Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde soek nie sy eie belang nie...
WIE IS DIE SKULDIGES (52)
Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
GIF
Die tronkdokter was 'n ronde man. Sy maag het mooi bol gestaan; sy wange rond soos kussings; sy donker oë rond soos krale. Sy winkbroue was soos borsels. Sy bene was kort en reguit. Hy was van die tipe soos 'n mens twaalf, dertien jaar gelede, naamlik gedurende die Anglo-Boere-oorlog verwag het om in ‘n konsentrasiekamp te ontmoet. Sy beentjies sou vinnig oor die tentlyne geklouter het, en hy sou met professionele koelheid 'n smeekbede van 'n sterwende moeder vir haar kroos aangehoor het; of 'n hongerkreet van 'n uitgeputte kind. En met sy rondstap tussen die tente sou hy nie sonder tevredenheid nie die besef gekoester het dat die vernietiging van die empaaier se vyande tog vorder.
As dokter in die Fort-gevangenis was hy onafhanklik in sy gedrag teenoor die prisoniers, van wie ek een was. Tronkbewoners is stemloos. Hy kon, as hy dit so begeer, ongestraf 'n weinigie sadistiese genot smaak by die behandeling van sy pasiënte.
Met my het die kans hom egter vir 'n groot deel ontglip deur my waaksaamheid.
Die tronk maak elke fatsoenlike mens wat daar opgesluit is, vroeër of later siek. Die Iiggaamlike verwaarlosing en veral die geestelike pynigings verniel jou. By my was die eerste verskynsels daarvan 'n baie pynlike oor, wat ek probeer verlig het deur toediening van n bietjie warm olie. Ek het verlof gekry om voor die opsluiting in die sel in die namiddag 'n rukkie in die tronkapteek te versuim, waar die "orderly” my gewilliglik help.
Een namiddag sit ek daar en wag vir die olie om warm te word, toe die dokter ingerol kom. Hy was haastig en sy stem venynig, toe hy vra:
"What is wrong with that man?”
Die "orderly” beduie hom dat ek kla oor my oor.
Die dokter sê op 'n vyandige toon: "I' II cure him.”
Hy trippel soos n boosaardige haan na die medisynerakke agter die toonbank en giet uit n wyenek bottel 'n witterige vloeistof in 'n glasbuisie.
Ek merk alles skerp op, want ek was skrikkerig vir wat kan gebeur.
Die buis met vloeistof oorhandig hy aan die "orderly” met die bevel: "Put that into his ear.”
Die apteek-bediende kry effentjies 'n trek van ontsteltenis op sy gesig. Die dokter stap vinnig voor my verby en die deur uit. Ek was in spanning oor die vyandigheid van die atmosfeer. Die "orderly” kom, nou weer heeltemal kalm, na my toe, druk my kop opsy . . . en net toe die eerste druppeltjie van die vog die binnekant van my oor raak, smyt ek die man dwarsdeur die apteek en ruk die kraan van die wasbak oop om my oor uit te spoel, want die een druppel van die "medisyne het 'n skok in my kop veroorsaak net soos van 'n brandende koeël. Die water het verligting gebring, maar ek het 'n hele paar uur in my sel op- en neergestap onder sulke hewige pyne dat my denkkrag verlam was.
Na verskeie maande was ek vry van die tronklewe en laat 'n deskundige my oor ondersoek, want dit was doof. Hy stel vas dat die drom deur die een druppeltjie gif stukkend gevreet was, maar dat die wond in die loop van tyd toegegroei het.
Die merk daarvan het gebly, nes die herinnering aan hierdie sadistiese wandaad.
As die bedoeling van die tronkdokter geslaag het, sou daar moontlik van verloop van enkele dae in een of ander koerant 'n kort beriggie verskyn het wat meedeel, dat rebel-prisonier So-en- So aan verstandsverbystering gely het en in die tronkhospitaal in Johannesburg oorlede is. Niemand buitekant die hoë mure sou die gekerm van die sterwende gehoor het nie, want 'n tronkbewoner is stemloos vir die wêreld daar buite.
Oorpyne het nie vir my alleen as slagoffer gekies nie, en die tronkdokter was nie net vir my ’n pyniger nie. Waarskynlik was dit die vinnige verandering van die kommandolewe in die wye veld na die ops!uiting binne die drukkende tronkmure, wat meer as een laat Iy het. En die dokter was daar vir algarl
Philip Schalekamp, onderoffisier van genl. Muller, het bv. in die Fort ook moeilikhede met sy oor gekry, 'n sweer. Elke more moes hy na die dokter gebring word, en ook sy Iewe is amper daarmee heen. Maar hy het die geluk gehad om via Kimberley te beland in die tronk van Tokai, by Kaapstad. Toe hy daar aankom, so verklaar hy later, was hy so swak (en hy was tog 'n sterk jong man, wat as Penkop in die oorlog die veldlewe goed deurstaan en daardeur gehard was) dat hy nie meer kon loop of sit nie. Hul moes hom indra. Die mishandelde oor het eet en slaap onmoontlik gemaak. Gelukkig vir hom was ds. L. P. Vorster een van sy medegevangenes, wat sy toestand aan die outoriteite gerapporteer het. Hierdie dokter was van 'n ander geaardheid, wat (na ondersoek van die pasiënt) 'n kwaai oordeel uitgespreek het oor sy kollega van die Johannesburgse Fort. Na 'n behandeling van drie dae kon Schalekamp weer eet en sy jeugdige krag het sy spoedige herstel bevorder.
En nou nog 'n staaltjie van dieselfde soort wreedaardigheid in die Fort deur die rondemaag-doktertjie gepleeg. 'n Rebel- prisonier, Olivier, het ’n bloedvint gekry, so groot soos 'n groot hoendereier. Die dokter wou niks doen om hom te help nie: die seer moes maar ryp word. En toe dit so ver was, tree die dokter op. Met sy mes slyp hy 'n skerp punt aan 'n vuurhoutjie. Hy pak Olivier aan sy kophare, boor die vuurhoutjie se punt in die brandende bloedvint en draai die venynige houtjie daarin rond "soos 'n mens die veer van 'n horlosie opwen”. Vir die pasiënt was dit 'n onbeskryflik pynlike operasie, en vir die dokter 'n blykbaar sadistiese plesier.
AI die pyne en die menigte van sielesmarte is in stilte met manmoedigheid gedra. En die sugte wat geslaak is, versmoor tussen die vyandigheid van die onmeetlik hoë tronkmure.
Die profeet is oppad - vervolg...