Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dwaalleraars is soos ʼn heuningby met heuning in die bek, maar ʼn angel aan die stert!
BROKKIES UIT DIE BOEK VRYBURGER (9)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Jan word vroeg wakker en lê vir ‘n minuut en kyk na die seil bokant hom. Dit het deur die nag gestuifreën en hy het die karos styf om hom vasgevou teen die koue van die vroegoggend. Daar is ‘n tevrede gevoel wat hom beetkry en hy kan dit vir eers nie behoorlik vasvat nie, maar besef na ‘n wyle dis oor die meisie. Oor Francesca dat hy so anders voel. En tog… hy is soveel ouer as sy en sy sal sekerlik, as hulle terug in die dorp is, iemand van haar portuur soek, iemand so oud soos sy of nie meer as vyf jaar haar senior nie.
Dis die verloop van die natuur, dat selfs die taaiste ou leeus mettertyd plek moet maak vir die jonger mannetjies en hy verwese en vernederd die aftog moet blaas – dis nou as hy die geveg oorleef. Die ou olifantbul sal nie lank standhou voor ‘n jong bul nie, al is sy tande langer en swaarder as die jongeling s’n. Dit help nie dat hy wat Jan Verwey is, nou van homself ‘n gek maak oor ‘n meisiekind wat letterlik jonger is as wat sy eie sou wees as hy op sê maar twintig of selfs vyf en twintig getrou het.
Dis maklik vir mense om te sê dit maak nie saak wat ander sê nie, maar dit doen wel. ‘n Mens is ‘n tropdier en dis belangrik wat die trop van jou dink. En natuurlik is daar die hele ding van trots. Ja, hy wat Jan is, het ‘n paar honderd pond in die bank, twee goeie waens, twee mooi span osse en natuurlik hierdie vrag wapens en proviand wat hy van die Engelse gekry het; hy is nog sterk, al is hy nie groot gebou nie. Hy is gesond en fiks, rook nie baie nie, miskien ‘n pypie in die aand en dis al. Hy gebruik nie graag sterk drank nie en hou dit in werklikheid maar net naby om vir medisyne te gebruik, anders as Sie en Sa.
Hy wonder of die bruin mense ‘n aangebore drang na sterk drank het. Hy kom uit ‘n sterk familielyn en het niks in sy verlede om oor skaam te wees nie, behalwe natuurlik Ousus en haar gewese man, Hans Koster. Hy het in werklikheid net sy selftrots en daarom kan hy sy kop hooghou as hy deur die dorp loop of as hy homself aan mense voorstel. Hy gaan nie skande oor homself bring nie, nie oor ‘n meisie nie. Hy het al die jare sonder ‘n vrou reggekom en hy het nie nou sulke dinge in sy lewe nodig nie.
En juis daarom moet hy hierdie meisie terugvat na… ja, waarheen? Sy het mos gesê sy het nie juis familie hier in die ZAR nie en heel moontlik ook nie in die Kaap of Natal nie, hoe sal hy weet.
Miskien kan hy haar ‘n vyftig of honderd pond gee, wat ‘n aardige bedrag is. Die dominees kry dan maar vier of vyf pond per jaar! Sy kan in behoorlikheid leef tot sy ‘n man van haar keuse kry. Sy hoef nie hardop te wees vir die versorging van die Hans Kosters van die lewe nie, sy kan mos dan self op ‘n man besluit.
Maar in sy geestesoog sien hy vir Francesca in die arms van ‘n ander man, wat in haar groot, blou oë gaan kyk, haar dun middeltjie in sy arms voel, en haar sagte mond soen. Hierdie gedagte is amper te veel vir hom om te bedink en hy staan summier op, druk per ongeluk met sy kop teen die seil wat effens bak hang van die nag se reënwater en dit stort oor sy onderhemp en lang onderbroek waarin hy slaap. Hy vloek binnensmonds, maar tog hard genoeg dat Francesca dit hoor.
“Wat sê jy, Jan?”
“Niks… dis sommer net ‘n bietjie mompel oor die water oor my geval het.”
“Dit was ‘n bietjie ongereformeerde taalgebruik as jy vir my vra!”
Jan sê niks, maar hy voel ‘n bietjie skaam oor sy vloekery. Hy sal moet onthou dat hier nou meer ore is as net Sie en Sa s’n. Hy dink ook nou daaraan dat die dag al aan die gang is, met die sonnetjie wat nou geel oor die grenswolkies loer.
