Meinhard Peters
Lees meer by OORSIG EN REPLIEK
Skryf in vir die gereelde gratis volledige uitgawes by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Groeiende konflik oor ras, rassisme en apartheid
’n Hele reeks van insidente dui op die uiters ernstige konflik wat inherent aan die gemengde rassesituasie in Suid-Afrika geraak het. Die ideaal van ’n sogenaamde nie-rassige Suid-Afrika wat deur beide die liberale Afrikanerleiers as die ANC-regime sedert 1994 voorgehou is, lyk meer onbereikbaar as ooit te vore. Wat opval is dat liberale, linkse blankes ook al meer onder die aan-klag van rassisme moet deurloop. Max du Preez het byvoorbeeld oor die radio gesê hy word daagliks van rassisme beskuldig. So pas het die Openbare Beskermer, Mkhwebane, in ’n verslag (na aanleiding van die ANC se aansoek) bevind dat Helen Zille die kode van die Kaapse provin-siale owerheid en die land se grondwet oortree het toe sy op sosiale media gesê het dat kolonialisme nie net sleg was nie. Mkhwebane beveel aan dat daar teen Zille opgetree moet word.
Na ’n hewige radiodebat op RSG op 5 Junie 2018 het die Universiteit van Noordwes vir prof Theo Venter voor stok gekry omdat hy dit durf waag het om oud-president Jacob Zuma te vergelyk met die staatshoofde sedert 1910. Volgens prof Venter kom Zuma die slegste daarvan af ten opsigte van staatsbestuur en ekonomiese beleid. Tydens die onderhoud is prof Venter op uiters beledigende wyse deur sy opponent, Carl Niehaus, uitgekryt. Niehaus is deur RSG in die debat betrek ten spyte van sy uiters bedenklike agtergrond as kommunis. Hy is selfs deur die ANC by geleentheid afgedank na ondersoek oor sy finansiële bedrywighede. Carl Niehaus is nou die voorsitter van een van die faksies van die MK-terroriste, ’n groep wat blykbaar optree in belang van Jacob Zuma. Die Universiteit van Noordwes het ’n amptelike ondersoek na prof Venter se uitsprake geloods, maar het niks oor Carl Niehaus se persoonlike aanval op Venter gesê nie.
Nog ’n betekenisvolle insident wat die media vir weke besig gehou het was die besoek van ’n afvaardiging van Afriforum aan Amerika waar hulle die situasie rondom plaasmoorde en die beoogde onteiening van grond sonder vergoeding bekend gestel het. Hulle het die media ook in die VSA te woord gestaan. Dit is dadelik as ’n doodsonde in Suid-Afrika voorgehou deur ’n verskeidenheid linkse woordvoerders, insluitend leiers van die ANC. Die reaksie is verhewig toe Kallie Kriel van Afriforum gesê het hy stem nie saam met apartheid nie, maar volgens hom was apartheid nie ’n sonde teen die mensdom nie. Blykbaar mag so iets nie gesê word nie. Die linkse politiek se reël is jy moet die VVO se uitspraak van destyds sonder voorbehoud onderskryf of anders is jy ’n rassis, selfs al ondersteun jy nie die apartheidsbeleid nie.
In ’n onlangse artikel in Beeld het prof Danie Goosen, voorsitter van die FAK, daarop gewys dat die mislukkings van die ANC-regering sedert 1994 die tema van apartheid in die gesprek hou. Dit word as politieke verskoning gebruik en daarom mag die land nie vergeet van die “misdade van apartheid nie”. Prof Goosen redeneer dat daar beide goeie en slegte aspekte aan die apartheidsbeleid toegeskryf kan word en dat daar ’n meer gebalanseerde oordeel moet kom. Daaroor is Goosen se standpunt weer deur konserwatiewe Afrikaners afgewys omdat die “slegte aspekte” waarna hy verwys het (soos instromingsbeheer deur paswette en gedwonge verskui-wings) bedoel was om die blankes se grondgebied te beskerm. Bowendien is die ANC-regering voortdurend besig om mense te verskuif wat grond onwettig beset of wat behuisingskemas probeer kaap. Die ANC word nie daaroor veroordeel nie. Die indruk word geskep dat net apartheid veroordeel moet word omdat swartes se “menswaardigheid” aangetas is.
In Europa tree owerhede tans baie sterker op teen indringing deur vreemdes uit Afrika en vanuit die Midde-Ooste, en word onwettige “migrante” al meer na hul land van herkoms teruggestuur. Baie Europese lande bedryf detensiesentrums, ’n gebruik wat nooit tydens apartheid in Suid-Afrika toegepas is nie. Selfs die ANC-regering het detensiesentrums aan die Oos-Rand, in Pretoria en elders in Gauteng ingestel; ook naby Beitbrug in die Limpopo-provinsie. Indringers wat nie die nodige dokumentasie het nie, word vir weke en maande lank aangehou — maar oor die “aantasting van menswaardigheid” in hierdie gevalle word daar algeheel in die media geswyg. Net apartheid moet beskuldig word daarvan dat dit menswaardigheid aangetas het.
Dit blyk dat blankes toenemend in Suid-Afrika geteiken word om hulle onder ‘n skuldgevoel te hou en om hulle van hul verlede te vervreem, onder andere deur die beskuldiging van rassisme. Daarom word simbole soos die RSA-vlag van 1961, en die standbeelde van presidente Paul Kruger en MT Steyn met groot vennyn veroordeel. Dit sou kwansuis herinnering aan ’n pynlike verlede lewendig hou.
Aan die voorpunt van die veldtog om die “rassistiese RSA-vlag” van 1961 verbied te kry is die Rhodes-Mandela Stigting in Johannesburg, te same met die leiers van die ANC, die EFF en die SAKP. Wanneer ’n oorwegend blanke skool dit waag om swart leerlinge weg te wys omdat daar nie meer ruimte beskikbaar is nie word dit onmiddellik as ’n geval van rassisme behandel. Intussen is wetgewing teen haatspraak ingevoer om “rassistiese uitsprake” deur die howe te laat straf. Alles pas in die patroon van ’n volgehoue sielkundige oorlog wat teen die blankes van Suid-Afrika voortgesit word.