Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Siekte takel 'n mens af – nie net liggaamlik nie maar ook geestelik. Terwyl dokters hulle met jou liggaam besig hou, sit jy opgeskeep met onsekerheid en angs, opstandigheid en depressie. Daarby voel jy uitgelewer en eensaam. Maar siekte is méér as dit: dit kan ook nuwe uitdagings en nuwe perspektiewe bring en gee 'n mens ook tyd om waarlik te leef – al is jou tydjie ook hoe kort.
OU PRETORIA... (6)
...'n verhaal van die stad se Voortrekkerperiode
Dr. GUSTAV S. PRELLER
Lees reeks by Ou Pretoria
"SIELROERENDE EN VERHEFFENDE WILD-PANORAMA."
Teen die helfte van 1836 is Mzilagazi in eGabeni verstoord deur gerugte van ’n inval in sy gebied uit die Suide. Duisende witmense, so is aan hom vertel, trek deur die Vrystaat op, in hulle wit tentwaens, en jaag enorme kuddes beeste en skape aan.
Mzilagazi stuur toe sy veggeneraal, Mkalipi met ’n impi van duisend man, om die geval te ondersoek. Teen die einde van Augustus verras hulle die voorste waens van Potgieter se trek, op die noordelike wal van Vaalrivier, byna teenoor die teenswoordige Parys. Onverwags aangeval, is daar ’n aansienlike aantal manne, vroue en kinders om die lewe gebring, en die Bronkhorstfamilie wat ’n twaalftal jare later hul gevestig het op die wal van die Apiesrivier, se kinders word ontvoer en nooit weer van gehoor nie. ‘n Dertigtal manne het haastig laer getrek in ’n draai van die rivier, en hulle aanvallers met aansienlike verliese afgeslaan. Die Matabele het toe na Mosega teruggekeer met hulle buit.
Generaal Hendrik Potgieter het intussentyd ‘n verkenningstog onderneem van die Zoutpansberg-gebied, en daar tegelykertyd ‘n afspraak nagekom wat hy met Louis Trichardt gemaak het, wat toe reeds daar was. Met sy gaan en terugkoms het hierdie Potgieter-patrollie nie ver oostwaarts verbygegaan nie van die plek waar Pretoria later verrys het. Op sy terugweg na sy laer, kom hy toe op die toneel van die moord langs Vaalrivier af, die dag nadat dit plaasgevind het.
Die toneel wat hulle daar aanskou het was een van algemene verwoesting. Soos vermeld, het 'n aantal manne hulself ondertoe langs die rivier met sukses teen die Matabele-aanval verdedig, en nadat die vyand teruggeval het, het hierdie manne inderhaas die lyke van die Liebenbergs en ander wat daar op die veld gelê het, toegemaak met takke voordat hulle oor die rivier teruggeval het. Daar stryk oral aasvoëls neer, ook jakkalse en ander roofdiere sluip daar rond. In die rivier bewaar hulle die wrakke van twee waens; die ander het die vyand verwyder; en op die plek waar Botha en sy vriende hullle in die rivierdraai verdedig het, raas en tier die aasvoëls tussen die lyke van 'n 150 Matabeles.
Potgieter het ’n deel van sy laer suid van die rivier aangetref, en daarmee teruggeval op Vechtkop, naby die teenswoordige Heilbron, waar hy kort daarop een van die merkwaardigste slae van die Trek teen die Matabele gelewer het. Mzilagazi het Mkalipi weer uitgestuur, om die blankes te stuit, tans met ‘n uitsoekleër van 6,000. Met slegs 36 weerbare manne het Potgieter in ’n langdurige slag die Matabeles met grote verliese afgeslaan; maar die vyand het al die vee meegevoer, sodat hy sy laer vir byna twee weke nie kon verset nie.
Later het Potgieter en Maritz die Matabeles by Mosega opgevolg, die plek en vyftien buite krale verniel, en ‘n aansienlike deel van hulle geroofde beeste en skape teruggeneem.
In Desember 1837, nadat Dingane ’n tweede aanval op Mzilagazi geloods het, het Potgieter en Uys hom weer aan die Marikwa aangeval, en die Matabeles verdryf na Betsjoeanaland en Matabeleland.
Na die mislukte Italeni-geveg in Natal, het Potgieter noord van Vaalrivier teruggekeer, en die Matabele agterblyers oor Silkaatsnek noordwaarts verdryf. Kort voor hierdie laaste skoonmaak, het Harris op die toneel van Mzilagazi se vroeëre bedrywigheid langs die Apiesrivier verskyn, en hy gee ’n belangwekkende beskrywing van die land soos hy dit teen die einde van 1835 gesien het.
Dit is moeilik om sy bewegings met enige sekerheid te volg, maar van eGabeni af het hy suid-ooswaarts gejag, tot ongeveer op die toneel van die geveg tussen Nhlela en Mzilagazi se saamgeraapte leër, aan Pienaarsrivier, (Mbekane), ongeveer dertig myl suid-oos van Pretoria. Daarvandaan het hy omgedraai, Skurweberg en die Gashan-reeks oorgetrek, langs Krokodilrivier af. Hy het die plek besoek waar die Matabeles die Griekwas in die pan gehak het, by Rhenosterkop, wes van Pretoria, en het noordwaarts getrek tot aan die Palala, vanwaar hy suid teruggekeer het en die Voortrekkers in die Vrystaat ontmoet het.
Van Krokodilrivier, wat hy en ander die Limpopo noem, op die hoogte ongeveer van die Hartebeestpoortdam, sê hy "hierdie betowerende rivier kom hier onverwags tevoorskyn, en rol sy diepe en stille waters tussen rye treurwilkers deur 'n poort in die bergversperring, om noodwaarts weg te gaan.”
