ONS GESKIEDENIS: Hoofstuk 22

Die Nasionale Party regeer die land


Politieke ontwikkelinge
Enkele weke na Louis Botha se terugkeer in Suid-Afrika, is hy  27 Augustus 1919 oorlede in die ouderdom van 56 jaar.  Gedurende sy lewe het hy daarna gestreef om Boer en Brit met mekaar te versoen.  Dit het egter ‘n groot aantal van sy mense van hom vervreem.  Dis tragies dat hy, wat self ‘n Afrikaner was, so blind was vir die krag van Afrikanernasionalisme.  Sy vriend en vertroueling, Jan Smuts, het sy opvolger geword.
Die nuwe eerste minister het nie Botha se aanhang gehad nie.  Hy kon nie daarin slaag om die kwynende  Suid-Afrikanse Party weer op te bou nie.  Na die ver-kiesing van Maart 1920 kon hy moeilik aan die bewind bly, weens die sukses wat die Nasionaliste en die Arbeiders behaal het.  Smuts het met die oog op same-werking, by die Nasionaliste toenadering gesoek, maar die pogings het skipbreuk gely.  Dit het op Suid-Afrika se selfbeskikkingsreg gestrand.  Hertzog het hom beywer vir verkryging van die reg om Suid-Afrika van die Britse ryk los te maak, terwyl Smuts die ondergeskiktheid van die land aan Brittanje deur die Britse konneksie wou handhaaf.
Daarna het Smuts hom tot die Unioniste gewend en daarin geslaag om dié party met sy eie saam te smelt.  Na die verkiesing van 8 Februarie 1921 was hy weer stewig in die saal, met die hulp van die Uioniste.  Die kloof tussen die Suid-Afrikaanse Party en die meeste Afrikaners het al hoe wyer geword en die kloof tussen dié party en die Engelssprekendes het steeds kleiner geword en ten slotte in 1920 verdwyn.

 

Die stakings
Twee jaar later het die Smutsregering in ‘n baie ernstige krisis beland . Dit was die grootskaalse opstand teen die regering, wat in 1922 as ‘n staking begin het.  Na die na-oorlogse tydperk van uitbreiding en inflasie, het ‘n hewige ekonomiese insinking gevolg met dalende pryse, krimpende winste, bankrotskappe, begrotingstekorte, werkloosheid en loonbesnoeiings.  Die goudprys het geweldig gedaal, die goudproduksie het afgeneem en produksiekoste het gestyg.  Die Kamer van Mynwese wou die mynwerkers se lone verlaag en die getalleverhouding tussen Blankes en Swartes wysig.  Dit kon tot die ontslag van ‘n aantal blanke mynwerkers lei, want die mynbase het die Swartes verkies, omdat hulle goedkoper as die Swartes gewerk het.
In Desember 1921 het die eienaars van die steen-koolmyne ‘n loonsvermindering van 5 sjielings (50c) per skof aangekondig.  Die steenkoolmynwerkers het begin staak en op 10 Januarie 1922 het die werkers in die Randse goudmyne hul voorbeeld gevolg.  Nie net 20 000 blanke mynwerkers nie, maar ook 180 000 swart werkers het werkloos rondgeloop.  Die stakers het “kommando’s” gevorm en in militêre formasies gedril.  Hulle het die regering beskou as kop in een mus met die mynbase . ‘n Paar stakers is dood tydens ‘n botsing met die polisie by Boksburg.  Bendes mynwerkers het in die strate rondge-dwaal en brand gestig, geroof en gemoor.  Daar was aanvalle op Swartes, waar ‘n hele aantal  Blankes en Swartes gedood is.
Smuts het op 10 Maart 1923 krygswet afgekondig en met afdelings van die leër – bygestaan deur die lugmag -  Johannesburg binnegegaan.  Na verwoede straatgevegte en bomme uit die lug op die stakers, is hulle weerstand op 14 Maart 1922 beëindig.  Twee van die leiers het selfmoord gepleeg en vier is ter dood veroordeel.
Hierdie Randse opstand was vir die mynwerkers ‘n algehele nederlaag.  Daarna is meer Swartes in diens geneem terwyl Blankes ontslaan is en die lone van blanke mynwerkers verlaag is.  Maar vir Smuts en sy regering was die gevolge ewe rampspoedig.  Die mynwerkers was met wrewel vervul en het hulle bankvas geskaar agter die twee opposisiepartye, die Arbeidersparty en die Nasionale Party.

