SLUIPMOORD OP DR VERWOERD (3)

Beaumont Schoeman – geskryf in 1975

Lees reeks by SLUIPMOORD OP DR VERWOERD

Die daad

Die sluipmoordenaar het veertien sekondes gehad om die raadsaal van die Volksraad binne te glip nadat die aanvangsklokkies opgehou lui het en tot by dr. Verwoerd se bank te beweeg. Met afgemete presiesheid het hy dit gedoen.

Enkele oomblikke tevore het verskeie Volksraadslede die man in die donkerblou bodepak in die wandelgang sien staan en wag - totdat dr. Verwoerd opgedaag het. Hy het nie dikwels daar gekom nie, want sy werk was om die persmanne in ’n ander deel van die gebou te bedien. Tog het hulle dit nie vreemd gevind dat hy op daardie oomblik daar was nie. Bodes in die Volksraad beweeg vryelik sonder om agterdog te wek.

Maar mnr. Bill Holland, die Kleurlingverteenwoordiger vir Outenikwa, sê hy het hom al tevore raakgesien. “Ek het gewonder waar kom hulle aan die uitlander”, het hy later vertel.

Die bode het uit die breë gang tussen die Nasionale Party en die Verenigde Party se banke by die tafel aan die onderkant van die saal waar die goue ampstaf elite middag met die aanvang van sittings deur die ampswag geplaas word, na links geswaai na die smal gangetjie tussen die voorbank wat dr. Dönges en mnr. P.M.K. le Roux, die Minister van Binnelandse Sake, gedeel het, en dié van dr. Verwoerd, wat alleen in ’n bank gesit het. Die bank van dr. Dönges en mnr. Le Roux was aan dr. Verwoerd se regterkant. Aan die linker kant van dr. Verwoerd, die laaste bank in die voorste ry aan Nasionale Partykant en regoor die Speaker se stoel het mnr. Ben Schoeman, Minister van Vervoer en Leier van die Volksraad, gesit. Reg agter dr. Verwoerd het mnr. Koos Potgieter en nog ’n sweep gesit.

Tsafendas het dr. Verwoerd van sy regterkant genader waar hy na die gedrukte agenda of ordepapier, soos dit in parlementêre taal heet, gesit en kyk het. Die sluipmoordenaar het ’n tree of twee by dr. Verwoerd verbyweeg waar hy in die regterkantste deel van die bank gesit het, toe half teruggedraai en hom oor die onbesette deel van die bank op dr. Verwoerd gewerp.

Toe die aanvaller orent kom, het dr. Verwoerd homself effens in die bank opgelig met sy hande voor hom in ’n afwerende posisie. Daar was ’n glimlag op sy gesig. Moontlik het die man maar net gestruikel en in sy rigting geval, het hy waarskynlik op daardie oomblik gedink.

Ander lede van die Raad het blykbaar ook so gedink. Dr. Paul van der Merwe, sweep van Suidwes-Afrika, het links van dr. Verwoerd gestaan en wou ’n paar woorde met hom wissel nadat hy vorentoe gestap en by die Sekretaris van die Volksraad se tafel, regvoor die Speaker se stoel, ’n notaboekie gaan haal het.

“Toe gebeur dit. Die man het vooroor geval asof hy struikel. Hy het half oor dr. Verwoerd geval en hom met die dolk gesteek. Ek het hom van die voorkant af probeer wegdruk,” vertel hy.

Die sluipmoordenaar het hom ’n tweede keer vorentoe gewerp en dit het voorgekom asof hy dr. Verwoerd se baadjie styf na agtertoe oor die skouer trek. Toe het die lede in dr. Verwoerd se onmiddellike omgewing vir die eerste keer die dolk in sy hand gesien. Dr. Verwoerd het in sy bank teruggesak onderwyl die aanvaller nog wild na hom gesteek het.

In die daaropvolgende oomblikke het chaos en wanorde geheers. Dr. Dönges, wat agter Tsafendas die raadsaal binnegestap het, het hom van agter om die lyf beetgekry. In die tweede ry aan die Nasionale Party se kant regs agter dr. Verwoerd was mnr. Frank Waring, Minister van Inligting, besig om die vraelys van die dag te bestudeer toe sy aandag deur die lawaai afgetrek is. Hy het die skermutseling by dr. Verwoerd se bank gesien en bo-oor twee banke gespring om vinnig daar te kom. Hy het Tsafendas in ’n halwe Nelson-greep beetgekry en sy kop na agter gedwing.

