Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Goeie leiers voel nie bedreig deur ervare ondergeskiktes nie – hulle versamel ervare mense rondom hulle.

SLUIPMOORD OP DR VERWOERD (9)

Beaumont Schoeman – geskryf in 1975

Lees reeks by SLUIPMOORD OP DR VERWOERD

Lêer 98070/65

Die verhaal van die moord op dr. Verwoerd is ook die verhaal van Lêer 98070/65. Dit is die verhaal van ’n staatsdienslêer wat266 dae lank tussen verskillende staatsdepartemente rondgeswerf het. Dit is die lêer wat tussen die veiligheid van Suid-Afrika se Eerste Minister en sy sluipmoordenaar, Demitrios Tsafendas, gestaan het.

In daardie lêer was ’n aanbeveling dat Demitrios Tsafendas, alias Tsafendakis, as ’n ongewenste persoon uit Suid-Afrika gedeporteer moes word.

 

As Lêer 98070/65 die aandag gekry het wat dit moes gekry het, sou Tsafendas nie die geleentheid gehad het om sy daad van 6 September 1966 te pleeg nie. As hierdie lêer nie byna nege maande heen en weer tussen verskillende staatsdepartemente en klerke rond­geswerf het nie, sou Tsafendas nooit daarin kon slaag om die Volksraad binne te sluip om dr. Verwoerd te vermoor nie.

Die geskiedenis van die sluipmoord op dr. Verwoerd is dan ook die geskiedenis van lêers en nogmaals lêers - vermiste lêers, onvolledige lêers, lêers sonder enige kruisverwysings van die een na die ander, lêers waarvan geen rekenskap gegee kon word nie, lêers wat vernietig is. Dit is lêers wat almal inligting bevat het oor die sluipmoordenaar wat jare lank vryelik in Suid-Afrika rondbeweeg het en die kans gegun is om sy moordplanne agtermekaar te kry teen die een man wat as simbool van die veiligheid en voortbestaan van die Blankedom in Suider-Afrika gestaan het. Dit klink byna ongelooflik dat met al hierdie inligting tot die beskikking van die owerheid, die sluipmoordenaar tog daarin kon slaag om toegang tot die hart van Suid-Afrika se wetgewende orde te kry om sy afskuwelike daad te pleeg.

Daar was baie lêers oor die man Tsafendas: Lêers B7771, G8226, B3700, 35226/63, WD 10/10/4102, WD 10/3/305, WD 2/2078/366 en dan die finale een, Lêer 98070/65. In hierdie lêers is die geskiede­nis aangeteken van Tsafendas van die oomblik toe die Suid-Afrikaanse owerheid die eerste keer in die dertigerjare met hom kennis gemaak het.

In Lêer B3700 was Demitrios Tsafendas se aansoeke van 1935 en 1936 om verlof om hom permanent in Suid-Afrika te vestig en die weiering daarvan, onder meer op grond daarvan dat hy ’n kommunis was. As hierdie lêer reeds voor 14 Januarie 1964 saamgesmelt was met Lêer 35226/63, sou die stukke op daardie datum in laasgenoemde lêer gewees het, lui die verslag van die kommissie van ondersoek na die dood van dr. Verwoerd.

Op Lêer B7771 was daar ook onder meer verwysings na Tsafendas se kommunistiese bedrywighede, asook verwysings na sy mislukte aansoeke om blywende vestiging in Suid-Afrika. In hierdie lêer verskyn ook die belangrike feit dat hy ’n ongewenste persoon in Suid-Afrika was; dat sy naam op die Departement van Binnelandse Sake se voorbehoudlys geplaas is.

Op Lêer G8226 is daar verwysings na Tsafendas se kommunistiese bedrywighede en volledige verwysings na sy mislukte aansoeke van 1936, 1938, 1941, 1946, 1948, 1950 en 1959 om Suid-Afrika binne te kom.

In sy verslag oor die dood van dr. Verwoerd verklaar regter Van Wyk dat, sover vasgestel kon word, daar nie te enige wesenlike tyd opdrag aan amptenare gegee is om, waar lêers oor dieselfde persoon handel, kruisverwysings aan te bring of om, waar dit tot die kennis van ’n amptenaar kom dat ’n persoon onder meer as een naam bekend is, op die voorblad van die betrokke lêer en of die indekskaarte aan te bring nie.

Die enigste kruisverwysing kom op Lêer B7771 voor en lui: “Sien ook 35226/63.” Of ’n ooreenstemmende verwysing ook op laasgenoemde lêer aangebring is, is onseker, want dit is ingelyf by Leer 98070/65, en daarop verskyn geen kruisverwysing nie. Op die indekskaarte van die betrokke lêers is daar ook geen sodanige ver­wysing nie.

