Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Ons weet dat God sy kinders eerste liefgehad het. Ons het by Hom geleer wat liefde is en Hom ook liefgekry. Hoe kan mens aan iemand sien of hy God liefhet? Aan sy leefstyl – om God se gebooie te gehoorsaam. Dit is skrikwekkend om te sien hoeveel mense wat aanspraak maak op kindskap van ons Drie-enige God, se leefstyl wys geen liefde vir hulle Vader nie.

SLUIPMOORD OP DR VERWOERD (11)

Beaumont Schoeman – geskryf in 1975

Lees reeks by SLUIPMOORD OP DR VERWOERD

Die hofsaak

Op 17 Oktober 1966, een en veertig dae nadat hy dr. Verwoerd in die Volksraad vermoor het, het Tsafendas in die Kaapstadse Hooggeregshof op ’n aanklag van moord op Suid-Afrika se Eerste Minister verskyn. Die oë van die ganse wêreld sou daardie volgende paar dae op Kaapstad gerig word. Vir Suid-Afrika self en sy mense was dit die belangrikste hofsaak wat nog in die land se regsgeskiedenis plaasgevind het.

Voordat die verhoor begin het, het dit reeds bekend geword dat meer as twintig getuies deur die verdediging geroep sou word. Die meeste van hulle sou sielkundiges en psigiaters wees. Hieruit kon afgelei word wat die aard van die verdediging sou wees. Daar sou probeer bewys word dat Tsafendas nie by sy volle verstand was nie en dat hy daarom nie op die aanklag van moord kon teregstaan nie. Hierdie afleiding is versterk toe dit aan die lig gekom het dat een van die twee assessore wat regter A.B. Beyers, Regterpresident van die Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof, sou bystaan, dr. P.H. Henning, ’n sielkundige en hoof van die Fort Napierinrigting in Pietermaritzburg, sou wees. Die ander assessor was adv. P.W.E. Baker, SC, van Kaapstad.

Vir die Staat sou adv. W.M. van den Berg, SC, Prokureur- generaal, optree. Hy sou bygestaan word deur adv. D.B. Brunette. Namens Tsafendas het adv. W.E. Cooper, SC, bygestaan deur adv. W.G. Burger, in opdrag van Tsafendas se prokureur, mnr. David Bloomberg, verskyn.

Regter Beyers het met die aanvang van die hofverrigtinge ’n ernstige waarskuwing tot die pers en die publiek gerig. Hy het gewaarsku dat hy die publiek sonder meer uit die hof sal laat sit as emosies wat opgewek kan word, nie beteuel word nie. Teenoor die pers het hy die waarskuwing gerig dat hy nie ‘n “verhoor deur koerante” sal toelaat nie.

Net nadat regter Beyers en sy assessore gaan sit het, het hy gesê hy wil graag ’n woord tot die publiek rig. Hy glo dat die verrigtinge van die gereg in die openbaar moet geskied en daarom is dit reg dat die publiek in die hof teenwoordig is. So sal hy dit dan graag ook wil hê. Die hof vra egter stille objektiwiteit en as die stigtelikheid versteur word, sal dit verkeerd wees. Die verhoor sal sekere emosies by sekere mense gaande maak, maar hierdie emosies sal net eenvoudig bedwing moet word. Indien nie, sal hy nie huiwer om die publiek die hofsaal te laat uitsit nie. Hy glo en hoop egter dat dit nie nodig sal wees nie.

Met betrekking tot die pers het regter Beyers gesê dat hy spesiale moeite laat doen het om ’n groot getal persmanne in die hof toe te laat. “Hulle is die oë en ore van diegene wat nie in die hof kan wees nie. Die pers is welkom maar hierdie saak is nou sub judice.

“Dit is geen biertuin nie. Die lewe van ’n man is op die spel. Die oordeel is in die hande van die regbank. Ek sal geen verhoor deur koerante duld nie. As enige koerant die perke oorskry wat normaalweg van regskant vereis word, sal daar teen hom opgetree word”, het regter Beyers gesê.

Die klagstaat was kort en eenvoudig in Engels: “That Demitrio Tsafendas is guilty of murder because he did wrongfully, unlaw­fully and maliciously kill and murder Dr. the Honourable Hendrik Frensch Verwoerd, Prime Minister of the Republic of South Africa.”

Adv. Cooper het onmiddellik na die begin van die hofverrigtinge opgestaan en verduidelik dat hy sal aanvoer dat Tsafendas vanweë sy geestestoestand nie bevoeg is om op die klag te pleit nie. Hy het gesê dat hy ingevolge die Wet op Geestesgebreke getuienis wil aanvoer.

Adv. Van den Berg, die Prokureur-generaal, het geantwoord dat hy geen beswaar het nie. Hy het daarop gewys dat dit ook die prosedure is wat in die saak van David Beresford Pratt, die man wat die eerste aanslag op dr. Verwoerd se lewe gemaak bet, gevolg is.

Terwyl hierdie formaliteite aan die gang was en ook later in die lewering van getuienis, het Tsafendas meestal voor hom of na die getuiebank gesit en kyk. Af en toe het hy sy oë oor die hele span persmanne laat dwaal. Elke beweging van hom is fyn dopgehou deur die polisie. Teen die einde van die dag se verrigtinge was feitlik alle oë op die beskuldigdebank gerig toe Tsafendas se prokureur, mnr. Bloomberg, met hom gaan gesels het. Hulle het ’n hele rukkie gepraat terwyl Tsafendas tussen die twee polisiemanne bly sit het. Nadat mnr. Bloomberg die beskuldigdebank verlaat het, het Tsa­fendas in die rigting van die getuiebank gesit en kyk. Na die verdaging van die hof is hy na die gevangenis teruggeneem.

Een keer in die loop van die eerste dag se verrigtinge het Tsafen­das in die beskuldigdebank gelag. Dit was na aanleiding van ’n opmerking van regter Beyers.

Adv. van den Berg was besig om ’n getuie, dr. J. Sakinofsky, oor die beweerde delusie by die beskuldigde te ondervra. Getuie het gesê die delusie bly konstant by hom.

Regter Beyers het verduidelik: As dit periodiek was, sou dit nou ’n lintwurm wees en later terugkeer as ’n leeu of ’n tier.

