Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Eerstens is daar die gevaar van nutteloosheid; die oortuiging dat daar niks is wat een man of een vrou kan doen teen die enorme verskeidenheid van die wêreld se euwels nie – teen ellende, teen onkunde, of ongeregtigheid en geweld. Tog het baie van die wêreld se groot bewegings, van denke en aksie, voortgevloei uit die werk van 'n enkele man. 'n Jong monnik het die Protestantse Hervorming begin, 'n jong generaal het 'n ryk van Masedonië tot die grense van die aarde uitgebrei, en 'n jong vrou het die gebied van Frankryk herwin. Dit was 'n jong Italiaanse ontdekkingsreisiger wat die Nuwe Wêreld ontdek het, en die 32-jarige Thomas Jefferson wat verklaar het dat alle mense gelyk geskape is. 'Gee my 'n plek om te staan.'” ― Robert F. Kennedy
*
“Arno, wat weet jy van die sogenaamde inligtingskandaal, met Eschel Rhoodie, Connie Mulder en die ander?”
“Ai, Skeermes Hugo, kan jy nie iets met rus laat nie? Is jy verveeld, of het jy ‘n doodswens?”
“Nie enigeen van die twee nie. Of drie. Al wat ek wil weet is wat het werklik daar gebeur. Ek was nog te jonk om enigiets van die detail te kon verstaan, maar ek wonder hoe dit in die hele prentjie gesteek het.”
“Skeer, het jy vergeet wat dit jou gekos het toe jy die wapenskandale ondersoek het, hoe jy meer as een maal amper dood was? Of daarna toe jy die Smit-moorde probeer oplos, en meer onlangs met die regering se privaatleër? En moenie vergeet nie, as Maya nie simpatie met Ezra gehad het nie, sou ons nie meer hier asem gehaal het nie. Jy kan nie die hele land se probleme oplos nie en jy kan nie die verlede so oopkrap dat dit ‘n verskil gaan maak nie.”
“Hoe sê die Engelse: ‘I beg to differ’. Ja, ek weet daar word weer wapens by die polisie gesteel, of heel moontlik weer verkoop soos lankal, maar ek glo tog ‘n paar koppe het gerol oor ons ondersoek. Hier plaaslik, in elk geval. Netso met die blootlegging van die privaatleër. Ek dink dis nie onmoontlik dat die opleidingskamp by Witrivier ‘n gevolg daarvan was nie. In elk geval, ek wil dit graag glo. En die betrokkenheid van die Broederbond by al hierdie dinge…”
“Wat is jou beheptheid met die Broederbond, of soos dit nou bekendstaan, die Afrikanerbond?”
“Want oral waar ek kan krap, kom hulle naam op. Ek het oor en oor agtergekom dat hulle diepliggend agter die vernietiging van die Boerevolk is. Ek weet nie waarom of wat hulle doel agter die doel is nie en miskien sal ek meer hiervan te hore kom as ek gaan kyk na die inligtingskandaal.”
“So, jy moet nie net weet wat gebeur het nie, maar jy gaan dit aan die grootklok hang?”
“Arno, ek weet jy voel ook so. Met al die goed wat jy nou genoem het, die wapens, die skryf van RAUTEM teen die muur, die skip, die ‘Lady R’ wat in Simonstad aangedoen het, al hierdie dinge gee eintlik net ‘n oppervlakkige prentjie en ek wil weet wat is agter dit alles. En natuurlik wie en as ek weet, of hulle nog iewers aktief is en miskien wat ons daaraan kan doen.”
“En jy kan dit nie met rus laat nie, al byt dit na jou toe?”
“Arno, wees nou eerlik: jy wil net so graag weet as wat ek wil.”
Arno maak asof hy moedeloos is en sug dramaties diep.
“En nou gaan jy ons ander en veral my, daarby insleep?”
“Nie werklik nie. Al wat ek vra is dat jy my help met die navorsing. Jy het mos doktorsgrade om te bewys jy weet hoe.”
“Nou, ja. Laat ek kyk wat ek kan agterkom, maar Skeer?”
“Ja?”
“Kom ons probeer om dit hierdie keer bloedloos te laat verloop?”
“Ek skiet nooit eerste nie.”
“Nee, maar jy laat die ander ouens nie juis ‘n opsie nie.”
*
‘n Tweede dag se loop is nooit so gemaklik, ver en vinnig as die eerste een nie, vra maar enige soldaat wat “vasbyt” gestap het. Skoene of stewels het ‘n manier om op die tweede dag te begin skaaf. Klere is ongemaklik en indien jy ‘n rugsak of geweer dra, soos in die geval van Max, skaaf die band jou ook ongenadiglik.
Dit gaan nie noodwendig oor fisieke krag of uithouvermoë, fiksheid of sterk bene nie. Die hoofkomponent is psigies. Dis iets wat in jou kop gebeur. Jy moet besluit om aan te gaan, al is dit een voet voor die ander en weer en weer.
Hoe eet jy ‘n olifant? Happie vir happie. Hoe loop jy drie honderd kilometer? Een treë op ‘n keer.
Uiteraard loop Max voor, vir indien gevaar sou opduik, wat elke oomblik kan gebeur, maar hy kyk kort-kort om of Cornelle nog by hom is. Wanneer ‘n mens moeg begin word, is jy nie meer so versigtig oor waar jy jou voet neersit nie, glibberige terrein raak meer uitdagend, en val meer gereeld. Sy het al twee keer gestruikel, een maal toe sy in ‘n gat getrap het en die tweede keer oor ’n klip wat sy nie gesien het nie.