Die regter verklaar in sy verslag: “Indien ’n opdrag gegee was dat, wanneer amptenare bewus is dat meer as een lêer op dieselfde persoon betrekking het, die nodige kruisverwysings op die buiteblaaie en die indekskaarte van die betrokke lêers aangebring moet word, en dat, waar ’n persoon onder meer as een naam bekend is, sodanige name ook op die buiteblaaie en indekskaarte aangebring moet word, sou ’n mate van duplikasie en verwarring vermy kon word.”

Agterna gesien, beteken dit ook dat, as al hierdie dinge gedoen is, wat logies en vanselfsprekend behoort te wees, sou dr. Verwoerd nie op 6 September 1966 vermoor gewees het nie. Dan sou die lêer met die aanbeveling vir deportasie nie 266 dae doelloos tussen verskillende staatsdepartemente rondgeswerf het nie; dan sou die verskillende staatsdepartemente en ook die Polisie geweet het dat Demitrios Tsafendas nie in Julie 1966 as bode by die Volksraad in diens geneem kon word nie; en dan sou Tsafendas in alle waarskynlikheid reeds weer as smous op skepe op die Taugusrivier gewerk het.

Dit is egter nie gedoen nie en op 6 September 1966 was Demitrios Tsafendas nog steeds in Kaapstad, hoewel ’n uitsettingsbevel toe reeds ’n maand tevore deur die Minister van Binnelandse Sake geteken was.

Die verhaal van hierdie growwe nalatigheid begin op 1 September 1965 toe Tsafendas aansoek gedoen het om as Kleurling herklassifiseer te word.

Op 2 Desember van daardie jaar het die Streekverteenwoordiger van die Departement van Binnelandse Sake (Bevolkingsregister) in Kaapstad ’n brief aan die Bevolkingsregistrateur in Pretoria geskryf waarin hy besonderhede omtrent Tsafendas verskaf het, insluitende die feit dat sy vader, stiefmoeder en halfbroer se van Tsafendakis is.

In hierdie brief het die Kaapstadse Streekverteenwoordiger ook die feit vermeld dat die Minister van Binnelandse Sake Tsafendas se deportasie oorweeg.

Die Streekverteenwoordiger was bewus daarvan dat, volgens inligting wat deur Tsafendas verskaf is, hy van 1927 tot 1930 en weer van 1936 tot 1941 in Suid-Afrika woonagtig was. Hierdie feite is nie in sy brief aan die Bevolkingsregistrateur gemeld nie, vermoedelik omdat hy aangeneem het dat al die gegewens in die Hoofkantoor se lêers beskikbaar sou wees.

Die Departement van Binnelandse Sake se kantoor in Kaapstad het ook ’n lêer van Demitrios Tsafendas gehad waarin onder meer die brief van 18 Junie 1942 aangehaal is. Dit is die brief van die Kommissaris van Immigrasie en Asiatesake aan die Hoofimmigrasie-beampte in Kaapstad, waarin hy in kennis gestel word dat die aan­soek van Tsafendas om ’n vertrekpermit na Brittanje nie toegestaan is nie. Dit is hierdie brief waarin ook daarvan melding gemaak word dat Tsefendas gemoeid was met kommunistiese bedrywighede, hoewel hy toe in diens was van ’n Johannesburgse onderneming waar hy “werk van nasionale belang” gedoen het.

Daar is wel in Kaapstad besef dat Demitrios Tsafendas dieselfde persoon was as Demitrios Tsafendakis, want op ’n kennisgewing, gedateer 1 November 1965, wat van die stadsingenieur van Kaapstad ontvang is en waarin gemeld word dat Tsafendas as passer deur die stadsraad in diens geneem is, is die lêernommer van Demitrios Tsafendakis aangebring.

Die brief van die Bevolkingsregistrateur het nie enige melding gemaak van die inhoud van die brief van 18 Junie 1942 nie, blykbaar ook omdat vermoed is dat Hoofkantoor in Pretoria se lêers al hierdie inligting sou bevat het en, so verklaar die regter in sy verslag, ook omdat gevrees is dat ’n verwysing daarna as kritiek op sy toelating tot Suid-Afrika beskou kon word.

In die brief is ook geen uitdruklike melding gemaak van die feit dat hy ook as Demitrios Tsafendakis bekend was nie.

