NOG 'N "ENTSTOF" SLAGOFFER

Carla van der Merwe

My lewe het onherroeplik verander. Ek kan nie loop nie, ek kan nie bestuur nie, ek kan nie werk nie, ek kan nie meer saam met my vrou gaan stap of fietsry nie. My hele lewe het verander.”

Só vertel Desmond Milligan (39). Hy sê hy het verlam geraak ná hy sy eerste Pfizer-inenting ontvang het en nou volg hy regsprosedures om die betrokke partye te dagvaar.

Milligan is getroud en het twee kinders van onderskeidelik agt en 12 jaar oud.

Milligan, wat sê hy het voor die inenting geen onderliggende gesondheidsprobleme gehad het nie en gesond was, het ná hy die inenting ontvang het, een dag wakkergeword en besef hy kan nie loop nie.

Milligan het sy eerste dosis van die inenting op 20 Julie gekry en op 23 Julie het hy migraines ontwikkel en só sleg gevoel dat hy vir ‘n dag moes verlof insit.

“Die volgende dag het ek so sleg gevoel dat ek per ambulans na die hospitaal geneem moes word.” Daar is sy toestand aan epileptiese aanvalle toegeskryf en hy is ná vyf dae in die hospitaal ontslaan.

“Ek het toe reeds ‘pins and needles’ in my bene ervaar en die hospitaal het gesê dis omdat ek ‘te lank gelê het’.”

Hy is toe met ‘transverse myelitis’ en ‘verlamming na Covid-19-inenting’ gediagnoseer. Hy vertel sy liggaam het homself begin aanval na die inenting.

FiND iT is in besit van Milligan se mediese verslae sedert hy die inenting ontvang het.

Milligan vertel hy het gevoel dat hy ‘n ‘goeie landsburger’ is en ‘sy kant bring’ toe hy besluit het om wel vir die inenting te gaan ná sy werk dit vir sy werknemers verpligtend gemaak het. “By die werk het ons daagliks met die publiek gewerk en omdat my seun aan asma ly en my vrou nier- en lewerprobleme het, het ek besluit om die inenting te vat om te keer dat ek die virus aan hulle oordra, sou ek dit kry.”

Milligan het nog nooit Covid-19 gehad nie.

Lees ook: My man is dood twee weke ná inenting

Die kans dat Milligan sal kan herstel en weer sal kan loop, is nou 40%, vertel Milligan.

Behalwe vir die feit dat hy van onder sy naeltjie af af verlam is, het sy hart en sy longe ook skade gekry en is hy nou in die aande op suurstof en ‘n groot hoeveelheid pille.

Milligan vertel hy is nou een van vyf mense ter wêreld wat ‘n “detox”-program doen om die inenting se inhoud uit sy liggaam te kry. Hy sê sy infeksietelling was vier keer meer as dié van iemand met kanker, maar na hy met die program begin het, het dit wel verminder.

Milligan sê hy beplan om die departement van gesondheid en die versekeringsmaatskappy te dagvaar.

“Ek moes van voor af my lewe leer leef. En dit was nie iets wat ek verwag het nie, dit was iets wat sommer net oornag gebeur het.”

“My kinders word selfs by die skool gespot en daar word vir hulle gesê hulle pa gaan doodgaan. My vrou en my skoonfamilie is baie ondersteunend en hulle staan bankvas agter my. Ek het ‘n baie goeie ondersteuningstelsel.”

Milligan sê dis belangrik dat mense verstaan dat hy nié teen die inenting is nie, maar dat hy mense graag wil aanraai om doodseker te maak dat hulle “fit for the jab” is. “Jy kan vooraf ‘n toets laat doen om vas te stel of daar bakterieë in jou liggaam is waarvan jy nie geweet het nie.” Hy sê ook hy vertel graag sy storie. “Why lie? Waarom dit toesmeer? My lewe is verander na die keuse wat ek geneem het.”

*Nota van redakteur: FiND iT is in besit van ‘n verslag van ‘n dokter van Mediclinic wat aandui die bogenoemde diagnose is na die inenting. FiND iT het besluit om nie dié verslae te publiseer nie, as gevolg van die debat rondom inentings. FiND iT wag tans op die kommentaar van Mediclinic na aanleiding van dié spesifieke verslag.