HERINNERINGE AAN DR HF VERWOERD (13)

Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd

SAAM OP DIE LANG PAD

Fred Barnard

"Met my diensaanvaarding as privaat-sekretaris in 1952, is daar baie duidelik deur die Minister aan my uitgespel dat sy private uitgawes alles op sy private rekening geplaas moes word en nie op die staat se rekening nie. Wanneer fondse benodig word, sou die Minister dit uit sy eie sak voorsien." – 'n les vir regerings van vandag...

Mnr. J.F. Barnard was vir dertien jaar, van 1952 tot 1965, privaat sekretaris van dr. Verwoerd. Hierdie tydperk het hy ter boek gestaaf en kan gelees word by 13 Jaar in die skadu van dr HF Verwoerd .  Daarna was hy nege jaar lank ondersekretaris (Industriële Afdeling) van die Departement Beplanning. Hy het later as nywerheidskonsultant en eiendomsontwikkelaar opgetree. Sedert 1976 het hy sakeondernemings in Nelspruit bedryf en woon tans in Pretoria.

Ek het dramatiese tye saam met dr. Verwoerd beleef; naamlik die eerste aanslag op sy lewe en die Statebondskonferensie van 1961, maar wanneer ek vandag - na vyf en dertig jaar - terugdink aan daardie dertien onvergeetlike jare wat dit my voorreg was om hom as privaat sekretaris te dien, is dit veral die klein dingetjies wat vir my bo alles uittroon. Sy innemende glimlag, sy reguit manier van dinge sê en doen, sy regverdigheid teenoor almal om hom heen, en ook sy sin vir eerlikheid. In alles wat hierdie man verrig het, was daar 'n ouwêreldse korrektheid - iets wat vandag blykbaar oudmodies geraak het.

Ek is egter nie gekontrakteer om dr. Verwoerd se deugde te besing of om die wêreld daarvan te probeer oortuig dat hy nie die "groot onderdrukker" was soos hy soms uitgebeeld word nie. Ek wil maar net in eenvoudige taal en in alle beskeidenheid 'n paar dinge weergee wat ek met my eie oë gesien, met my eie ore gehoor en persoonlik ervaar het.

In die eerste plek dink ek aan die wyse waarop hy met staatsgeld omgegaan het. Min mense het waarskynlik geweet hoe streng hy tussen sy private uitgawes en uitgawes waarvoor die belastingbetaler se geld aangewend moes word, onderskei het.

Met my diensaanvaarding as privaat-sekretaris in 1952, is daar baie duidelik deur die Minister aan my uitgespel dat sy private uitgawes alles op sy private rekening geplaas moes word en nie op die staat se rekening nie. Wanneer fondse benodig word, sou die Minister dit uit sy eie sak voorsien. "Jy moet net vra," het hy gesê. Van my is verwag om sorgvuldig boek te hou. Dit het ek dan ook wel gedoen. Onder "private uitgawes", so is daar aan my verduidelik, word bedoel die aankoop van posseëls vir briewe aan sy kiesers in Heidelberg, die kiesafdeling wat hy verteenwoordig het, familielede en vriende. Posseëls vir Kerskaartjies was vir sy rekening. Koerante wat nie deur die staat voorsien is nie, moes uit sy rekening vir hom aangekoop word, terwyl daar eweneens vir telegramme aan familie en vriende uit sy sak betaal moes word - so ook vir familie en vriende se verjaardagruikers en blomme vir begrafnisse, en so meer.