Na ontvangs van die brief van 2 Desember 1965 uit Kaapstad word ’n gevallelêer 98070/65 op 14 Desember 1965 in dieDepartement van Binnelandse Sake in Pretoria geopen. Van 14 Desember 1965 tot 17 Januarie 1966 is die lêer heen en weer tussen die afdelings Bevolkingsregistrasie, Paspoortbeheer en die registrasie-afdeling van die Departement gestuur. Intussen is twee kort briefies ook van Kaapstad ontvang om veranderings in Tsafendas se woonadres te meld, maar behalwe dat hierdie briewe in die lêer geplaas is, is niks gedurende hierdie tyd gedoen nie.

Op 17 Januarie 1966 is Paspoortbeheer versoek om aandag te skenk aan die Streekverteenwoordiger se aanbeveling dat Tsafendas gedeporteer word. Dit het daartoe gelei dat ’n amptenaar in Hoofkantoor in Pretoria, ’n sekere mnr. Bosenberg, op 21 Januarie 1966 Tsafendas se oorspronklike of gevallelêer aangevra het.

Regter Van Wyk sê in sy verslag daar is geen aanduiding dat mnr. Bosenberg sodanige lêer of lêers te sien gekry het nie. Van 21 Januarie 1966 tot 1 Julie 1966 is daar hoegenaamd niks aan die saak gedoen nie, bevind hy voorts. Die regter sê ook dat, aangesien alle bewegings van die lêer nie, soos vereis, op die omslag daarvan aangeteken is nie, dit onmoontlik is om vas te stel waar Lêer 98070/65 al hierdie tyd rondgeswerf het.

In ’n departementele ondersoek is wel vasgestel dat die lêer van 27 April 1966 tot 15 Junie 1966 op die lessenaar van ’n tydelike en gepensioeneerde klerk, mnr. W.G. Mitchell, in die afdeling Pas­poortbeheer gelê het.

Op 1 Julie 1966 was die lêer by mnr. Van Litzenborgh van die Departement van Binnelandse Sake. Die regter sê egter dit is nie moontlik om vas te stel presies wanneer dit aan hom gestuur is nie. In die lêer is egter ’n aantekening wat daarop dui dat hy op 21 Januarie 1966 die registrasie-afdeling versoek het om hom insae in Tsafendas se oorspronklike of gevallelêer te laat kry.

Op dieselfde dag het mev. A.D. de Beer, van registrasie, mej. Du Plessis van mnr. Litzenborgh se kantoor verwittig dat daar geen raslêer vir Tsafendas bestaan nie, maar wel Lêer 35226/63 van Binnelandse Sake. Mev. De Beer het dus nie Lêer B7771 (die Tsafandakis-lêer) en Lêer G8226 (die Tsafendakis-leer) opgespoor nie.

Lêer 98070/65, met die aanbeveling tot deportasie daarin, is daarna weer deur verskeie amptenare gehanteer voordat dit op 4 Augustus 1966 by die Sekretaris van Binnelandse Sake uitgekom het. Op 8 Augustus 1966 lê die Sekretaris ’n memorandum met ’n uitsettingsbevel daaraan geheg, aan die Minister van Binnelandse Sake voor en die volgende dag keur die Minister die aanbeveling goed en teken die nodige lasbrief.

Op 1 September 1966 is ’n brief aan die Polisie, waarin versoek word om die uitsettingsbevel aan Tsafendas te beteken, reeds klaar getik. Maar op 6 September 1966 was hierdie brief nog nie aan die Polisie afgestuur nie.

Dit is byna ondenkbaar dat so ’n belangrike saak soos ’n aan­beveling tot deportasie van iemand, en dan boonop ’n man wat al sy jare noue kommunistiese verbintenisse gehad het en ’n selferkende kommunis was, op so ’n skokkend argelose manier behandel is.

Regter Van Wyk sê in sy verslag dat dit onder die aandag van die kommissie gebring is dat die werk van die afdeling Paspoortbeheer in daardie tyd baie toegeneem het; dat die personeel sedert 1961 nie aangevul is nie; dat die hoof van die seksie Paspoortbeheer van tyd tot tyd gedurende 1966 met siekteverlof was; dat twee van sy senior assistente gedurende onderskeidelik Maart en Julie met vakansieverlof was; dat daar geen aanduiding op Lêer 98070/65 is dat die geval Tsafendas ’n sekuriteitsaangeleentheid was nie, en dat sekuriteitsgevalle voorrang geniet het.

Voorts sê die regter dat dit blyk dat, hoewel die aantal Vreemdelinge-registrasiekaarte skerp gestyg het gedurende die kwartaal geëindig 31 Maart 1966, dit gedurende die volgende kwartaal aansienlik gedaal het. Die senior klerke in die afdeling Paspoortbeheer het gedurende 1966 betreklik min oortyd gewerk.

