Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

As die HERE dan "die goeie" gee aan wie in opregtheid met Hom wandel, is die teenoorgestelde ook waar: dit gaan sleg wanneer ons van Hom wegdwaal. Maar Hy verhoor weer ons gebede wanneer ons terugkeer, soos Dawid dit ook ervaar het in Ps 86: "In die dag van my benoudheid roep ek U aan, want U verhoor my."

SLUIPMOORD OP DR VERWOERD (8)

Beaumont Schoeman – geskryf in 1975

Lees reeks by SLUIPMOORD OP DR VERWOERD

Was daar medepligtiges?

Op 20 April 1972 het daar ’n kort maar betekenisvolle berig in Die Vaderland middagblad van Johannesburg, verskyn. Dit was afkomstig van Port Elizabeth en die inleidende paragraaf daarvan het gelui: “Demitrios Tsafendas het wyle dr. H.F. Verwoerd onder die dwang van intensiewe breinspoeling en sterk na-hipnotiese suggesties vermoor. So glo mnr. Willie Visser, studente-voorligter aan die Universiteit van Port Elizabeth.”

Die mnr. Visser na wie die blad hier verwys, is ’n seun van wyle A.G. Visser, die bekende Afrikaanse digter. Hy is ’n opgeleide sielkundige wat sedertdien sy doktorsgraad verwerf het.

Post-hipnotiese suggestie, het dr. Visser verduidelik, is die verskynsel dat ’n persoon gedwonge is om ’n sterk opdrag wat onder hipnose aan hom gegee is, uit te voer nadat hy weer wakker gemaak is. Hierdie aspek van hipnose kan gevaarlik wees en vorm die laaste fase van breinspoeling. Hoewel ’n persoon normaalweg onder hipnose of daarna nie iets sal doen wat teen sy opvattings of beginsels indruis nie, kan sy gedrag deur intensiewe hipnotiese sug­gestie in ’n sekere rigting gekondisioneer word met subtiele en gesofistikeerde suggesties. So ’n kondisioneringsproses of breinspoelingsproses kan maande duur totdat ’n persoon dan uiteindelik die slaaf word van die suggesties - ook die post-hipnotiese sugges­ties, aldus dr. Visser.

“Ek glo dus vas,” het dr. Visser ten besluite gesê, “dat dit heeltemal moontlik is dat Tsafendas onder die dwang van intensiewe breinspoeling en sterk post-hipnotiese suggesties vir wyle dr. Verwoerd vermoor het. Of dit so is, sal ons nooit weet nie, omdat hipnotiese en post-hipnotiese suggesties in so ’n geval so finaal en so slu toegedien sal wees, dat so ’n persoon onder die dwang van die post-hipnotiese suggesties nooit sy verborge en onderdrukte kennis met enigiemand anders sal deel nie.”

Met hierdie stellings is talle tergende vrae oor die omstandighede van die moord op dr. Verwoerd en oor die man wat die daad gepleeg het, ses jaar na die sluipmoord in die Volksraad opnuut na vore gedwing. Net soos dr. Visser is daar baie mense in Suid- Afrika wat vandag nog wonder en twyfel of die werklike verhaal van die moord op dr. Verwoerd al vertel is; wat twyfel of die volle waarheid, al die feite oor hierdie skokkende daad, ooit bekend geword het.

In die verslae gemoed van die volk van Suid-Afrika was daar in hierdie dae onmiddellik ná die sluipmoord een oorheersende vraag: Het Demitrios Tsafendas op die middag van 6 September 1966 alleen opgetree toe hy met twee vlymskerp dolke die raadsaal van die Volksraad binnegesluip en die Eerste Minister vermoor het? Of het hy opgetree in opdrag van magte agter hom? Was hy net die instrument in die hande van sekere magte wat dr. Verwoerd uit die pad wou hê? Was daar ’n meesterbrein agter die kommunis Tsafendas?