Daar was ’n gelag in die hof. Ook Tsafendas het geglimlag.

In sy openingsrede ter ondersteuning van sy aansoek dat Tsafen­das se geestestoestand sodanig is dat hy nie in staat is om op die aanklag van moord te pleit nie, het adv. Cooper gesê dat spesialiste en psigiaters sal aantoon dat Tsafendas simptome van skisofrenie toon en dat hy ’n obsessie oor sy gesondheid het.

Skisofrenie is ’n gespletenheid in die geestelike lewe - die algemeenste vorm van geestesversteurdheid, gekenmerk deur verbandloosheid tussen gedagtes, gevoelens en dade.

“Sy huidige ontwrigte geestestoestand het sy wortels in ’n diepgesetelde en jare lange geestessiekte. Die verdediging is bereid om getuienis aan die hof voor te lê dat beskuldigde geestelik versteurd is,” het adv. Cooper in sy betoog gesê. Hy het ook aangevoer dat Tsafendas op die dag van die sluipmoord geestelik versteurd was.

Verskeie psigiaters en sielkundiges is hierna deur die verdediging geroep om oor Tsafendas se geestestoestand te getuig. Onder hulle was dr. Harold Cooper, ’n psigiater van Kaapstad, dr. A. Zabou, nog ’n psigiater van Kaapstad, en dr. Isaac Sakinofsky, ’n konsult-psiagiater by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad. Almal het saamgestem dat Tsafendas aan skisofrenie ly.

In die loop van sy getuienis het dr. Cooper getuig dat politieke gebelgdheid ’n rol in die moord op dr. Verwoerd gespeel het. Weens sy agtergrond het Tsafendas blykbaar van sekere aspekte van dr. Verwoerd se beleid nie gehou nie. In sy ondervraging het hy agtergekom dat Tsafendas nie van dr. Verwoerd gehou het nie. Hy het egter aan hom gesê dat hy dr. Verwoerd nie in so ’n mate gehaat het dat hy hom wou doodmaak nie. Hy kan nie verstaan waarom hy dit gedoen het nie. Tsafendas wou nooit reguit sê waarom hy dr. Verwoerd om die lewe gebring het nie.

Dr. Cooper het in sy getuienis gesê dat hy Tsafendas as ’n man met ’n normale, hoe intelligensie gevind het. Die gesprekke wat hy met hom gevoer het, was in Engels. Sy taalgebruik is heeltemal verstaanbaar en hy kan hom goed uitdruk. Die eerste wat hom getref het, was Tsafendas se houding jeens die posisie waarin hy hom bevind het - sy emosionele houdings jeens sy posisie en die afwesigheid van die besef dat hy van ’n ernstige misdaad aangekla word. Hy het bevind dat die houding wat Tsafendas geopenbaar het, gepaard gaan met skisofrenie. Hy het soms geglimlag en soms ook gegrynslag.

Adv. Cooper: Hoe het u Tsafendas gevind? - Te alle tye het hy saggies gepraat, was hy beleef, behulpsaam en bereid om op al die vrae te antwoord.

Adv. Cooper: Ten opsigte van intelligensie? - Op ’n baie vroeë tydstip het ek besluit dat hy van normale intelligensie was, selfs van hoë intelligensie. Dwarsdeur die onderhoude het niks voor gekom wat my van standpunt laat verander het nie.

Dr. Cooper het voorts getuig: “Ek het horn emosioneel onversteurd gevind, maar by tye het hy geglimlag en by ander geleenthede het hy binnensmonds gelag wanneer ek dit nie verwag het nie.

“Hy weet wat hy gedoen het en dat hy verhoor gaan word, maar hy besef nie die omvang van sy daad nie en ook nie die gevolge daarvan nie. Hy het opmerkings gemaak soos: ‘Ek glo nie ek sal hierna in Kaapstad bly nie - die openbare mening, weet u’, en ,ek glo nie ek sal weer by die Parlement kan werk nie.’

“Ek het die indruk gekry dat hy nie die ware posisie snap nie. Hy het ’n normale denkvermoë en is in staat om intelligente verklarings te maak. Hy kan ook intelligente feite aanvaar. As hy egter vrye teuels aan sy denke en gevoel gegee word, sal hy later in sy antwoord onsamehangend eindig.”

Regter Beyers: Nege en negentig persent misdadigers sal dieselfde antwoord gee.

Dr. Cooper het gesê dat in sy onderhoude Tsafendas dikwels die kwessie van die lintwurm ter sprake gebring het. Hy het by tye daarna verwys as ’n wurm, dan weer as ’n draak, ’n duiwel en ’n bose gees. Daar was by hom ’n assosiasie tussen die wurm en dr. Verwoerd. Hy het gesê dat as die wurm nie daar was nie, hy nie dr. Verwoerd sou vermoor het nie. Tsafendas het dit pertinent onder sy aandag gebring dat hy in drie gestigte in die VSA was en ook in inrigtings in Engeland, Wes-Duitsland en Portugal. Hy het ook oor sy senuwees gekla.

Tsafendas het aan hom gesê dat daar ’n verband tussen die toorkuns en die lintwurm binne-in hom was. Hy het die wurm beskryf as anderhalf myl lank met kante soos die van ’n saag. Dit ruik ook die kos as hy eet en die wurm reik daarna, klim in sy keel op. Vir dr. Cooper was hierdie beskrywing baie betekenisvol.

Sy bevinding was dat Tsafendas nie in staat is om opdragte in die saak te gee nie.

Regter Beyers: Wat bedoel u daarmee ? Dit skyn asof hy tot dusver nie te sleg gevaar het nie.

Dr. Cooper: ’n Heeltemal normale persoon sou darem iets gesê het oor sy geestestoestand. Dit is vir my duidelik dat Tsafendas nie die aard van die psigiatriese ondersoek besef nie.

Regter Beyers: U het gevra waarom die man die wêreld oor gereis het. Basies het hy geantwoord dat hy die kos van baie mense wou eet. As u die vraag aan my sou stel, sou ek presies dieselfde antwoord gegee het.