Na aanleiding van hierdie feite bevind regter Van Wyk:

“In al hierdie omstandighede is dit duidelik dat die vertraging van 14 Desember 1965 tot 6 September 1966 onverdedigbaar is. Al wat in werklikheid in hierdie tyd aan die saak gedoen is, is dat ’n ander lêer gevind is - en daar is net ’n paar stukke in daardie lêer - dat ’n memorandum, ’n uitsettingsbevel en een brief opgestel is. Die memorandum en die brief bevat nie meer inligting as die oorspronklike brief van 2 Desember 1965 nie. Een senior klerk sou nie langer as ’n uur nodig gehad het om hierdie dokumente op te stel nie.”

Die regter sê dit is onmoontlik om almal aan te wys wat te blameer is. Hy noem egter mnr. Mitchell, die tydelike klerk, se naam, maar voeg dan by dat daar ook ander is. Die heen en weer stuurdery van die Iêer gedurende Desember 1965 en Januarie 1966, sê regter Van Wyk voorts, het ook niks opgelewer nie. Ook is niks gedoen voordat die lêer in April 1966 by mnr. Mitchell uitgekom het nie.

Mnr. Mitchell se verduideliking was dat hy ’n nota na die registrasiekantoor gestuur het waarin hy alle inligting waaroor hy beskik het, vermeld het en versoek het dat die afdeling vroeëre korrespondensie moes probeer opspoor. Hy het toe die lêer gehou met die doel om die saak verder op te volg, maar omdat hy die saak nie as dringend beskou het nie, asook weens die drukte van werk, het hy dit nie gedoen nie.

Regter Van Wyk sê egter dat dit blyk dat mnr. Mitchell geen oortyddiens gedurende 21 Januarie 1966 en 28 September 1966 verrig het nie. Hy aanvaar nie sy verskoning nie.

Dit is seker goed dat hierdie feite deur die regter in sy verslag uilgewys word, maar die vraag wat ten hemele roep, is waarom ’n sekuriteitsgeval soos die van Tsafendas wat ’n kommunis was, aan tydelike klerke en junior amptenare toevertrou is? Was dit nie ’n fout wat deur die hoogste amptenare in die betrokke staatsdepartement gehanteer moes word nie? Ongelukkig spreek die regter hom nie hieroor uit nie.

Benewens mnr. Mitchell en mej. G. Markram, ’n junior klerk in die Departement van Binnelandse Sake, spreek regter Van Wyk geen ander amptenaar by name aan oor die kwessie van nalatigheid nie, hoewel hy bevind dat daar ook ander amptenare is wat blameer moet word.

Mej. Markram se naam word in die ondersoek genoem in verband met ’n terugkeervisum wat op 10 Julie 1964 deur die Departement van Binnelandse Sake aan Tsafendas uitgereik is. Dit was nadat hy reeds toestemming tot permanente vestiging in 1963 gekry en toe daarna aansoek gedoen het om Rhodesië te besoek.

Toe aansoek gedoen is om ’n terugkeervisum, het mej. Markram die voorbehoudlys waarop Tsafendas se naam verskyn het, nagegaan, maar die naam nie raakgesien nie. Die regter sê indien sy dit raakgesien het, Tsafendas na alle waarskynlikheid gedeporteer sou word.

Mej. Markram is ’n geleentheid gebied om enige moontlike verskonings vir haar fout aan die kommissie voor te lê. In ’n brief aan die kommissie erken sy dat sy ’n fout gemaak het toe sy die visum uitgereik het. In haar brief skryf sy:

“’n Verklaring wat ek reeds aan een van u lede (naam onbekend) bekend gemaak het in die teenwoordigheid van mnr. Botha by wie ek werksaam is, dat ek dit onbewustelik gedoen het of dat ons op daardie tyd so besig was by die paspoortetoonbank dat die fout ingesluip het toe ek miskien onder S, soos mens dit uitspreek, gekyk het in plaas van onder T.”

Dit was dieselfde fout wat die amptenare van die Departement van Immigrasie in Maart 1965 in die Durbanse hawe gemaak het toe Tsafendas aan boord van die Karanja vanuit Mosambiek in Suid-Afrika aangekom het. Ook hulle het onder S in plaas van onder T in die voorbehoudlys na Tsafendas se naam gesoek en dit nie gevind nie.

As dit mej. Markram, ’n junior klerk by die paspoorttoonbank, ten laste gelê word dat sy haar aan nalatigheid skuldig gemaak het, hoeveel te meer geld dit nie ten opsigte van die amptenare van die Departement van Immigrasie wat in die Durbanse hawe kon keer dat die sluipmoordenaar Suid-Afrika binnekom nie? Hulle is immers veronderstel om senior amptenare te wees wat in ’n baie meer verantwoordelike posisie as ’n junior klerk by ’n paspoorttoonbank werksaam is.