En vandag is daar nog steeds duisende mense wat vra of Tsafendas werklik ’n mal mens was. Was hy sodanig geestelik versteurd dat hy nie geweet het wat hy gedoen het nie en dus nie aanspreeklikheid vir sy daad kon aanvaar nie? Was sy koms na Suid-Afrika, na Kaapstad en sy teenwoordigheid as bode in die Volksraad blote toeval? Of is hy na Kaapstad gestuur en was sy beheptheid met ’n lintwurm ’n uitgedinkte storietjie om die indruk van geestelik versteurdheid te skep? Was hy dalk geplant in die Volksraad om die daad vir andere te pleeg?

Dit is betekenisvol om daarop te let dat dit ook Volksraadslede se eerste reaksie na die sluipmoord was dat Tsafendas nie alleen opgetree het toe hy sy daad gepleeg het nie, maar deur ander magte in die Volksraad “geplant” is. Op die middag van die sluipmoord berig Die Vaderland onder meer: “Volksraadslede is van mening dat die sluipmoordenaar wat op 1 Augustus in die Volksraad begin het, doelbewus ‘geplant’ is met die doel om die Eerste Minister om die lewe te bring.”

Dat hierdie vrae in die dae na dr. Verwoerd se dood baie ernstig gestel is en vandag nog gestel word, is vanselfsprekend. Hier is nie net vir die volk van Suid-Afrika die skokkendste gebeurtenis in sy geskiedenis nie, maar vir die hele bestaan van die Blanke beskawing in Suider-Afrika waarskynlik die belangrikste gebeurtenis. Daarom is dit so vanselfsprekend dat enige mens wat enigsins iets in die politiek registreer, onmiddellik na die daad sou gesê het: Maar Tsafendas het nie alleen opgetree nie. Dit is inderdaad so vanselfsprekend dat die regter wat die dood van dr. Verwoerd ondersoek het, ’n hele hoofstuk van sy verslag hieraan wy. Hierdie hoofstuk verskyn, betekenisvol genoeg, onder die opskrif: “Was daar medepligtiges ?”

In paragraaf een van hierdie hoofstuk sê die regter: “Vir baie mense is dit waarskynlik onaanneemlik dat dr. Verwoerd deur Tsafendas gedood is sonder ’n meesterbrein of organisasie op die agtergrond.”

As dr. Visser korrek is in sy vermoede dat Tsafendas ’n gebreinspoelde mens was toe hy die Eerste Minister vermoor het, ontstaan die vraag waar hy sy breinspoeling ondergaan het. Dalk in die VSA waar hy hom periodiek by inrigtings aangemeld het? Dalk in Rusland waar hy klaarblyklik besoek afgelê het?

In daardie gedeelte van die regter se verslag wat oor medepligtigheid handel, roer die kommissaris self die kwessie van brein­spoeling aan. “Daar was ook bespiegelings,verklaar die regter, “dat Tsafendas oorsee ’n breinspoeling sou ondergaan het waardeur hy opdrag gekry het om dr. Verwoerd te vermoor.” En dan bevind hy: “Die kommissie kon geen getuienis wat so ’n bevinding regverdig, vind nie. Inteendeel, die oorwig van getuienis dui baie sterk daarop dat Tsafendas nie met so ’n doel na Suid-Afrika gekom het nie.”

Die regter verklaar dat geen getuienis aan hom voorgelê is wat die moontlikheid van medepligtigheid kan regverdig nie. Sy koms na Kaapstad was bloot toevallig. So ook sy aansoek om ’n betrekking in die Volksraad. Dit was een van baie aansoeke wat Tsafendas by verskillende plekke gedoen het.

In Julie 1966, twee maande voordat hy dr. Verwoerd vermoor het, het Tsafendas aan die vrou by wie hy geloseer het en ook aan mede-loseerders gesê dat hy ’n betrekking in Suidwes-Afrika gekry het. Maar hy kon nie gaan nie, het hy gesê. “I cannot go to South West Africa,” was sy woorde. “I have a job to do before I go back.” Aan een van die loseerders het hy ook gesê dat hy ’n betrek­king in Suidwes gekry het, ”maar dat hy eers ’n betrekking by die Parlementsgebou vir twee maande gaan aanvaar.”

