HERINNERINGE AAN DR HF VERWOERD (12)

Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd

'N TERUGBLIK OP DR. VERWOERD

" 'Dr. Verwoerd het eerlikwaar gevrees dat die witman swartes sou uitbuit in gebiede soos Transkei... Dr. Verwoerd het absoluut nee gesê vir deelname...'  (In die vorige aflewering is dr Verwoerd se redes hiervoor so verwoord: 'Ek het dit nie soseer teen Rupert se planne nie, maar as ek die Rembrandtgroep daar toelaat, watter morele reg het ek om ander soos Anglo American daar uit te hou? Veral die mynbougroepe het nie sulke edele motiewe nie en sal die tuislande se bates stroop. Dit kan baie maklik in neokolonialisme ontaard.'  (Dr Verwoerd het geweet dat die geldmagbase niemand sou ontsien om hulself verder te verryk nie.)"

Prof. W.A. Kleynhans het bekendheid verwerf as politieke wetenskaplike. Hy was van 1950 tot 1986 by die Universiteit van Suid-Afrika dosent in staatsleer en publieke administrasie met besondere aandag aan politieke dinamika (politieke partye, algemene- en tussenverkiesings, verkiesingsuitslae en politieke gedrag). Tussen 1940 en 1955 was hy ook 'n aktiewe ingeskrewe lid van die Nasionale Party (NP) en bestuurslid van die Transvaalse Nasionale Party se jeugbeweging, die Nasionale Jeugbond (NJB) waar hy met baie van die NP se leiersfigure in aanraking gekom het.

Prof Kleynhans vertel:

MY INTENSE BELANGSTELLING in die praktiese politiek het reeds in die dertigerjare op skool begin ontwikkel. Vanuit huis is dit aangewakker deur my ouers se aktiewe betrokkenheid by die Nasionale Party van dr. D.F. Malan. My indirekte kontak met dr. Verwoerd het begin toe Die Transvaler in Oktober 1937 onder die redakteurskap van dr. Verwoerd sy verskyning gemaak het. Dit was die enigste koerant in Transvaal wat die NP gesteun het en is met gretigheid gelees. Dr. Verwoerd se inleidingsartikels het my belangstelling meer en meer gaande gemaak en blywende indrukke nagelaat. Hierdie artikels was gewoonlik lank en uitvoerig, met argumente wat altyd op stewige voete gestaan het.

Aangesien dr. Verwoerd naas sy hooftaak as redakteur ook nog persoonlik in die aktiewe politiek van die NP op grondvlak betrokke geraak het, het ek later die voorreg gehad om hom te ontmoet wanneer hy in die openbaar en in geslote kring met partypolitieke sake van die NP op die voorgrond getree het. Ek dink veral aan die tyd toe hy as lid van die hoofbestuur van die NP van Transvaal deelgeneem het aan die besprekings oor beginsel- en beleidsvraagstukke. Vanaf die stigting van die NJB in Transvaal in 1938, het hy ook daaraan aktiewe steun verleen en die jeug gereeld toegespreek.

Toe ek van 1949 tot 1952 die NJB op die Transvaalse dagbestuur van die party verteenwoordig het, het ek hom nog beter leer ken uit hoofde van die besondere bydrae wat hy daar gelewer het wanneer die NP se politieke en organisatoriese sake bespreek is. Die dagbestuur het destyds bestaan uit die voorsitter en leier van die NP van Transvaal, adv. J.G. Strijdom, mnr. Ben Schoeman, mnr. Jan de Klerk, mnr. M.D.C. de Wet Nel en ander senior partyleiers. Ek sien nou nog hoe sit dr. Verwoerd aan daardie tafel en kou aan die hoekie van sy sakdoek terwyl hy luister hoe daar geredekawel word. Dit het soms vir my gelyk of hy ongeduldig raak. Wanneer sy spreekbeurt verby was, het die ander gewoonlik stilgebly en geweet dit is nou klaar gepraat. Sy standpunt het meestal geseëvier. Hy en adv. Strijdom het natuurlik eners gedink, maar Verwoerd was die man wat dit in die grootste moontlike besonderhede kon verwoord. Op hierdie wyse kon dr. Verwoerd die belangrike beginsel- en beleidsbesluite rakende die NP eerstehands aan die lesers van Die Transvaler oordra en verduidelik.