Op daardie oomblik was mnr. Cas Greyling van Carletonville ook reeds by dr. Verwoerd se bank en hy het mnr. Waring gehelp om Tsafendas op die grond neer te pluk. Mnr. Greyling het half bo-oor die sluipmoordenaar gaan sit en hom met die vuis geslaan.

Hoe mnr. Greyling so vinnig by dr. Verwoerd se bank gekom het, was ’n raaisel, aangesien hy heel agter in die raadsaal in die voorste ry dwarsbanke by die hoofingang gesit het. Hy vertel egter self hoe dit gebeur het dat hy so vinnig by dr. Verwoerd se bank skuins teenoor die Speaker se stoel uitgekom het.

“Ek was reeds in my bank toe dr. Verwoerd die raadsaal binnegestap gekom het. Dit het my getref hoe netjies, lewendig en fris dr. Verwoerd gelyk het. Sy hare was mooi geskeer. Ek het gedink dat hy oor twee dae vyf-en-sestig jaar sou wees. Hy het vir my so sprankelend gelyk. Van daardie oomblik af het ek hom met die oog tot by sy bank gevolg waar hy eers lede in sy onmiddellike omgewing vriendelik en glimlaggend gegroet en toe in sy bank gaan sit het. Ek het die man in die bode-uniform opgemerk en gesien hoe hy oor die Eerste Minister val. lets het my gewaarsku dat alles nie pluis was nie en ek het na dr. Verwoerd se bank gehardloop.”

Die eerste steek van Tsafendas was in die bors, net links van die middellyn en ’n bietjie laer as die kuil. Die steek was na die hart en dit het getref. So ’n steek in die hart, sê die deskundiges, bring ’n onmiddellike verlamming, selfs van die spraakorgane. Daarna kon Tsafendas die ander steke plaas waar hy kon verseker dat bloeding die res sou doen, indien dit nodig was.

So vinnig en presies is die dolk op dr. Verwoerd se liggaam geplant dat toe kol. Buytendag, die lyfwag, die deur na die openbare galery bereik vanwaar hy dr. Verwoerd elke oomblik in die oog kon hou, alles reeds verby was.

’n Vrou in die groot openbare galery het histeries gegil en nie ver van haar af nie, het ’n matriekdogter elke oomblik en elke faset van die afgryslike daad aanskou. Die sewentienjarige Magda Strydom, ’n leerling van die Hoerskool J.J. du Preez, het saam met negentien van haar maats van hulle geskiedenisklas die dag besoek by die Parlement afgelê en het op die koms van die Speaker met sy gevolg in die raadsaal gewag.

Sy het dr. Verwoerd die raadsaal sien binnekom, maar haar aandag is ’n paar oomblikke van hom afgetrek deur ’n forsgeboude man wat ook haastig die raadsaal ingekom het. Hy het in die rigting van dr. Verwoerd gestap.

“Toe hy twee of drie voet van dr. Verwoerd af was, het hy sy hand opgelig. Ek het ’n dolk in die lig onder in die saal gesien flits. Toe hy sy eerste steek gemik het, het hy dr. Verwoerd aan die baadjie beetgekry en hom na agter gedruk. Sy hand het ’n paar keer vinnig op en af beweeg. Dr. Verwoerd het agteroor gesak en sy gesig het doodsbleek geword. Selfs nou nog as ek my oe toemaak, kan ek sy gesig voor my sien”, het sy ’n paar dae na die voorval vertel.

“Asof gedryf deur ’n impuls”, vertel Magda verder, “het ek opgespring en uit die galery gehardloop na onder toe. Toe ek onder kom, het ek gesien hoe polisiemanne die man wat dr. Ver­woerd gesteek het, by die gebou uitsleep. Hulle het hom agter in ’n wa gegooi en ek het nader beweeg.

“Hy het verskriklik gelyk - ’n afskuwelike mens. Hy het daar in die wa gelê en sy oê het van die een kant na die ander kant geflits. Sy gesig was vol bloed en so ook sy hande - groot, sterk hande. Ek sal nooit daardie hande vergeet nie.”

