DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (3)

Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog

TRANSVAAL VERLOOR SY ONAFHANKLIKHEID (3)

Vroeg in Mei 1877 het Kruger en Jorissen met W E Bok as sekretaris hulle na Europa begewe. Nadat hulle in Kaapstad ’n onderhoud met sir Bartle Frere gehad het, was hulle teen die begin van Julie in Engeland.

Tydens die Deputasie se onderhoude met lord Carnarvon is dit onomwonde aan hulle gestel dat die anneksasie onherroeplik is. Op 13 Julie het Kruger sterk standpunt ingeneem en Carnarvon laat verstaan dat die Deputasie hom nie met die anneksasie kan versoen nie. Dit blyk egter dat Jorissen nie meer vir Kruger in sy siening gesteun het nie, aangesien hy die onderhandelings in die rigting van selfbestuur, tegemoetkomings in verband met invoerregte en die moontlikheid van ’n lening begin stuur het.

 

Tydens die Deputasie se derde en vierde onderhoud met Carnarvon op 18 Julie en 10 Augustus 1877 het laasgenoemde oor drie belangrike “bewyse” beskik wat selfs Kruger sonder enige verdere verweer gelaat het.

Eerstens het Shepstone gerapporteer dat die anneksasie dwarsdeur die hele Transvaal met blydskap verwelkom is. Tweedens het Carnarvon ’n brief van ds Jooste van Potchefstroom, wat op 14 Julie in De Zuid-Afrikaan verskyn het, voorgehou. Daarin het ds Jooste onder meer verklaar dat hy deur die hele land gereis het en dat ongeveer 96 uit elke 100 inwoners die anneksasie verwelkom het. Verder het ds Jooste verklaar dat Kruger nie die Transvaalse volk verteenwoordig nie, maar slegs die “Dopperparty” wat nie meer as ’n derde van die bevolking uitmaak nie. Ook ’n artikel in De Volksstem van 25 April 1877 wat die Boere probeer oorreed het om die anneksasie as onherroeplik te beskou, is gebruik as ’n argument dat die meerderheid van die Transvalers die anneksasie verwelkom het.

Kruger het ten slotte versoek dat daar ’n volkstemming gehou moet word om te bepaal wat die meerderheid se gesindheid is. Hiervan wou Carnarvon niks weet nie. Hy het volstaan met die toestaan van ’n aantal voorregte onder die Britse vlag en ’n lening van £100 000. Ná hulle mislukte sending na Brittanje het die Deputasie Nederland besoek, eweneens sonder tasbare resultate. Vroeg in November 1877 het hulle die terugtog aanvaar en teen Desember in Suid-Afrika aangekom. Op 20 Desember was Jorissen en Bok in Pretoria, terwyl Kruger Rustenburg toe is. OP 5 Januarie sou die deputasie te Pretoria verslag doen van sy sending na Europa.

Die volkskomitee: vervolg...