‘n Piet-my-vrou roep angstig na sy wyfie en ‘n troppie tarentale tjirp-tjirp in die modder nie ver van die laer af nie. Jan mik instinktief om sy ou voorlaaier met hael gelaai te kry om ‘n paar vir die pot te vat, maar hy onthou dat dit in die wa by Francesca is en hy kan nie nou dit gaan haal nie.
Ja, nee, hy het nie plek vir ‘n vroumens in sy lewe nie en sal haar geld gee om vir haarself ‘n lewe te maak in Pretoria, of waar sy ookal wil gaan.
“Sie en Sa, is julle al uit die velle? Dink julle die vuur gaan homself maak en die osse hulleself inspan? Moet ek julle ‘n bietjie van Saar (die seekoeisambok) kom gee?”
“Nee, gladnie norag nie, Baasjan, die vuur is al aan die gang.”
Jan hoor nou die geknetter van die vuurtonge teen die keteltjie wat stoomblaas asof hy gelukkig is.
“Ja, almal is gelukkig, maar ek moet met my eie knorrigheid opgeskeep sit!” dink hy.
Hy neem twee bekers, maak koffie met ‘n halwe bakhand vol koffiemoer in die halfgelling keteltjie en skink vir homself en die meisie elk ‘n bekervol. Hy roer vir haar twee teelepels suiker in, maar sy eie drink hy sonder melk of suiker.
“So bitter soos die lewe en so swart soos die toekoms,” dink hy amper hardop.
“Môre, Jan,” groet ‘n vrouestem hom van skuins agter. Hy draai met ‘n bitsige antwoord op sy tong om, maar as hy haar sien, smelt sy hart. Haar hare is vars geborsel en al het sy ‘n bietjie sonrooi op haar wange, is die res van haar gesig, nek en hande ‘n suiwer, porseleinwit.
As Francesca sy donker bui sien, maak sy asof dit nie bestaan nie, vat die beker koffie by hom en blaas daaroor. Sy drink versigtig om nie haar mond of keel te verbrand nie en op die manier wat sy haar bolip tuit, is amper te veel vir Jan om te aanskou. Hy is immers mos nog befoeterd en hy gaan dit nie maklik prysgee nie. En tog…
“Jan, moet ons dadelik ry? Waarom ek vra, is dat ek graag in die poel langs die spruit wil gaan bad, wat ons laat gistermiddag gesien het.”
Sy wys met ‘n slanke voorvingertjie na hulle spore, waar dit gedraai het na die linkerkant om die spruit verby te ry.
“Dis nie ver nie en ek sal nie lank wees nie. En kan ek van die boerseep kry wat in die wakis is?”
Jan kry nie ‘n woord uit nie. Hy vertrou nie sy eie stem nie, maar knik net instemmend met sy kop.
“En, Jan?”
“Ja?”
“Ek weet ek moes eers gevra het, maar ek het so twee jaarts van die rooi rokmateriaal gevat en vir my ‘n nuwe rok gemaak. Gee jy om?”
Jan skud sy kop.
Francesca verdwyn in die wa se binnekant en kom uit met die rok wat oor haar arm gevou is. Jan wonder hoeveel aande sy by die lantern gesit het om die rok te maak. En waar het sy dit geleer? ‘n Gedagte kom by hom op – sy kan mos, as die rok mooi gekom het, ‘n lewe maak uit naaldwerk, of hoe? Dan…
Wanneer sy naby die bome duskant die poel water by die spruit is, galop Oubaas by Jan verby, asof hy hom nie raaksien nie, hardloop tot by Francesca en lek aan haar hand wat sy vir hom uitsteek.
“Oubaas Jan?”
“Wat is dit Sie?”
“Jy moenie vergeet van die hondsdol jakkalse hierrond nie. Jy onthou mos net anderdag het jy een hier naby geskiet toe ons hier van die anner kant af aangekom het?”
“Nee, ek vergeet nie, maar julle moet maar mooi kyk en luister. Hulle tjank mos anders as hulle siek is.”
“Maar nooi Franci… sy kan mos nie alleen gaan staan en loop as daar silke goeters hierrond is nie?”
