Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Die afgelope 24 uur het God alweer vir jou die geskenk van 86 000 sekondes gegee. Het jy een van hulle gebruik om vir Hom dankie te sê?

SLUIPMOORD OP DR VERWOERD (5)

Beaumont Schoeman – geskryf in 1975

Lees reeks by SLUIPMOORD OP DR VERWOERD

Die kommunis

Demitrios Tsafendas is op 14 Januarie 1918 in Lourenco Marques gebore. Toe hy op agt en veertigjarige ouderdom Suid-Afrika se sesde Premier in die Volksraad in Kaapstad vermoor het, was hy ’n frisgeboude man van sowat ses voet, breed geskouer, so sterk soos ’n bees, met groot, dik hande.

Tsafendas het in sy lewe onder baie name deur die wêreld gegaan. Die voorname wat hy by verskillende geleenthede gebruik het, was Demetrio, Dimitrio, Dimitro, Demetrios, Demetrius en James. Ook sy van het telkens veranderings ondergaan: Tsafendakis, Tsafandakis, Tsafantaki, Tsafendos, Tsafendis, Tsafantakis en Williams. Onder sommige mense het hy ook bekend gestaan as Mimis en Miemie.

Alles dui daarop dat Tsafendas ’n buite-egtelike kind is. Sy vader, Michaelatos alias Michael alias Miquel Tsafendakis of Tsa­fandakis, was oorspronklik ’n Griekse onderdaan van Candia, Krete. In 1947 het Tsafendas sr., ’n Suid-Afrikaanse burger geword.

Die moeder, Amelia William, alias Amelia Williams, was ’n Portugese onderdaan van Mosambiek. Sy was ’n Nie-blanke. Vermoedelik was een van haar ouers ’n Blanke en die ander ’n Swazi.

In Tsafendas se geboortesertifikaat word sy moeder as Amelia Williams, ’n huisbediende, aangegee. Volgens sy stiefmoeder het hy eers toe hy al gewerk het, uitgevind dat hy ’n buite-egtelike kind en ’n halfnaaitjie is.

Tsafendas se vader is op 14 Februarie 1962 in Pretoria oorlede - vier jaar en sewe maande voordat sy seun Suid-Afrika se Premier vermoor het. Volgens inligting wat in 1966 ná die moord bekom is, het sy moeder op daardie tydstip nog gelewe en in een van die Swart buitewyke van Lourenco Marques gewoon. Tsafendas self het egter verklaar dat sy op 21 Januarie 1927 oorlede is.

Aan die Polisie het Tsafendas gesê dat hy sy moeder nooit geken het nie. Volgens wat aan hom vertel is, was hy ongeveer ’n jaar oud toe hy na sy ouma - sy vader se moeder - in Egipte gestuur is. Daar het hy gewoon totdat hy ongeveer ses jaar oud was. Dit was omstreeks 1925 toe hy na Lourenco Marques teruggekeer het waar hy saam met sy vader en stiefmoeder - sy vader is intussen weer getroud - gewoon het.

Hy vertel voorts dat hy in 1927 deur ’n familielid verkrag is. Hy het egter niemand hiervan vertel nie en dit was dus nie moontlik om vas te stel of hy gelieg het of die waarheid gepraat het nie.

Dit was ook omstreeks 1927 dat Suid-Afrika die eerste keer met die persoon kennis gemaak het wat nege en dertig jaar later die raadsaal van die Volksraad in Kaapstad sou binnesluip en die Eerste Minister sou vermoor.

Aanvanklik is hy in ’n Anglikaanse sendingskool in Lourenco Marques geplaas, maar omdat hy en sy stiefmoeder nie kon klaar- lcom nie, is hy as ’n leerling na die primêre Engelsmediumskool op die Oos-Transvaalse dorpie Middelburg gestuur. Hierdie skool se rekords toon aan dat Demitrios Tsafendakis daar van 1927 tot 1930 ’n leerling was en dat hy in Desember 1930 standerd drie geslaag het.

Die eerste lêer waarop die familienaam Tsafendakis in Suid-Afrika verskyn het, dra die nommer G8226. Die lêer is geopen toe Tsafendas se vader in Februarie 1931 aansoek gedoen het om sy vier minderjarige kinders vir onderwys na Transvaal te stuur. Die aansoek was by die Kantoor van die Kommissaris van Immigrasie en Asiatesake, destyds nog ’n afsonderlike afdeling in die Departement van Binnelandse Sake.

