwillig is, om die nodige veranderinge te bewerkstellig wat vereis word om rasse-konflik te voorkom.
Om alles te kroon, het ek in my oorsig van sake in 1976 geskryf dat
indien inter-groep betrekkinge in Suid-Afrika te veel te wense oorlaat, geen bedrag geld wat in die buiteland bestee word, nog enige uitbreiding van mannekrag, enige uitwerking sal hê om Suid-Afrika se saak te bevorder nie. Ek het my prognose afgesluit deur te sê dat buitelandse mening oor Suid-Afrika nie sal verander, behalwe deur groot-skaalse en verbeeldingryke stappe in Suid-Afrika en die implementering van voorgenome Regeringsbeleid om weg te beweeg van rasse-diskriminasie nie.[2]

Vorster was woedend oor hierdie verslag. Etlike van sy vertrouelinge soos Brand Fourie, Sekretaris van Buitelandse Sake, dr. Piet Rautenbach, Voorsitter van die Staatsdiens Kommissie en Louis le Grange was net so kwaad. Enige kritiek teen die Eerste Minister van die kant van ’n amptenaar, selfs indirek, was nie net ongehoord nie, maar was beskou as onbeskof, ontrou en ongetwyfeld fataal vir sy loopbaan. Dit was ’n onsinnige standpunt. Die verskil tussen my en ander amptenare, en ambassadeurs, was dat ek bereid om die dinge wat ek professioneel gevaarlik vir Suid-Afrika geag het, aan die regering te sê en dit op skrif te plaas. My kollegas het dikwels ook so gedink maar stilgebly. My gevoel was dat die amptenary moet sê wat die regering moet hoor en nie wat hulle wil hoor nie, anders staan die regering weerloos en kan hy in ’n slagyster trap wat ander opgemerk het, maar te bang was om uit le wys. Die regering hoef mos nie op sulke waarskuwings ag te slaan nie. Dit was wat Connie Mulder ’n merkwaardige politikus gemaak het. Hy het met aandag geluister na dinge wat hy nie van hou nie en dit nie teen die persoon gehou nie.

Hierdie verslag is in Mei 1977 voorgelê, maar wat niemand geweet het nie, is dat mnr. Vorster agter die skerms alreeds van ’n getroue politieke informant, advokaat Retief van Rooyen, vemeem het dat my sienswyses oor die regte beleid vir die Indiër- en Kleurling-gemeenskappe in Suid-Afrika, en oor die regte soort regeringstelsel vir Suidwes-Afrika, “progressief-liberaal” was. Omdat dit glad nie met Nasionale-denke gestrook het nie, het mnr. Vorster skynbaar toe alreeds besluit om my van my pos te onthef. My verslag van Mei 1977 was maar net die laaste strooi. Dit klink ongelooflik, maar hy het ook besluit om sy ondersteuning van Connie Mulder, in daardie tyd die nommer- een kandidaat om hom as Eerste Minister op te volg, te onttrek. As gevolg van die goeie persoonlike verhouding tussen dr. Mulder en myself, het mnr. Vorster gegis dat dr. Mulder dieselfde menings as ek toegedaan was.

Hierin was mnr. Vorster totaal verkeerd.

Connie Mulder was sy eie baas en het sy eie idees gehad. Alhoewel hy uiters pragmaties en inskiklik was en idees wat voorgelê was op meriete sou aanvaar, het hy geensins my siening van die Kleurling- en Indiër-vraagstukke gedeel nie. Vandag nog nie. Hy het egter geweet dat hy op my kon staat maak om in die openbaar die regering se standpunt na die beste van my vermoë te stel.

