Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons moedeloos raak oor ons land se ellendige toestand, of ons volk se nog ellendiger situasie, onthou dat die gebede van die regverdige tot groot krag is - God het 'n deel van ons volk hul knieë nie voor Baäl laat buig nie en hulle bid en Hy hoor hulle! Soos Hy aan Elia gesê het toe dié gekla het dat die hele volk ten gronde is: Hy het vir Hom 7 000 man uitgehou . Daar is nog Afrikaners en Christene wat opreg bid vir ons volk en land!
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (1)
083 444 7672)
Die wors was inderdaad die lekkerste wat Paul nog ooit geëet het. Hy voel maar half vreemd, want dis nie net die boer en sy vrou aan tafel nie, maar daar is nog agt ander mense ook, aan wie hy voorgestel word. Dis drie seuns met hulle vroue en kinders, wat eenkant by hulle eie tafel sit en eet. Na ete gaan sit almal in die ruim voorkamer en elkeen is nuuskierig om te hoor waar hierdie vreemdeling vandaan kom. Paul let op dat elkeen van die grootmense ‘n handwapen aan die sy het en die een seun loop selfs met ‘n lang geweer.
“Van Bloemfontein af. Ek was op pad na my ma toe om by haar te wees vir ‘n week, toe hierdie vreemde situasie homself voordoen. Ek is nog steeds nie seker wat gebeur het, of aan die gebeur is nie, maar dit lyk nie asof ek by Ma gaan uitkom nie. Ek hoop maar my boetie het haar gaan haal. Hy bly in Kaapstad.”
“Jy weet nie wat aan die gebeur is nie? Is jy dan die enigste vreemdeling in Jerusalem?”
“Ek het net so ‘n vae idee, maar ek sal bly wees as julle my mooi vertel wat aangaan.”
‘n Jong vrou kom die vertrek binne. Paul voel asof sy maag op ‘n knop trek as hy haar sien. Sy het donkerbruin hare, maar in teenstelling daarmee, die blouste blou oë wat hy nog ooit gesien het.
“Hallo, Pa,” groet sy vir Hans.
“Hannie, kom ontmoet vir Paul Roux. Hy is nuut hier en as ek na sy kar kyk, gaan hy nie vinnig verder nie. Ma het vir jou kos uitgeskep.”
Sy steek haar hand uit na Paul, wat vinnig orent kom. Haar hand is koel en slank, hy neem dit en los skielik asof dit hom gaan byt.
“Aangenaam, Paul.”
“Paul vra juis waarom ons almal hier is, en wat gebeur het.”
Hannie kyk na hom asof sy nie kan glo Hans praat die waarheid nie.
“So, Paul, om jou te antwoord,” sê Hans. “Dis natuurlik nie eenvoudig nie, maar het ‘n hele aantog van gebeure gehad. Jy weet seker dat Eskom lankal in die moeilikheid is? En dat die ANC bankrot is, nie net finansieel nie, maar ook moreel? Al die jare se korrupsie het hulle uiteindelik ingehaal. Daarby is hulle nog altyd in die vakbonde se sakke, wat hulle gehelp het om aan bewind te kom. Elke keer as daar ‘n effense poging is om iets te doen om die ekonomie te herstel, dan word hulle in die wiele gery deur die unies. Die hele gedoente het tot gevolg gehad dat miljoene mense sonder werk sit en nou praat ek nie net van witmense wat hulle werk verloor het as gevolg van Regstellende Aksie, Transformasie en BEE nie, maar daarmee ook miljoene meer swartmense. Vir elke blanke pos wat verloor is, kan jy maklik sê tien swartes s’n het verlore gegaan. Boere is sò verwurg deur die regering se wet teen minimum lone, dat ons meeste van ons werksmense moes laat loop het. Om dit te probeer ondervang, het hulle die maatskaplike toelae ingestel, wat ons in die omgangstaal as SASSA ken.