Dr. Cooper het verwys na Tsafendas se “buitengewone lewensgeskiedenis”. Hy het nooit sy moeder geken nie en het ’n onbevredigende verhouding met sy stiefmoeder gehad. ’n Persoon met so ’n agtergrond kan makliker ’n geestessiekte opdoen as ’n mens wat normaal grootgeword het.

Onder kruisverhoor deur adv. Van den Berg het dr. Cooper gesê dat Tsafendas ’n veel berese man is wat kultureel goed ontwikkel is.

In kruisverhoor het dr. Cooper ook dikwels op die kwessie van die lintwurm teruggekom en hierop het regter Beyers opgemerk: “Dit lyk my u eindig altyd met die lintwurm, waaroor u ook al praat.” Dr. Cooper het geantwoord: “Dit lyk so. Daar kan aangevoer word dat Tsafendas die daad gepleeg het toe sy gedagtes en denke deurmekaar en verwronge was. Die wurm kon ’n rol hierin gespeel het.”

“Die rede waarom hy dr. Verwoerd om die lewe gebring het”, het dr. Cooper voorts getuig, “is moeilik om te verduidelik. Hy was gefrustreerd en het sterk gevoel dat die samelewing teen hom was en in sy onderbewussyn het hy dr. Verwoerd as die hoof en leier van die gemeenskap beskou wat hy gehaat het.”

Regter Beyers: Sou u hom beskryf as ’n paranoiese persoonlikheid par excellence.? - Hy glo dat sy hele lewe hulpeloos was en dat hy nêrens kon kom nie. Hy blameer die samelewing vir sy hopelose en hulpelose toestand.

Adv. Van den Berg: Waarom het hy nie die geneeshere wat hom behandel het, doodgemaak nie in plaas van dr. Verwoerd? -Dit is uiters moeilik om te verduidelik.

Adv. Van den Berg: Kan hy sy optrede beskryf? - Taamlik goed, behalwe die laaste paar sekondes.

Adv. Van den Berg: Het hy sy pligte in die Parlementsgebou normaal en goed gedoen? - Ek dink so.

Regter Beyers: Hy het nie dr. Verwoerd doodgemaak eenvoudig omdat hy onder ’n waan verkeer het nie ? - Waandenke het ’n rol gespeel, maar dit is ’n ingewikkelde gedagterigting waarin sy denke om die lintwurm gedraai het. Dit is ’n waan. Dit is ’n simptoom van ’n belangrike geestelike siekte. Dit is ’n valse geloof wat nie deur logiese argumente verwyder kan word nie.

Adv. Cooper: Kan die beskuldigde die verrigtinge van die hof verstaan? - Ek is van mening dat hy nie in staat is om die juiste aard van die getuienis wat hier gelei sal word, te begryp nie.

Regter Beyers: Is dit nou die tegniese en psigiatriese getuienis?

-    Enigiets wat die minste ingewikkeld is.

Regter Beyers: As getuienis gelei word dat ’n man ’n mes opgetel en iemand gesteek het? - Ja. Tsafendas is bewus daarvan dat hy weens moord verhoor word.

Regter Beyers: Besef hy dat hy vir moord kan swaai? - Ja.

Dr. Cooper het bygevoeg dat ander persone wat vir moord aangekla is, altyd verskonings of redes aangebied het waarom hulle nie skuldig is nie, maar by Tsafendas was dit afwesig.

Regter Beyers: As hy so reg soos môre die heeldag was, wat dink u sou hy gedoen het? As hy die slimste aangeklaagde was en die getuienis is dat hy die Eerste Minister voor al daardie mense ge­steek het? - Ek dink dat ’n man wat so baie in ’n inrigting was, iets sou uitgedink het dat hy nie by sy volle verstand is nie.

Regter Beyers: Het hy die verdediging van die lintwurm uitgedink? - Hy het dit nie aangebied as verskoning nie.

Met betrekking tot Tsafendas se assosiasie tussen die lintwurm en die toorkuns het adv. Van den Berg in kruisverhoor ’n aantal vrae aan dr. Cooper gestel.

Adv. Van den Berg: Is dit nie ’n feit dat naturelle dikwels mense van hierdie dinge vertel omdat hulle glo dat hulle getoor is nie?

-    Dit is korrek.

Adv. Van den Berg: Is dit nie ’n feit dat hy van gemengde afkoms is nie? - Ja, maar hy het die meeste van die tyd saam met Blankes gewoon.

Adv. Van den Berg: Het hy nie dikwels met naturelle omgegaan nie? - Ek verstaan in sy jeugjare wel. In sy lewe in Kaapstad het hy ook met Kleurlinge omgegaan, maar ek kan hom nie sien as ’n primitiewe indiwidu wat deur primitiewe gelowe beïnvloed kan word nie.

Adv. Van den Berg: Kan dit nie bygelowigheid wees nie? - Nie in sy geval nie. Die toorkuns was by Tsafendas ’n sekondêre ding. Hy lê ’n mate van geloof in die toorkuns aan die dag, maar ek glo dat sy algehele kulturele agtergrond gevorder is. Hy is nie ’n primitiewe indiwidu nie. Die daad kan alleen verduidelik word as dié van ’n baie komplekse, verwarde en misleide persoon. ’n Mens kan nie sê daar is een element en dit vir die daad verantwoordelik hou nie. Die lintwurm vorm slegs een aspek van ’n ingewikkelde saak.

Toe hy weer gevra is om ’n moontlike motief vir die daad te verstrek, het dr. Cooper gesê hy glo dat daar minstens ’n element van politieke redenasie in Tsafendas se gedagtes was. Dit was vir hom duidelik dat hy nie van dr. Verwoerd gehou het nie.

Adv. Van den Berg: Het die beskuldigde ’n volledige beskrywing gegee van hoe hy beplan het om dr. Verwoerd om die lewe te bring? - Hy het my ’n taamlike volledige beeld gegee van die gebeure wat gelei het tot die daad. Hy het ook aan my gesê hoe hy die twee messe gekoop het.

Adv. Van den Berg: Het hy gesê wanneer hy die messe gekoop het? - Ja, hy het gesê hy het dit die oggend van die dag waarop die daad gepleeg is, gekoop.