Die growwe nalatigheid van die betrokke amptenare in die Dur­banse hawe is soos volg deur mnr. R.C. Lindeque, Streekverteenwoordiger van die Departement van Binnelandse Sake in Durban, verantwoord:

“Die moontlikheid is dus sterk dat die beampte wat die lys nageslaan het, nie Tsafendas as die persoon wie se naam op die voorbe­houdlys verskyn, geïdentifiseer het nie. Indien hy wel geïdentifiseer was, sou die naam van Tsafendas op die kennisgewing van verbod (vorm D.I. 5) geplaas gewees het en die geval na my persoonlik verwys gewees het.

“Ek moet daarop wys dat al sou dit ontdek gewees het dat Tsafendas se naam wel op die voorbehoudlys was, dit nie vir my moontlik sou gewees het om hom as ’n verbode persoon te behandel nie, aangesien hy volgens die stukke tot my beskikking, in besit van ’n geldige visum was.”

Tereg merk die regter na aanleiding van hierdie verduideliking op dat as Tsafendas se naam deur mnr. Lindeque se amptenaar op die voorbehoudlys raakgesien is, hy dadelik Hoofkantoor in kennis moes gestel het dat ’n visum aan ’n gelyste persoon uitgereik was. Dit sou waarskynlik onmiddellik Tsafendas se deportasie tot gevolg gehad het.

’n Mens kry onwillekeurig die indruk uit die regter se verslag dat een na die ander amptenaar wat met die geval Tsafendas te doen gehad het, die verantwoordelikheid vir growwe nalatigheid en argelose hantering op ’n ander amptenaar wou afskuif totdat die vinger van beskuldiging uiteindelik na mej. Markram gewys het wat in Julie 1964 by die paspoorttoonbank van die Departement van Binnelandse Sake in Pretoria ’n terugkeervisum aan die sluipmoordenaar uitgereik het. Maar wat dan van alles wat hierdie uitreiking vooraf gegaan het? Wat van die feit dat die paspoort- beheerbeampte in Lourenco Marques in November 1963 ’n permit aan Tsafendas uitgereik het om Suid-Afrika binne te kom terwyl hy met ’n afskrif van die voorbehoudlys op sy lessenaar gesit het? Wat van die uitreiking van ’n tydelike verblyfpermit daarna aan Tsafendas en wat van die verlenging van die permit aan hom?

En wat van al die dinge wat sedert Julie 1964 en die uitreiking van die terugkeervisum gebeur het? Wat van die uiters skokkende hantering van ’n sekuriteitsaangeleentheid, soos dié van Tsafendas was, sedert Desember 1965 toe sy deportasie aanbeveel is tot 6 Sep­tember 1966 toe sy uitsettingsbevel nog nie aan die Polisie deurgestuur is nie?

In die lig van al hierdie feite, van al hierdie growwe nalatigheid en onbevoegdheid, verdwerg mej. Markram se fout op 10 Julie 1964 by die paspoorttoonbank in Pretoria tot ’n nietigheid. Wanneer al hierdie feite in aanmerking geneem word, kan mej. Markram verskoon word, soos die regter mev. De Beer in sy verslag verskoon.

Wat mev. De Beer betref, bevind die regter dat geen pligsversuim bewys is nie. Daar is geen getuienis dat sy bewus was dat Tsafendas ook as Tsafendakis of Tsafandakis bekend was nie, en sy kan dus nie geblameer word omdat sy nie besef het dat die Tsafendakis-lêer en die Tsafandakis-lêer ook oor Tsafendas gehandel het nie.

As daar op Lêer 35226/63 ’n kruisverwysing na Lêer G8226 of Lêer B7771 was, of as die alias-name Tsafendakis of Tsafandakis op Lêer 35226/63 aangebring was, sou sy al die lêers opgespoor het en sou almal besef het dat die saak wel dringend was. Indien net een van die klerke wat die brief van 2 Desember 1965 gelees het, opgelet het dat die familienaam Tsafendakis was en nie Tsafendas nie, en besef het dat daar moontlik ’n Tsafendakis-lêer of -lêers bestaan het, sou lêers G8226 en B7771 opgespoor gewees het.

Maar dan bly die vraag nog altyd bestaan waarom die senior amptenaar wat die brief ontvang het van die Kaapstadse streek-verteenwoordiger waarin Tsafendas se deportasie aanbeveel word, nie die sekuriteitsaangeleentheid as dringend herken en as sodanig behandel het nie.