Een van die kinders se name is in die aansoekvorm aangegee as Demitrios. Op die omslag van Lêer G8226 verskyn die volgende: Michel Tsafendakis Re Wife - Maria; Children - Demitrios, Victor, Evangelina, Katrina.

Met hierdie aansoek is nooit voortgegaan nie. Later is ’n ander omslag met die naam Demitrio Tsafendakis daarop gebruik en die oorspronklike omslag is daaraan geheg. Geen kruisverwysing na ander lêers is ooit daarop aangebring nie.

Tsafendas beweer dat sy vader gedurende die depressiejare in geldelike moeilikheid beland het en dat dit die rede was waarom hy nie na die skool op Middelburg teruggekeer het nie. Hy is toe terug na die Anglikaanse sendingskool in Lourenco Marques waar hy tot 1933 skool gegaan het.

Sy stiefmoeder verklaar dat hy toe nie verder wou skoolgaan nie en dat hy op vyftienjarige ouderdom in ’n winkel begin werk het. Tsafendas het verklaar dat hy van 1933 tot 1935 aandklasse begin bywoon en standerd vier in Portugees en standerd vyf in Engels geslaag het.

Op 9 Augustus 1935 wend Tsafendas persoonlik sy eerste poging aan om Suid-Afrika binne te kom. Hy was toe sewentien jaar oud. In die aansoek word sy naam as Demitrio Tsafendis aangegee, maar hy onderteken dit met die naam Demitrio Tsafendakis. ’n Geboortesertifikaat het die aansoek vergesel en daarin word sy naam as Demitrio Tsafendas aangegee, maar in ’n vertaling wat by die Portugese sertifikaat aangeheg is, verskyn dit as Demitrios Tsafendas.

Op 12 Desember 1935 is hierdie aansoek geweier en op 24 April 1936 word die weiering bevestig. Geen redes vir die weiering ver­skyn in die stukke nie.

’n Lêer is vir die man Tsafendas in die Departement van Binnelandse Sake geopen. Die nommer daarvan was B3700. Hierdie lêer is later by Lêer 35226/63 ingelyf wat weer op sy beurt by Lêer 98070/65 ingelyf is. In 1966 het die omslae van eersgenoemde twee lêers nie meer bestaan nie en op die omslag van Lêer 98070/65 het die naam Demitrio Tsafendas verskyn. Die enigste verwysing op hierdie leer na ander lêers is die na Lêer 35226/63.

In 1936 het Tsafendas as agttienjarige jong man Suid-Afrika vir die eerste keer onwettig binnegekom. Geen permit om die land in te kom, is deur die betrokke staatsdepartement aan hom uitgereik nie.

Die volgende jaar word nog ’n lêer, B7771, vir Tsafendas deur die Departement van Binnelandse Sake oopgemaak. In hierdie lêer verskyn ’n belangrike brief wat vir die eerste keer aandui met watter soort man die owerhede hier te doen gehad het.

Die brief was gedateer 29 Junie 1937, was gerig aan die Adjunk-kommissaris van Polisie, Marshallplein, Johannesburg, en onder­teken deur die Suid-Afrikaanse Konsul-generaal in Lourenco Marques. Klaarblyklik moes die Suid-Afrikaanse Polisie in Mei van daardie jaar begin navraag doen het oor Tsafendas. Die brief van die Konsul-generaal was in antwoord op daardie navraag. Dit het gelui:

“Met verwysing na u W.D. 10/3/305 van 29 Mei betreffende Demitrios (Jim) Tsafantakis, het ek die eer om u in kennis te stel dat die volgende besonderhede nou deur die plaaslike Portugese Owerhede verstrek is:

  1. Die bovermelde is ’n halfnaaitjie, twintig jaar oud en daar is verklaar dat hy in hierdie gebied gebore is.
  2. Sy vader, Miquel Tsafantakis, is plaaslik welbekend en sy volksgenote het ’n hoë dunk van hom.
  3. Demitrios Tsafantakis was sowat ’n jaar gelede by die Lou­renco Marques-kiosk in diens, maar is ontslaan vanweë sy kommunistiese neigings - hy is tans glo in diens van Imperial Airways en glo by Quelimane gestasioneer.
  4. Terwyl dit heeltemal moontlik is dat hy gemoeid is met die verspreiding van kommunistiese propaganda, is daar egter nie genoegsame bewyse hiervoor nie en die plaaslike Owerhede is dus nie in ’n posisie om enige stappe teen horn te doen nie.” (Brief uit Engels vertaal.)