Die mense onder in die saal het geskreeu en Magda het gesien hoe sommige van hulle met uitgestrekte arms na dr. Verwoerd se bank gehardloop het. Niemand anders in die galery het gekyk toe die Eerste Minister gesteek is nie. Sommige van hulle het ge­skreeu: “Wat het gebeur?” Magda het aan hulle gesê dat dr. Verwoerd met ’n dolk gesteek is.

Die rede waarom nie een van haar maats die daad gesien het nie, was omdat ’n bode hulle gevra het om op te skuif in die voorste ry net nadat hulle gaan sit het. Hy het verduidelik dat die Eerste Minister se lyfwag in die voorste ry ’n sitplek moes kry.

Een van die leerlinge het grappenderwys opgemerk: “Wat kan die lyfwag hierbo doen as iets daaronder gebeur?”

Onder in die raadsaal het ’n Volksraadslid op die Sekretaris van die Volksraad se tafel gespring en hard geroep: “Dokter! Dokter!” Dr. Ephraim Fischer, geneesheerlid van die Verenigde Party, en dr. Radford het feitlik gelyktydig by dr. Verwoerd se bank gekom. Dr. Verwoerd het agteroor in sy sitplek gelê. Sy gesig was wasbleek. Langs sy bank het ’n groot plas bloed op die tapyt gelê. Dr. G. de V. Morrison van Cradock was besig om mond-tot- mond-asemhaling op dr. Verwoerd toe te pas. Dr. Fischer het sy hemp voor oopgeskeur en sy hart begin masseer. Hy het dr. J.C. Jurgens van die Nasionale Party gevra om na sy kantoor te gaan en sy spuitnaald en ’n hartstimulant te kry.

“Gelukkig hou ek gereeld van die hartstimulante in my kantoor vir enige gebeurlikheid. Dr. Verwoerd was drie keer gesteek - in die nek laag af aan die linkerkant, in die hart aan die linkerkant en in die regterlong. Hy het verskriklik gebloei. Dr. Clark, die Sekre­taris van Gesondheid, en dr. Van der Merwe van Fauresmith het my gehelp met die toediening van die hartstimulant. Dr. Morrison het volgehou met kunsmatige asemhaling, maar na ’n tydjie het ek en dr. Radford die Eerste Minister se toestand bespreek en besluit dat dit nutteloos was. Hy was reeds dood,” vertel dr. Fischer.

Terwyl mev. Verwoerd met die hysbak van die wandelgang na die openbare galery gery het, is die afskuwelike daad gepleeg. Toe sy in die openbare galery aankom, was alles verby. Haar man se lyfwag was reeds onder in die raadsaal en het aan die mense in die galerye geskreeu om die saal te verlaat. Sir De Villiers Graaff, die Leier van die Opposisie, het op die trappies na die Speaker se stoel geklim en ’n beroep op die mense gedoen om kalm te bly.

Verbysterd en sonder om te weet wat presies met haar man gebeur het, het sy haar weer na onder gehaas. Sy het gesien hoe die mense om dr. Verwoerd se bank saamgedrom het. Wat het daar op daardie oomblik deur haar gedagtes geflits ? Het die tonele van die eerste mislukte aanslag op haar man se lewe op 9 April 1960 in Johannesburg hulle weer voor haar geestesoog afgespeel?

Onder is sy deur dr. Willie Venter die raadsaal ingelei en na dr. Verwoerd se bank geneem waar hy leweloos en bleek agteroor gelê het. Die Volksraadslede wat hom bygestaan het, het eerbiedig opsy gestaan. Verdwaas het sy oor die lewelose liggaam gebuk en hom ’n vaarwelkus op die voorhoof gegee. Sy het geweet sy sou hom nooit weer sien nie. Daarna is sy weer die raadsaal uitgelei en na sy kantoor geneem.

Buite die raadsaal het kol. Buytendag vir Tsafendas deursoek. Toe hy sy uniform oopknoop, het hy ’n leë Ieerskede om sy middellyf gevind. ’n Tweede skede met ’n dolk daarin is om sy regterbeen gevind. Hy het die twee dolke aan kapt. Coetzee van die Polisie oorhandig en hom opdrag gegee om Tsafendas as prisonier te neem terwyl hy weer na dr. Verwoerd se bank gestap het waar dr. Morrison hom meegedeel het dat die Eerste Minister reeds dood was.

