HERINNERINGE AAN DR HF VERWOERD (11)

Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd

SO ONTHOU EK HOM

James Howell

"'Kyk,' het hy vir my gesê, 'ek het dit nie soseer teen Rupert se planne nie, maar as ek die Rembrandtgroep daar toelaat, watter morele reg het ek om ander soos Anglo American daar uit te hou? Veral die mynbougroepe het nie sulke edele motiewe nie en sal die tuislande se bates stroop. Dit kan baie maklik in neokolonialisme ontaard.' "

Dr. James Howell was dr. en mev. Verwoerd se tandarts vanaf 1953.

Hy het eers twee jaar onderwys gegee en daarna sy B.Ch.D.-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf (1952). Van 1964 tot 1973 het hy op die SA Geneeskundige en Tandheelkundige Raad gedien. Van  1984 tot 1991 was hy Voorsitter van die Raad van UR. In 1991 is 'n eredoktorsgraad en die Raadsmedalje deur sy alma mater aan hom toegeken. Hy het gedien op die direksies van Saambou, Perskor en Dagbreek Trust.

Dr Howell aan die woord:
IN DESEMBER 1964 het ek en my gesin 'n genoeglike vakansie op Bettysbaai deurgebring as gaste van doktor en mevrou Verwoerd in hulle strandhuis Blaas-'n-bietjie.

Die kinders het op die strand baljaar en Doktor het ons met sy boot Smithfield op die see en na die Palmietrivier uitgeneem. Saans het ons om die tafel gesit en gesels. Een besondere aand het mevrou Verwoerd haar spyt uitgespreek dat sy nie 'n bandopnemer byderhand gehad het om die gesprek op te neem nie. Doktor het ons naamlik in fyn besonderhede vertel wat voor en agter die skerms plaasgevind het tydens die geskiedkundige Statebondskonferensie van 1961 toe hy Suid-Afrika se aansoek om in die Statebond te bly, teruggetrek het.

Wat ek van daardie gesprek onthou, is ongelukkig maar fragmentaries. Hy het groot waardering gehad vir die optrede van sir Robert Menzies van Australië, die enigste van die Statebondspremier wat vir hom in die bresse getree het toe Diefenbaker van Kanada hom sommer by die intrapslag venynig aangeval het oor Suid-Afrika se binnelandse beleid. Toe dit na etlike dae duidelik geword het dat hy moes kies tussen die Statebond se lidmaatskap en Suid-Afrika se soewereiniteit om sy eie lot te bepaal, het hy die enigste eerbare uitweg gekies. Doktor het toe self besluit om onmiddellik 'n oudiënsie met koningin Elizabeth aan te vra en dit is die oggend nadat die beslissing gevel is, toegestaan. Hy het gevoel dat hy dit aan haar as hoof van die Statebond verskuldig is om persoonlik die redes vir sy besluit te verduidelik en sy opvattings oor toekomstige betrekkinge met die Verenigde Koninkryk oor te dra. Doktor het die koningin simpatiek gevind en was oortuig dat sy 'n goeie begrip vir sy optrede gehad het. Sy was natuurlik jammer dat dit so moes gebeur, maar het op hom die indruk van 'n intelligente dame gemaak en hulle is op goeie voet uiteen.

Ek onthou ook dat ons een aand langs die see gaan stap het en oor allerlei landsake gepraat het. Oor die onderwys het hy gesê dat, hoewel hy nie 'n opvoedkundige is nie, hy groot waarde heg aan moedertaalonderwys. Die blankes se kultuur verskil bowendien so hemelsbreed van die swartes s'n dat hy nie voorsien dat gemengde skole vir wit en swart ooit wenslik of uitvoerbaar sal wees nie. Hy het beklemtoon dat dit niks met rassediskriminasie te doen het nie en dat moedertaalonderwys nie net op Suid-Afrika van toepassing is nie maar oor die wêreld heen.

Ek het hom ook uitgevra oor sy botsing met dr. Anton Rupert. Baie invloedryke Afrikaners het in daardie tyd gereken dat Rupert se konsep om die Bantoe-tuislande ekonomies te ontwikkel deur wittes se kapitaal in vennootskap met die swart bevolking daar toe te laat, groot meriete het. Ek het gedink dr. Verwoerd moet seker goeie redes hê om dit summier te verwerp. "Kyk," het hy vir my gesê, "ek het dit nie soseer teen Rupert se planne nie, maar as ek die Rembrandtgroep daar toelaat, watter morele reg het ek om ander soos Anglo American daar uit te hou? Veral die mynbougroepe het nie sulke edele motiewe nie en sal die tuislande se bates stroop. Dit kan baie maklik in neokolonialisme ontaard."

Dr. Verwoerd het ook gesê 'n mens kan nie die tuislande skep en die bevolkings aan hulle eie lot oorlaat om te verarm nie. Hy sien dit as sy taak om die blanke kiesers daarvan te oortuig dat die ontwikkeling van die tuislande in almal se belang groot finansiële opofferings sal verg. As dit nie gedoen word nie skep ons 'n teelaarde vir die Kommunisme. Die tuislande moet gehelp word om ekonomies selfstandig te word anders het die wit Suid-Afrikaners ook geen hoop om hul selfbeskikking te behou nie. Hy was hoopvol dat dit sou slaag omdat heelwat swart leiers reeds ten gunste van afsonderlike ontwikkeling was en onafhanklikheid wou hê. Hulle wou net so min soos ons deel hê aan burgeroorlog en opstand soos in die res van Afrika. En hy het geglo dat buitelandse erkenning nie sou uitbly nie namate vreedsame naasbestaan verwesenlik word.

Dr. Verwoerd se belangstelling in 'n saak was nooit oppervlakkig nie. Hy was eenkeer by 'n mediese spesialis vir behandeling van pyn in 'n bobeenspier. Tydens 'n daaropvolgende besoek aan my praktyk het ek my verbaas. Hy kon vir my die Latynse name van al die spiere in die bobeen noem. Dit blyk dat die spesialis baie goeie illustrasies daarvan in sy ondersoekkamer gehad het en hy het dit aan dr. Verwoerd verduidelik.

Dit bring my by die mediese aspekte van die eerste aanslag op sy lewe op 9 April 1960, waarin ek natuurlik intens belang gestel het nadat die eerste skok verby was. Doktor het nie minder as twee keer aan my gesê dat hy nooit sy bewussyn verloor het nadat die koeëls hom getref het nie. Later het hy my op 'n x-straalfoto die pad gewys wat die twee koeëls gevolg het. Sy gebit is nie getref nie, dus was ek nie betrokke by die behandeling nie. Prof. H.W Snyman was in beheer en hy het my later 'n paar dinge vertel toe ons saam op die Geneeskundige en Tandheelkundige Raad gedien het. Volgens hom was hulle by die Pretoriase Algemene Hospitaal so bedag op die moontlikheid van verdere sluipmoordpogings dat 'n apteker ingebring is om elke tablet wat voorgeskryf is, uit te ken voordat Doktor dit ingeneem het en so is ook elke inspuiting aan die strengste kontrole onderwerp. Dit is waarskynlik die hoofrede waarom prof. Snyman daarop aangedring het dat Doktor dadelik van Johannesburg na Pretoria oorgeplaas moes word. Hy het merkwaardig vinnig herstel.