Die ondersoek deur die regter na die uitreiking van die permit vir blywende vestiging aan Tsafendas in 1964 het ook interessante feite aan die lig gebring. Nie alleen verskaf dit bevestiging hoe Tsafendas die owerhede in Suid-Afrika belieg het nie, maar dit bevestig ook weer met watter onverskilligheid sy saak deur amptenare behandel is.

Die aansoek om permanente vestiging is op 23 Desember 1963 deur die Immigrantekeurraad behandel en uitgestel omdat ’n sekuriteitsverslag van Lourenco Marques vereis is. Op 21 Januarie 1964 is die aansoek ’n tweede keer behandel en hoewel daar geen verslag van Lourenco Marques verkry is nie, is die aansoek toegestaan.

Op die betrokke lêer is onder meer die volgende notas deur ’n mnr. Lombard van die Departement van Immigrasie aangebring:

“Voorheen bekend as Tsafandakis of Tsafendakis, 18/1/64. Applikant verklaar dat hy nie sedert 1935 in L.M. woonagtig was nie. Hy was slegs ongeveer drie weke daar op pad na Suid-Afrika. Sy vader en al sy familie was/is Suid-Afrikaanse burgers. Die vader was 40 jaar gelede op die myne werksaam as ingenieur en daarna vir 35 jaar by Yskor, Pretoria. Hy is op 14.2.62 in Pretoria oorlede - sterftesertifikaat getoon. 18/1/64.

“Mnr. Tsafendas het vandag weer navraag gedoen oor sy aan­soek.

“Na bespreking met mnr. Van Litzenborgh van Binnelandse Sake het aan die lig gekom dat hulle wel rekord van die man het.

„Indien nodig sal mnr. Van L. laat weet of die aansoek as formaliteit deur die Raad oorweeg moet word. 18/1/64.

“Na bespreking met hoër gesag vra mnr. Van Litzenborgh of die Raad sy aansoek om bv. (blywende vestiging) maar as formaliteit sal oorweeg.

“Daar bestaan nie genoegsame dokumentêre bewys dat Tsafendas vrygestel van Wet 1/1937 is nie. 18/1/64.”

Verder is daar die volgende nota van ’n ander gewese amptenaar van die Departement van Immigrasie, mnr. C.M. Vermaak:

“Mr. Demetrios Tsafendas resided in South Africa from 1927 to 1930 at school in Middelburg.

“From 1935 to 1941 in Pretoria and Joh’burg when he joined the armed forces (Allied Navy) and was discharged in the U.S.A. “He received permanent residence (sic).

“He was in S.Africa for permanent residence.”

Hierdie stelling strook nie met Tsafendas se bewering in sy aansoek dat hy nog nooit voorheen aansoek gedoen het om hom in Suid-Afrika te vestig of om Suid-Afrika te besoek nie. Dit is ook betekenisvol dat vermeld word dat Tsafendas sy ontslag uit die vloot in 1941 in die YSA ontvang het. In die verslag word geen melding daarvan gemaak nie. Dit was waarskynlik ook ’n leuen van Tsafendas, aangesien daar geen getuienis in die regter se verslag is dat hy tussen sy ontslag by die maatskappy in Johannesburg waar hy “werk van nasionale belang” verrig het, en sy vertrek aan boord van die Eugene Livanos in Junie 1942 buite Suid-Afrika was nie. ’n Ander stuk op die lêer bevat die volgende aantekening: “Applicant can speak German and a little Afrikaans. English fluently. 1963 - Marine Watchman in Lisbon - Certificate issued by Police in Portugal (seen). 1961-1962 - Teacher of English at Limasolla Nace College, Turkey. 1960 - As controller at Industrie- gewerkschaft, Metall, Ortsverwaltung, Munchen, Germany.” Hierdie gegewens strook weer nie met Tsafendas se bewering in sy aansoek dat hy gedurende die vyf jaar voor die aansoek ’n matroos was nie.

Oor hierdie feite verklaar regter Van Wyk: „Hoewel regulasie 3 (2) van die regulasies uitgevaardig kragtens die Wet op Vreemdelinge, 1937, ’n gewaarmerkte afskrif van die geboortesertifikaat van ’n applikant vereis, is Tsafendas se paspoort blykbaar as voldoende beskou. Geen rede vir die verontagsaming van die betrokke regula­sie blyk uit die stukke nie. Indien die oorspronklike geboorteserti­fikaat verkry was, sou dit geblyk het dat sy moeder, Amelia Williams, ’n huisbediende was.”

Dit is nie heeltemal duidelik wat regter Van Wyk met die laaste stelling bedoel nie. Blykbaar bedoel hy dat as die voorgeskrewe vereiste nagekom is, dit duidelik sou blyk dat die moeder ’n Nie-blanke en Tsafendas dus ’n persoon van gemengde afkoms was.