Sowat ’n maand na hierdie brief, op 17 Julie 1937, het Tsafendas se stiefmoeder en haar vier kinders (hy is nie een van die vier nie) aansoek gedoen om blywende vestiging in Suid-Afrika. Dit word toegestaan en die egpaar vestig hulle met die vier kinders in Suid-Afrika. Sekere van die besonderhede aangaande hierdie aansoek is op Lêer G8226 en ander besonderhede op Lêer B7771 geplaas.

Demitrios Tsafendas self het intussen na Lourenco Marques teruggekeer na ’n onwettige verblyf van sowat ’n jaar in Suid-Afrika. Op 17 Januarie 1938 doen hy weer aansoek om ’n permit om na Suid-Afrika te kom. Hierdie stukke is aanvanklik in ’n afsonderlike lêer geplaas, maar in die loop van 1938 word dit oorgeplaas na Lêer B7771. Uit ’n dokument gedateer 5 Augustus 1938 blyk dit dat Tsafendas se tweede aansoek om permanente vestiging in Suid-Afrika geweier is. Op Lêer B7771 is ook ’n dokument waarin die redes vir die weiering verstrek is. Dit lui:

“Applikant is nog nie in die Unie nie. Hy is ’n minderjarige en begeer om by sy familie aan te sluit. Geen vaste betrekking. Die Unie se Konsul-generaal in Lourenco Marques meld in ’n verslag aan die Kommissaris van Polisie, JHB, op 29 Junie 1937 dat applikant ’n halfnaaitjie is wat sowat ’n jaar tevore by ’n kiosk in diens was, maar ontslaan is weens sy kommunistiese neigings.”

Sowat sewe maande later, in Julie 1938, het Tsafendas weer aan­soek gedoen om Suid-Afrika binne te kom om by sy familie te kuier. Ook hierdie aansoek word geweier.

Ten spyte van al hierdie weierings het Tsafendas tog later in 1938 daarin geslaag om die grens na Suid-Afrika oor te steek.

In Suid-Afrika het Tsafendas baie gou ’n politieke tuiste by die Kommunistiese Party van destyds gevind. Volgens sy eie verklaring het hy kort voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog - dus kort na sy aankoms in Suid-Afrika - by die Kommunistiese Party aangesluit. Hy het gereeld sy ledegeld betaal totdat hy Suid-Afrika in 1942 verlaat het.

In sy verklaring meld hy dat hy vergaderings op die trappe van die Johannesburgse stadsaal bygewoon het. Hy onthou die name van Wolfson en Joffe, twee uitgeweke kommuniste, wat as sprekers daar opgetree het.

In 1941, terwyl hy as sweiser by die British Mining Supply Company in Johannesburg werksaam was, doen hy weer aansoek om permanente verblyf. In Augustus van daardie jaar word hy weens sy onwettige verblyf in Suid-Afrika skuldig bevind en met £12.10s beboet. ’n Permit vir tydelike verblyf word egter aan hom uitgereik.

In Lêer G8226 verskyn ’n brief gedateer 13 Oktober 1941 van die Kommissaris van Immigrasie en Asiatesake aan die Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie in Pretoria. Daarin word verwys na Tsafendas se skuldigbevinding en sy aansoek om permanente verblyf. In sy brief maak die Kommissaris van Immigrasie weer spesiale melding van die Konsul-generaal se brief van 29 Junie 1937 waarin hy verwys na sy kommunistiese neigings en bedrywighede.

“Die bovermelde inligting”, sluit hy sy brief af, “word na u deurgestuur sodat Tsafendas se bedrywighede dopgehou kan word, en ek sal bly wees as u my mettertyd sal adviseer indien enigiets tot sy nadeel bekend word.”

’n Week later, op 20 Oktober 1941, skryf die Adjunk-kommissaris van die Witwatersrandse Afdeling van die Suid-Afrikaanse Polisie, klaarblyklik op navraag van die Kommissaris van Polisie in Pretoria, ’n brief aan die Polisiekommissaris se kantoor. Hierin verskyn die verbasende stelling:

“Uit ’n sekuriteitsoogpunt gesien, is niks tot Tsafandakis se nadeel in hierdie Afdeling bekend nie en tot dusver is daar geen bewyse dat die man enige kommunistiese neigings getoon het sedert hy die Unie binnegekom het nie. Ek het geen vorige rekord van hierdie man nie.”