“Daar was, voor hierdie inploffing, vier maal meer SASSA mense as belastingbetalers. Daarby kan jy nog die aantal staatsdienskaders tel, wat nie net niks gedoen het nie, behalwe om salarisse te trek, maar daar was meer van hulle as in die privaatsektor. Jy weet self dat die staatsdiens nie geld kan genereer nie. Voeg nog by dat die ANC so verdeel was, dat hulle nie kon saam ‘n plan maak om die spul reg te ruk nie.
“Ons het maar net van die oortjies van die seekoei geweet, met dié wat Ace Magashule nie wou loop nie, Supra hom aan hulle integriteitskomitee afgesmeer het, Zuma wat steun gaan werf het op grondvlak en natuurlik Ramaphosa wat nie net ‘n swak en ruggraatlose president is nie, maar ook ‘n man wat in ‘n posisie geplaas is omdat hy ryk was. Nie omdat hy so ‘n slim besigheidsman is nie, maar bloot omdat hy aandele verniet gekry het. Ek is nie seker wat die strooi was wat die kameel se rug gebreek het nie, maar die hele lot het net eenvoudig inmekaar getuimel en daar was niks wat die regering kon doen nie.”
“Pa vergeet van sy hoogdrawende aksent,” sê een van die jonger manne.
“Uiteindelik was dit nie die onderdrukte witmense wat in opstand gekom het soos baie voorspel het nie, maar die massa honger swartmense wat nie meer SASSA gekry het nie.”
“Dit kan darem nie so erg wees dat dit nie herstel kan word nie,” antwoord Paul.
“En wie dink jy gaan die herstelwerk doen?”
“Ek weet nie. Daar moet tog iemand wees.”
“Wie? Nee, Boetman, daar is niemand nie.”
“Wat gebeur dan nou?”
“Nou beskerm ons onsself en bly aan die lewe, totdat die vuur uitgebrand is.”
“Ek verstaan nie?”
“Wat dink jy is nou aan die gebeur? Ons ou landjie was vir amper drie dekades aanmekaar gehou deur die samebindende haat vir apartheid. Nou het dit uiteindelik afgewerk en die etniese groepe het onder mekaar begin baklei. Toe koning Zweletini dood is en sy tussenregeerder, die Dlamini-koningin ook, het dit die Zulu’s in ‘n blik gedruk. Party van hulle was lojaal aan – wat is sy naam nou weer – Buthelezi. Ander het gedink hy is ‘n verraaier. Dit het hulle verdeel, anders het Inkatha dalk net oorgeneem by die ANC. Maar nou ja, hulle gaan onder mekaar veg vir die laaste krummeltjies en die land in chaos laat. Ons moet hier eenkant bly, totdat ons weer buitekant toe kan gaan.”
“Ek kan nie. Ek het my mense om te gaan soek.”
“En hoe gaan jy dit doen? Jou kar kan nie ry nie en glo my, jy gaan nie nou parte kry om dit reg te maak of iemand om dit te doen nie.”
“Ek kan iets by julle koop. Ek het geld”.
“Wat jy waar kry? ‘n Tjek? Of by ‘n OTM of ‘n oorpasing?”
“Nee, maar…”
“Paul, as jy geld in die bank gehad het, het jy dit nie nou meer nie. Teen die tyd as ons weer ‘n ekonomie gaan hê, sal dit deur ruilhandel gebeur en nie in rande nie.”
“Daar moet iets wees?”
Hans dink so ‘n rukkie.
“Ek sê jou wat. Loop saam met my.”
Hans loop die voertuigskuur in met Paul langs hom. Hy loop verby by die trekkers en bakkies, lorries, ‘n stroper en ander goed wat Paul nie kan eien nie, tot hy by ‘n ou, oop-dak ding aan die einde van die groot gebou kom. Han wys trots na die kar.
“Daar is hy.”