Wat het Tsafendas met hierdie woorde bedoel? Het hy, toe hy daardie tyd aansoek om ’n betrekking as bode in die Volksraad ge­doen het, reeds die plan gehad om dr. Verwoerd te vermoor? Was sy aansoek om ’n betrekking by die Volksraad so toevallig? Wat het Tsafendas in die voorafgaande jare gedryf om so graag na Suid- Afrika terug te keer? Suid-Afrika was immers die land waar hy gevaar geloop het om enige oomblik in die tronk te beland. En hy het dit geweet.

Twee jaar voor die moord op dr. Verwoerd het hy reeds aan sy werkgewer in Pretoria wat hom ontslaan het, gesê: “You are just like your bloody Government. I will kill your Prime Minister yet.” Wanneer die kwessie van medepligtigheid behandel word, is dit omstandighede wat in samehang met mekaar beoordeel moet word. Dan word die vraag nog dwingender of die daad van 6 September 1966 die daad van ’n mal man was wat sonder ander magte of ’n “meesterbrein of organisasie” agter hom opgetree het.

In die hoofstuk oor medepligtigheid sê regter Van Wyk: “Sy geestestoestand was van tyd tot tyd waarskynlik sodanig dat wanbegrippe by hom aangewakker kon word. Dit kan wees dat sy assosiasie met linksgesindes en ander in Engeland en elders indrukke by hom gelaat het wat later bygedra het tot sy besluit om dr. Verwoerd te dood. Dit is egter blote bespiegeling.”

In die verslag word gemeld dat Tsafendas reeds van sy jeugjare af ’n kommunis was. In Engeland het hy met linkse magte geheul om ’n opstand in Suid-Afrika en in Mosambiek te organiseer. Die regter praat ook van assosiasie met linksgesindes “elders”. Daar word nie verder hierop uitgebrei nie, hoewel die afleiding is dat Tsafendas, net soos in Engeland, ook met bepaalde oogmerke met linkse magte elders - in Europa of in die VS A - geheul het.

Die regter verwerp dit egter alles as “blote bespiegeling.”

Voorts verklaar die regter in sy verslag: “Hy was feitlik te alle wesentlike tye teen die huidige regering van Portugal en Suid- Afrika gekant; hy was veral verbitterd teen die Portugese regering omdat hulle hom nie na Mosambiek wou laat terugkeer nie; hy was verbitterd teen die Suid-Afrikaanse Regering omdat hy so lank nie ’n permit vir blywende vestiging kon bekom nie en omdat die Regering op ’n vriendskaplike voet met Portugal verkeer. Hy was ontevrede oor baie dinge, soos sy aanklag teen die beamptes wat verwerp is (dit was ’n aantyging van korrupsie teen amptenare van die Departement van Binnelandse Sake en van Immigrasie); die saak teen Vergos waar hy die onderspit gedelf het; die mislukking om werk te kry en die beleid van die Regering.”

Dan bevind die regter: “Al hierdie aangeleenthede het waarskyn­lik in sy sieklike gedagtewêreld onwerklike afmetings aangeneem. Die kritiek wat teen dr. Verwoerd en sy Regering uitgeoefen is deur nuusblaaie en mense met wie hy in aanraking gekom het, was ook moontlike bydraende faktore, maar die waarskynlikheid is dat die grootste onmiddellike invloed wat op hom ingewerk het, die gedurige verdoeming van die Ontugwet deur die Griekse matrose was.

“Volgens ’n sielkundige wat deur die kommissie geraadpleeg is, was al die faktore op die Eleni teenwoordig, sodat die gedagte om dr. Verwoerd te vermoor, by Tsafendas geplant kon word, maar dit is heel moontlik dat die idee spontaan by hom ontstaan het sonder dat iemand hom doelbewus daartoe aangemoedig het. Hy is intel­ligent, slu, gewetenloos, en is nie in so ’n mate geestelik versteur dat hy nie die plan op eie houtjie kon uitdink en met sukses uitvoer nie.”

In hierdie gedeelte van die regter se verslag is daar die erkenning dat die gedagte om dr. Verwoerd te vermoor, by Tsafendas geplant kon word, hoewel die regter dit dan daarna weer onmiddellik verwerp en meen dat die idee spontaan by hom posgevat het. In dié verband maak die regter dan ook die betekenisvolle bevinding dat Tsafendas nie in so ’n mate geestelik versteurd was dat hy nie die plan op eie houtjie kon uitdink en met sukses kon deurvoer nie. Dit laat natuurlik weer die vraag ontstaan of Tsafendas die oomblik toe hy die moord gepleeg het werklik daarna in so ’n mate geestelik ver­steurd was dat hy nie toerekenbaar ingevolge die terme van die wet beskou kon word nie.