Daar was die brief van die Konsul-generaal in Lourenco Marques van vier jaar tevore waarin Tsafendas as ’n kommunis aangedui is. Daar was Tsafendas se eie bevestiging dat hy by die Kommunistiese Party in Suid-Afrika aangesluit het. Maar die Adjunk-kommissaris van Polisie in Johannesburg verklaar dat hy geen bewyse kon vind dat die man enige kommunistiese neigings getoon het sedert hy Suid-Afrika binnegekom het nie en dat hy geen vorige rekord van hierdie man het nie.

Skaars agt maande later, op 8 Junie 1942, doen Tsafendas aan­soek om ’n permit om die land te verlaat om per skip na Engeland te vertrek. ’n Verslag word deur die Kommissaris van Immigrasie by die Adjunk-kommissaris van Polisie in Johannesburg aangevra en vier dae later antwoord die Adjunk-kommissaris dat sedert sy brief van 20 Oktober 1941 aan die Kommissaris van Polisie in Pretoria, geen verslag van ’n ondermynende aard tot sy kennis gekom het nie.

Dieselfde dag, 12 Junie 1942, word egter die volgende nota op Tsafendas se Lêer G8226 aangebring: “Vertrekpermit na Engeland geweier met die Kommissaris se instemming nadat die saak met mnr. Cockram van die Hoë Kommissaris se kantoor bespreek is, wat nie ten gunste daarvan was dat hierdie tipe man geriewe moet kry om na Engeland te gaan nie.”

Die Hoof-immigrasiebeampte in Kaapstad word dienooreenkomstig in kennis gestel. In die brief aan die amptenaar in Kaapstad word onder meer verklaar:

“Ek mag, vir u vertroulike inligting, meld dat Tsafendakis die Unie onwettig binnegekom het nadat sy aansoek om verblyf ge­weier is. Hy was ’n halfnaaitjie en was aktief gemoeid met kommunistiese propaganda.

“Die enigste rede waarom hy nie gelas is om na Lourenco Marques, waar hy gebore is, terug te keer nadat hy skuldig bevind is op aanklag dat hy die Unie onwettig binnegekom het nie, was omdat hy werk van nasionale belang gedoen het.”

Verder word in die brief verklaar dat, aangesien Tsafendas nie meer by die betrokke firma, British Mining Supply Company, in diens is nie, hy gelas moet word om onmiddellik na Lourenco Marques terug te keer. Die Hoof-immigrasiebeampte in Kaapstad word deur sy hoof in Pretoria gevra om hom op die hoogte van sake te hou.

Ook hierdie brief word op Tsafendas se Lêer G8226 geplaas.

’n Dag nadat ’n vertrekpermit aan Tsafendas geweier is, word hy op die Eugene Livanos as tafelbediende in diens geneem. Met die skip vertrek hy op 13 Junie 1942 na Kanada.

Van die dag toe Demitrios Tsafendas as leerling van die Middelburgse Laerskool Suid-Afrika binnegekom het, tot die dag toe hy op 13 Junie 1942 tydelik tot siens gesê het aan Suid-Afrika en sy skrede na die buiteland gewend het, het die Suid-Afrikaanse ower­hede dus volledige rekord van hierdie man gehad. Hy was ’n persoon met sterk kommunistiese neigings, het aktief meegedoen aan kommunistiese bedrywighede, was ’n ingeskrewe lid van die Kommunistiese Party in Suid-Afrika, het sy ledegeld betaal en het gereeld vergaderings van die kommuniste in Johannesburg bygewoon.

Hierdie man is nogtans in die eerste jare van die Tweede Wêreldoorlog in ’n betrekking in Johannesburg geplaas waar hy werk “van nasionale belang” verrig het. Hy is uit hierdie werk ontslaan alleen omdat hy ’n lieplapper en leeglêer was.