“Nou wat wil jy hê ek moet doen? Saam haar loop en haar naaktheid gaan aanskou?”
“Askies Baasjan, maar miskien moet meneer net ‘n roer vat en daarnaby gaan staan sonder om te kyk.”
Na ‘n bietjie huiwering neem Jan sy ou Snider, sorg dat daar ‘n rondte in die loop is en loop stadig agter Francesca aan.
Francesca loop deur die klein, maar digte laning bome en as sy by die water is, kyk sy terug om seker te maak sy is nie sigbaar van die kamp af nie. Sy trek haar blou rok uit en oorweeg dit om met haar onderrok aan die water in te gaan, net vir ingeval daar onwelkome oë is. Maar sy wil ook die onderrok saam met die blou een was en daar is ook iets anders - ‘n gevoel van avontuur wat haar beetpak, dit maak dat sy heeltemal uittrek, en begin die poel water binneloop.
Dis baie koud en ‘n rilling gaan deur haar skraal lyf. Na ‘n paar sekondes, met albei voete in die water, leun sy skielik vorentoe en val die water binne. Dis heerlik koud en sy voel die hoendervleis op haar arms en bene uitslaan. Sy swem ‘n paar tree in, kom terug en vat die seep, rok en onderrok, wat sy deeglik teen die gladde klippe aan die kant uitwas. Sy swem terug en as sy kniediep in is, was sy haar lyf met die seep, buk vorentoe en was ook haar lang, donker hare. Dan lê sy agteroor in die water n spoel haarself skoon.
Oubaas sien aanvanklik nie kans vir die water nie en staan en blaf op die oewer, asof hy daarvoor kwaad is. Skielik verander sy blaf na ‘n meer tjankerige een en Francesca kyk op. Op die oorkantse oewer staan ‘n vermaerde jakkals. Hy lig sy lippe hoog om sy tande te wys en sy sien nou dat daar skuim om sy bek is. Francesca het nog nooit ‘n hondsdol dier gesien nie, maar instinktief weet sy wat dit is.
Die jakkals hardloop om die poel, deur die vlak spruit wat dit voed en storm op Oubaas af, wat nou kwaai begin blaf en regmaak vir die geveg. Francesca loop so vinnig sy kan deur die water, gryp vir Oubaas en pluk hom saam met haar die water binne.
Dit is so dat ‘n hondsdol dier op die oog af voorkom asof hy bang is vir water, vandaar die woord “hidrofobie”, maar dis nie omdat hulle nie naby die water wil kom nie, maar eerder omdat hulle nie kan drink nie. Daarom sal hulle dikwels by krippe of drinkplekke gekry word, omdat die drang na water steeds daar is.
Hierdie een begin om die water binne te loop, sy woede vir lewe groter as sy natuurlike afkeer vir water. Sodra hy in is, lig hy sy kop en begin nader aan Francesca en Oubaas te swem. Sy weet nie of sy na die ander kant toe moet swem met die hond in haar arms nie, of wat haar te doen staan nie. Oubaas kriewel in haar arms, soos hy homself wil los maak uit haar greep en die gedierte aan te val.
Paniek begin Francesca oorval. Sy weet eenvoudig nie wat om te doen nie. Sy voel die vlak modder van die oorkantse wal van die poel onder haar tone en staan regop. Sy skreeu op die jakkals om te voertsêk, maar hy steur hom nie daaraan nie.
Op daardie oomblik bulder ‘n swaarkaliber skoot en die jakkals se kop bars aan stukke, die water maak ‘n groot plas as die swaar koeël deur sy harsings trek en die water tref. Onmiddellik is die water rondom die dier se kop rooi en dryf hy stadig in die rigting van die afloop.
Naby die oewer staan Jan, met die steeds-rokende geweer in sy hande.
Francesca besef skielik dat sy nakend is en hou Oubaas voor haar, om soveel as moontlik te verberg, maar hy kriewel en pluk so hard as hy vir Jan sien, dat hy homself losruk en na Jan toe swem.
Vir ‘n paar sekondes kyk Jan na die jong liggaam van die vrou. Hy besef dat dit die eerste maal in sy lewe is dat hy ‘n vrou sonder klere sien en is geskeur tussen die begeerte om langer te kyk en die besef dat dit nie reg is om so te staar nie.
Francesca draai om in die water en praat met ‘n stem waarin baie onsekerheid is: