Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd
VERWOERD, DIE HERVORMER
Gilles van de Wall
" Duisende amptenare (in dr. Verwoerd se tyd was dit nagenoeg 5000) het hul loopbane gewy aan die opheffing van swart mense, nie aan onderdrukking nie. Dit het in baie gevalle met aansienlike opoffering gepaard gegaan... Hy het my vir die eerste keer laat besef dat die swart mense se kultuur, in sy eie woorde, nie minderwaardig is nie. Hy het gesê ons moenie daarop neersien omdat daardie kultuur nie voldoen aan ons Westerse persepsies van wat kultuur is nie. Hulle kultuur is vir hulle net soveel werd as ons s'n vir ons; dit is net andersoortig."
Mnr. G. van de Wall het in 1951 kort nadat dr. Verwoerd minister geword het as landboukundige by die Departement Naturellesake, (afdeling Ontwikkeling) aangesluit. Hy het baie te doen gehad met landelike ontwikkeling en met die voorsiening van behuising vir swart gemeenskappe. Hy het deur die range gevorder tot direkteur-generaal van Samewerking en Ontwikkeling en uiteindelik Ontwikkelingshulp, 1983-1989.
Van de Wall aan die woord:
MY GEDAGTES gaan terug na 'n gesprek met dr. Verwoerd om en by 1953, waarvan ek ongelukkig nie die presiese woorde kan onthou nie maar waarvan die strekking 'n diepe indruk op my gemaak het. Dit het so gekom: hy het die middag 'n politieke byeenkoms op Belgrave-plein daar langs die rolbalbaan in Hatfield, Pretoria, toegespreek en daarvandaan moes hy na 'n tweede vergadering êrens naby Johannesburg gaan.
Ek het 'n woonstel in Hatfield gehad en my skoonpa het ook daar naby gewoon. Ons het saam na dr. Verwoerd gaan luister en ná die toespraak 'n paar woorde met hom gewissel. Ons het mekaar reeds geken: my skoonpa, mnr. Danie van den Berg, was hoof van die Landbou-afdeling in die destydse Departement Naturellesake. Dr. Verwoerd sê toe hy wil nog sake met ons bespreek, ons moet saam met hom Johannesburg toe ry. As jong amptenaar was dit natuurlik vir my 'n belewenis om deur die minister genooi te word.
Die gesprek het gegaan oor wat later "klein" en "groot" apartheid genoem is. Hy het dit vir ons duidelik gemaak dat wittes in sekere opsigte hulle houding teenoor swart mense sal moet verander. Daar is dinge wat vir swart mense onnodig vernederend is. Ek onthou dat hy 'n hele paar goed gesê het wat my eintlik 'n bietjie ontstel het (ons was destyds maar almal verknog aan apartheid). My skoonpa en ek het agterna vir mekaar gesê ons gaan moeilik gewoond raak aan hierdie nuwe idees.
Omtrent vyf minute voor ons by die bestemming sou aankom, sê dr. Verwoerd: "Wag 'n bietjie, dat ek net so 'n paar minute kans kry om my gedagtes te orden." Met daardie bietjie dink het hy homself voorberei en daarna 'n skitterende toespraak gelewer. Dit was nog iets wat my daardie dag so beïndruk het dat ek dit nooit sal vergeet nie.
In die Departement Naturellesake het ons destyds twee groot mentors gehad: dr. Verwoerd en dr. Eiselen, die sekretaris van die departement. Ek en my tydgenote was jonk. Ons was nie so nou in kontak met die minister soos die senior amptenare nie. Ek was egter meer as een maal teenwoordig by gesprekke met dr. Verwoerd en dikwels was ek 'n luisteraar by geleenthede waar hy aan ons as amptenary leiding gegee het. Hy het my vir die eerste keer laat besef dat die swart mense se kultuur, in sy eie woorde, nie minderwaardig is nie. Hy het gesê ons moenie daarop neersien omdat daardie kultuur nie voldoen aan ons Westerse persepsies van wat kultuur is nie. Hulle kultuur is vir hulle net soveel werd as ons s'n vir ons; dit is net andersoortig.
Aan die begin was hierdie benadering vir baie manne in die veld, en ook sommige op hoofkantoor, nogal moeilik om te sluk. Van hulle was Engelssprekend met 'n lang Britse koloniale tradisie agter hulle, en beslis nie ondersteuners van die Nasionale Party nie. Daar was gevalle, veral in die Oos-Kaap en Natal, waar dieselfde familie al vir geslagte lank, van vader tot seun, aan Naturelle-administrasie verbonde was. Die apartheid wat in 1948 gekom het, was nie regtig 'n nuwe ding nie. Baie van die amptenare was sterker voorstanders van apartheid as wat hulle by die stembus wou erken. In die praktyk het hulle dit al die jare toegepas. My skoonpa, ek en andere wat later bygekom het, is egter gesien as Verwoerd-aanstellings. Ons het aanvanklik antipatie tussen die twee groepe beleef, veral toe ek met merietebepalings te doen begin kry het. Maar geleidelik het ons die ander groep se vertroue gewen. Die amptenare is toegelaat om hulle werk te doen soos hulle daaraan gewoond was, met bloot 'n verskuiwing van klem na die ontwikkelingsaspek. Ek self was 'n deel van die oordragproses vanuit die ministerie, via die topbestuur na die amptenare in die veld. Hulle het agtergekom dat die verandering nie drasties was in die sin dat hulle nie meer dit of dat mog doen nie. Hier teen die middel tot laat vyftigerjare het ons die volle samewerking van daardie mense gehad.
Die laastes met wie ons dit reggekry het, was die manne in die Transkei. Dit was eintlik 'n merkwaardige prestasie en ek skryf dit toe aan wat van die politieke leiding se kant af gekom het. Dr. Verwoerd het daarin geslaag om die hele departement agter hom te skaar.
lets wat nie sterk genoeg beklemtoon kan word nie is die gesindheid wat in die daaropvolgende jare in die departement geheers het. Duisende amptenare (in dr. Verwoerd se tyd was dit nagenoeg 5000) het hul loopbane gewy aan die opheffing van swart mense, nie aan onderdrukking nie. Dit het in baie gevalle met aansienlike opoffering gepaard gegaan. Ek dink nou aan 'n plekkie in die noorde van KwaZulu met die naam Maputo. Daar het nie meer as vier of vyf blanke gesinne gewoon nie, heeltemal geïsoleerd, dertig myl van die naaste dorp af, besig met dienslewering aan die duisende swart mense. Besproeiingskemas en bosbou-ontwikkeling is aan die gang gesit om werk en 'n toekoms vir die plaaslike bevolking te skep. Daar was tientalle sulke projekte op die mees afgeleë plekke in Suid-Afrika. My eie professionele lewe was daaraan gewy om landelike ontwikkeling te stimuleer, desentralisasie van nywerhede na grensgebiede te bevorder en nuwe nywerhede met werksgeleenthede vir swart mense tot stand te bring. Ons was miskien paternalisties, ja. Dit kan ons nie ontken nie. Maar dit was 'n goedgesinde paternalisme met die doel om hulle te leer sodat hulle self kan oorneem. Eers later, toe selfregering en onafhanklikheid van die tuislande ter sprake gekom het, het dit tot ons deurgedring dat ons van paternalisme ontslae moet raak.