Op 4 November 1963 sou die Suid-Afrikaanse owerhede weer met die man Demitrios Tsafendas kennis maak toe hy Suid-Afrika per motor by Komatipoort binnegekom het. Teen daardie tyd was sy naam al op die Departement van Binnelandse Sake se lys van verbode persone wat hulle nie in Suid-Afrika mag vestig nie. Dit was ook die jaar toe die kommuniste in Suid-Afrika ’n heftige aanslag op die orde in die Republiek gemaak het.

Toe Tsafendas op 13 Junie 1942 Suid-Afrika aan boord van die Eugene Livanos verlaat het, was hy in besit van ’n Griekse paspoort wat hy by die Griekse Konsul in Johannesburg gekry het. Hy het ook ’n Portugese paspoort, gedateer 5 Maart 1942, by hom gehad.

Tsafendas was glad nie van plan om hom in Kanada te vestig nie. Sy kop het Amerika toe gestaan. Kort na die aankoms van die Eugene Livanos in Kanada het hy gedros en op 9 Desember 1942 stap hy oor die ys van die St. Croix-rivier die VSA binne. Op Oujaarsdag van daardie jaar word hy in Maine in hegtenis geneem weens oortreding van die immigrasiewette.

Tydens sy verblyf in Suid-Afrika tot met sy vertrek in Junie 1942 het Tsafendas nooit enige tekens van geestelike afwyking getoon nie. Na sy inhegtenisneming in die VSA beland hy egter van tyd tot tyd vir kort rukkies in inrigtings vir geestelik versteurdes. Tydens sy aanhouding in die VSA word hy in die Boston Psycho­pathic Hospital opgeneem en op 23 April 1943 word hy daarvandaan na die Metropolitan State Hospital oorgeplaas. Hier is sy siekte as “psigo-neurose - gemengde soort” gediagnoseer. Twee maande na sy opname word hy egter op 24 Junie 1943 ontslaan en aan boord van die Pillory vir deportasie geplaas.

Hierna het Tsafendas op verskeie Amerikaanse skepe diens gedoen. Gedurende hierdie tyd is hy een keer in die Seamen’s Con­valescence Home, Oyster Bay, opgeneem en later het hy ook in die Amerikaanse leërhospitaal in Engeland beland. Op 12 Augustus 1944 word hy hiervandaan na die VSA teruggestuur en word in ’n hospitaal in Charleston, Suid-Carolina, opgeneem. Op 2 September 1944 is hy in die Roper-hospitaal. Hier ontsnap hy maar word op 5 Oktober 1944 in Boston gearresteer, en na die Alice Islandhospitaal, New York, gestuur.

Op 30 Oktober 1944 word gesertifiseer dat hy in staat is om sy werk as seeman te hervat. Sy geestestoestand word aangedui as “Constitutional Psychopathic State, Pathologic Emotionality.” Van hierdie oomblik af het Tsafendas kort-kort die VSA verlaat om dan weer sy verskyning in die een of ander Amerikaanse staat te maak. Op een van hierdie ekskursies na die VSA in Januarie 1946 word hy weer in hegtenis geneem en in New York aangekla van oortreding van die immigrasiewette. Nogmaals word hy gedeporteer, maar in Maart 1946 is hy terug in die VSA.

Dit is tydens hierdie besoek dat hy weer in ’n inrigting vir geestelik versteurdes beland. Op 27 Maart 1946 word hy opgeneem in die North Grafton State Hospital. Klaarblyklik was dit in hierdie inrigting waar hy die langste vertoef, want sy rekord toon aan dat hy op 31 Julie 1947 hier ontslaan is. Dit was ook die laaste keer dat hy in so ’n inrigting in die VSA opgeneem is.

Wat van besonder belang is, is ’n verslag van die hospitaal oor Tsafendas se geestestoestand wat die datum 12 Desember 1946 dra. Daarin word onder meer gestel:

“. . . het ’n kommunis op die ouderdom van twintig jaar geword. Verlaat Suid-Afrika omdat die Speurdiens op sy spoor was omdat hy ’n kommunis is.”

In die volgende paragraaf van die verslag word gemeld: “ . . en dat hy voorgegee het dat hy geestelik versteurd was omdat hy bang was om aan boord van ’n skip te gaan vanweë die baie lekkasies van skepe.”