In die onderste laai van my lessenaar lê daar vandag nog steeds 'n verweerde ou notaboekie getiteld Kleinkas Kontantboek: Dr. H.F. Verwoerd, kompleet met kredietkant en debietkant, wat as stille getuie die verhaal van 'n werklik eerlike politikus vertel. Wanneer ek deur die geel bladsye van hierdie eenvoudige boekie blaai, dan sien ek dat daar op 28 Julie 1952 op Witsieshoek 'n bedrag van drie sjielings en vier pennies (R0,34) vir tee en koffie uit die rekening betaal is. Gedurende Maart 1952, so staan daar in die boekie opgeteken, is daar geskenke gekoop. Dit lees: "Geskenke - Boesmans: pyp en twak - negentien sjielings en ses pennies" (Rl,96). "Krale - een pond" (R2.00). Op 9 Oktober 1952 is daar 'n potjie ink ten bedrae van twee sjielings en nege pennies (R0,28) gekoop, terwyl die Minister se rekening op 15 November 1952 met die bedrag van 'n halfkroon (R0,25) gedebiteer is "vir 'n telefoonoproep na Witbank". Op 4 September 1956 het die Minister tjek nommer 538889 ten bedrae van vyf pond (RI0.00) in sy rekening gestort en op 8 Desember 1959, toe hy reeds Eerste Minister was, is sy rekening met 'n bedrag van twee pond (R4,00) gedebiteer vir die aankoop van posseëls om Kerskaarte te pos. Op 28 Julie 1959 is daar 'n tele­gram aan die Junior Springbokke gestuur wat drie sjielings en ses pennies (R0.35) gekos het. Klein dingetjies wat ’n baie groot storie vertel.

Daar is mense wat vandag aan my sê dit is oordrywing. Hieroor moet my lesers maar self oordeel. Die man het dit nie gedoen om enigiemand te beïndruk of om roem te verwerf nie. Niemand, behalwe sy persoonlike personeel van vier, het hiervan geweet nie. Soos hy met sy kantoorfinansies sy uitkyk op die lewe openbaar het, so het hy dieselfde versigtigheid aan die dag gelê wanneer grootskaalse besteding van staatsgeld ter sprake gekom het. Dit het telkens geblyk uit kabinetsmemoranda wat ek van tyd tot tyd onder oë gehad het. Hierdie streng finansiële dissipline was geen ydele vertoon nie. Dit was bloot in ooreenstemming met die man se innerlike. Dit was Verwoerd.

Wanneer ons byvoorbeeld - toe hy nog Minister was - na politieke byeenkomste op die platteland gereis het, was daar geen sprake van die gebruik van 'n amptelike voertuig nie. Daar was ook geen sprake van veiligheidsbeamptes of polisiemanne wat ons sou vergesel nie. Nee, sy beleid was dat as hy vir die Nasionale Party reis en nie namens die regering nie, dan gebruik ons nie die ampsmotor nie. Dan ry ons doodeenvoudig met sy 1942 Chrysler en dan betaal hy vir die brandstof. Uit en gedaan.

En het ons nie gereis nie! Die ganse platteland vol na politieke byeenkomste, skoolfunksies, landboutentoonstellings, openingsfunksies, hoeksteenleggings, begrafnisse en wat nog meer. Dit was dan my taak om vooraf, in samewerking met partyorganiseerders of wie ook al, reisplanne uit te werk en hotelplekke te bespreek, ofskoon ons dikwels sommer by die ooms en tantes tuisgegaan het. Hierdie plattelanders was wonderlik gasvrye, goeie mense wat die lewe vir my gewoonlik baie makliker gemaak het.

Soos ek gesê het, dan het ons met die Minister se getroue ou Chrysler in die langpad geval, ek agter die stuur en wanneer ek, volgens die Minister se oordeel, moeg geword het, het hy oorgeneem. Soms het hy egter op die agterste sitplek 'n slapie gevang of sy toesprake voorberei.

Vir my was hierdie ritte 'n onvergeetlike belewenis, 'n bron van louter genot, want dan is daar land en sand oor alle denkbare onderwerpe gesels, geredekawel en gefilosofeer. Eienaardig genoeg is daar selde oor die harde politiek gepraat, waarskynlik omdat sy politieke bedrywighede en sy staatsverantwoordelikhede nie tyd gelaat het vir die gewone stoepstories nie. Nou kon hy hier op Afrika se stofpaaie uiting gee aan dingetjies wat na aan sy hart gelê het, soos waar die beste hengelplekke is, hoe die aas aan die hoek gesit moet word, hoe vinnig die ou Chrysler nog kan loop, hoe heerlik dit moet wees om te boer en wat hy alles in Leipzig, Berlyn, Hamburg en Londen belewe het toe hy daar student was.