Die groei van die NP in Transvaal vanaf 1937 - toe daar net een lid in die Volksraad (adv. J.G. Strijdom) en een in die Provinsiale Raad (mnr. G.W. Bakker) was wat die NP in die kiesafdeling Waterberg verteenwoordig het, en daar nog weinig ingeskrewe lede van die NP en goed gevestigde takke bestaan het - tot met die algemene verkiesing in Mei 1948 toe die NP die meerderheidsparty in Suid-Afrika geword het, was grootliks toe te skryf aan die bydrae wat Transvaal onder leiding van die formidabele "driemanskap" van J.G. Strijdom, H.F. Verwoerd en Die Transvaler gelewer het. Dit is bewerkstellig deur die onverwagte groot aantal kiesafdelings wat die NP in Transvaal bygedra het tot die klein meerderheid van agt setels in Suid-Afrika as geheel.

Toe dr. Verwoerd in September 1958 hoofleier van die NP en ook Eerste Minister van Suid-Afrika geword het, was ek reeds nie meer 'n lid van die NP nie, aangesien ek op 17 Mei 1955 saam met twaalf ander Afrikaner-akademici in Pretoria die regering se wetgewing om die kleurlinge in die Kaapprovinsie van hulle stemreg te ontneem, verwerp het en saam daarmee oortuig was dat die apartheidsbeleid nie sou slaag om Suid-Afrika se kleurvraagstukke vreedsaam op te los nie.

Dr. Anton Rupert, bekende ekonoom en nyweraar van wêreldformaat, het reeds vroeg in die sestigerjare sekere basiese gebreke na sy eie mening in die apartheidsbeleid probeer uitwys wat hy aan dr. Verwoerd persoonlik gaan oordra en tegelykertyd sekere voorstelle vir die verbetering daarvan gemaak het. Hierdie voorstelle het Rupert na 25 jaar openbaar gemaak in 'n eksklusiewe onderhoud met 'n verslaggewer, Eddie Botha, van die Afrikaanse Sondagkoerant Rapport, op 29 September 1985, onder die opskrif: "Vir alles het Verwoerd net nee gesê." Rupert se besware teen apartheid in die praktyk het ook van my eie probleme met die beleid weerspieël, daarom haal ek 'n deel van die onderhoud aan.

Volgens Rapport het dr. Rupert vertel dat hy die eerste keer met dr. Verwoerd "probleme ondervind het toe hy voorstel om in vennootskap sake te doen met 'n groep bruin mense. Dit is afgeskiet en daar is gedreig dat sy onderneming gesluit sou word as hy daarmee voortgaan. Hierdie denkrigting van medebestaan in die praktyk tot industriële vennootskap was om te breek met die konsep van aparte of af sonderlike ontwikkeling. Dr. Verwoerd het eerlikwaar gevrees dat die witman swartes sou uitbuit in gebiede soos Transkei... Dr. Verwoerd het absoluut nee gesê vir deelname..."  (In die vorige aflewering is dr Verwoerd se redes hiervoor so verwoord: "Ek het dit nie soseer teen Rupert se planne nie, maar as ek die Rembrandtgroep daar toelaat, watter morele reg het ek om ander soos Anglo American daar uit te hou? Veral die mynbougroepe het nie sulke edele motiewe nie en sal die tuislande se bates stroop. Dit kan baie maklik in neokolonialisme ontaard."  Dr Verwoerd het baie goed geweet dat die geldmagbase niemand sou ontsien om hulself verder te verryk nie.)

Dr. Rupert het na die gebeure by Sharpeville (1960) sy laaste persoonlike samesprekings met dr. Verwoerd gehou. "Ek het geglo dat hy die mag gehad het, die intellektuele mag, om te lei ... Ek het by hom gepleit dat eiendomsreg aan swartes in Soweto gegee word. Hy het dit botweg geweier. Ek het toe voorgestel ... dat 'n 99 jaar-huurpag ingestel word. Hy het nee gesê ... Ek het aangehou. Sy antwoord was: 'Nooit'. Ek het toe aan hom gesê dat as ek in sy posisie was, ek die gebied onmiddellik aan die inwoners sou verkoop het ... Dit sou weggedoen het met die gevoel dat die swartes onteien is, nêrens behoort nie en staatloos is ... Pleks van 'n groot nywerheidskompleks noord van Pretoria (sg. grensnywerhede) het ek voorgestel dat Soweto 'n stadstaat met plaaslike outonomie gemaak moes word. Dit kon suid- en weswaarts vergroot word met industriële ontwikkeling. Ek het daarin misluk om hom op enige van die punte te oortuig. Ek kon nie meer doen nie." Dr. Rupert het vervolgens daarop gewys dat ons teen 1985 reeds vanaf die 99 jaar-huurpag beweeg het tot volle eiendomsreg. "Net soos ek na Sharpeville bepleit het. Dit was meer as twintig jaar wat verpas is. Byna 'n kwarteeu."