Drie weke nadat hy uit die North Grafton-hospitaal ontslaan is, word hy weer na Griekeland gedeporteer. Omstreeks Oktober 1947 doen hy weer aansoek om permanente verblyf in Suid-Afrika. In sy Lêer G8226 verskyn die volgende nota: “Hy is ’n kommunis, ’n halfnaaitjie en ’n vroeëre onwettige immigrant. Weiering sterk aanbeveel.” In Junie 1948 herhaal Tsafendas sy aansoek en dit word nogmaals geweier.

Tydens sy verblyf in Griekeland het hy ’n vlugtelingpaspoort bekom waarmee hy na Frankryk is. Ook daar kon hy nie werk kry nie en hy vertrek toe na Portugal. Die Portugese owerheid wou blykbaar nie sy vlugtelingpaspoort aanvaar nie en ook nie sy bewering dat hy ’n Portugese onderdaan is nie. Op 8 Februarie 1949 arresteer hulle hom by die grenspos Barca d’Alva en hy word geruime tyd deur die Portugese owerheid aangehou.

Die datum 8 Februarie 1949 is van besondere belang. Op 26 April 1949 skryf hy ’n brief aan die Departement van Binnelandse Sake in Pretoria. Hy gee sy adres aan as Posbus 80, Sentrale Poskantoor, Griekeland.

Die regter wat die moord op dr. Verwoerd ondersoek het, vestig die aandag op hierdie feit en verklaar in sy verslag:

“Daar sal opgemerk word dat hierdie brief ’n adres in Athene aangee, maar volgens inligting tot beskikking van die kommissie was hy in April 1949 reeds in Portugal.”

Nadat vasgestel is dat Tsafendas wel ’n Portugese onderdaan is, het hy op 6 Februarie 1950 voor die Militêre Inspeksieraad in Portugal verskyn en is hy van militêre diens vrygestel. ’n Portugese persoonskaart is aan hom uitgereik en hy word toegelaat om as smous met skepe in Lissabon sake te doen.

In Mei 1950 doen hy onder die naam Demetrios Tsafandakis uit Lissabon weer aansoek om verblyf in Suid-Afrika en dit word weer geweier. Terselfdertyd doen hy aansoek om weer die VSA binne te gaan, maar ook dit word geweier.

Kort hierna, op 20 Junie 1950, waarsku die Gesantskapsekretaris in Lissabon die Sekretaris van Binnelandse Sake in Pretoria skriftelik dat Demetrios Tsafandakis te kenne gegee het dat hy van plan is om Suid-Afrika via Beira, Lourenco Marques of Rhodesië binne te kom. Hierdie waarskuwing word sowat ’n maand later aan die Konsulgeneraal in Lourenco Marques en die Hoof-immigrasiebeampte in Durban oorgedra.

In Oktober 1951 vertrek Tsafendas per skip uit Lissabon onderweg na Lourenco Marques, maar hy word nie toegelaat om te land nie en in Januarie 1952 word hy gedwing om na Portugal terug te keer.

Van hierdie oomblik af swerf Tsafendas in verskeie lande rond. Op 17 Maart 1952 beland hy weer vir sowat drie weke in ’n inrigting in Portugal waar ’n maagkwaal gediagnoseer word. Hierna swerf hy onder meer in Duitsland, Swede, Denemarke en ander Europese lande rond. Tydens sy verblyf in Duitsland beland hy in Februarie 1955 in die Ochsensall-hospitaal en dit is hier waar hy vir die eerste keer melding maak van ’n lintwurm. Hy sou beweer het dat die lintwurm hom maagpyn gee en dat hy dit kon hoor.

’n Priester van ’n godsdienstige sekte waartoe hy behoort het, ’n Amerikaner, het hom by hierdie hospitaal kom besoek. Aan een van die geneeshere het die priester gesê dat Tsafendas gedurende die oorlog gedros het, feitlik nooit werk nie, van land tot land swerf en dat hy hom nie vertrou nie.

Op 6 Junie 1955 is hy uit die hospitaal ontslaan, klaarblyklik genees van sy kwale.

Uit Duitsland het Tsafendas na Portugal teruggekeer as smous op die Taugus-rivier. Twee jaar sou verloop - na nog ’n kort verblyf in Duitsland - voordat Tsafendas in Engeland aanland.

Sy verblyf in Engeland is belangrik. Uit Londen doen hy weer aansoek om Suid-Afrika binne te kom. Sy aansoek was gedateer 4 Augustus 1959 en op 19 Augustus van daardie jaar het die Suid- Afrikaanse immigrasie-attache hierdie aansoek na Pretoria deurgestuur. Die dokumente is in Tsafendas se Leer B7771 geplaas. In Augustus 1959 word die volgende nota daarop aangebring: “Die applikant het kommunistiese neigings gehad of het dit nog . . . Weiering word aanbeveel.”