Regter Beyers: Het hy gesê wanneer hy die eerste keer die idee gekry het om die misdaad te pleeg? - Hy was buitengewoon vaag oor wanneer hy presies hierdie idee gekry het. Hy het die plan gekry een of ander tyd nadat hy as bode by die Parlement begin werk het.

Regter Beyers: Was dit weke of dae voor die tydstip ? - Ek meen dit was minstens ’n paar dae voor die daad.

Adv. Van den Berg: Wanneer het hy gesê wou hy die Eerste Minister om die lewe bring? - Dit kan ek nie beantwoord nie.

Adv. Van den Berg: Het hy gesê 3 September? - Nee.

Ná dr. Cooper het verskeie ander psigiaters ook oor Tsafendas se geestestoestand getuig, onder meer dr. Zabou en dr. Sakinofsky. Almal het dieselfde bevinding as dr. Cooper gemaak: dat Tsafendas aan ’n soort geesteskwaal bekend as skisofrenie ly en dat dit van so ’n aard is dat hy sertifiseerbaar is kragtens die Wet op Geestesgebreke.

Mnr. R.J. van Zyl, ’n kliniese sielkundige, het gesê dat hy Tsafendas op 13 Oktober 1966 op versoek van die verdediging ondersoek het. Die sielkundige toetse wat hy uitgevoer het, het persoonlikheidstoetse ingesluit, asook ’n intelligensietoets wat uit tien subtoetse bestaan het. Hierdie toetse word slegs op Blankes in die Republiek uitgevoer en ’n I.K. van tussen 20 - die van ’n idioot - en 190 word daarmee getoets.

Tsafendas het saamgewerk en was kalm en op sy gemak. Dit het nie vir getuie gelyk asof Tsafendas baie in die toetse belang stel nie, hoewel hy geredelik saamgewerk het. Tsafendas het ’n totaal van 113 in die skriftelike toets en 125 in die mondelinge toets behaal.

“Dit is baie goed”, het mnr. Van Zyl gesê, “en myns insiens op matriekvlak.”

Mnr. Van Zyl se bevinding was dat Tsafendas moeilik met sy medemens kontak maak en dat gewone menslike emosies by hom ontbreek. Sy gedagtewêreld was ook verward en dit wou voorkom of hy in ’n afgeslote wêreld leef.

Regter Beyers: Weet u iets van die bepalings van die Wet op Geestesgebreke? - Ongelukkig nie. Ons word nie toegelaat om mense te sertifiseer nie.

Regter Beyers: Skisofrenie is ’n geestesgebrek ingevolge die Wet? - Ja.

Regter Beyers: Sou u hom sertifiseer? - As ek slegs die toetse gedoen het sonder dat ek iets van sy geskiedenis geweet het, sou ek nie.

Regter Beyers: As ek my verantwoordelikheid op u skouers plaas, sou u? - Ja.

Regter Beyers: As u die toetse neem en dit saamlees met die ge­skiedenis en agtergrond, sal u hom sertifiseer? - Ja. Tsafendas se skisofrenie is nie so ooglopend as by sommige gevalle in sielsieke- inrigtings nie, maar sy hoë intelligensie stel hom in staat om dit gedeeltelik in bedwang te hou.

’n Predikant van die Christian Church, mnr. James Johnston, het getuig dat hy Tsafendas in September 1965 ontmoet het toe hy in Kaapstad aangekom en by die Kleurlinggesin Daniëls gaan inwoon het. In een van hulle gesprekke het Tsafendas adresse van mense in Suidwes-Afrika gevra en gesê dat hy daarheen gaan. Op ’n vraag van adv. Van den Berg het mnr. Johnston gesê dit het vir hom gelyk of Tsafendas ’n geheimsinnige agtergrond het.

’n Beriggewer van ’n Engelse koerant, mnr. Gerald Shaw, het getuig dat hy vir sy koerant in die persgalery van die Volksraad diens gedoen het. Hy het Tsafendas nie baie vriendelik gevind nie.

Adv. Van den Berg: Het u ooit gesien waar Tsafendas staan wanneer die klokkies lui? - Eendag het ek hom by die deur van die persgalery sien staan. Hy kon daarvandaan die Eerste Minister sien.

Adv. Van den Berg: Was hy veronderstel om daar te staan? - Ek weet werklik nie.

Nadat die verdediging sy saak afgesluit het, het die Staat twee getuies geroep - mnr. J. Erasmus van die Weskoppies-hospitaal in Pretoria, en prof. A.J. van Wyk, hoof van die afdeling psigiatrie aan die Universiteit van Pretoria. Albei het gesê dat Tsafendas ’n skisofreen is en dat hy sertifiseerbaar is.

Regter Beyers het gesê in die omstandighede is daar geen regverdiging vir uitgerekte verrigtinge nie. In hooftrekke is die saak helder.

Die hofsaak wat op Maandagoggend, 17 Oktober 1966, begin het, het die Donderdag, 20 Oktober, ten einde geloop met die regter se uitspraak.

Regter Beyers het in sy uitspraak gesê dat die hof net soseer onder die indruk van die agtergrond van die saak is as enigiemand anders in die land.

“Wanneer ’n saak eers voor die hof dien,” het die regter voortgegaan, “verdwyn hierdie oorweginge van die omvang van die misdaad en die uitwerking daarvan op die bevolking van die land. Die reg neem oor en ander oorweginge as wetlike oorweginge moet nie toegelaat word nie. Die element van die misdaad van moord en die regsprosesse by die verhoor is dieselfde of die slagoffer die Eerste Minister van die land is en of hy een van die laagste onder die laagstes is. Moord is moord. Om toe te laat dat enigiets anders hierdie benadering vertroebel, sou wees dat wet en orde vervang word deur chaos en anargie”.

Die regter het voorts verduidelik dat dit ’n ondersoek was wat berus op die eenvoudige menslike beginsel dat die hof nie ’n mal mens verhoor nie. Die oogmerk van die ondersoek was om vas te stel of die man voor die hof wel verhoor kan word, ongeag wat sy geestestoestand was op die oomblik toe hy die daad gepleeg het. Dit is so omskryf in die Wet op Geestesgebreke. Die hof het dus geen diskressie in die saak nie. As daar twyfel by die hof bestaan oor die geestestoestand van ’n aangeklaagde ten tyde van sy ver­hoor, moet hy daardie twyfel uit die weg ruim deur die persoon na ’n behoorlike inrigting vir ondersoek te verwys.