Hy was hartstogtelik lief vir die bodem en vir hom was dit hartverskeurend toe hy, as gevolg van meer verantwoordelikhede, moes afskeid neem van sy plasie op die Oos-Transvaalse Hoevëld naby Devon. Die hunkering na die vrye ruimtes, na sy klein Frieskudde en sy mielielande, het maar altyd bly steek.

Soos die boerebloed dik in sy are gevloei het, so was hy byna verslaaf aan die hengelkuns, versot op die viswaters. Hy was inderdaad 'n volbloed visserman en kampioen in eie reg. Dit is presies hierdie liefdes van hom waaroor daar nimmereindigende gesprekke gevoer is. Hierdie ou-ou onderwerpe het maar telkens weer nuwe onderwerpe geword namate ons ons bestemming genader het. So het die stamperige, lang gruispaaie oor die platteland kort geword, die ure verbygesnel, my reisgenoot rustig en ek veel ryker, want dit is hier waar ek 'n ander mens, 'n groter gestalte ontdek het.

Een van daardie ritte wat ek nie gou sal vergeet nie, is die een wat ons kort voor die algemene verkiesing van 1953 na die Oos-Transvaalse platteland (tans Mpumalanga) onderneem het. Die Minister het by 'n byeenkoms op Nigel opgetree. Die dag daarna was ons op Barberton en die volgende dag op Nelspruit. Met ons terugreis na Pretoria, merk ons buite Machadodorp dat die brandstoftenk gevaarlik leeg geword het. Daar word by 'n vulstasie stilgehou, maar toe betaaltyd aanbreek, vind die Minister dat sy beursie net so leeg soos die Chrysler se tenk geraak het. Slegs 'n paar sjielings en enkele pennies - geen note nie. Ewe verleë word die bestuurder, die bewerige privaat-sekretaris, se hulp ingeroep. Bewerig, want diep binne-in sy siel het hy gewonder of daar hoegenaamd so iets soos muntstukke in sy sakke is.

Nog nooit voor hierdie episode en nog nooit na hierdie epi­sode was daar so 'n gevroetel agter geld aan nie. Oplaas, teen alle verwagtinge in, skraap ek vyf pond in sjielings en pennies bymekaar. Inderdaad 'n heuglike oomblik in my lewe. Gelukkig het Doktor nooit van my angs en lyding in daardie uur van nood geweet nie. Ewenwel, die tenk was vol, die stryd gewonne en die reis na Pretoria gered.

Nog 'n dramatiese motorstorie, nog benoude oomblikke en nog 'n triomfantelike einde het hom een mooi oggend in die jaar 1952 voor die Uniegebou teen Meintjeskop afgespeel. Mike, die Minis­ter se motorbestuurder, was met die ampsmotor op 'n sending êrens in die stad. Skielik tref dit die Minister dat hy oor enkele minute vir 'n baie dringende afspraak wat hy wie weet wanneer gereël het, ook in die stad moet wees. Ek het van niks geweet nie; daar was nie 'n afspraak in my dagboek aangeteken nie. Om die bestuurder te probeer opspoor, was buite die kwessie. Ons het mos nie selfone gehad nie. Daar was skaars tyd om te dink. Toe ek my oë uitvee, staan die fors gestalte van die Minister hier vlak voor my lessenaar: "Meneer Barnard, waar's jou motor ...?"