Dit was kort hierna, op 11 September 1959, dat Tsafendas se naam op die swartlys van die Departement van Binnelandse Sake geplaas word. Wanneer iemand se naam op hierdie lys verskyn, mag geen paspoort- of toegangsfasiliteite aan so ’n persoon verleen word sonder die toestemming van die hoofkantoor van die Departe­ment van Binnelandse Sake nie.

Die dokument wat heelbo op Tsafendas se Lêer B7771 was, het na die plasing van sy naam op die voorbehoudslys verwys.

Tsafendas moes min of meer dieselfde tyd as David Pratt in Engeland gewees het - sowat ses tot sewe maande voor die eerste aanslag op dr. Verwoerd se lewe. Tydens sy verblyf in Engeland is hy dikwels in die geselskap van linkses opgemerk. Dit was ook die geselskap wat David Pratt daardie tyd in Engeland opgesoek het.

Volgens Tsafendas self het van hierdie linkses in private gesprekke die standpunt ingeneem dat die Eerste Minister van Suid-Afrika geskiet moet word. Ses maande later het Pratt dr. Verwoerd met ’n pistool in die kop geskiet.

Tsafendas het ook verklaar dat hy tydens sy verblyf in Engeland verskeie politieke vergaderings bygewoon het. Dit was vergaderings van die Komitee vir Afrika-bewegings, die Anti-koloniale bewegings en die Anti-Apartheid Movement. Dit was ook die kringe waarin David Pratt in Engeland beweeg het.

Voor die kommissie van ondersoek na dr. Verwoerd se dood is getuienis geplaas dat Tsafendas probeer het om mense te werf om aan ’n opstand in Suid-Afrika deel te neem. Tsafendas self het erken dat hy mense vir ’n opstand gewerf het, maar het gesê dat sy mikpunt net Mosambiek was.

Op 17 September 1959 het Tsafendas hom weer by ’n hospitaal vir geestelik versteurdes aangemeld waar hy weer van sy lintwurm gepraat het. Hy verlaat egter in dieselfde maand self die hospitaal net om hom daarna by ’n ander een, die Whitecroft Hospital, Isle of Wight, aan te meld. ’n Mediese sertifikaat word hier aan hom uitgereik waarin verklaar word dat sy geestestoestand sodanig is dat hy na enige land kan reis. Hierop word hy op 3 Desember 1959 na Duitsland gedeporteer.

Dit was tussen hierdie datum en sy terugkeer na Suid-Afrika dat hy verskeie Arabiese lande, die Balkanstate, Israel en ook Turkye besoek het. In Turkye was hy twee maande lank in diens as ’n onderwyser in Engels.

Die kommissie wat dr. Verwoerd se dood ondersoek het, stel self die vraag of Demitrios Tsafendas ooit Rusland besoek het. In sy verslag verklaar die regter:

“Indien Tsafendas ooit Rusland besoek het, moes dit gedurende die jare 1961 of 1962 gewees het. Soos uit hierdie verslag sal blyk, is daar egter getuies wat beweer dat hy by sekere geleenthede te kenne gegee het dat hy wel in Rusland was en dat hy Russies kan praat. Tsafendas ontken dat hy enige kennis van hierdie taal het of dat hy Rusland ooit besoek het. Die getuienis in hierdie verband is nie juis sterk nie en dit is nie moontlik om enige defmitiewe bevinding daarop te maak nie.”

Dit is al wat oor hierdie aspek van die sluipmoordenaar se agtergrond gesê word.

In 1963 het Tsafendas van Portugal na Lourenco Marques ver­trek waar hy ’n kort tydjie by ’n oom van hom gewoon het. Een getuie het beweer dat hy Tsafendas gedurende Junie en ook ver­skeie ander maande van 1963 in Zambië opgemerk het. Tsafendas het, volgens die regter, die bewering ontken.

In sy verslag meld die regter ook dat Tsafendas se stiefmoeder in Pretoria van sy terugkoms uit Europa verwittig is en dat sy in November 1963 na Lourenco Marques vertrek het om hom daar te gaan haal en na Pretoria te bring - ondanks die feit dat hy nie Suid- Afrika kon binnekom nie.