 

Die Nasionale Party kom aan bewind
In April 1923 het Smuts die ontnugtering beleef dat die twee opposisiepartye, die Arbeiders en die Nasio-naliste, ‘n ooreenkoms aangegaan het om mekaar in die volgende verkiesing te steun teen die kandidate van die  SA Party.  In Junie 1924 is ‘n algemene verkiesing gehou wat vir Smuts en sy party uit die kussings gelig het.  Smuts het bedank en die goewerneur-generaal het vir generaal Hertzog gevra om ‘n kabinet saam te stel.
Die samewerking van Hertzog en Creswell was net ‘n verkiesingsooreenkoms en nie ‘n koalisie nie.  Maar generaal Hertzog het aan drie van die Arbeiders potefeuljes in sy kabinet toegeken, Creswell, Boydell en Madeley.  Drie van sy belangrikste Nasionale ministers was dr DF Malan, NC Havenga en Tielman Roos.
Die pakt-regering kon na die eerste vyf jaar van sy bewind die 1929-verkiesing met vertroue tegemoet gaan.  Op ekonomiese gebied het die regering gespog met Havenga se jaarlikse begrotingsoorskotte, met die beleid van beskaafde arbeid, met die instelling van beskermende handelstariewe en met die oprigting van die yster- en staalnywerheid, Yskor, en op staatsregtelike gebied kon die regering spog met die Balfour-verklaring, die stigting van ‘n Departement van Buitelandse Sake en die aanvaarding van ‘n eie Suid-Afrikaanse vlag.  Op die gebied van Swart-Wit-verhoudinge kon die regering daarop aanspraak maak dat hy die Witman se posisie beveilig het deur werksafbakening in die myne in te stel en wetgewng voor te lê om die Kaapse Kleurlingstemreg af te skaf.
Oor hierdie voorneme van die regering het Smuts hom in Januarie 1929 op Ermelo as volg uitgelaat.:  “Die dag sal aan-breek dat ons nie net meer oor die gebied ten suide van die Limpopo sal dink nie, maar wanneer die Britse state in Afrika deel sal vorm van een groot Afrikaanse Dominium, wat ongebroke oor Afrika sal strek....Wan-neer die SA Party weer aan bewind kom, sal dit sy bes doen om ‘n gees van samewerking en broederskap te bevorder wat uiteindelik sal lei tot die vorming van hierdie groot Afrikaanse federasie van state.  Die bena-ming Suid-Afrika sal ongetwyfeld eendag uit ons woorde-skat verdwyn.”
In ‘n “Swart Manifes” wat Hertzog laat opstel het, is Smuts voorgehou as “die apostel van ‘n swart staat” wat sou strek van die Kaap tot in Egipte, as iemand wat die naam van “ons dierbare Suid-Afrika” wou skrap, en as ‘n persoon wat onmoontlik ‘n ander beleid kon voorstaan “as gelyke politieke regte vir almal.”  Sy politieke teenstanders het gesê as Smuts sy sin sou kry, sal die Unie in ‘n groot swart staat verdwyn.  Hulle leuse was: “Stem Wit!”  Dit het beteken: “’n Stem vir Hertzog is ‘n stem vir ‘n Witmansland.”
Die uitslag van die verkiesing was ‘n oorwinning vir die Nasionale party:  Nasionaliste 78 (voorheen 63), die Suid-Afrikaanse Party 61 (voorheen 53), Arbeiders 8 (voorheen 18).  Hertzog het weer vir Creswell in sy kabinet opgeneem.  Die uitgeslape, wispelturige politikus, Tielman Roos, het die dag na die verkiesing weens gesondheidsredes uit die kabinet bedank.  Hertzog het Roos se plek met Oswald Piro gevul en ook vir EG Jansen in sy kabinet opgeneem as minister van naturelle sake.

 

Beleid van beskaafde arbeid
Om blanke werkers teen mededinging van swart werkers te beskerm, het Hertzog sy beleid van “beskaafde arbeid” geformuleer.  Hy het op 31 Oktober 1924 in ‘n omsendbrief aan alle staatsdepartemente opdrag gegee om by die indiensneming van arbeiders, voorkeur te gee aan beskaafde (blanke) arbeiders.  Eers wanneer alle Blankes aan werk geholpe is, kon onbeskaafde (swart) arbeiders in diens geneem word.  Hertzog wou daarmee die blanke arbeider teen die mededinging van die swart arbeider beskerm.  Sy beleid van beskaafde arbeid het aan duisende armblankes ‘n bestaan verskaf.  Die Swartes het egter as gevolg daarvan verder verarm.

 

Wet op myne en bedrywe
In 1926 het die regering na veel teëstand van Oppenheimer en die geldbase, daarin geslaag om sy Wysigingswet op Myne en Bedrywe op die wetboek te plaas.  Daarvolgens word aan die owerheid die mag verleen om beheer uit te oefen oor die uitreiking van bevoegdheidsertifikate vir bepaalde soorte beroepe in die myne.  Die wet het bepaal dat sertifikate alleen aan Blankes en Kleurlinge uitgereik kon word vir beroepe soos masjiniste, opmeters en dinamietskieters.  Dit het beteken dat Swart werkers nie in hierdie beroepe toegelaat sou word nie.