In sy verklaring na die moord het kol. Buytendag gesê dat hy dr. Verwoerd by hulle aankoms by die Parlementsgebou na sy kantoor vergesel het. Die klokkies het reeds begin lui en hulle is van sy kantoor reguit na die raadsaal. Hy het saam met dr. Verwoerd tot by die ingang van die raadsaal gestap. Mnr. Willem Olivier, die private sekretaris, was by hulle. Hy is daarna, soos gewoonlik, na die openbare galery.

Toe hy in die galery aankom, het hy gesien dat mense om dr. Verwoerd se bank saamdrom. Hy het onmiddellik teruggehardloop. Daar was ’n worsteling aan die gang. In daardie stadium het hy nie geweet dat daar ’n aanval op dr. Verwoerd was nie.

“Toe ek sien dat dr. Verwoerd gesteek was, het ek omgedraai en na die bode gestap. Ek het uitroepe van verbasing gehoor en sommige van die lede het paniekbevange voorgekom. Sommige het gedreig om Tsafendas aan te rand. Ek het in ’n harde stem gesê dat Tsafendas my prisonier was en dat hulle hom alleen moet laat.

“Tsafendas se arms is deur Volksraadslede vasgehou en hy was half bewusteloos. Ek het hom versigtig deurgesoek en ’n dolk in ’n skede gevind wat aan sy regterbeen was. Onder sy baadjie het ek ook ’n skede gevind wat aan sy lyfband vas was”, meld hy in sy verklaring.

Dr. Radford het later vertel dat opposisielede na dr. Verwoerd se bank gehardloop het. Hy het hom ook daarheen gehaas en gemerk dat die Eerste Minister bleek was. Dr. Fisher het dr. Verwoerd se hemp voor oopgeskeur en was besig om sy hart te masseer. Hy het sy pols gevoel. Daar was geen polsslag nie en dit het ook nie weer teruggekeer nie. Bloed het vryelik uit sy bors gevloei. Hy was seker dat dr. Verwoerd feitlik onmiddellik dood was.

Een van die bodes, mnr. Schuin, meld in sy verklaring, dat hy omtrent twaalf voet van dr. Verwoerd se bank gestaan het en gesien het hoe Tsafendas die dolk uitpluk en dr. Verwoerd verskeie steke toedien. Hy het na buite gehardloop en ’n polisieman gevra om ’n ambulans te ontbied.

Dr. Paul van der Merwe van Middelland sê in sy verklaring dat hy in die bank net agter dr. Verwoerd gesit het. Toe hy in die raadsaal ingekom het, was dr. Verwoerd reeds in sy bank. Hy het later opgestaan om ’n aantekeningboek op die Speaker se tafel te gaan haal. Op pad terug het hy besluit om ’n paar woorde met dr. Verwoerd te wissel en het aan sy linkerkant gaan staan.

“Dr. Verwoerd het in die rigting van die opposisiebanke gekyk. Ek het afgebuig om met hom te praat. Voordat ek egter ’n woord kon sê, het die boodskapper, Tsafendas, hom skielik half oor die sitplek van dr. Verwoerd gewerp. Ek het sy linkerhand op dr. Verwoerd se bors gesien. Tsafendas het sy hand ’n ruk daar gehou. Toe hy sy regterhand oplig, het ek ’n dolk gesien. Ek het toe besef dat dr. Verwoerd gesteek word. Vanwaar ek gestaan het, het ek geprobeer verhoed dat die aanval voortgaan, maar ek was te ver weg. Ek het gesien hoe hy die Eerste Minister verskeie kere gesteek het.”

Dr. Van der Merwe, wat nie ’n geneesheer is nie, vertel verder dat dr. Verwoerd se gesig byna onmiddellik blou geword het. Hy het die Premier probeer help. Dr. Verwoerd se linkerarm het slap langs sy lyf gehang en hy het baie gebloei.

“Vir my het dit gelyk of hy reeds dood was”, se dr. Van der Merwe.

Dit was ook die getuienis van ander Volksraadslede. Alles was binne sekondes verby, finaal. Demitrios Tsafendas het sy werk goed gedoen en Hendrik Verwoerd met vier suiwere steke neergevel. Geen mens wat onkundig is oor die menslike liggaam, kon met so ’n sekerheid die regte plekke vir die dolksteke uitgekies het nie. Niemand wat ’n staatsman met ’n mes gaan vermoor midde in die hele Volksraad en net veertien sekondes het om sy doel te bereik, kan bekostig om steke te verkwis nie. Hy gaan sekuur te werk.