Die objek van trots is ‘n baie ou Toyota Land Cruiser. Dit het nie ‘n dak nie en die bak is baie kort. Die een voorste modderskerm het ‘n skeur ingehad, en dit is toegesweis. Daar is ten minste vier verskillende voertuie se bakwerkonderdele aan die ding, te oordeel aan die verskillende kleure, vanaf verbleikte wit, tot ligbruin en geel tussen-in. Die bande lyk darem goed.
“Wat is dit?”
“Dit, ou seun, is ‘n 1985 model Land Cruiser. Hy is korter gemaak tussen die aste en aan die agterkant. Ek weet hy is lelik, maar onder die ‘bonnet’ is ‘n Ford V8, ‘n 351 Cleveland enjin. Glo my, hy loop soos ‘n droom.”
“En jy gaan hom vir my gee?”
“Nee, ek gaan hom by jou ruil vir jou Mercedes.”
Paul is vir ‘n oomblik stomgeslaan van die skok, maar gaandeweg dring dit by hom in dat hy nie veel van ‘n keuse het nie.
“Ek sê jou wat. Ek sal die transaksie nog ‘n bietjie beter vir jou laat swaai. Loop saam met my terug huis toe.”
By die huis loop hulle deur die voorhuis, waar die ander sit en koffie drink. Hans loop na ‘n geweerrak toe, wat in die gang teen die muur sit. Hy haal ‘n geweer af en gee dit vir Paul, wat nie ‘n idee het wat dit is nie.
“Dit is ‘n ou drie-nul-drie. Dit kom uit die Eerste Wêreldoorlog, maar is nog so goed soos nuut. Kan jy met ‘n geweer skiet?”
“Ja, Oom. Met ‘n windbuks. Ek het Provinsiaal geskiet daarmee.”
“Nou goed, die beginsel is dieselfde. Sien hier, my oupa het ‘n Bisley-tipe gaatjiesvisier agter-op gesit. Kyk, die loop steek nie voor uit nie en weerkante van die voorste visier is twee ore om dit te beskerm. Die ou mense het gesê dit lyk soos ‘n jong bulletjie se horings en het die geweer ‘n ‘Poena’ genoem. Die ding skop net ‘n bietjie meer as ‘n windbuks.”
“Hoeveel meer?”
“Baie meer, maar jy sal daaraan gewoond raak. Ek sal jou ook ‘n honderd patrone gee.”
“Het ek ‘n keuse?”
“Ek dink nie so nie.”
“En die lisensie?”
Hans lag net.
“Wat wie vir jou gaan vra?”
Die twee loop met die geweer na die voorkamer.
“Ek gaan gou vir Paul ‘n bietjie touwys maak met die ou drie-nul-drie. Hannie, as jy wil kom help, sal ek dit waardeer.”
By die agterstoep is ‘n skiettafel. Dis spesiaal gemaak om gewere in te stel en daar is ‘n groot bord met teikens op teen die bamboese, sowat veertig meter van die stoep af. Natuurlik het van die ander mense ook nader gekom. Skiet het deel van hulle lewens geword en as daar enigsins met gewere of handwapens gewerk word, moet almal saam. Paul is baie bewus van Hannie se nabyheid en hy is bang hy gaan ‘n gek van homself maak.
“Kyk, jy kan die magasyn uithaal, met hierdie knip by die sneller, en van bo af laai, een-een, of jy kan die ‘stripper-clips’ gebruik. Hulle vat vyf op ‘n slag”.
“Fanie, gaan sit vir Oupa ‘n nuwe teiken op.”
Hans haal die geweer oor, lê versigtig aan en skiet. Dis net langsaan verby, die tweede skoot net oor en die derde weer langsaan.
“Nou jy, Paul.”
Paul vat die geweer, haal oor, soek ‘n gemaklike plek vir sy wang en skiet. Dis laag regs.
“Eina, demmit!”
“Kom nou, dis nie so erg nie.”
Paul lê weer aan, met die geweer stywer in sy skouer, druk die snellerhand toe en die skoot knal.
“Kolskoot!”
Hy haal weet oor en skiet. Die twee gaatjies sny mekaar.
“Beginners-geluk.”