Ek versteen terstond. Kan dit wees? Verwag die Minister, vir wie ek nou die dag die eerste keer ontmoet het, jou werklik dat ek hom met my knortjor, 'n 1938 Chevrolet met 'n battery wat nie baie sterk is nie (maar 'n voertuig wat darem toe reeds ten volle afbetaal was), stad toe moet vervoer? Deur Pretoria se besige strate, ten aanskoue van die publiek? Ek snak nog na my asem toe drafstap ons al halfpad met die Uniegeboutrappe af na my afbetaalde 1938 Chev­rolet. Ons spring in. Ek draai die regte sleutel. Stilte. Draai weer. Geen vonk - net 'n oorverdowende stilte. Ek hyg nog, toe staan die Minister alreeds by die Chev se agterent. Hy stoot en stoot. Genade bo genade! Net 'n tree of tien en 'n hik of twee toe praat die tjor - tot groot vermaak van die Minister - en 'n stille dankgebed van die bestuurder. Slegs enkele minute laat word die drietal, naamlik die Minister, die 1938-Rolls Royce en sy verligte bestuurder baie formeel by die bestemming deur hoogwaardigheidsbekleërs, grootkanonne van die stad en die burgemeester begroet. 'n Kalm en hoogs tevrede Minister bedank my vriendelik vir "die aangename rit" voordat ek myself druipstert uit die voete maak. Wat vir my as 'n ramp begin het, het plotseling in 'n triomf geëindig - danksy 'n man wie se gelyke ek nog moet ontmoet...

My kosbare ervarings het egter nie slegs in motorkarre of op die lang paaie plaasgevind nie. Daar was inderdaad 'n nimmereindigende reeks gebeurtenisse waarvan die een die ander met of sonder tussenpose opgevolg het. "Eentonige reëlmaat" sou 'n hopeloos verkeerde woordkeuse wees want by of naby dr. Verwoerd was eentonigheid totaal onbekend.

Ek onthou die keer toe die Minister en ek een aand, kort voor middernag, van binne af deur die Uniegebou se venster moes klouter omdat die nagwag soek was. Laat werk was destyds natuurlik vanselfsprekend. Horlosies was vir Doktor totaal oorbodig - net 'n versiering aan die arm! Wat my altyd verbaas het, was dat hierdie dinge die Minister nie in die minste gepla het nie. Nooit het hy opsigtelik vies of ontevrede gelyk wanneer sulke irritasies oor sy pad gekom het nie. Gelate, en met daardie kenmerkende glimlag, het hy dit doodeenvoudig as alledaagse gebeurtenisse aanvaar.

Dwarsdeur my lang verbintenis met dr. Verwoerd was daar 'n wonderlike, onverbeterlike werksverhouding. Eienaardig genoeg het Doktor my nooit as "Fred" aangespreek nie, altyd as "meneer Barnard"; anders as wat die geval was met ander Ministers se pri­vaat sekretarisse.

Daar was nooit sprake van onenigheid tussen ons nie, hoogstens alledaagse probleempies wat deur gesonde verstand opgelos kon word. Toe ek my bedanking as privaat-sekretaris indien, het ek tog die ongemaklike gevoel gekry dat hy my erg verkwalik het. Vandag is dit egter nie meer belangrik nie.

Wanneer dr. Verwoerd verkeerd opgevryf was, kon hy 'n moeilike man wees, maar hy was nie 'n wrokdraer nie. Hy was genaakbaar en altyd bereid om te luister. Dikwels is hy as 'n hardekop bestempel. Moontlik was hy - ek is nie so seker van die woordomskrywing nie. Maar nouja, wie wil 'n flegmatiese persoon as man, as pa, as kollega of as leier hê!

Een ding is seker: daar was nie 'n sweem van haat of nyd in sy wese nie. Hy het vas geglo dat dit wat hy gedoen het, in die beste belang van sy vaderland was.

Die jare saam met dr. H.F. Verwoerd was inderdaad vir my en vir Suid-Afrika goeie jare, jare met onvergeetlike herinneringe aan groot gebeurtenisse, maar ook aan klein dingetjies wat getuig van sy integriteit en doodgewone menslikheid.

Ek sal nie vergeet nie.