Dr. Verwoerd het van die begin af groot waarde geheg aan die onderwys. Daarom het hy stappe gedoen om 'n beter onderwysbedeling vir swart mense te skep. Dit herinner my aan 'n gesprek wat ek in daardie vroeë stadium gehoor het. Iemand het hom gevra wat die sin daarvan is om universiteite vir swart mense daar te stel. Wat wil ons daarmee bereik? Die vraag was nie vergesog nie want baie wittes het opgeleide swart mense as 'n bedreiging beskou. Sy reaksie was min of meer die volgende: "Ons sal nog baie met hulle moet onderhandel in die toekoms, oor allerlei dinge, soos byvoorbeeld onderwysaangeleenthede en ook oor die politiek. Dit sal beter wees as ons met mense kan onderhandel wat behoorlik onderlê en opgelei is."
Nie lank daarna nie is die eerste sooi vir die Universiteit van die Noorde by Turfloop gespit. By 'n ander geleentheid, tydens die Kongo-debakel van 1960, het hy ons daarop gewys dat daar uit die totale inheemse bevolking van die Kongo met onafhanklikwording glo slegs 18 mense was met naskoolse kwalifikasies. Hy het gesê as ons vreedsame naasbestaan in Suid-Afrika wil hê, kan ons nie toelaat dat daardie situasie hier herhaal word nie.
Ten spyte van instromingsbeheer het 'n toenemende getal swart mense uit die stamgebiede in die stede kom werk soek. Die volkekundiges en ook dr. Verwoerd het ons voortdurend gewys op die probleme wat daaruit voortvloei. Die jong swart mans kom uit 'n goed gevestigde ordesisteem met 'n kaptein aan die hoof. Alles is vir hom baie presies binne perke gestel, sy hele gedrag word omlyn. Kom hy in die stad, is sy hele ordesisteem daarmee heen. Hier is 'n nuwe vorm van gesag, wat hy glad nie verstaan nie. Hy bevind hom in 'n kulturele lugleegte, en weet nie waar om te gaan aanklop om hulp nie. Hy raak heeltemal verward en maklik beïnvloedbaar; ten goede of ten kwade, maar meesal ten kwade.
Ek het eenkeer 'n konferensie bygewoon waar sielkundige versteurings onder stedelike swart mense bespreek is, en verstedeliking is aangedui as een van die vernaamste oorsake. Dit het later beter gegaan namate die tweede en derde geslag hulle beter aangepas het. Die townships sou egter nog vir geruime tyd 'n teelaarde vir politieke opstandelinge bly. Dr. Verwoerd het dit op talle positiewe maniere probeer teenwerk deur die tradisionele gesagstrukture te bevorder en ook in die stede te vestig, deur onderwys na die massas uit te brei, deur die tuislande en grensgebiede ekonomies te ontwikkel en deur behuisingstoestande te verbeter. Ongelukkig het die bevolkingsontploffing tot 'n groot mate al hierdie pogings verydel.
Wat die behuisingsprobleem betref, onthou ek uit dr. Verwoerd se tyd die Meadowlands-hervestigingskema, hoewel ek op daardie stadium nog nie self met behuising gemoeid was nie. Die mense is van Sophiatown in die middel van Johannesburg na Meadowlands in die huidige Soweto verskuif. Sophiatown was 'n krotbuurt en die opruiming daarvan was noodsaaklik. Dit het gelyk soos Crossroads in die Kaap vandag lyk; daar was net minder plastiek in die vyftigerjare. Die eienaars het vir 'n stukkie grond so groot soos 'n kamer tien pond huur per maand gekry en dan is dit nog onderverhuur ook. In Meadowlands het hulle vrystaande huise van 'n beter gehalte as enige vorige behuisingskema gekry. Daar is vandag nog van die ouer huisies langs die nuwer huise as 'n toonbeeld van die verbeterde standaard. Die inwoners het sonder protes verhuis en sommiges het gejubel. Die grondeienaars van Sophiatown en veral Britse geestelikes, soos eerwaarde Huddleston, het die situasie egter probeer uitbuit en 'n politieke storm veroorsaak oor wat later genoem is "forced removal of the disadvantaged".