Afgesien van die kwessie van moontlike medepligtiges is een van die ander ernstige vrae wat ontstaan, die wyse waarop Tsafendas dr. Verwoerd om die lewe gebring het. Het hy vooraf opleiding gehad in die hantering van ’n dolk om sy opdrag in die kortste moontlike tydsbestek met volmaakte presiesheid uit te voer? Waarom is ’n dolk en nie ’n pistool nie as moordwapen gekies? Het Tsafendas as ’n deskundige messteker opgetree, of was hy maar net nog ’n straatbakleier wat by die geringste provokasie ’n mes uitpluk om sy teenstander mee toe te takel?

Die antwoorde op hierdie vrae verskyn in regter Van Wyk se verslag.

In paragraaf twaalf van hoofstuk twee van die verslag meld die regter: “’n Regsgeneeskundige lykskouing is op 7 September 1966 op die liggaam van dr. Verwoerd uitgevoer. Die oorsaak van die dood is vasgestel as “veelvuldige steekwonde, een waarvan die linker ventrikel van die hart gepenetreer het.’”

In mediese terme word die wonde wat dr. Verwoerd se dood veroorsaak het, soos volg beskryf:

“Vars, diep snywonde van die huid wat tot in die diepere weefsels dring:

  1. 6 cm onderkant die regterskouer, net bokant die okselvou en 19 cm vanaf die middellyn, in die lengte van die liggaam voorlopende en 2½ cm lank.
  2. Op die linkerskouer, net posterior van ’n lyn wat die oor en skouer verbind, en 10 cm mediaal van die skouerpunt, 4 cm lank. Die huidwond was effens halfmaanvormig, sy snyvlak van agter na voor en die hele wond opwaarts na die middellyn voorlopende.
  3. Oor die linker vry ribrand, in die midklavikulêre lyn, 13 cm van die middellyn, 2 cm lank. Die wond verloop skuins op- en mediaalwaarts.
  4. 3 cm links van die middellyn en geleë oor die tweede ribtussenspasie, 2½ cm lank en skuins op en lateraalwaarts voor­lopende.

Voorts lui die lykskouingsverslag van die patoloog: Verdere ondersoek het die volgende getoon:

  1. 11cm lank waarvan ’n wondkanaal tot in die longweefsel dring vir ongeveer 3 cm. Die minimum diepte van die hele besering is 15 cm.
  2. Onderkant wond 3 (b): ’n Wondkanaal het deur die spiere verloop en tot in die pleuraalholte gedring deur die eerste rib­tussenspasie. Dit verloop agter die groot bloedvate van die arm. In die longapeks was ’n snywond 2 cm lank. Hiervan het ’n wondkanaal in die longweefsel gedring vir minstens 7 cm. Die minimum diepte van die hele besering is 13 cm.
  3. Onderkant huidwond 3 (c): Deurdringing van die kraakbeen van die gesamentlike ribaanliegting waar ’n wond, 2 cm lank, veroorsaak is wat ewewydig met die vrye rand verloop. In die onderliggende kolon is ’n oppervlakldge snywond 2 cm lank.
  4. Onderkant huidwond 3 (d): Deurdringing van die tweede ribtussenspasie waar ’n wond, 4 cm lank, aanwesig was. Die arteria mammaria interna is totaal deurgesny. Die pleuraalholte bevat 1 150 ks. vry bleed. Die anterior mediale vry rand aan die boonste longkwab het ’n sny 1½cm lank, die posterior mediale deel van die long het ’n klein snywond, 0,75 cm lank naby sy vry rand. Die long is gekolabeer. Die perikardiale sak toon in ’n posisie wat met die longletsels ooreenstem, anterolateraal ’n snywond, 3 cm lank en posterior 2 cm lank. Die peri­kardiale sak bevat ongeveer 25 ks. vry bloed. Aan die laterale vry rand van die linker ventrikel van die hart, 3 cm onderkant die mitraalring, was ’n snywond 2 cm lank wat deur die hele dikte van die ventrikelwand dring tot in die ventrikelholte. Die minimum diepte van hierdie wond was 12 cm. Die rigting van die steek was posterior en afwaarts.”