Regter Van Wyk meld dat sowel mnr. Lombard as mnr. Van Litzenborgh voor die kommissie getuienis afgelê het. Mnr. Lombard het getuig dat hy die notas in verband met sy beweerde gesprekke met mnr. Van Litzenborgh gemaak het op dieselfde dag toe die gesprekke plaasgevind het. Mnr. Van Litzenborgh het geen herinnering van sodanige gesprekke nie en sê dat dit onwaarskynlik is dat dit ooit plaasgevind het. Hy het veral beklemtoon dat dit die gebruik van die Departement van Immigrasie was om te verneem of daar ’n lêer bestaan en, indien wel, wat die nommer daarvan is, sodat ’n skriftelike versoek dat die lêer aan die Departement van Immigrasie gestuur moes word, gerig kon word. Verder beweer hy dat indien die gesprekke wel plaasgevind het, hy ’n nota daarvan sou gemaak het.

Oor hierdie aangeleentheid bevind die regter: “Dit is moeilik om met sekerheid te bepaal wat presies tussen mnr. Lombard en die JDepartement van Binnelandse Sake bespreek is, veral omdat mnr. Van Litzenborgh niks van so ’n voorval kan onthou nie. Beide jnaak ’n gunstige indruk. Dit is heel moontlik dat ’n beampte wat met honderde gevalle in ’n jaar te doen kry, na drie jaar niks van so ’n geval sal onthou nie. Daar is egter geen rede om te bevind dat mnr. Lombard sy notas nie op die datum van die beweerde gesprekke gemaak het nie, en die waarskynlikheid is dat die gesprekke wel plaasgevind het en dat die notas mnr. Lombard se destydse indruk van die inhoud van die gesprekke juis weergee.”

Voorts bevind die regter: “Die waarskynlikheid is dat mnr. Lombard nie aan mnr. Van Litzenborgh gemeld het dat Tsafendas voorheen as Tsafendakis of Tsafandakis bekend was nie. Mnr. Lombard was wel bewus van hierdie feit, maar daar word niks van Tsafendakis of Tsafandakis in die notas wat mnr. Lombard oor sy gesprekke met mnr. Van Litzenborgh gehad het, gemeld nie. As dit wel gemeld was dat hy onder die verskillende name bekend was, sou mnr. Van Litzenborgh waarskynlik Lêers G.8226 en B.7771 opgespoor het (dit is die lêers met die inligting oor Tsafendas se kommunistiese verbintenisse en aktiwiteite). Daar is heelwat aanduidings in Lêer G.8226 van die bestaan van Lêer B.7771, en omgekeerd. As die een opgespoor was, sou die ander ook gevind gewees het.

“As laasgenoemde twee l”ers opgespoor was, sou daar geen sprake gewees het nie dat die aansoek as ’n formaliteit afgehandel kon word.”

Wat waarskynlik gebeur het, is dat mnr. Van Litzenborgh slegs Lêer 35226/63 nageslaan het. As Lêer B.3700 toe reeds ingelyf was, kon daaruit geblyk het dat Tsafendas in 1935 en 1936 sonder welslae aansoek gedoen het om verlof om hom permanent in Suid- Afrika te vestig.

Die regter sê dit is nie moontlik om nou te bepaal of mnr. Van Litzenborgh van hierdie feite bewus was nie en, indien wel, of hy dit aan mnr. Lombard gemeld het nie. As dit wel gemeld was, sou mnr. Lombard waarskynlik ’n nota daarvan gemaak het. Dit is egter ’n feit wat onder mnr. Lombard se aandag gebring moes word indien hy mnr. Van Litzenborgh enigsins gevra het om aan hom te meld wat in die lêer verskyn. Indien hierdie inligting aan mnr. Lombard oorgedra was, moes hy besef het dat Tsafendas se bewering in sy aansoek dat hy nooit tevore aansoek gedoen het om hom in Suid-Afrika te vestig nie, ’n leuen was. Dit sou waarskynlik aanleiding gegee het tot groter versigtigheid by die oorweging van die aansoek.

Die Immigrantekeurraad, se regter Van Wyk voorts, was daar­van bewus dat Tsafendas beweer het dat hy van 1927 tot 1930 en weer van 1935 tot 1941 in Suid-Afrika gewoon het, en dat hy ook as Tsafendakis en Tsafandakis bekend was. Dit is die mening van die kommissie dat in hierdie omstandighede die Keurraad die volgende stappe moes gedoen het: (a) Van Binnelandse Sake moes verneem het of daar ook lêers onder die naam Tsafendakis of Tsafandakis was; (b) insae daarin gevra het; en ’n verslag van die Suid-Afrikaanse Polisie aangevra het, veral ten opsigte van sy vorige verblyf in Suid-Afrika.