Regter Beyers het bevind dat in die geval van Tsafendas dit geen goeie doel sou dien om hom na ’n inrigting te stuur nie. Daar is beslis dat hy in ’n tronk aangehou moet word waar hy behandeling kan ontvang. Sekuriteitsredes is hiervoor aangegee.

Die wet bepaal dat as so ’n persoon deur behandeling sodanig herstel dat hy verhoor kan word, later weer regstappe teen hom in werking gestel kan word.

Nadat die regter sy uitspraak in Engels gelewer het, het hy voortgegaan en gesê:

“Dit is nou eintlik al, maar ek dink nie dit is onvanpas as ek nog ’n paar woorde oor die hele saak sê nie. Ek verkies om dit in Afrikaans te doen.

“Die aansoek is nou besleg. Daarmee is die saak van die Staat teen Demitrio Tsafendas vir die oomblik, maar waarskynlik vir alle tye, afgeloop. Soos ek al gesê het, was dit wat die hof betref, ’n moordsaak en daarmee klaar, wat die regsaspekte betref.

“Die hof sou nie sy plig nakom en die vertroue van die land waardig wees as hy anders sou handel as volgens die bepalings van die reg wat hierdie hof, soos enige burger van die land, moet gehoorsaam nie. As die hof anders gehandel het, sou dit die naam van die Hooggeregshof nie waardig wees nie. Sou hy in stryd met die bepalings van die reg ’n persoon ter dood veroordeel, sou die hof skuldig wees aan moord.

“Ons en ons voorsate in hierdie land is ’n wetsgehoorsame en ordeliewende volk. Ek verstaan ten volle dat daar by mense diepe gevoelens is. Ek verstaan ten volle dat mense vra waarom ’n nietsbeduidende skepsel soos die man voor my, so ’n daad kon gepleeg het.

“Ek weet die eerste reaksie deur die eeue is ’n gevoel van wraak en vergelding. Ek deel daardie gevoel met die res van die land . . . Hoewel hy kan verstaan dat daar by sekere mense ’n mate van geskoktheid en ontevredenheid kan ontstaan, sal alle regdenkende mense besef dat dit nie anders kan nie, en dat dit nie reg en Christelik is om ’n sielsieke te veroordeel nie . . .

“Gevolglik is dit my plig om te beveel dat Tsafendas na ’n tronk gebring word en dat hy daar aangehou word hangende die beskikking van die Staatspresident.”

Dit was dan die einde van die hofdrama van vier dae. Tsafendas het die bevinding sonder enige teken van uiterlike emosie aangehoor, net soos hy feitlik die hele tyd met ’n uitdrukkinglose gelaat na al die getuienis geluister het. Hy het self uit die beskuldigdebank opgestaan en met die polisiekonstabels na benede verdwyn. Feitlik onmiddellik daarna is hy met ’n polisievoertuig na die gevangenis teruggeneem.

Maar toe Tsafendas die hof in daardie voertuig verlaat het, het ’n wolk van onopgeklaarde vrae agtergebly. Na vier dae waarin talle psigiaters oor sy geestestoestand getuig het en waarin grepe uit sy lewe vertel is, het die publiek nog steeds geen antwoord gekry op vrae soos: Waarom is dr. Verwoerd vermoor? Was daar medepligtiges ? Wie het die moordenaar die land binnegelaat? Wie het hom as bode in die Volksraad aangestel? Was iemand nalatig?

In ’n terloopse opmerking het die regter gesê; “Vrae moes opgeduik het, en sal steeds opduik, oor hoe so ’n kennelik versteurde mens sy pad kan vind tot in die Parlement waar die leiers van die volle vergader. Hierdie sake raak egter nie die hof nie.”

Feitlik onmiddellik na regter Beyers se uitspraak het die Minister van Justisie, mnr. P.C. Pelser, ’n verklaring uitgereik waarin die volk gevra is om te berus in die bevinding van die hof. Die Minister se verklaring het gelui:

“Demitrio Tsafendas is luidens ’n bevinding van die Kaapse Hooggeregshof geestelik gekrenk verklaar. Hierdie beslissing wat eenparig gedoen is deur ’n hof bestaande uit die Regterpresident van die Kaapse Provinsiale Afdeling, regter A.B. Beyers, en twee assesore, van wie een ’n psigiater is, is gedoen na die aanhoor van ’n massa getuienis dat hierdie persoon inderdaad binne die bestek van die Wet op Geestesgebreke val.

“Onder meer het die mediese getuienis namens die Staat, by monde van een van die mees vooraanstaande deskundiges op die gebied van geestesgebreke, ingestem dat die geestestoestand van Tsafendas sodanig is dat hy aangehou behoort te word as ’n kranksinnige.

“Die Regering, bewus van die oorweldigende aard van die getuienis aangaande Tsafendas se verstandelike gekrenktheid, aanvaar sonder huiwering en berus in hierdie beslissing.

“Terselfdertyd, en gedagtig aan die liefde en agting wat alle groepe van ons bevolking gehad het vir die ontslape Premier, en die skok wat veroorsaak is deur sy gewelddadige afsterwe, doen ek namens die Regering ’n beroep op alle landsburgers om, soos ons, hierdie beslissing in stille berusting te aanvaar.

“Graag wil ek ook die publiek verseker dat toegesien sal word dat die aanhouding van die betrokkene van sodanige aard sal wees dat hy in geen opsig ooit weer ’n gevaar vir die gemeenskap sal wees nie.

“By baie sal die verloop van die saak ongetwyfeld die vraag laat ontstaan of die tyd nie aangebreek het nie dat ’n deeglike ondersoek ingestel word na die doeltreffendheid van die bestaande regulasies wat betrekking het op gevalle van hierdie aard.

“Aan hulle wil ek die versekering gee dat dit sonder enige versuim ’n aanbeveling by die Staatspresident gemaak sal word om so gou moontlik ’n kommissie aan te stel met opdrag om sodanige ondersoek in te stel.