Gedurende 1976 het generaal van den Bergh en ek dikwels oor noodsaaklike beleidsveranderinge ten opsigte van die Kleurling en Indiërs gesels, veranderinge wat die P.W. Botha-regering, ironies genoeg, uiteindelik in 1982 begin regskaaf het om die praktyk toe te pas. Generaal van den Bergh het sy eie idees van tyd tot tyd aan getroue vriende en genote oorgedra wie hy tydens maaltye in sy persoonlike restaurant by sy kantoor onthaal het. Een van hulle was Piet Rautenbach, Voorsitter van die Staatsdiens Kommissie, maar Rautenbach het, soos Retief van Rooyen met my gemaak het, Generaal van den Bergh se idees sistematies stilweg aan Vorster verklap. Ons verbasing was groot toe mnr. Vorster aan dr. Connie Mulder gesê het dat Van den Bergh hom “in die rug gesteek het” en dat hy ’n volledige weergawe van Rautenbach gekry het.
“En jy weet dat Piet ’n vriend van Hendrik is”, het hy toegevoeg.

Die generaal se innerlike krag kan gemeet word aan die feit dat toe ek en dr. Connie Mulder dit aan hom rapporteer, hy Rautenbach daama eenvoudig geïgnoreer het. Vir letterlik ’n voile jaar het Rautenbach by generaal Van den Bergh gepleit om hom te ontvang sodat hulle, wat Rautenbach ’n “groot misverstand” genoem het, uit die weg kon ruim. Generaal Van den Bergh het hom ’n jaar lank laat wag voordat hy hom weer in sy kantoor ontvang het. Nogtans was hy baie ontsteld oor Vorster se woorde. Mnr. Vorster is nooit in die duister aangaande die generaal se denkrigtings gehou nie, dus kon ons maar net aflei dat Rautenbach se weergawe van die generaal se standpunt nie waar kon gewees het nie.

In Februarie 1977 het ek ’n roetine-brief van die Ouditeur-Generaal se kantoor ontvang waarin hulle besonderhede van Ministeriële goedkeuring vir oorsese besoeke van amptenare van die Departement van Inligting aangevra het. Die brief het my verbaas, aangesien ek Gerald Barrie alreeds by etlike geleenthede in sy kantore in Pretoria en Kaapstad, sowel as tydens ’n ete by sy huis in Pretoria oor verskeie geheime projekte ingelig het, insluitende my eie besoek aan Wes-Afrika, die Midde-Ooste en Iran. Ek het ook aan hom eksemplare van politieke boeke gegee wat die Departement deur middel van sy geheime frontorganisasies in Suid-Afrika en in die buiteland gepubliseer het. Ek het dus na Kaapstad gevlieg om Gerald Barrie persoonlik te spreek. Ek het aan hom gesê dat ek kon maar wou nie die brief volledig beantwoord nie aangesien dit besonderhede oor sensitiewe kontakte met onder andere Egipte, Jordanië, Zaire en Morokko sou onthul. Hy het aan my gesê dat ek moet antwoord dat ek nie al die inligting openbaar kan maak nie maar op al die navrae in verband met die gewone fondse wat deur die Parlement aan die Departement van Inligting toegesê is, sal antwoord.

“Aangesien Inligting se geheime fondse nie deur die Parlement onder die Inligtingsbegroting toegesê is nie, hoef jy geen inligting oor enige aktiwiteite waarvoor daar uit geheime fondse betaal is te verskaf nie”, het hy bygevoeg. So het ek dit ook aan dr. Mulder en dr. D.O. Rhoodie gerapporteer. Dit was ook logies aangesien ek nie verslag kan doen aan die Gekose Komitee op Openbare Rekening van die Parlement nie omdat die komitee nie geheime fondse mag bespreek nie. Ek het hiervolgens gehandel, maar tot my verbasing het ’n ander brief op 15 Maart aangekom. Hierdie keer het die ouditeure aangedring op, inter alia, besonderhede oor al die oorsese besoeke van alle amptenare. Op 14 April het ek derhalwe aan Gerald Barrie ’n brief geskryf en aan hom gevra waaroor dit alles gaan. Geheimhouding was tog direk in die gedrang.