“Het jy seergekry?”
“Nee,” sê sy uitasem.
“Is jy seker? Ons kan nie bekostig dat jy jou enkel verstuit of jou knie seermaak nie.”
“Nee, ek is okay.”
Net na nege-uur, sodra hulle op die kruin van ‘n lae bult, of klein koppe, afhangende hoe ‘n mens daar na kyk, kom, sak Max op sy een knie neer en wys vir Cornelle om stil te staan en dan ook af te sak. Sonder om ‘n woord te praat, wys hy onder die hoogtetjie.
‘n Stroom mense, so ver as wat die oog kan kyk, is aan die beweeg, onder in die vlakte, kronkelend langs en tussendeur die bulte en bome. Dis amper asof dit ‘n deel uit ‘n zombie-tipe fliek kan wees, met mense wat meedoënloos, afgemete, maar stadig beweeg, een voet na die ander, sonder om ‘n woord te sê.
Max, wat vertroud is met die tradisies en gewoontes van Afrika, vind dit uiters vreemd. Weg is die uitbundige, luidrugtige lag van kinders, vroue se geterg en die manne se dieper stemme tussen-in. Hetsy dit is as gevolg van uitputting, skok, of wat ookal die rede mag wees, dis amper spookagtig; die stilte aan die lang, kronkelende slang menselywe.
Terwyl hulle kyk gaan sit ‘n ou vrou op haar boude en in plaas daarvan dat iemand haar ophelp en ondersteun, is sy soos ‘n rots in waterstroom. Die vloeiende, donker massa beweeg net langs haar verby en smelt weer saam aan die ander kant.
Cornelle sit haar mond by Max se oor en praat dan sag:
“Waarheen is hulle op pad?”
“Ek kan maar net raai dat hulle kos, water en veiligheid soek, of al drie. En natuurlik skuiling teen die koue van die nag. Kan jy sien daardie enkele bondeltjies wat langsaan die stappers lê?”
“Ja, wat is dit?”
“Dis die afgestorwenes; dooie mense. Iemand het hulle net uit die pad gesleep. Sommige is in die nag al dood weens koue en ontbering, ander net van uitputting. Miskien sal een of twee later opstaan, maar ek twyfel. Die ou en siek mense gaan eerste en daarna die jong kinders. Daarop volg die mammas met babatjies.”
“As hulle al in die nag dood is, waarom loop daar nog mense langs hulle?”
“Hierdie ry mense is amper nimmereindigend. Dis hoe dit lyk as ‘n land se inwoners probeer wegkom. En dit gaan nog vir maande so aanhou.”
Cornelle gryp onwillekeurig, van skok en ontsteltenis aan Max se arm, net waar dit net onderkant sy baadjie uitsteek, sò hard dat haar naels in sy vel inboor.
“Cornelle, jou hand is yskoud. Is jy okay?”
“Nee… ek is moeg en koud en ek is baie geskok. Ek is nie hierdie dinge gewoond nie. Ek is totaal uit my diepte. Waarom gebeur hierdie dinge?”
Max kyk om na haar. Sy is baie bleek en haar groot, bruin oë is nog groter as gewoonlik.
“Lang storie, maar in kort kan ek vir jou sê dis die gevolg van gierigheid, korrupsie, baantjies vir boeties, onbehendigheid, nepostisme, onbevoegdheid en onsimpatieke kaderontplooïng. Hierdie selfde mense hieronder - onthou hulle het vir dertig jaar vir die regering gestem, en hulle drome en menswaardigheid is nou finaal van hulle ontneem. Hulle dink nie meer aan geld, karre, huise en klere nie. Al waaraan hulle nou dink, is om te oorleef.”
“Wat maak ons nou?”
“Ons gaan nou iets eet, water drink en laaglê tot laatnag, as ons miskien ongesiens tussen hulle kan deursluip.”
*
“Nou, kom ons gestel jy is reg en ons gaan in ‘n groot stuk onlus in, waar die swartmense opgesweep sal word om hulle woede, frustrasie en haat op ons uit te haal, amper soos die Nazi’s gedoen het met die Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog, die Hutus teenoor die Tutsi’s en die Angolese burgers teensoor die Portugese in 1975, Mugabe se Vyfde Brigade teenoor die Matabeles tydens operasie Gukurahundi, hoe sal ons weet wanneer dit gaan gebeur?”
“Dit het reeds begin, in elk geval die grondwerk is gelê. Waarom dink jy Julius Malema word feitlik vrymag gegee om haatspraak te sing en te uiter, sonder dat hy daarvoor selfs deur die regering aangespreek word? Waarom het die konstitisionele hof vir Afriforum en Solidariteit afgejak, sonder om hulle betoë in aanmerking te neem? Want Malema sê wat die ANC wil sê, maar te bang is om te doen. Luister na Nota Baloyi, Andile Mngxitama en vele ander wat haat spoeg teen die witman en jy sal verstaan. Maar wanneer weet ons die wolf krap aan die deur? Wanneer die regering se geld heeltemal gedaan is, wanneer hulle eers nie die R370 kan betaal nie en later SASSA. En wanneer hulle ophou om te probeer van die buiteland bedel.”