Dr. Verwoerd het besef dat die opruiming van krotbuurte maar 'n druppel in die emmer is. Ek herinner my dat hy gesê het dat waarmee ons besig is, onvoldoende is omdat die toestroming na die stede ons vermoë om huise te voorsien, oorskry. Hy het gehoop dat die toestromingsproses mettertyd omgekeer sou kon word. In hierdie verband is dit interessant om die bevindings van prof. Flip Smit, latere rektor van die Universiteit van Pretoria, te vermeld. Hy was destyds 'n jong lektor aan die Universiteit van die Noorde en hy het die geleentheid gekry om navorsing oor bevolkingstendense in die latere Lebowa-tuisland te doen. In sy verhandeling het hy tot die gevolgtrekking gekom dat die ontstaan van plakkerdorpe aanvaar moet word as 'n onvermydelike Afrika verskynsel in die proses van verstedeliking. Ons het nog gewonder hoe die man ons beleid van instromingsbeheer so kan afskiet. Tog moes ons hom later gelyk gee.
Met die Wet op Bantoe-owerhede (Wet 68 van 1951), die heel eerste belangrike maatreël wat dr. Verwoerd deurgevoer het, het hy na my mening 'n groot deurbraak gemaak, veral in Natal. Daar was wel weerstand, maar baie meer aanvaarding. Die wet het voorsiening gemaak vir die instelling van stamowerhede, streeksowerhede en gebiedsowerhede waardeur die inwoners van die gebiede grotendeels in staat gestel is om hulle eie sake van plaaslike aard te behartig. Dit is interessant dat hierdie wet binne die tradisionele stelsel van kapteinskap en so meer 'n groot mate van demokrasie ingebou gehad het. Die koers wat ingeslaan is, was om weg te kom van die Westminster-stelsel na 'n Afrikakonsep van demokrasie. Die vaders van hierdie gedagte was dr. Eiselen en dr. Verwoerd.
Ten spyte van die feit dat dr. Verwoerd groot vordering gemaak het met die uitvoering en propagering van die beleid van afsonderlike ontwikkeling, het daar dinge gebeur wat nie sulke goeie gevolge gehad het nie. Een so 'n geval was die afskaffing van die Naturelle-verteenwoordigende Raad in 1951. Hierdie Raad is in 1936 in die lewe geroep. Dit het bestaan uit swart leiers waarvan sommige deur die Transkeise Bunga aangewys is, sommige deur die regering om die ander inheemse volkere te verteenwoordig en die res deur kieskolleges, hoofsaaklik uit die stedelike bevolking. Die Raad het reeds voor 1948 in botsing met die regering gekom. Die afskaffing daarvan is wel gekompenseer deur die instelling van Bantoe-owerhede. Hoe reg of verkeerd dit ook al was, dit het nie 'n gevoel van wedersydse vertroue bevorder nie. Dit het daartoe bygedra dat swart mense in die jare daarna uitgewyk het om by die rewolusionêre beweging aan te sluit. Daarmee wil ek nie sê dat dr. Verwoerd 'n fout gemaak het nie. As daar 'n gesindheid van samewerking van die Naturelle-verteenwoordigende Raad se kant was, glo ek, sou dit seker nie gebeur het nie.
My indruk is dat daar agter die skerms invloed op hulle uitgeoefen is om nie met die regering saam te werk nie. Die regering se doel was waarskynlik aanvanklik nie om die Raad af te skaf nie, maar om dit te omvorm. Raadslede het egter so 'n arrogante en aggressiewe houding ingeneem dat daar geen ander uitweg was nie.
Die meeste strukture wat dr. Verwoerd tot stand gebring het, lê vandag aan skerwe. Hy was 'n ware hervormer. Hy was nie verstar in sy denke nie en het sy beleid aangepas soos wat omstandighede verander het. Wie weet, as hy nie so ontydig gesterf het nie, was daar dalk veel vroeër uit 'n posisie van krag begin met onderhandelinge oor 'n regverdige staatkundige bedeling vir Suid-Afrika.