"Ons sal offer wat jy vra".
Daar is weinig Suid-Afrikaanse heldeverhale wat soveel deernis en empatie by 'n mens opwek soos die van die Westdene-busramp. Nie alleen omdat dit Suid-Afrika se grootste busramp tot op hede was nie, maar ook omdat al 42 slagoffers skoolkinders was. 'n Mens kan maar net verstom staan oor die feit dat die res van die ongeveer 80 leerlinge aan die dood kon ontkom. Maar die aangrypendste naas al die hartseer, was sekerlik die verhale wat oorlewendes agterna te vertelle gehad het oor die heldhaftige optredes van skoolmaats. Doodgewone skoolkinders wat oornag helde geword het.
Hulle is:
Woltemade-dekorasie vir Dapperheid(Goud):
Daniel du Toit (14) en Rudie Opperman (15).
Woltemade-dekorasie vir Dapperheid (Silwer):
Theo de Kooker (17), Johan Gordon (15), Willem van Aswegen (14), Petrus Waldeck (14), Matthys Wehmeyer (17), Renette van Deventer (17), Stephanus van Wyk (17), Coenraad Viljoen (15), Ockert Jansen van Niewenhuizen (13) en Petrus Koen (17). Laasgenoemde postuum.
En tog, kyk 'n mens na die rustige, kalm oppervlak van die relatief klein dammetjie aan die voet van die Randse Afrikaanse Universiteit, kan 'n mens byna nie glo dat so 'n drama hom hier kon afspeel nie. Dit was 'n drama wat die hele gang van die Hoërskool Vorentoe daardie jaar drasties sou verander. Alles te wyte aan daardie tweede swart Woensdagmiddag in ons geskiedenis ...
Dag na dag het Willem Home (41) leerlinge per bus vanaf die skool in Rossmore na hul huise vervoer. Hy was nogal erg oor die kinders — het altyd by die huis met deernis van hulle gepraat en graag vir hulle popmusiek oor sy bus se radio gespeel.
Woensdag, 27 Maart 1985, was geen uitsondering nie ... In die geel stapelbus het daar 'n gemoedelike atmosfeer geheers. Almal was opgewonde aangesien die vakansie oor twee dae sou begin. Vakansietyd is fliektyd en een groepie het luidrugtig oor ou flieks en plate geklets. Die een oomblik het iemand nog ewe laf The Shivelles se Leader of the pack begin sing — die volgende oomblik was daar chaos. Teen ongeveer 13hl5 het die geel stapelbus skielik erg na links op die Westdene-brug geswenk – en oor die rand gestort.Tien meter verder het die swaar bus se een stel wiele in die modder vasgeval. Stadig het die bus begin sink. Leerlinge wat op die bodek gesit het, het ongeveer twaalf minute tyd gehad om hulself te bevry. Daarna sou die bus in die donker watermassa verdwyn. Twaalf minute. Tagtig kinders ... Oral het maroen rokke, wit hemde en grys broeke by die oop vensters begin uitborrel. Geskok en verward, verbysterd oor wat so pas gebeur het.
Sekondes nadat dit die brug verlaat het, was die Triomfbus 'n rampbus. Doodgewone skoolvriende het eensklaps helde geword.
Kuifie de Kooker en Matthys Wehmeyer, twee spelers van die skool se eerste rugbyspan, was albei in 'n ander bus net voor die rampbus, toe Kuifie skielik 'n gil agter hom gehoor het. Toe hy omkyk, het hy die geel bus agter hulle in die damwater sien wegsak. "Stop! Hou stil, Oom!" het hy onmiddellik geskree en dadelik van sy skoene en baadjie ontslae begin raak. Sonder om te aarsel het Matthys sy voorbeeld gevolg. Sekondes later het die twee rugbymaats in die damwater weggeduik.
Die eerste gesig wat hulle in die troebel water teëgekom het, was dié van 'n vriend, Deon Beukes. Saam het hulle Deon weerskante onder sy arms beetgekry en hom boontoe gehelp. Dadelik is hulle weer ondertoe ... Dié keer het hulle 'n lewelose meisie by een van die vensters opgemerk en haar gou-gou na buite getrek. "Eurika!" het Kuifie verras uitgeroep toe hy sy eie suster herken! So vinnig as wat hulle kon het Kuifie en Matthys haar tot op die bus se dak gehelp. Daar het hulle vasgestel dat sy slegs bewusteloos was. Soos ware lewensredders het die twee seuns Eurika se mond oopgeforseer, want van pure skok het sy op haar tande gekners. Eers nadat Kuifie haar tong met sy vinger uit haar keel gehaal het, het daar 'n klomp water uit haar keel gestroom. Die volgende oomblik was 'n paar ambulansmanne byderhand om verdere hulp te verleen. Maar dit was danksy die vinnig optrede van 'n broer en sy vriend, dat Eurika de Kooker die ramp oorleef het!
Helder van gees het Coenraad Viljoen 'n verbygaande motoris voorgekeer. "Gou, ek soek 'n domkrag — ons moet die bus se venster stukkend slaan!" Dog, hoewel dit 'n blink plan was, het die bus te vinnig in die water verdwyn. Die skraalgeboude John Gordon het, ten spyte daarvan dat hy op daardie stadium slegs vyf en vyftig kilogram geweeg het, ook lewens gered. Hy vertel: "Ek het gesien my vriend, Vlaggies Waldeck, is bewusteloos en het met hom by 'n oop venster uitgeswem. Sy nooi, Iizette van Vuuren, het hom aan sy voet vasgegryp en saam uitgeswem. Toe het ek altwee tot op die bus se dak gehelp."
