Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Danny het die hou net betyds gesien kom en laat sak sy kop instinktief, sodat die stuk hout die helm tref en nie sy neus nie. Hy pluk aan die voorste rem, die wiel gly op die grondpaadjie en hy val saam met die fiets. ‘n Skop tref hom skrams teen die ribbes en nog een teen die linker skouer. Nie een van die aanvallers sê iets nie, maar begin om in sy rigting te skop en slaan. Die motorfiets, wat steeds gedeeltelik op hom lê, weer baie van die houe af en een van die manne ruk die fiets van hom af.
Sodra sy regterhand en arm vry kan beweeg, is die Ruger Speed Six in sy hand en die knal van die .357 Magnumrondte weergalm deur die oopte. Die man met die stuk boomtak in sy hand is ‘n oomblik verdwaas en dan vou sy bene onwillekeurig onder hom in. Die swaar projektiel uit die kort, 70mm loop, het sy maag, diafragma en ruggraat stukkend geskiet.
Dis die eerste maal dat Danny met die kragtige, maar relatief klein rewolwer skiet en hy is vir eers onbewus van die onaangename skop van die wapen teen sy regterpalm.
Die ander manne is vir ‘n sekonde stomgeskok en hulle treë elkeen onbewustelik ‘n trappie agteruit. Danny skiet so vinnig as wat sy snellervinger kan beweeg. Na die sesde skoot is drie van die manne dood en een hou sy arm vas terwyl hy hardloop.
Skielik is Danny baie kwaad. Hy haal die Rossi uit die saalskede en skiet agter die voortvlugtendes aan. Die hefboomaksie werk baie vinnig en voor hy hom kan kry is die twaalf rondes uit die buismagasyn onder die loop uitgeskiet.
Hy tel die motorfiets op, sit die geweer terug in die skede en die Speed Six terug onder sy arm, terwyl hy die langerloop rewolwer uithaal. Die fiets vat met die eerste draai van die aansitter en dan is hy agter die laaste twee aan, maar hulle hardloop tussen digter struike en bosse deur.
Na ‘n minuut sit hy die rewolwer weg, haal die geweer uit en laai die magasyn. So ook met die kleiner rewolwer. Hy kom agter sy hand en gewrig pyn. Terwyl hy sy hand ‘n paar maal skud om die bloedvloei ter herstel, vloek hy saggies.
“Die ding skop!”
*
“Het jy enigiets elektronies by jou?”
Cornelle skud haar kop in ontkenning.
“Nee. Jy het my selfoon gebreek en weggegooi, my skootekenaar lê op my lessenaar. Nee, niks.”
“Is jy seker?”
“Ja, heeltemal, hoekom?”
“Dit maak nie sin nie. Hoe het hulle geweet waar ons is?”
“Al wat ek het is die twee geheuestokkies.”
“Gee hulle.”
“Om wat mee te maak?”
“Ek gaan hulle breek en dan hier los. Dis hoe hulle ons opspoor. Jy moet kies tussen hulle en jou lewe. En myne.”
“Nee. Dit ìs my lewe. My hele volwasse lewe werk ek al hieraan. Ek gaan nie oor begin nie.”
Max sug diep.
“Nou goed. Dan maak ons ‘n plan.”
“Watse plan?”
“Kan ons die inligting daarop op ‘n ander stokkie laai? Of miskien ‘n ander rekenaar?”
“Ons kan, maar waar sal ons dit kry?”
“Ons gaan soek een.”