In teenstelling met sy vroeëre houding het Barrie in Julie maand persoonlik teruggeskryf dat ek nie agter geheimhouding van buitelandse besoeke kon skuil nie. Ek het weer eens geantwoord dat ek alleenlik inligting aangaande die ope rekening van die Departement sou verskaf, maar nie van die geheime besteding nie. Ek het hom daaraan herinner dat die Tesourie my in September 1973 per brief in kennis gestel het dat selfs hulle geen beheer oor hierdie fondse gehad het nie. Die bevindinge van die Erasmus-Kommissie in hul eerste verslag dat Gerald Barrie nie van die reg om die geheime rekeninge te oudit uitgesluit was nie, was totaal foutief en ongegrond want die Minister van Finansies het hom nooit die reg, soos bepaal in die toepaslike Wet van die Parlement, toegesê nie.
Die Tesourie se brief (B. 8/5/2 van 21 September 1973) het gelui dat:


“ingevolge die bepalings van artikels 2 en 3 van die Wet op die Spesiale Rekening vir Veiligheidsdienste, Nr. 18 van 1969, (het) die Tesourie geen seggenskap oor die aanwending van gelde uit daardie rekening nie” Presies hoe verkeerd die Erasmus-Kommissie was, kan afgelei word uit die feit dat mnr. Barrie later self erken het dat hy nie die rekening kon oudit nie. Toe die wêreld vir hom benoud begin raak het, het mnr. Vorster ook erken dat Barrie geen wetlike reg gehad het om dit te doen nie. Dit was in antwoord op ’n brief wat spesifiek die kwessie van reiskoste opgehaal het.

Die posisie was dus duidelik. Toe die geheime fondse daaropvolgend in die Spesiale Verdedigingsrekening geplaas is, het die Wet op Spesiale Verdedigingsrekening ’n identiese situasie voorgeskryf, dit wil sê die Tesourie het geen seggenskap, van watter aard ookal, oor die aanwending van die geheime fondse gehad nie. Die posisie van die Ouditeur-Generaal self was duidelik deur die rekenpligtige amptenaar van die Spesiale Verdedigingsrekening, admiraal Hugo Bierman uitgespel. In ’n brief KOMP/RO/17 van Maart 1975, het Admiraal Biermann geskryf dat dit met die Ouditeur-Generaal en die Tesourie gereël was dat die Verdedigingsmag self die “reëlmatigheid” van die geheime fondse sou vasstel. Hy het baie betekenisvol bygevoeg dat die fondse wat aan Projek Senekal vir die gebruik van die Departement van Inligting toegestaan is van Verdediging se Spesiale (Geheime) Rekening afkomstig is en dat die Ouditeur-Generaal nie eens oor die bestaan van Projek Senekal ingelig is nie.

Die enigste persoon wat wettiglik die aanwending van Projek Senekal se fondse kon goedkeur en sertifiseer, mnr. P. W. Botha, het voortgegaan om tot die bitter einde, die benodigde jaarlikse oudit-sertifikate te teken. Agterna het
mnr. Botha aangevoer dat hy op ’n vroeë stadium oor die stelsel gekla het, mondelings natuurlik, maar deur sy handtekening het hy wettige verantwoordelikheid vir al die geheime uitgawes van die Departement van Inligting aanvaar.
In terme van afdeling 2 van die Wet op die Spesiale Verdedigingsrekening van 1974, was mnr. P. W. Botha duidelik belas met die projekte waaraan sy geld bestee word. Nogtans het hy beweer dat hy nie alleen kapsie teen die stand van sake gemaak het nie, maar hy het onder eed gesweer dat hy nie geweet het waarvoor dit gebruik was nie. Op die allerminste was dit flagrante nalatigheid. Hy moes gesorg het dat hy weet.

Mnr. Botha moes formeel en saaklik geweier het om die oudit-sertifikate te
teken. Op die allerminste, om homself te beskerm, moes hy dit op rekord gestel het aan die Voorsitter van die Kabinetskomitee wat beheer oor die geheime propaganda-oorlog gehad het dat hy wel die oudit-sertifikate geteken het, maar aangesien hy geen kennis van, of deel gehad het aan die propaganda-projekte nie, hy dit as vanselfsprekend aangeneem het dat die Kabinetskomitee volle verantwoordelikheid vir die uitgawes aanvaar het. Mnr. Botha het dit natuurlik nie gedoen nie, vir die eenvoudige rede dat, om sy Kabinet-lidmaatskap te behou, hy die Eerste Minister se besluite oor die propaganda-oorlog moes aanvaar.