In leketaal beteken hierdie mediese beskrywing: Die eerste steek was reg in die hart en medies word dit beweer dat as jy die steek in die hart kry, daar onmiddellike verlamming intree. Die tweede was om te verseker dat, as die hart nie raakgesteek is nie, daar genoeg inwendige bloeding sou wees om die dood te veroorsaak. Dit was in die regterlong - diep in - en daar was ’n massabloed, aldus die verslag van die patoloog. Die derde een het hy agter die baadjie se naat ingesteek en hom getrek om die slagaar af te sny. Die wond is ’n winkelhaak soos die dolk teen die naat van die baadjie gehaak het. Die vierde een was weer in die linkerlong om te sorg dat daar genoeg bloeding sou wees.

Enige van daardie steke sou die dood veroorsaak het. Daar was geen amateuragtigheid nie, nog in die spoed, nog in die presiesheid van die daad. Eers in die hart. Daarna is die dolk geplant waar bloeding die res kon doen. Dit was nie nodig nie. Die eerste steek was noodlottig.

Geen mens wat onkundig is oor die menslike liggaam, kon met so ’n sekerheid en presiesheid die regte plekke uitgekies het nie. En daar moet in gedagte gehou word dat Tsafendas net sowat veertien sekondes gehad het om sy doel te bereik - ten aanskoue van honderd en sestig volksverteenwoordigers. ’n Moordenaar met so min tyd tot sy beskikking en in sulke omstandighede kan nie bekostig om steke te verkwis nie. Hy gaan sekuur te werk.

Skrywer het ’n foto gesien van die lyk van dr. Verwoerd met die messteke en is van mening dat die daad deskundig gedoen is.

Hierdie mening word onderskryf deur medici. Een van hulle is dr. E.L. Fischer, die LV vir Rosettenville, een van die geneesheerlede van die Volksraad wat dr. Verwoerd in sy laaste oomblikke bygestaan het. Op die middag van die sluipmoord haal Die Vaderland dr. Fischer oor hierdie aspek van die daad aan. Hy het aan die blad gesê: ”Dit is duidelik dat die sluipmoordenaar opleiding moes ontvang het in die kuns om ’n mes te hanteer. Die mes het elke keer tussen die ribbes deurgegly en dit is nie dwars hanteer soos ’n gewone messteek sou gedoen het nie.”

Selfs by min. Ben Schoeman, wat na die aanval ’n aankondiging in die Volksraad gedoen het, was daar geen twyfel nie.”Meneer die Speaker,” het hy gesê, “ek het nog nie amptelik van die hospitaal verneem of die Eerste Minister nog lewe nie; ek glo nie . . .”

Oor die aard van die daad en die messteke verklaar regter Van Wyk egter in sy verslag:

“Die geneesheer wat die nadoodse ondersoek gedoen het, het die kommissie meegedeel dat daar geen grond bestaan vir die gerug wat die rondte gedoen het dat die wonde deur ’n deskundige messteker toegedien is nie. Hy beskryf hulle as doodgewoon. Die kommissie het die geleentheid gehad om al die foto’s wat die plek en omvang van die wonde aantoon, te besigtig en gaan akkoord met hierdie mening.”

Die naam van die geneesheer wat die nadoodse ondersoek gedoen het, word nie deur die regter verstrek nie, maar dit is waarskynlik dr. T.G. Schwar, ’n Kaapstadse patoloog, se mening wat hier aangehaal word.

Die nadoodse ondersoek is vroeg die oggend na die sluipmoord deur dr. Schwar in die teenwoordigheid van drr. P.L. Woolley en J.G. Loubser en lt.-kol. Buytendag en konst. J.M. Lowe uitgevoer. Volgens dr. Schwar was dr. Verwoerd toe reeds meer as twaalf uur dood. Dit was om 10.15 vm. op die oggend van 7 September 1966.