Amateurs tree op soos Cassius, Brutus, Casca, Cinna en die ander samesweerders wat Julius Caesar in die Romeinse Senaat met messe om die lewe gebring het. Caesar kon nog opspring na Casca se eerste steek en hom teen die samesweerders verweer. Na verskeie steke kon hy nog “Et tu Brute?” vra voordat hy, met sy mantel toegevou om sy gesig, aan hulle voete neergestort het.

Dr. Verwoerd kon na die eerste steek nie praat of keer nie en die sluipmoordenaar kon sy werk afrond - vier steke in enkele sekondes, te midde van 160 volksverteenwoordigers en ’n klomp amptenare.

Die Volksraad se daaglikse verrigtinge begin gewoonweg om 2.15 nm. Volgens ’n ou gebruik wat ontstaan het, is die horlosie van die Volksraad vyf minute voor, sodat wanneer die klokkies om 2.15 begin lui, dit in werklikheid 2.10 nm. is.

Die debatte wat van Maandag tot Vrydag in die Volksraad gevoer word, word weekliks gepubliseer in ’n band wat sowat 250 tot 300 bladsye beslaan. Vir die week 5 tot 9 September 1966 beslaan die verslag van die debatte net ses skrale bladsye.

Maandag, 5 September 1966, was ’n openbare vakansiedag. Die Volksraad het nie gesit nie. Op die eerste bladsy van daardie week se Debatte van die Volksraad staan daar bo-aan:

“Dinsdag, 6 September 1966.”

“Gebed - 2.40 nm.”

Die twintig minute verskil tussen die gewone aanvangstyd wan­neer die Speaker om 2.20 nm. die gebed doen en die 2.40 nm. van 6 September 1966 vertel die verhaal van die geweldige dinge wat gebeur het in die mees dramatiese en mees betekenisvolle twintig minute van hierdie eeu.

Die Speakersgebed in die Volksraad, altyd mooi weens die keurigheid van die woorde, het daardie dag om 2.40 nm. yl en onwerklik geklink. Dit kon in sy streng vormgebondenheid nie kom uit die verskeurde orde wat daar binne die mure van die raadsaal geheers het nie, met ’n vars, donker bloedplas op die groen tapyt langs die bank waar die Eerste Minister gesit het.

Die verslag vervolg dan:

“Die Minister van Vervoer: Meneer die Speaker, ek het nog nie amptelik van die hospitaal verneem of die Eerste Minister nog lewe nie; ek glo nie. Ek wil dus op hierdie tydstip onbestrede voorstel dat die Raad nou verdaag.

“Goedgekeur.

“Die Raad verdaag om 2.43.”

Vier-en-twintig uur na Tsafendas se daad in die Volksraad het die Volksraad weer op sy normale tyd byeengekom. Die verslag van die verrigtinge lui:

“Woensdag, 7 September 1966.

“Gebed - 2,20 nm.”

Daarna volg in koue druk:

“Vakature.

“Die Speaker: Met diepe leedwese moet ek aankondig dat daar ’n vakature ontstaan het in die verteenwoordiging in die Raad van die kiesafdeling Heidelberg weens die dood gister van Sy Edele dr. H.F. Verwoerd.”

Toe is daar in die Volksraad hulde aan die vermoorde Premier gebring.

In die Senaat is daardie middag ook treffend hulde gebring.

“Ons is arm. Suid-Afrika is arm vandag”, het min. Jan de Klerk gesê.

Sen. Tienie Bekker het namens Kaapland eenvoudig en roerend gepraat.

“Ons sal nog baie dae”, het hy profeties gesê, “wanneer daar beslissings geneem moet word, vir onsself afvra: Wat sou dr. Verwoerd gesê het oor hierdie probleem?”

Min. Alf Trollip het namens Natal ook treffend in die Senaat gepraat. Hy het na dr. Verwoerd verwys as “moontlik die grootste” - van Suid-Afrika se premiers.

“Ek dink nie”, het hy gesê, „dit is nodig om aan my kollegas hier in die Senaat te sê dat dr. Verwoerd Suid-Afrika was nie” en toe die dolk in sy hart gesteek is, is dit in die hart van Suid-Afrika gesteek.”

Vervolg...