In die verslag van die regter word ook gemeld dat die kommissie “in ’n betreklik laat stadium” inligting van ’n weekblad ontvang het dat daar “gerugte” is dat Tsafendas in 1942 uit Suid-Afrika gevlug het omdat die Polisie na hom gesoek het weens ’n poging tot moord. Voorts word gemeld dat hy ’n moord in Mosambiek gepleeg het, dat hy in Montreal ’n vrou verkrag en ernstig aangerand het, in Ontario ’n Blanke vrou verkrag en aangerand het, in Boston ’n skip met dinamiet opgeblaas het, in New York op weg na die dokke met plofstowwe by hom gevind is, dat hy in Griekeland van moorde en verkragtings verdink is, en dat hy ook in Duitsland van moorde verdink is.

Hieroor bevind die kommissie:

“Tsafendas ontken al hierdie bewerings. Uit inligting waaroor die kommissie beskik, blyk dit onwaarskynlik dat die bewerings omtrent die rede vir sy vertrek uit Suid-Afrika in 1942 gegrond is. Dieselfde geld ook vir die beweerde misdade in Kanada, die Verenigde State van Amerika, Portugal en Mosambiek. Geen bewyse vir enige van die ander beweerde misdade het tot die kennis van die kommissie gekom nie. “Op sommige navrae wat gedoen is, is nog geen antwoord ontvang nie, en indien enige noemenswaardige inligting na die indiening van hierdie verslag ontvang word, sal dit in ’n bykomende verslag gemeld word.”

Geen verdere besonderhede omtrent die inligting waarop die kommissie sy bevinding grond, word verstrek nie. Sover bekend, is ’n bykomende verslag ook nooit opgestel nie.

Na een en twintig jaar se rondswerf in die buiteland het Demitrios Tsafendas, ’n verbode immigrant wie se naam op die swartlys van die Departement van Binnelandse Sake verskyn het, op 4 November 1963 die grens na Suid-Afrika per motor by Komatipoort oorgesteek. In sy sak het hy ’n tydelike verblyfpermit gehad wat op 2 November 1963 deur die Suid-Afrikaanse Paspoortbeheerbeampte in Lourenco Marques uitgereik is.

Hierdie permit is aan Tsafendas uitgereik ondanks die feit dat sy naam op die swartlys verskyn het - en ondanks die feit dat die Paspoortbeheerbeampte in Lourenco Marques ’n afskrif daarvan in sy besit gehad het. Die Departement van Binnelandse Sake se regulasies lui dat voordat ’n permit vir binnekoms in Suid-Afrika aan enigiemand uitgereik word, eers vasgestel moet word of sy naam nie op die voorbehoudlys verskyn nie. Dit is klaarblyklik nie ge­doen nie.

Die amptenaar wat die permit vir tydelike verblyf in Lourenco Marques aan Tsafendas uitgereik het, is mnr. J.J. van der Berg. Aan die kommissie het hy verduidelik dat dit “uiters moeilik is om die presiese omstandighede te herroep waaronder hierdie man toelating tot die Republiek gegun is.” Hy sê dat hy daardie Saterdag oggend vier en sestig permitte uitgereik het, wat daarop dui dat dit druk moes gegaan het.

“Met die nasien van die ‘Stop Lys’ is die enigste verklaring wat ek aan kan dink die moontlikheid dat ek die naam onder die indeksletter S opgekyk het, na aanleiding van die klankassosiasie in die uitspraak van sy van. Onder sulke druk omstandighede sou ek miskien nie die paspoort of D.1.10 vorm saam met my na die lyste toe geneem het nie. (Ek kan hier meld dat dit inderdaad die geval was toe ek met die eerste berigte van die voorval die rekord nagegaan het - ek het die Stafendas opgesoek.)”

Nadat mnr. Van den Berg in sy memorandum daarop wys dat, al sou hy die naam Tsafendas en nie Stafendas nie opgesoek het, dit vanweë verskillende omstandighede en faktore nie wesenlik aan die saak sou verander het nie, sluit hy af: “Ek is bevrees dat daar niks meer is wat ek kan toevoeg nie. Die noodlottige gevolge van die man se toelating raak my egter diep en sal nie maklik oorleef word nie.”

Vervolg...


U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1434 gaste aanlyn