Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Ons trek so graag grense om ons want in die wêreld bied dit 'n bepaalde en goeie ruimte vir jou om in te leef.  Wees egter versigtig dat jou grense nie vir jou 'n kluisenaarslewe veroorsaak nie.

SLUIPMOORD OP DR VERWOERD (12) (SLOT)

Beaumont Schoeman – geskryf in 1975

Lees reeks by SLUIPMOORD OP DR VERWOERD

Hulde en haat

Die Volksraad se verrigtinge van 7 September 1966 - vier en twintig uur nadat Demitrios Tsafendas dr. H.F. Verwoerd in sy bank met ’n dolk in die hart vermoor het - was somber dog treffend. Dit was emosiebelaaide oomblikke. Die uitbundigheid wat altyd die oomblikke net voor die aanvang van die dag se verrigtinge in die Volksraad kenmerk, was op daardie dag afwesig. Daar was nie die gebruiklike geskerts nie; net ’n droewige stilte. As daar nog gepraat is, was dit op gedempte toon. Daar buite het die volk gerou. Binne die raadsaal het die emosies aan meer as een geharde hart gepluk.

 

Langs die bank wat dr. Verwoerd agt jaar lank as Suid-Afrika se sesde Premier beset het, was daar ’n groot, dowwe bruin kol op die groen tapyt as enkele getuienis van die tragedie wat hom vier en twintig uur tevore in die raadsaal afgespeel het. Dr. Verwoerd se bank was leeg. Die gebinde agenda van die Volksraad was die enigste amptelike dokument op sy bank, ’n Mens was huiwerig om na daardie kol langs dr. Verwoerd se bank te kyk - asof jy nie herinner wou word aan die tragedie van die vorige dag nie. Maar jy kon die oog nie daarvan weghou nie. Dit het jou soos ’n magneet getrek. Want uit daardie dowwe bruin kol het daar ’n helder boodskap tot elkeen binne die raadsaal gekom: hier het ’n man vir sy volk gesterf.

Die amptelike Hansard-verslag van daardie dag se verrigtinge lui:

“Woensdag, 7 September 1966.

“Gebed - 2.20 nm.”

Daarna volg in koue druk:

“Vakature.

“Die Speaker: Met diepe leedwese moet ek aankondig dat daar ’n vakature ontstaan het in die verteenwoordiging in die Raad van die kiesafdeling Heidelberg weens die dood gister van Sy Edele dr. H.F. Verwoerd.”

Toe het dr. T.E. Donges opgestaan en as waarnemende Eerste Minister ’n mosie van roubeklag voorgestel.

“Meneer die Speaker”, het hy gesê, “’n groot man het ons ontval, ’n man wat in elke opsig uitgeblink het, ’n man wat ryklik bedeeld was met talente en gawes van gees en verstand en wat al daardie gawes so vryelik en in oormaat tot die diens van sy volk gestel het.

“Hy het nooit gevra nie; hy het altyd gedoen wat gedoen moes word. Sy agt jaar as Eerste Minister was seker een van die mees veelbewoë tydperke in ons volksgeskiedenis. Ek roep maar in herinnering ’n paar van die gebeurtenisse: die vorige aanslag op die lewe van dr. Verwoerd ses jaar gelede, ons uittrede uit die Statebond in 1961, die referendum en die republiekwording.

“Ook op buitelandse gebied het daar groot dinge afgespeel in die agt jaar. Ek dink weer aan die Suidwes-Afrika-saak. Ek dink aan die Rhodesiese aangeleentheid. Ek dink aan al die bedreigings en boikotte en sanksies. Al daardie dinge het saamgeval in hierdie tydperk van agt jaar.

“Dr. Verwoerd se lewe was ’n vol lewe, ’n ryk lewe, en as ’n mens kyk na hoe hy die sake hanteer het, dink ek moet ’n mens vandag sê dat hy nooit ’n voet verkeerd gesit het nie. Hy het aan die land, aan hierdie Raad en aan sy Party altyd dinamiese leiding gegee, en hy het Suid-Afrika se aansien laat styg in die tydperk wat hy aan die hoof van sake hier was.