“Hierdie kommissie sal bestaan uit ’n regter as voorsitter en met verteenwoordigers, onder andere van die regsberoep, die psigiatriese professie, ’n kerklike verteenwoordiger en twee of meer senior lede van beide kante van die Volksraad.”

Vyf dae nadat Tsafendas deur die hof in Kaapstad as ’n mal man verklaar is, het hy self getuienis voor die kommissie van ondersoek na die dood van dr. Verwoerd afgelê. Oor sy verskyning voor die kommissie en sy getuienis doen regter Van Wyk soos volg vers!ag:

“Die kommissie was bewus dat hy oor heelwat kennis in verband met geestesgebreke beskik - hy het ook aan die kommissie erken dat hy heelwat daaroor gelees het ten einde vas te stel wat met hom skort - en het hom gevolglik met ’n redelike mate van agterdog bejeën. Dit is duidelik dat daar op sy woord nie staatgemaak kan word nie, en hy is intelligent genoeg om redelik goed toneel te speel.”

’n Leuenaar en ’n toneelspeler was die regter se opsomming dus van Tsafendas.

Dan gaan regter Van Wyk voort:

“Die kommissie kon slegs ’n leke-oordeel oor sy geestelike toestand vel en dit was - na twee uur ondervraging - dat hy wel nie geestelik normaal is nie. Hy was sekerlik nie die feitlik normale persoon wat mnr. Hartford beskryf het nie, maar oënskynlik normaler as wat hy was toe sommige psigiaters hom gespreek het.”

En dan maak regter Van Wyk die volgende belangrike bevinding:

“Hy het alle vrae vryelik beantwoord. Met tye, veral aan die begin, het hy stotterend gepraat, soms was hy vaag, onsamehangend en ontwykend, maar origens was sy antwoorde logies en goed geformuleer.”

In sy getuienis voor die kommissie, wat slegs vyf paragrawe in die regter se verslag beslaan, het Tsafendas ontken dat hy ooit in Rusland was. Hy het ook ontken dat hy teenoor mnr. Vercuiel, die werkgewer in Pretoria wat hom ontslaan het, gedreig het dat hy dr. Verwoerd sou vermoor. Verder het hy ontken dat hy ooit in Londen steun vir ’n opstand in Suid-Afrika gewerf het. Sy pogings was net tot die Portugese gebiede beperk.

Op 11 November 1966 het die kommissie Tsafendas weer gespreek. Luidens regter Van Wyk se verslag was sy toestand heelwat beter as die vorige geleentheid. Hy het alles goed verstaan, sy antwoorde redelik vinnig gegee en op een of twee uitsonderings na was dit logies en tersaaklik.

Op hierdie punt verskil regter Van Wyk se bevinding van die psigiatriese getuienis wat in die hof oor bepaalde aspekte van Tsafendas se geestestoestand afgelê is. Die psigiaters wat in die hof getuig het, het beklemtoon dat Tsafendas nie helder kon dink tydens ondervraging nie, dat hy hom nie by die onderwerp onder bespreking kon bepaal nie en dat sy gedagtes gedwaal het. Regter Van Wyk het bevind dat sy antwoorde vinnig, logies en tersaaklik was.

In sy getuienis voor die kommissie het Tsafendas gesê dat hy geen plan beraam het om dr. Verwoerd om die lewe te bring nie. Dit was ’n drang wat skielik by hom ontstaan het.

Regter Van Wyk verwerp hierdie getuienis in sy verslag. Hy sê: “Sy verklaring aan die kommissie dat die aanval nie beplan was nie, maar dat hy ’n skielike impuls ondervind het net voordat die aanval gedoen is, strook nie met die feite nie.

Die regter se opsomming van Tsafendas was onder meer dat hy “gewetenloos” en “slu” is.

Die mnr. Hartford na wie regter Van Wyk in sy verslag verwys en wie se naam vroeër gemeld is, was op daardie tydstip ’n verslaggewer by The Cape Argus, ’n Engelstalige middagblad van Kaapstad.

Gedurende Julie 1966 het Tsafendas ’n lang onderhoud met hom gehad. Hulle het mekaar reeds aan die begin van 1966 ontmoet tor Tsafendas by die Argus se kantore kom verneem het of daar nie enige nuus was oor die terroriste van Mosambiek nie. Hy het homself as ’n “rebel” van Mosambiek beskryf.

Mnr. Hartford het gemeen dat Tsafendas moontlik materiaal vir ’n tydskrifartikel kon verskaf en het hom toe gevra om later vir ’n onderhoud terug te kom. Hierdie onderhoud is ’n paar maal uitgestel totdat dit in Julie 1966 plaasgevind het.

Die onderhoud het ongeveer vyf en sewentig minute geduur. Tsafendas het onder meer vertel hoe hy Suid-Afrika in 1936 onwettig binnegekom het. Hy het geen geheim daarvan gemaak dat hy sterk teen die Portugese bewind gekant was nie, maar het nie ’n woord teen die bewind van dr. Verwoerd gerep nie.

“Mnr. Hartford se indruk” lui regter Van Wyk se verslag, “was dat Tsafendas normaal is; hy het geen rede gehad om te dink dat hy geestelik gebrekkig is nie. Hierdie getuie het die getuienis in die Hooggeregshof aangehoor van Tsafendas se toestand ná die dood van dr. Verwoerd en sy indruk was dat sy toestand sedert die onderhoud moes versleg het, want toe hy hom gespreek het, het Tsafendas vlot gepraat sonder enige opvallende onderbrekings.”

In die verslag word nie gemeld of Tsafendas aan mnr. Hartford ’n aanduiding gegee het waar hy op daardie oomblik, toe die onder­houd plaasgevind het, werksaam was nie. Dit word slegs gestel dat dit gedurende Julie 1966 was, maar daar word nie gesê of dit voor of na die datum was wat hy die betrekking as bode in die Volksraad gekry het nie.