Mnr. P.W. Botha was baie duidelik nie die oningeligte onskuldige buitestaander wat hy later voorgegee het om te wees nie; en sy eie Departement was aktief betrokke by twee belangrike projekte van die propaganda-oorlog en sekerlik nie sonder sy medewete of goedkeuring nie.

Met inagneming van die kennis wat Gerald Barrie dus van ons projekte gehad het en die samesprekings wat ons in sy kantoor in die H.F. Verwoerd gebou in Kaapstad gevoer het, het ek derhalwe op 24 Junie 1977 geantwoord dat hy die Ministerie van Verdediging moes nader.

Die uiteinde was egter dat Barrie en twee van sy manne op ’n dag eenvoudig by die kantoor van die Departement van Inligting ingestap het vir wat hulle 'n dringende ondersoek van ons “reis- en verblyfuitgawes” genoem het.

Nog die Minister nog ek, het ooit teen die oudit beswaar gemaak op voorwaarde dat dit net die reise van amptenare dek en nie die geheime projekte self ingesluit het nie. Persverslae dat ons teen die ondersoek self beswaar gemaak het, was blote kwaadwillige versinsels. Mnr. Vorster het aan beide dr. Mulder en generaal Van den Bergh vertel dat Barrie slegs in die reiskoste uit die geheime fondse belanggestel het. Alhoewel ek dit strydig met die Wet gevind het, het ek nie omgegee nie, want ek het geglo dat ons niks gehad het om weg te steek nie. ’n Bevinding van die Erasmus-Kommissie dat ek na Barrie se oudit begin het, ’n opdrag gegee het dat dokumentasie vernietig moes word, is 'n skokkende onwaarheid. Om die waarheid te sê, dit was net so belaglik as wat dit onwaar was. Barrie het sy ondersoek in April 1977 begin en my instruksie het die vorige jaar se datumstempel gedra. Boonop het dit nie betrekking gehad op reiskoste nie, maar het spesifiek oor projekte gehandel. Maar in hulle gretigheid om my te veroordeel en hulle politieke base tevrede te stel, het die Kommissie nie eens die datum waarop die brief geskryf was gelees nie.

Afgesien van Gerald Barrie was daar nog ander termiete aan die werk.

Min het ek egter geweet dat die Hoof van my Administratiewe Afdeling, mnr. J.F. (Koos) Waldeck, agter my rug ’n aktiewe medewerker van die Ouditeur-Generaal geword het, waarskynlik met al die skinderpraatjies aangaande die spesiale afdeling van die Departement wat met die geheime operasies en die besoeke van sy amptenare aan die buiteland te doen gehad het waarop hy sy hande kon lê. Op een stadium het ’n gerug my bereik dat die Ouditeur-Generaal ’n ooreenkoms met ’n amptenaar van die Departement van Inligting aangegaan het om die rol van ’n geheime agent te speel, in ruil vir ’n belofte van vrywaring. Ek het my rekenmeester, Braam Fourie, trompop hieromtrent uitgevra, maar hy het dit ontken dat hy die betrokke amptenaar was. Daama het ek nie getwyfel oor my afleiding dat Waldeck die betrokke persoon was nie. Soos ek ’n bietjie later sal bewys, het Barrie en die politieke opposisie se openbare lofuitinge oor Waldeck enige twyfel wat ek mag gehad
het uit die weg geruim.
Dit is belangrik om na die Waldeck aangeleentheid te kyk want die Erasmus-Kommissie het hom as die enigste standvastige, verantwoordelike element in die Departement van Inligting beskryf. Die opposisie het aanhoudend ’n beroep op die Parlement gedoen om op die Waldeck-saak in te gaan. Die opposisie-pers het hom as ’n held voorgestel, ’n voorbeeld van hoe ’n ware staatsamptenaar moet optree. Gerald Barrie self het Waldeck keer op keer in die openbaar geloof en, so onlangs as 1982, het The Sunday Express geskryf oor die prys wat Waldeck vir eerlikheid en lojaliteit moes betaal.

Vervolg...