“Hy het in ’n groot mate ’n wêreldfiguur geword. Sy naam was bekend ver anderkant die grense van ons land, en na hom is opgesien met respek en met agting vir die werk wat hy gedoen het vir Suid-Afrika.

“Al daardie dinge kon hy doen omdat daar sekere essensiële beginsels was waaraan hy hom vasgebind het.”

Ná hom het sir De Villiers Graaff, die Leier van die Opposisie, die mosie gesekondeer. Hy het na die moord op dr. Verwoerd verwys as “nie alleen vir die Parlement ’n groot skok nie; dit was ’n ramp vir die hele Suid-Afrika.”

“Ek meen”, het hy verder gesê, “daar sal saamgestem word dat hy een van die voortreflikste manne was wat Suid-Afrika ooit as Eerste Minister en as politieke leier gedien het.”

Mnr. Ben Schoeman, die Leier van die Volksraad, het aan regeringskant ook hulde gebring. “Ons weet”, het hy verklaar, “watter onherstelbare verlies sy dood vir Suid-Afrika is; ons weet hoe donker die toekoms miskien mag wees.”

Hy het toe vertel van die vyf en twintig jaar wat hy dr. Verwoerd geken het. “Ons het mekaar leer ken in die donker oorlogsjare waar ons moes stry vir ons voortbestaan as Party en as Afrikanervolk; waar ons van onder af weer moes opbou, waar ons hoon en smaad moes verduur. Maar hy was altyd soos ’n rots, ’n man op wie jy kon staatmaak onder alle omstandighede.”

“Sy heengaan”, het mnr. Schoeman vervolg, “is vir ons ’n groot, onherstelbare verlies . . . Ons moet maar voortbou op die fondamente wat hy gelê het, want die mens kom en gaan, maar die lewe van jou land en volke bly altyd voortbestaan.”

Dit was die besef by die meeste mense: voortbou op die fondamente wat hy gelê het. Daar was sekerheid dat dit reg is. Daar was vertroue in die toekoms weens die hegte grondslag wat hy gelê het.

In die Senaat het mnr. Jan de Klerk, Leier van die Senaat, ook ’n mosie van roubeklag voorgestel.

“Ek het”, het sen. De Klerk gesê, “dwarsdeur in hom ’n persoon geken met die hoogste integriteit, ’n persoon wat hom nooit skuldig gemaak het aan enige diplomatieke uitoorlêery, van wie dit ook al mag wees, of dit die Opposisie was en of dit ’n beraming van planne was om voordeel te trek uit ander se swakhede nie.

“Hy het onverskrokke sy saak gestel met die heiligste oortuiging dat, wat hy aangebied het, alleen die enigste oplossing vir die voort­bestaan van alle rasse naas mekaar in ons dierbare land, Suid-Afrika, is.

“En waar daar met hom verskil is, omdat hulle ander menings daarop nagehou het, het hy hulle dit nie ten kwade gedui nie, maar het hy op ’n positiewe wyse probeer om sy oortuigingswerk uit te dra. Hy was ’n gebore leier. Hy het geweet wat dit beteken om sy mense met hom saam te neem, maar hy het dit nog beter verstaan hoe om andersdenkendes met hom saam te neem ter wille van sy dierbare land, Suid-Afrika.”

Nadat sen. De Klerk verder uitgewei het oor dr. Verwoerd se voortreflike lewe, het hy iets aangeroer wat besonder betekenisvol was.

“Dikwels is hy misverstaan”, het mnr. De Klerk gesê. “Misverstaan in dié opsig dat hy ’n drywer was en dat diegene wat hom gevolg het, napraters was van wat dr. Verwoerd gedink het en uitgewerk het. Dit is nie so nie. Hy was een van die grootste demokrate wat ek geken het. Hy het nooit ’n botsing in die kabinet laat ontstaan nie. Hy het nooit ’n wanklank laat uitgaan nie en wanneer daar beslissings gevel moes word, het hy nooit misbruik gemaak van sy mag as Eerste Minister om aan ander eenvoudig te sê: nou bly julle stil en so is dit besluit nie.

“As dit moeilike sake was, het hy dit liewer vir ’n dag of langer uitgestel. As dit problematies was, het hy elkeen se standpunt aangehoor en het hy van die geringste argument wat ten gunste of teen enigiets geopper is, kennis geneem.