Na my uittrede uit die NP het ek nog steeds politieke kongresse in Transvaal bygewoon as waarnemer en dr. Verwoerd sien optree. Wat my altyd beïndruk het, was sy selfversekerdheid. Hy kon twee uur lank praat sonder om na woorde te soek. Hy was absoluut oortuig dat hy reg was, en dit is die boodskap wat hy oorgedra het. By myself het ek gedink, hier is 'n geniale persoon; is dit moontlik dat hy nie besef dat afsonderlike ontwikkeling nooit in die praktyk kan werk nie? Of die beleid nou kon werk of nie, dit was soos 'n gebou wat laag vir laag opgerig is en Verwoerd het hom nie laat stuit nie.

Vir die grootste meerderheid van sy volgelinge was hy "'n man van graniet" en het hulle in steeds groter getalle vir die NP gestem, veral nadat hy Eerste Minister van Suid-Afrika geword het. Dit verklaar dan ook waarom hy so kort na mnr. Strijdom se dood al begin dink het dat die tyd vinnig naderkom dat Suid-Afrika na ’n republikeinse regeringsvorm moet oorskakel. Dit was in teenstelling met wat die NP in sy program van beginsels onder staatkundige oogmerke aanvaar het, nl. dat die NP na die kieserskorps sou gaan met 'n versoek om 'n republiek te word eers wanneer daar die grootste moontlike steun hiervoor sou wees onder beide Afrikaans- en Engelssprekende burgers in Suid-Afrika.

Dr. Verwoerd was blykbaar vas oortuig dat daar wel 'n meerderheid van die totale aantal geregistreerde kiesers sou wees wat dit sou steun. Selfs in die geledere van die senior ampsdraers van die NP was daar ernstige twyfel of hy reg was, maar hy was vasberade en het hulle tog oortuig dat die tyd ryp was al sou die meerderheid klein wees. Die uitslag van die referendum het dan ook getoon dat hy die tekens reg gelees het. Uit 'n ontleding van die uitslag was dit duidelik dat 'n groot aantal "Bloedsappe" - Afrikaners wat nog altyd vir die party van Louis Botha en Jan Smuts gestem het - nou na die NP oorgegaan het en nooit weer na die Verenigde Party sou terugkeer nie. Baie Engelssprekende kiesers het ook vir die republiek gestem, al het sommige van hulle later weer na die Verenigde Party teruggekeer. Die gunstige uitslag vir die republiek het tot gevolg gehad dat die twee algemene verkiesings wat gevolg het op die volkstemming, naamlik dié in 1961 en 1966, 'n groot vermeerdering in die aantal stemme en kiesafdelingwinste vir die NP beteken het.

In teenstelling met die voorspellings van die teenstanders van 'n republiek dat dit ekonomies rampspoedig vir Suid-Afrika sou wees as die land 'n republiek word, het daar 'n buitengewoon groot ekonomiese oplewing in Suid-Afrika plaasgevind, wat ook baie bygedra het tot die groter steun vir die NP veral in die verkiesing van 1966.

Ek wil graag hier vir die eerste maal in die openbaar melding maak van 'n vertroulike byeenkoms wat gedurende 1959 op die plaas van brig. H.J. Bronkhorst van die Verenigde Party naby Pretoria plaasgevind het. Drie van die dertien petisionarisse wat in 1955 beswaar gemaak het teen die verwydering van die name van die kleurlinge in die Kaap vanaf die kieserslys, het 'n versoek gerig tot sir De Villiers Graaff, hoofleier, mnr. J.L. Horak, algemene sekretaris en mnr. Marais Steyn van die Verenigde Party om oor die moontlikheid van steun vir 'n republiek te gesels. Die drie petisionarisse was prof. PV Pistorius, prof. Albert Geyser en ekself. Dit was nog voor dr. Verwoerd sy plan oor 'n volkstemming bekend gemaak het, maar toe daar genoeg aanduidings was dat so iets aan die kom was. Ons versoek was dat die Verenigde Party die inisiatief moes neem om te vra vir 'n volkstemming en om dan hulle ondersteuners te vra om dit te steun. Dit sou dan die kwessie van 'n republiek uit die partypolitieke arena verwyder en kon sodoende bydra om die NP en die Verenigde Party se samewerking te verkry om belangrike landsvraagstukke gesamentlik te probeer oplos. Sir De Villiers Graaff was algeheel daarteen gekant en het vas geglo dat daar geen meerderhede vir 'n republiek verkry sou word in Natal en die Kaapprovinsie nie. Dit het in sy geval geblyk dat hy die tekens van die tyd oor hierdie saak heeltemal verkeerd gelees het.