Soos mnr. Hartford, was daar ook ander mense wat met Tsafendas in aanraking was voordat hy die moord gepleeg het en wat almal onder die indruk verkeer het dat hy normaal was. Die Sondagaand voor die moord op dr. Verwoerd het Tsafendas ’n kerkdiens in Pinelands bygewoon. Die eienaar van die huis waarin die diens gehou is, het hom heeltemal normaal gevind. Die mense by wie by tot voor 6 September 1966 geloseer het, het ook niks verkeerd met hom gevind nie. In die Volksraad, waar Tsafendas elke dag saam met ander bodes gewerk het, het sy kollegas ook nie agtergekom dat hy geestelik versteurd is nie. Vir byna ses weke het hy die persmanne in die persgalery bedien en geeneen kon agterkom dat hy geestelik versteurd was nie.

Tsafendas was klaarblyklik nooit in Suid-Afrika in ’n inrigting vir geestelik versteurdes nie, hoewel hy tydens sy verblyf in die buiteland periodiek in sodanige inrigtings beland het. Hoe hy in hierdie inrigtings beland het, is nie heeltemal duidelik nie. Uit regter Van Wyk se verslag moet afgelei word dat dikwels wanneer hy deur die owerhede van oorsese lande aangehou is weens een of ander kriminele oortreding, Tsafendas tekens van abnormaliteit getoon het en dat hy dan in inrigtings vir behandeling opgeneem is. Sy verblyf in die inrigtings was egter altyd van korte duur en hy is as normaal gesertiftseer en ontslaan na sy verblyf daar.

Volgens die kommissie was die laaste keer dat Tsafendas in so ’n inrigting opgeneem is, op 11 Februarie 1955. Dit was in die psigiatriese afdeling van die Ochsensall-hospitaal in Duitsland. Die diag­nose van die psiagiaters was “mixed psycho-neurosis psychosis.”

In die volledige notas wat die hospitaal destyds gemaak het, word herhaaldelik genoem dat Tsafendas van ’n lintwurm gepraat het

-    dieselfde storie wat hy kort voor die moord op dr. Verwoerd ook vertel het. Dit was ook in hierdie inrigting waar ’n priester van dieselfde sekte waaraan Tsafendas behoort het, hom besoek het. Aan een van die geneeshere het die priester vertel dat Tsafendas gedurende die oorlog gedros het, feitlik nooit gewerk het nie, van land tot land swerf en dat hy hom nie vertrou nie.

Die verslag meld dat Tsafendas op 6 Junie 1955 uit hierdie inrig­ting ontslaan is en dat die paranoïese gedagtes toe blykbaar nie meer by hom bestaan het nie. Dit was blykbaar ook die laaste keer dat Tsafendas in so ’n inrigting beland het. Na sy terugkeer na Suid- Afrika, is daar in elk geval geen getuienis dat hy in ’n inrigting vir geestelik versteurdes opgeneem is nie.

Die enigste vermelding van skisofreniese neigings by Tsafendas in die kommissie se verslag na sy terugkeer na Suid-Afrika is toe ’n distriksgeneesheer van Kaapstad, ’n sekere dr. Kossew, hom op 17 Junie 1966 ondersoek het. Die distriksgeneesheer het bevind dat hy aan ’n ernstige graad van skisofrenie ly.

Daar is ernstige vrae oor hierdie geval. In die verslag word nie gemeld waarom ’n distriksgeneesheer Tsafendas ondersoek het nie. Daar word nie gemeld wie hom na die distriksgeneesheer verwys het nie. ’n Mens land nie sommer toevallig by ’n distriksgeneesheer wat jou dan sielkundig ondersoek nie. Daar word nie gemeld of dr. Kossew ’n mediese verslag oor hom opgestel het nie. Daar word ook nie gemeld of die verslag na een of ander voornemende werkgewer deurgestuur is nie. Daar word nie verklaar of Tsafendas, na die bevinding van die distriksgeneesheer dat hy aan ’n ernstige graad van skisofrenie gely het, na ’n psigiater verwys is, wat daaromtrent gedoen is en of Tsafendas toe na ’n inrigting verwys is nie. Blykbaar was dit nie die geval nie.

Die aspek is ook in die debat in die Volksraad in Januarie 1967deur mnr. J.O. Newtom-Thomson van Pinelands geopper.

“Daar is een klein raaisel”, het mnr. Thompson op 27 Januarie 1967 verklaar, “wat ek graag wil hê die agb. Minister of ’n ander Minister moet uit die weg ruim. Op bladsy 11 van die verslag van die Kommissie in paragraaf 69 is daar hierdie belangrike losstaande verklaring -

Op 17 Junie is hy (Tsafendas) deur dr. Kossew, die distriksgeneesheer, ondersoek en die bevinding was dat hy aan ’n ernstige graad van skisofrenie ly.

“Minder as twee weke daarna was hierdie man in staat om by die Volksraad in diens te tree. Wat ek graag die Regering wil vra, is: Waarom het die man Tsafendas die distriksgeneesheer op daardie dag gaan spreek? Nêrens in die verslag word dit verduidelik of ondersoek nie.”

Vir mnr. Thompson was hierdie geval net so onverklaarbaar soos vir enige ander leser van die verslag. Dit het ook by hom ernstige onbeantwoorde vrae laat ontstaan.

“Wie het hom gestuur?” het hy gevra. “Watter Departement het miskien vir Tsafendas gestuur om die distriksgeneesheer te spreek? Indien die Departement van Volkswelsyn en Pensioene daardie man gestuur het, dan wil ek ook graag weet wat gebeur het met daardie verslag van die distriksgeneesheer, wat in hierdie hoedanigheid as ’n staatsamptenaar opgetree het, en waarom daar nie op grond daarvan opgetree is nie, en wat in verband daarmee gedoen is. Die is ’n ernstige bevinding waartoe geraak is. Dit is een wat miskien onmiddellike opsluiting vereis het.” (Hansard, 27 Januarie 1967, kol. 293).

In die debat wat in die Volksraad oor die Tsafendasgeval gevoer is, is geen antwoord op hierdie vrae verstrek nie. Die tergende vrae wat mnr. Thompson gestel het, is nog steeds onbeantwoord.

Dieselfde dr. Kossew was ook die eerste geneesheer wat Tsafendas na die sluipmoord ondersoek het. Dit was om ongeveer 2.50 nm., sowat ’n halfuur nadat Tsafendas dr. Verwoerd vermoor het. Die distriksgeneesheer het hom klaarblyklik fisies ondersoek, aangesien in die verslag melding gemaak word van ’n oop wond van ander- halfduim wat hy aan sy voorkop gehad het en ’n sny aan die lip. Dit was blykbaar in die worsteling met sekere Volksraadslede wat hom gepak het nadat hy dr. Verwoerd vermoor het.