Daarna sou John weer 'n keer afduik om die veertienjarige Elize Venter ook te bevry van die klein vensterraam waarin sy vasgesit het. Drie lewens is deur hierdie skraal maar moedige seun se toedoen gered. Danie du Toit is deur die krag van die water onderstebo gestamp. Hy het in die agterste gedeelte van die bus en by die agterruit uitgeswem. Ook hy het besef dat daar nog kinders onder die dak was waarop hy gesit het en dat hulle dringend te hulp gesnel moes word. Toe het hy, sonder om aan sy eie lewensgevaar te dink, teruggegaan en twee meisies gered. Later die aand het hy verwese opgemerk: "Een van die meisies se vuiste was stukkend — seker soos sy gespook het om 'n ruit te breek sodat sy kon uitkom ..."
"Ek sal dit enige tyd weer doen. Jy doen dit vir jou land," het Martin van Lelyveld gesê nadat hy daarin geslaag het om drie lewens te red. Hy moes ook kunsmatige asemhaling op die bus se dak toepas om 'n lewe te red. Vir hom was sy vriende se verknorsing ook belangriker as die veiligheid van sy eie lewe. Miskien is dit wat ware vriendskap beteken! Wimpie van Aswegen het by die paal langs die bestuurder gestaan toe die bus die water tref. Agterna het hy gesê dat hy nou nog nie weet hoe hy uit die watergraf ontsnap het nie. Hy onthou nog goed hoe hy vir oulaas diep asemgehaal het voordat die water oor sy kop gespoel het. Gelukkig het hy 'n ligkol op die water bokant hom gesien en deur 'n stukkende venster daarheen geswem. "Die volgende oomblik was ek vry. Ek kon my kop bokant die water uitsteek ..."
'n Mens sou verwag dat enige persoon wat soos Wimpie byna self verdrink het, dadelik wal toe sou swem, maar nie hierdie Vorentoe-held nie. Toe hy sy asem teruggekry het, het hy dadelik teruggeswem. Ook nie tevergeefs nie, want vandag loop daar twee seuns rond wat hulle lewe aan Wimpie te danke het. 'n Byna soortgelyke verhaal word deur 'n ewe Jong Petrus van Heerden vertel: "Die water het omtrent dadelik oor my kop gestoot. Ek het my oë oopgemaak en 'n vae ligkol op die water gesien. Dit was die son. Ek het in daardie rigting begin swem en het by 'n venster uitgekom. Toe het ek weer vinnig afgesak, want ek het geweet een van my vriende, Bernard Lessing, is nog daar onder. Ek het my hand deur die venster gesteek en hom beetgekry. Saam het ons tot op die oppervlak geswem waar iemand hom by my geneem het..."
Was dit nie vir die einste Petrus wat daardie middag 'n tweede keer teruggegaan het nie, sou Karien Herman ook moontlik nie meer vandag geleef het nie ...
As Pieter Koen egter nie daardie dag 'n sesde keer teruggegaan het nie, sou hy ook die ramp oorleef het. Pieter het nie minder nie as vyf keer ingeduik om lewens te help red. Ook hy kon nie toekyk hoedat sy skoolmaats magteloos in die bus vasgekeer sit nie. Toe het hy sy lewe vir hulle gewaag ... en ook verloor. Dog, Pieter se ouers het berusting gevind in die woorde van sy ewe dapper moeder wat grootmoedig gesê het: "God het ons seun gebruik om ander se lewens te red." Ja, Pieter het meer gedoen as waarvoor gevra is. Ook hy het getrou geantwoord aan die woorde — "Ons sal offer wat jy vra." En daarmee het Pieter hom by die geledere van onsterflikes soos Wolraad Woltemade aangesluit...
Die rampbus van die Johannesburgse munisipaliteit het ses ure in die dam gelê. Eers teen 19h00 daardie aand kon drie mobiele hyskrane daarin slaag om die geel bus uit die water te trek. En soos die bus stadig uit die water te voorskyn gekom het, het die nuuskierige skare met 'n knop in die keel die advertensie van die vuurhoutjiemaatskappy op die bus se sy gelees:
'The best friends are simple, reliable and honest.'
Nêrens anders was hierdie woorde meer gepas as juis by die Westdenedam nie. Hier, waar beste vriende lewens of gered of verloor het — net omdat hulle eenvoudige, maar betroubare en eerlike skoolvriende was. Ware vriende ...
Roerende tonele het hulle tydens die massabegrafnis afgespeel waar 20 wit kiste in 'n lang ry langs mekaar gestaan het. Sowat 5 000 mense het daardie herfsmiddag in Wespark opgedaag om hulde te bring. In die Goudstad was die gesigte op die sypaadjies nog strakker as gewoonlik. Iewers oor 'n motorradio het 'n omroeper om een minuut stilte gevra. Teen die riete van die doodsdam het angelierkransies gedryf wat deur familielede op die water geplaas is ...
Jare later vertel die mense nog dat die water van die dam nooit weer stil geword het nie ... is daar steeds vars blomme op elke graf. En tog, met die nuwe standerd sessies wat jaar na jaar by die Hoërskool Vorentoe inskryf, het hierdie skool se rou wonde stadig maar seker begin genees. Dit is asof die skool weer sy leuse ten volle wou uitleef: Vorentoe.
Alleen die weerhaan op die nabygeleë kerktoring en die silwer sinkdakke van die swyende huisies teen die heuwel, bly stille getuies van die een enkele vraag wat steeds onbeantwoord bly: Waarom het die bus daardie dag die pad byster geraak? Niemand weet nie. En tog, uiteindelik is dit nie die belangrikste nie. Veel belangriker is dit om die herinnering aan 42 gestorwe leerlinge lewendig in ons gedagtes te hou. Maar daarmee saam sal ons hulle ook nooit vergeet nie: daardie onverskrokke kinderhelde van Westdene.