Dr. Verwoerd was ook 'n bedrewe politikus. 'n Interessante voorbeeld is die manier waarop hy die afwykende geluide van Piet Cillie, redakteur van Die Burger, geneutraliseer het. In Desember 1960 het daar ewe skielik 'n agitasie in die briewerubriek van die betrokke koerant ontstaan om bruin mense deur bruin mense in die parlement te laat verteenwoordig. Die redakteur het die debat probeer stimuleer en later daarop aanspraak gemaak dat Die Burger 'n belangrike rol gespeel het in die stryd teen apartheid in 'n tyd toe niemand dit durf waag het om dr. Verwoerd teen te gaan nie.

Maar wat het gebeur? Dr. Verwoerd het deur die hele ding gesien, in Januarie 1961 die Federale Raad van die party bymekaar geroep en net weer die prosedure laat formuleer, naamlik die rol van die verskillende provinsiale kongresse en die Federale Raad om beleid te wysig. Hy het toe gesê die geleentheid om veranderings aan te bring, is daar, maar tot tyd en wyl die bestaande masjinerie die saak in oënskou geneem en anders besluit het, bly die partybeleid soos dit is. Daarna was Die Burger tjoepstil en het die hele saak net daar doodgeloop.

In die gedenkskrifte van sir Robert Menzies, die Australiese premier van die vyftiger- en sestigerjare, verskyn daar 'n onthullende brief van dr. Verwoerd gedateer 24 Augustus 1960, waarin hy in duidelike taal uitspel waarom swart verteenwoordiging in die parlement, sosiale integrasie en diplomatieke verteenwoordiging deur die swart state van Afrika nie op daardie stadium vir Suid-Afrika aanvaarbaar was nie (Afternoon Light, pp. 202-209). Wat die eerste aspek betref, skryf dr. Verwoerd:

“On the one hand any form of multiracial government or partnership would become the thin end of the wedge for the ousting of the white man from what is his rightful centuries old national home ... On the other hand from no people can political rights and full opportunity and human dignity be withheld as they become educated and trained and developed, and this training the black man in South Africa receives at the hand of the white man.”

Wat persoonlike diskriminasie teen swart besoekers betref, skryf dr. Verwoerd:

“If in South Africa all non-whites from outside the country were to be dealt with as white visitors would be, then there would be no justifica-tion or possibility for dealing differently with the non-white inhabitants of the country. Due to the latter’s numbers this would mean a swamp-ing by non-whites of everything the white man has developed. Full social integration would necessarily follow and the white man would not be able to preserve anything for himself, including political con¬trol. Again this would mean giving away everything that he has built up. Here again we are dealing with a possible thin end of the wedge.

It must be understood that only after sufficient success has been achieved in the direction of separate development with full opportuni-ties for all, each among the members of his own group, can relaxa¬tions take place in the white area. It is therefore not a matter of human dignity but of self-preservation with full readiness to waive distinctive treatment when the danger of losing out has disappeared.”

Dit is dus te verstane dat dr. Verwoerd gedurende sy Eerste Ministerskap telkens ferm opgetree het om afwykende gedrag wat tot politieke of sosiale integrasie kon lei, in die kiem te smoor. Sulke situasies het hulle in 1960/1961 en weer in 1965 voorgedoen. Dit was gebeure wat nie dr. Verwoerd se skerp waarneming, fyn aanvoeling en logiese denke ontsnap het nie. Dit het veral te doen gehad met die lewe op ekonomiese, sosiale en ontspanningsgebied waar wit en swart mense daagliks met mekaar in aanraking gekom het. Dr. Verwoerd het gevoel dat sekere neigings spoedig beëindig moes word anders sou dit die beleid van afsonderlike ontwikkeling ondergrawe en die wittes se toekoms in gevaar stel.

Toe 'n paar prominente lede van die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasseaangeleenthede (SABRA) in 1960/1961 'n navorsingsverslag met voorstelle aan die hoofbestuur voorgelê het waarin aanbeveel is dat die Kleurlingkiesers in Kaapland deur hulle eie mense in die parlement verteenwoordig moet word, het dr. Verwoerd gesorg dat hulle vervang word deur ander persone wat nie hulle standpunte gedeel het nie. Daar was sprake dat dr. Verwoerd so sterk oor hierdie saak gevoel het dat hy aan SABRA laat weet het dat hy nie weer sou instem dat 'n minister of senior amptenaar met SABRA skakel totdat aan sy versoek voldoen is nie.