Oor die Immigrantekeurraad se optrede verklaar regter Van Wyk: “Dit is wel waar dat die feit dat Tsafendas voorheen in die Unie woonagtig was en dat, volgens sy aansoek, sy hele familie toe Suid-Afrikaanse burgers was en hier woonagtig was, sterk ten gunste van die toestaan van die aansoek moes weeg. Nog hierdie feite, nog die feit dat ’n permit vir tydelike verblyf aan hom uitgereik is en dat ’n beampte van die Departement van Binnelandse Sake sou gevra het dat die aansoek as ’n formaliteit afgehandel moes word, nog die twyfel wat daar ontstaan het of die Wet op Vreemdelinge, 1937, op Tsafendas van toepassing was, kan aanvaar word as vol- doende verskoning vir die versuim van die Keurraad om verdere ondersoek in te stel.

“Die vereistes vir ’n tydelike permit is klaarblyklik nie dieselfde as die vir verlof om permanent te vestig nie, en die feit dat ’n tydelike permit toegestaan is, onthef die lede van die Keurraad dus nie van die plig om hulleself te vergewis van die tersaaklike feite nie. Dit was nie die funksie van ’n beampte van die Departement van Binne­landse Sake om te vra dat die aansoek as ’n formaliteit afgehandel moes word nie. Dit is die funksie van die Keurraad om self die feite te oorweeg.

“Tsafendas was inderdaad nie vrygestel van die bepalings van die Wet op Vreemdelinge, 1937, nie. Daar was geen gegewens waarop die Keurraad ’n bevinding dat hy wel vrygestel was, kon baseer nie, en daar is inderdaad ook nie tot so ’n bevinding geraak nie. Die Keurraad kon slegs die geval behandel indien gemelde Wet van toepassing was, en die feit dat daar twyfel bestaan het of die Wet wel van toepassing was al dan nie, is geen verskoning vir die versuim om ’n deeglike ondersoek te doen nie.

“Indien die Keurraad insae in die lêers van Demitrio Tsafendas en Demitrios Tsafendakis van die Departement van Binnelandse Sake verkry het, sou die aansoek nie toegestaan gewees het nie.”

Voorts word gemeld dat die Keurraad op 23 Desember 1963 besluit het dat ’n sekuriteitsverslag uit Lourenco Marques oor Tsafendas aangevra moes word. Hiervan is afgesien op grond van ’n valse bewering deur Tsafendas. Afgesien daarvan dat so ’n verslag noodsaaklik was, moes na die mening van die kommissie ook ’n verslag oor sy vorige verblyf in Suid-Afrika van die Suid-Afrikaanse Polisie verkry gewees het. Al sou die verslag van die polisie van Lourenco Marques gunstig gewees het, kon die verslag van die Suid-Afrikaanse Polisie ongunstig gewees het. Toe daar van die verslag van die polisie in Lourenco Marques afgesien is, was daar des te meer rede waarom ’n verslag van die Suid-Afrikaanse Polisie aangevra moes word.

Die regter sê die verduideliking waarom geen verslag van die Suid-Afrikaanse Polisie aangevra is nie, naamlik dat daar ’n verslag van die polisie in Lissabon was wat niks ongunstigs vermeld het nie, is nie aanvaarbaar nie. Daar was geen aanduiding op die stukke hoe lank die polisie van Lissabon hom geken het nie en daardie verslag kon in elk geval geen lig werp op sy doen en late gedurende sy verblyf in Suid-Afrika nie.

Al is daar egter ’n verslag van die Suid-Afrikaanse Polisie oor Tsafendas aangevra, is die waarskynlikheid groot dat dit niks sou oplewer nie. Een van die polisielêers met die inligting oor Tsafendas se kommunistiese agtergrond was toe reeds vernietig. Die ander lêer met dieselfde feite is eers sewe dae na die moord op dr. Ver­woerd in die gebou van die Veiligheidspolisie in Pretoria opgespoor.

Regter Van Wyk sluit sy bevinding oor hierdie aspek af deur te sê dit is bykans onmoontlik om te bepaal wat wel sou gebeur het indien ’n verslag van die Suid-Afrikaanse Polisie aangevra is. “Die waarskynlikheid”, bevind hy, “is dat almal wat met die aansoek te doen gehad het dit, weens die besondere feite reeds gemeld, as ’n formaliteit beskou het.”

Dit is dan die verhaal van die lêers, die verhaal van ernstige ondoeltreffendheid en growwe nalatigheid. En die prys wat daarvoor betaal moes word, was hoog, baie hoog.

Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1427 gaste aanlyn