KLIMAATS- VERANDERING EN .... GELOOF!

Dr Danie Theron

Die debat rondom klimaatsverandering is besig om belaglike afmetings aan te neem. Dit word soos ‘n wêreldwye epidemie. Ja, selfs erger as die pokke-epidemie!

Die Amerikaanse kongreslid, Alexandria Ocasio-Curtez beweer nou selfs dat die wêreld tot ‘n einde gaan kom binne 12 jaar as daar nie drasties iets aan die saak gedoen word nie!

Ek het alreeds oor hierdie onderwerp geskryf. Daardie aspekte gaan ek nie herhaal nie. Die punt is net: Daar was al baie klimaatsveranderings sedert God die hemel en aarde geskape het. En die mensdom het almal oorleef. Want die natuur het sy eie manier om sake reg te stel. Vra maar vir wetenskaplikes wat nie betaal word vir hulle bevindings nie.

Ja, dit gaan weer eens oor geld. Oor groter regering. Oor beheer. En wat beter as om ‘n wêreldwye paniek en histerie oor die saak op te bou sodat regerings kan ingryp!

Selfs die leëkop aktrises van die “Oscars” sê “iets” moet aan die saak gedoen word. Natuurlik weet hulle nie wat nie. So wat dan? Kom ons gee meer geld vir die regering want hulle sal weet wat om te doen!

En waar kom die geld vandaan? Belasting! Net in 2018 het “carbon tax” $82 biljoen gegenereer. En niemand weet waarvoor dit aangewend is nie. Ek meen, het die regering ‘n paneel aangestel om vir die son instruksies te gee om nie so warm te skyn nie? Ek glo nie. Ja, daar sal panele wees wat vergoeding moet kry. Dit laat my dink aan ons eie landjie waar almal ‘n “job” wil hê, maar niemand wil die werk doen wat die “job” van hom of haar verwag nie!

Hierdie belastings het regerings nou in staat gestel om steeds groter beheer oor sy onderdane uit te oefen. Wat ‘n wonderlike manier om meer belasting in te vorder. Dit is dan so ‘n “edele” saak! En niemand wil hê die wêreld moet oor 12 jaar vergaan nie!

Klimaatsverandering is deel van die geldmag-beheerde agenda om ons te beheer. Dit word nou ‘n nuwe geloof! Bewaar tog die wêreld asseblief. En vergeet van God ....

Mense se emosie word aangespreek deur betaalde agente. Dit het met feite niks te make nie.

Maar dit bring my by die saak wat meeste miskyk. Wie het hierdie wêreld met sy son en maan en sterre geskape? Wie hou dit in stand? Die mens? Die oerknal? Nee, God het dit geskep en sal op bestemde tyd die aarde laat vergaan. Hy laat vaar nie sy werke tot op bestemde tyd nie.

Hou dan asseblief op om die ateïs te glo wat vir u wil vertel die wêreld gaan môre vergaan. God laat dinge toe om te gebeur. Ook rampe.

Satan mag dalk die owerste van hierdie wêreld wees en deur mense soos Ocasio-Cortez werk om ons te laat wanhoop en ons te stroop van geloof – as ons geloof dan te swak is ja.

Maar die ou slang, die duiwel, Satan se lot is reeds bepaal. Hou vas aan die Woord, aan die belofte, en moet u nie laat wysmaak dat God nie volkome in beheer is nie.

Laat ons eerder troos en versterking vind in Dawid se woorde:

                Die Here sal vir my [ons]

                alles goed laat afloop

                Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie

                Moet tog nie die werke van u hande laat vaar nie

                                                                                (Psalm 138:8)