Dit blyk duidelik dat die aangesig van die natuur aanmerklik verander het, en nie ten goede nie, gedurende die eeu van menselike werkdadigheid wat daar verloop het sedert Harris hierdie woordbeeld daarvan geskryf het. Slegs diegene wat die Krokodilrivier in hierdie omgewing sedert die laaste vyftig jaar geken het, voordat die verskriklike grondverspoeling en versanding plaasgevind het, met die gevolglike verwoesting van plantegroei, sal instaat wees om die beskrywing te herken as dié van die Krokodilrivier by die dam, en hoër op te Pelindaba. Die wilde rivierwilger, wat Harris aansien vir treurwilgers, kan nog hier en daar aangetref word waar dit ’n wanhopige stryd om die lewe voer. En die water van die ou rivier is lankal nie meer diep of stil nie.
Die veld van die rivier af tot waar teenswoordig Pretoria staan, het gewemel van 'n menigte wildsoorte. Harris, wat vir die oomblik sy wild slagterstories vergeet, word amper liries oor die verskeidenheid en aantal van die wild wat hy aangetref het, en die skilderagtigheid van die land.
"Op 5 November,” sê hy, "het ons die spoor van olifante gevolg, myle ver langs die hange van die berge deur reuse woude.”
Hy jag hier van die Krokodilrivier af oostwaarts, tussen die Daspoortrandreeks en Skurweberg, in die rigting van Pretoria.
"Die tyd het ons nie toegelaat om die soeke op te volg nie, en so het ons afgedaal in 'n vallei op die vernietiging van ’n rooi hartbees, waar 'n groot trop van hierdie skaarse diere stil besig was om te wei. ’n Paar wit renosters het in die pad gekom, en terwyl ons nie graag op hulle wou skiet nie, het dit moeite gekos om ons van hulle geselskap te bevry. ’n Groot trop wilde varke, (vlakvarke) wat hulle lang, sweepagtige sterte regop dra, het voor ons verbygekom, en uiteindellik daarna sien ons, binne pistoolskot, twee groot buffelbulle. Dit was ’n volslae panorama van wild ... Die buffels is digby my verby op weg na die heuwels. Ek het die agterbeen van die grootste verbrysel, en hom te perd agtervolg; en, na twee dappere stormlope op drie bene, het hy geval om nie meer op te staan nie. Dit was ’n beeld van die Afrikaanse buffel, sestien en 'n halwe hand hoog aan die blad. Sy sware horings was van punt tot punt vier voet, en lyk soos ’n rotsmassa wat sy kleine, kwaadaardige gryse ogies oorskadu. Dit het aan die dier se wese die slimste, meer sombere en haatdraende uitdrukking gegee.
"Van die hoogte van 'n heuwel, wat ’n uitgebreide uitsig verskaf het oor ’n bontbosvlakte, het ek kort daarop ’n groot trop buffels gewaar wat stilstaan en herkou onder 'n koelteboom. Ek het hulle tot naby bekruip en ’n bul met die eerste skoot geskiet; maar die verwarde weerklank wat daar tussen die berge weerkaats het, het die ander, ongeveer vyftig in getal, laat skrik en hulle spring, paniekbevange uit hulle skuilplek te voorskyn, niewetende van waar die skoot geval het, en trap alles in hulle pad plat, sodat ek ternouernood ontkom het.
"Voor dagbreek die volgende oggend is ons na die heuwels om na buffels te soek . . . ’n Diepe beboste klofie wat nie verniel was in die brand van die vorige dag nie, ’n verwoestende grasbrand wat hulle self aan die gang gesit het was gevul met wild wat daarin gevlug het vir die vlamme. ’n Renoster het ons byna doodgemaak; en eer ons weer kon laai sien ons ’n pragtige kudde van ’n honderd en vyftig buffels, teen ’n rand langs ’n vlei. Ons het hulle binne honderd en vyftig tree bekruip en twee bulle neergetrek voordat die ander gevlug het. Met ’n gekraak gaan hulle deur die woud, en keer droë boomstamme in hulle pad om, stuif langs die kruin van die volgende heuwel in verskriklike verwarring voort saamgedruk in ’n vaste flank terwyl hulle 'n ongelooflike stofdamp opjaag.
"Ons het op ons perde gespring en, nadat ons 'n tyd lank vasgesit het in die verraderlike modder van ’n spruit het ons die oorkantse wal bereik, en na verskeie skote nog twee neergetrek.”
’n Entjie verder kom hulle op ’n trop olifante af:
"Voor ons was ’n grootse en mooie panorama wat alle beskrywing te bowe gaan. Die ganse oppervlakte van die landskap was letterlik oortrek van die olifante. Binne ons gesigskring kon daar nie minder as drie honderd gewees het nie. Iedere hoogte en groen hoogtetjie was vol van hulle, terwyl daar in die laagte ’n digte, donkere, lewende massa van hulle was waar hul kolossale gedaantes die een oomblik gedeeltelik verberg agter die bome, wat hulle met reuse krag verniel, die ander weer gesien kon word soos hulle trots tevoorskyn tree in 'n kaalte en die boomtakke in hulle slurpe dra waarmee hul luierig die vlieë van hulle afhou. Die agtergrond was opgevul met ’n beperkte vergesig op ’n bloue bergreeks, wat hier 'n merkwaardige steil vorkoms kry (die Magalies) en 'n skildery voltooi het wat tegelyk sielroerend en verhewe was! ”
Dit was die Pretoriadistrik in November 1837.
Vervolg...