In sy veelbesproke toespraak by Loskopdam op 4 September 1965 het dr. Verwoerd onmiddellik opgetree toe daar berigte uit Nieu-Seeland, tydens 'n Suid-Afrikaanse rugbytoer, gekom het dat dr. Danie Craven sou gesê het dat die volgende All Black-rugbyspan maar Maori's met gemengde bloed kon insluit wanneer hulle weer in Suid-Afrika kom speel. Dr. Verwoerd het dr. Craven gerepudieer en verklaar dat van besoekende spanne verwag word om die gewoontes van die gasheerland te respekteer. Dit is so aanvaar en geen verdere onduidelikheid het bly hang oor die hele aangeleentheid nie.

Buitengewone hoë agting, steun, bewondering en feitlik die hoogste menslike verering vir een enkele Afrikanerleier in Suid- Afrika se geskiedenis sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het dr. Verwoerd te beurt geval vir die leiersrol wat hy gespeel het om die wittes en veral die Afrikaners se belange te beskerm, en om vir hulle sowel as die swartes 'n vreedsame toekoms te probeer skep.

'n Hoogtepunt in sy dankbare volksgenote se hulde aan hom was die verjaarsdagfunksie in die Aula by die Universiteit van Pretoria op Saterdagaand, 8 September 1962. Dit is gereël deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) en die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI). Die hoofitem op die program getitel Vlam van Voortbestaan was 'n huldigingsbeeld, Skeppervan 'n toekoms, geskryf deur C.D. Fuchs van die SAUK en aangebied onder regie van Anna Neethling-Pohl. Dit het betrekking gehad op die gebeure rondom die aanslag op dr. Verwoerd se lewe bykans twee en 'n halwe jaar tevore, en sy oorlewing daarvan. Die eenduisend gaste van die aand het die vernaamste leiersfigure in Afrikanergeledere ingesluit. Die 77 organisasies wat daar verteenwoordig was, was 'n samesnoering van die grootste aantal Afrikaner-organisasies wat nog ooit een enkele byeenkoms bygewoon het om hulde te bring aan 'n lewende persoon. Onder die indrukwekkende lys het net dié van die Nasionale Party en die Afrikaner Broederbond ontbreek. Hulle lede was in elk geval betrek by die huldiging aangesien almal deur oorvleuelende lidmaatskap ingesluit was by een of meer van daardie organisasies wie se name op die program verskyn het, naamlik die Afrikaanse koerantgroepe, Afrikaanse Christelike verenigings, ATKV en ATKB, al die Afrikaanse kerke, die Afrikaanse universiteite, Afrikaanse vakbonde, landbouverenigings, die Voortrekkerbeweging, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Afrikaanse onderwysersverenigings, Helpmekaar-organisasies van die Kaap, Natal en die OVS, Afrikaanse myngroepe, Afrikaanse studenteverenigings en nog meer.

In sigbare vorm het die verering van dr. Verwoerd tot uitdrukking gekom in die koppeling van sy naam aan sekerlik die meeste openbare strukture in die land, byvoorbeeld belangrike staatsgeboue soos die H.F. Verwoerd-gebou by die parlement in Kaapstad, die Provinsiale Gebou in Bloemfontein, die H.F. Verwoerd-hospitaal in Pretoria, 'n stad soos Verwoerdburg (later Centurion) naby Pretoria, die reuse H.F. Verwoerd-dam (nou die Gariepdam) in die Oranjerivier, skole, hoofstrate, 'n lughawe en baie ander openbare ruimtes in kleinere dorpe in Suid-Afrika is na hom vernoem. Standbeelde, borsbeelde en skilderye het meestal spontaan hul verskyning gemaak.

Dit is egter ironies dat diegene wat deel gehad het aan hierdie huldebetuigings feitlik nie 'n vinger verroer het om te verhinder dat baie van hierdie historiese simbole ná 1994 met groot minagting en op onseremoniële wyse verwyder is, en dat party daarvan in stofbedekte pakkamers of in die opelug sonder enige toesig gestort is nie.

Hy is weggeruk voordat hy sy lewenstaak, soos hy dit gesien het, kon voltooi. Sy standbeelde kan verwyder word en sy politieke strukture afgetakel word, maar sy naam sal in die geskiedenis van Suid-Afrika opgeteken bly.