 

Ekonomiese ontwikkeling
Gedurende die eerste vyf jaar van die pakt-regering se bewind, het verskeie nuwe ontwikkelinge op ekonomiese gebied plaasgevind.  Daar is ryk diamantvelde by Lichtenburg in Wes-Transvaal en Alexanderbaai aan die mond van die Oranjerivier ontdek.  By Alexanderbaai het die staat self die ontginning waargeneem, omdat gevrees is dat die mark heeltemal oorstroom sou word as delwers binne ‘n kort tyd ‘n groot aantal van die diamante wat daar rondgelê het, te koop sou aanbied.
Die pakt-regering het ook in die landboubedryf ingegryp en ‘n heffing op die verkoopprys van botter ingestel . Om die suikerbedryf te beskerm, is die invoer-belasting op suiker in 1926 verhoog.
Om die nywerhede te beskerm, is hoë invoertariewe gehef op sekere goedere uit die buiteland en grondstowwe wat die fabrieke benodig het, sonder belasting ingevoer.
Vir die nywerheidsontwikkeling van die land, was die oprigting van Yskor in 1928 die pakt-regering se belangrikste prestasie.  Die oprigting van ‘n yster- en staalnywerheid in Suid-Afrika, sou verdere nywerheids-ontwikkeling stimuleer.  Suid-Afrika is ryk aan steenkool en yster, wat vir ‘n staalnywerheid nodig is.  Dit sou die land minder afhanklik van Brittanje maak en die aandeel van die staat daaraan sou verhinder dat die kapitaliste met al die winste wegstap.  Sedert Yskor se stigting, het hy enorm gegroei en van die allergrootste betekenis geword vir die land se nywerheidsontwikkeling.

 

Die staatsregtelike status van Suid-Afrika
Dit was sedert Hertzog se bewindsaanvaarding in 1924 sy groot begeerte om die status van sy land te verander van een van onderhorigheid aan Brittanje, in een van soewereine onafhanklikheid binne ‘n statebond.  Daarom het Hertzog in 1926 na die Rykskonferensie in Londen gegaan met die vaste voorneme om daar van die Britse regering ‘n  formele erkenning af te dwing dat sy land in status volkome gelyk is met Brittanje.  Hertzog het in sy doel geslaag . Die Balfour-verklaring is uitgereik wat die onderhorigheid van die dominiums aan die Britse kroon sogenaamd beëindig het.  Dit het bepaal dat Brit-tanje en die dominiums gelyke status geniet, maar dit was allermins die wetlike toestand.  Die goewerneur-generaal was die verteenwoordiger van die koning en deur hom kon die Britse regering sy wil op Suid-Afrika afdwing.  Geen dominium kon ‘n wet maak wat in stryd met ‘n Britse wet was nie.  Die appélhof was nog ondergeskik aan die Geheime Raad.  Suid-Afrika kon nie ‘n selfstan-dige buitelandse beleid volg nie.
Die Balfour-verklaring is egter in 1931 opgevolg deur die Statuut van Westminster wat die laaste verbintenisse met Brittanje verwyder het.  Hertzog het met verdere wetgewing deur die parlement, soos die Statuswet van 1934, die Unie-parlement heeltemal losgemaak van die Engelse parlement.

 

Die vlagstryd
Dr DF Malan het in 1925 ‘n wetsontwerp ingedien wat voorsiening gemaak het vir ‘n nasionale vlag.  Daar het heel gou ‘n kwaai stryd ontbrand oor die voorkoms van die vlag.  Sommige was so verknog aan Brittanje dat hulle geen ander vlag as die Union Jack wou hê nie.  Dr Malan wou ‘n skoon vlag hê, sonder Britse simbole daarop.  Tielman Roos wou ‘n kompromis aangaan om die “Britse konneksie” te erken.  Toe stry daardie seksie oor hoe groot die Union Jack moet wees wat op die nasionale vlag moes pryk.  Onderwyl Hertzog in 1926 in Londen was, het Roos die terugtrekking van die vlag- wetsontwerp gepropageer, maar toe Hertzog terugkom, is die wetsontwerp weer voor die parlement gelê.  Hertzog het voorgestel dat op die Van Riebeeckvlag (drie bane: oranje, wit en blou) ‘n skild aangebring word wat die Union Jack, die Vierkleur en die Vrystaatse vlag insluit.  Toe stel Smuts voor dat die hele vlag net ‘n kombinasie van die drie historiese vlae moes wees.  Hierdie vlag was so ‘n “afgryslikheid” dat selfs Smuts se volgelinge niks daarmee te doen wou hê nie.  Na nog ‘n verdere stryd is die vlag-wetsontwerp deur die parlement geloods en het Suid-Afrika twee vlae gekry, die nasionale vlag met die drie bane, oranje, wit en blou en die ander drie vlae in miniatuur op die middelste baan.  Die ander vlag was die Union Jack, wat altyd saam met die nasionale vlag gehys moes word.  Die nasionale vlag is op 31 Mei 1928 die eerste keer in gebruik geneem.