Die bevinding van dr. Schwar is op 29 November 1966 by ’n geregtelike ondersoek na dr. Verwoerd se dood gelewer. Volgens dr. Schwar het die steekwonde wat Tsafendas dr. Verwoerd toege­dien het, tot ses duim diep in sy borskas ingedring en die hartsak deurboor.

Landdros H.J. Powell, voor wie die geregtelike ondersoek gedien het, se bevinding was dat dr. Verwoerd gesterf het aan veelvuldige steekwonde. Die omstandighede waarin die wonde toegedien is, dui op moord.

Tydens die geregtelike ondersoek is geen getuienis gelewer oor die deskundigheid van die messteke al dan nie.

Tsafendas het ’n rekord gehad wat daarop dui dat hy ’n geweldenaar was. Getuienis is gelewer dat hy by geleentheid in gevegte betrokke geraak het. In minstens een van die gevegte is messteke toegedien. In die kommissie se verslag word ook verwys na onbevestigde bewerings dat Tsafendas hom in verskeie lande aan gewelddadige misdrywe skuldig sou gemaak het - dat hy mense sou aangerand en vermoor het. Tsafendas stam uit ’n nasie wat al bekendheid verwerf het in die kuns van die gebruik van dolke as wapens. Daarby het Tsafendas lang tydperke op skepe gewerk. Matrose is bekend vir hulle kundigheid met messe en dolke.

Ook moet nie vergeet word dat dit ná die sluipmoord aan die lig gekom het dat Tsafendas lid van die geheime M-APPARAT, die kommunistiese sel binne die seemansunies, was nie. Die feite oor die lede van hierdie organisasie dui onder meer daarop dat hulle van velerlei gewelddadige metodes in hulle aanslae gebruik gemaak het, onder meer messe en dolke.

Regter Van Wyk bevind in sy verslag: “’n Nikswerd swerwer en geestelik ongebalanseerde kommunis van Griekse afkoms wat in Lourenco Marques gebore is, het tot in die hart van die Suid-Afrikaanse politieke orde ingedring. Daar het hy besef dat dit binne sy mag is om dr. Verwoerd te vermoor. In die benewelde gedagte van hierdie uitgeworpene wat ’n volslae mislukking was, wie se lewe vir hom feitlik niks beteken het nie, het ’n slinkse plan ontstaan om van sy mag gebruik te maak om die hoof van ’n rege­ring wat hy gehaat het, te vernietig.”

Tsafendas het as wapen om sy doelwit te bereik, twee dolke gekies. Hy het hulle self by twee winkels in Kaapstad gaan uitsoek. Aanvanklik wou hy ook ’n pistool koop, klaarblyklik ook met die ge­dagte om dr. Verwoerd te vermoor, maar hy het daarvan afgesien.

Waarom het hy op die gebruik van dolke vir die bereiking van sy doelwit besluit? Dit is logies om aan te neem dat hy op ’n dolk besluit het omdat hy geoefen was in die gebruik daarvan, waarskynlik opgelei was. ’n Man wat so berekend te werk gaan soos Tsafendas om die voorwerp van sy haat uit te wis, is met een oorheersende drang besiel: om te slaag. Enige moontlikheid van mislukking moet vermy word.

Die man wat uitgaan om ’n regeringshoof te vermoor, en so berekend te werk gaan soos Tsafendas, wend hom tot ’n moordwapen waarmee hy vertroud is. Tsafendas se hele agtergrond maak dit ’n baie sterk waarskynlikheid dat hy volkome vertroud was in die hantering van ’n dolk. Daarvan getuig die dolksteke wat hy dr. Verwoerd toegedien het: die eerste een diep in die hart wat benewens die noodlottigheid daarvan ook verlamming van die spiere verseker, en daarna die oorblywende drie steke wat groot bloeding sou veroorsaak as die eerste dolksteek nie sy werk gedoen het nie. Vier dolksteke in hoogstens veertien sekondes met honderd en sestig volksverteenwoordigers om jou, netjies en akkuraat ge­plant, is die daad van ’n geoefende messteker en nie die van ’n amateur nie

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1420 gaste aanlyn