Dr. Kossew het bevind dat Tsafendas sy vrae versigtig beantwoord het en nie verward voorgekom het nie, lui regter Van Wyk se verslag hieroor.

Op die aand van 6 September 1966 het dr. Sakinofsky wat ook in die hof getuig het, Tsafendas ondersoek. Sy bevinding was: Hy was slegs in ’n mate opgewonde, het verbysterd voorgekom, het twee maal in trane uitgebars, maar was nie wesenlik teneergedruk nie. Hy het vryelik gepraat, maar het tekens getoon van ’n gebrek aan logiese denkvermoë.”

In sy gesprek met Tsafendas het hy gesê dat hy dr. Verwoerd vermoor het omdat hy “kop in een mus” met die Portugese regering was. Hy het na dr. Verwoerd as ’n “vreemdeling” verwys.

Dr. Sakinofsky se bevinding was dat Tsafendas se denkvermoë ernstig aangetas was en dat hy nie in staat was om die gevolge van sy dade ten volle te begryp nie, as gevolg van skade veroorsaak deur ’n siekte bekend as skisofrenie.

Vyf dae ná hierdie ondersoek het Tsafendas ’n skriftelike verklaring aan maj. J. Rossouw van Kaapstad gedoen. In sy verklaring meld Tsafendas hoe hy daarin geslaag het om ’n betrekking as bode in die Volksraad te bekom. Hy sê dat ’n paar dae nadat hy in die Volksraad begin werk het, “alle soorte gedagtes by hom begin posvat het om die Eerste Minister te vermoor.”

“Ek het ’n geleentheid gesien om die Eerste Minister in die wandelgang te skiet. Ek het daaraan gedink om ’n vuurwapen aan te skaf”, lui sy verklaring onder meer.

Oor daardie oomblikke toe hy op die oggend van 6 September 1966 die Volksraadsgebou binnegestap en later die twee moordwapens in die stad gaan koop het, verklaar Tsafendas in sy ver­klaring aan maj. Rossouw:

“Die volgende ding is dat ek besluit het om ’n mes te gebruik om die Eerste Minister in die Volksraad te steek. Ek het nooit my planne met enigiemand bespreek nie. Die winkels was in die naweek gesluit en die volgende Maandag was ’n openbare vakansiedag.

“Ongeveer 9 vm. Dinsdag, 6/9/1966, het ek stad toe gegaan om die messe te koop. Ek het een mes van die eerste winkel gekoop. Hierdie winkel se naam is City Guns. Toe het ek na ’n ander winkel verder af in die straat gegaan en nog ’n mes gekoop. Albei winkels was nog gesluit toe ek daar aankom. Ek het op en af op die sypaadjie geloop en gewag dat die winkels moet oopgaan. Ek kan nie onthou of ek met ’n man of ’n vrou gepraat het nie. Ek het om 7.45 vm. begin werk. Op 6/9/1966 het ek om 6.45 vm. by die Volksraad aangekom. Ek het vroeg gaan werk om my werk agter die rug te kry sodat ek kon uitgaan om die messe te koop. Ek het nie toestemming gevra om stad toe te gaan om die messe te koop nie.

“Ek het eers by City Guns ingegaan en ’n dolk gekoop. Ek het R3,30 vir hierdie dolk betaal. Ek het toe na ’n ander winkel gegaan en nog ’n dolk gekoop - die een met die aluminium-handvatsel. Dit was meer soos ’n stiletto. Ek het twee wapens gekoop om seker te maak van die taak wat ek in gedagte gehad het. Ek het gedink iets kan verkeerd loop en dat een wapen van my weggeneem kon word.”

Voorts sê Tsafendas in sy verklaring dat die twee messe in bruin papier toegedraai is en verklaar dan voorts:

“Nadat ek die wapens gekoop het, het ek na die Volksraad teruggekeer waar ek die messe uit die papier gehaal en die dolke in my sluitkassie gebêre. Ek het daardie oggend ’n kakie-oorpak aangetrek toe ek begin werk het. Toe ek na die winkels is om die wapens te koop, het ek ’n grys pak aangetrek. Toe ek teruggekom het, het ek my donkerblou bode-uniform aangetrek. Ek het ’n gordel onder my broek gehad waaraan twee skedes vasgemaak was. Ek het die twee messe in my sluitkassie gelaat. Ek het toe na die eerste vloer gegaan om koffie en tee te bedien. Ek het gewag dat die liggies moet aangaan wat vir my die kantore aangedui het wat tee en koffie wou gehad het. Ek was daar tot omtrent 2 nm.

“’n Paar minute voordat die Volksraad se klokkies begin lui het vir die begin van die sitting, het ek na my sluitkassie gegaan om die messe te kry. Ek het hulle in die skedes onder my broek gesteek en het na die wandelgang gegaan om vir die Eerste Minister te wag. Ek het voorheen beraam om die Eerste Minister in die raadsaal te steek terwyl hy na sy bank stap.

“Ek het hom gesien verbystap en hom na die raadsaal gevolg. Ek het geprobeer om die dolk uit die skede te trek, maar dit het vasgesteek. Uiteindelik het ek daarin geslaag om dit uit te kry, maar teen daardie tyd het die Eerste Minister reeds in sy bank gaan sit.

“Ek was baie senuweeagtig en verward en kan nie onthou waar ek hom die eerste steek toegedien het nie, maar ek het vir sy bors gemik. Ek weet dat ek hom twee keer gesteek het en toe het die mense my gegryp. Hulle het my geslaan, geskop en my na die gang getrek. Ek is ontwapen en gearresteer.”

Tsafendas sluit sy verklaring met die woorde af: “Ek ontken dat ek ’n kommunis is. Ek is ’n Christen en ek glo in die Bybel. Ek het nie gedink dat ek sou wegkom nadat ek die Eerste Minister vermoor het nie. Ek het nie omgegee wat van my word nie.”

Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 3465 gaste aanlyn