“Ons is arm. Suid-Afrika is arm vandag.”

Mnr. De Klerk het afgesluit met die gedagte van voortbou. “Ons sal hom onthou,” het hy gesê, “en hoewel hy in die liggaam weg is, sal sy gees en sy lewe ons almal inspireer om voort te gaan op die weg wat hy aan ons gewys het.”

Dit was die refrein wat geloop het deur al die gesprekke en toesprake. Net so kon die toekoms tegemoet gegaan word.

Mnr. Alf Trollip, destyds Minister van Immigrasie, het namens Natal ook treffend in die Senaat gepraat. Hy het na dr. Verwoerd verwys as “moontlik die grootste van almal” - bedoelende Suid- Afrika se Premiers.

“Ek dink nie,” het hy gesê, “dit is nodig om aan my kollegas hier in die Senaat te sê dat dr. Verwoerd Suid-Afrika was nie, en toe die dolk in sy hart gesteek is, is dit in die hart van Suid-Afrika gesteek.”

Hier, uit die mond van ’n Engelssprekende wat nooit emosie getoon het nie, het die woorde gekom wat in die gedagte van duisende getril het.

Sen. Tienie Bekker het namens Kaapland eenvoudig en roerend gepraat.

“Ons sal nog baie dae wanneer daar beslissings geneem moet word, vir onsself vra: wat sou dr. Verwoerd gesê het oor hierdie probleem?”

Buite Suid-Afrika se grense was daar ook mense wat gerou het oor die heengaan van dr. Verwoerd, want ook vir hulle was hy die versinnebeelding van dit waarvoor hulle gestaan en waarna bulle gestrewe het.

Roerende tonele, berig Dagbreek op 11 September 1966, het die afgelope week in Salisbury afgespeel waar duisende Rhodesiërs, Blank en Nieblank, ’n laaste eerbetuiging teenoor dr. H.F. Verwoerd betoon het.

Meer as vyf duisend Rhodesiërs het in die week ná dr. Verwoerd se dood hulde gebring aan die ontslape Premier. Terwyl vlae die hele week halfstok gehang het, het mense in groot getalle na die kantore van die Suid-Afrikaanse gesantskap in Salisbury gestroom om ’n spesiale rouboek te teken.

Die dag na die sluipmoord op dr. Verwoerd het die Rhodesiese premier, mnr. Ian Smith, vergesel van sy eggenote en kabinetslede, die rouboek geteken. Geklee in ’n donker pak met ’n swart das, het mnr. Smith by die kantoor opgedaag waar hy deur Suid-Afrika se Gevolgmagtigde, mnr. B.J. Montgomery, ontmoet is.


“Skynbaar aangedaan en effens bleek”, berig Dagbreek, “het mnr. Smith voor ’n portret van dr. Verwoerd gaan staan, in stilte daarna gekyk, ’n stukkie van die Kaapse heide onder die raam reggedruk en toe met geboë hoof na die rouboek gestap waar hy sy naam geteken het. ’n Swyende skare van meer as honderd mense het hierdie aandoenlike toneeltjie gade geslaan.”

Onder die mense wat die rouboek geteken het, lui die berig verder, was ook ’n aantal Nieblankes. “Dr. Verwoerd het Suid- Afrika ’n beter plek gemaak om in te lewe en daarom het ek hierdie boek kom teken,” het ’n goedgeklede Nieblanke gesê.

Daar was natuurlik ook die keersy van die beeld - mense en instansies wat gejubel het oor die verwydering van die man wat hulle geglo het in hulle weg gestaan het. In die Zambiese parlement byvoorbeeld was daar groot vreugde en blydskap toe die nuus van die sluipmoord Lusaka die Dinsdagmiddag van 6 September 1966 bereik het.

Onder die opskrif “Kaunda, Ministers het ná doodstyding gejuig,” berig Dagbreek op 11 September 1966:

“’n Gelag en gejuig het Dinsdagmiddag in die Zambiese parlement losgebars toe die Speaker, Wesley Nyerinda, die nuus van dr. Vorwoerd se heengaan bekend gemaak het. Terwyl die Speaker die lede herhaaldelik tot orde moes roep, het pres. Kaunda en verskeie van sy ministers lustig aan die juig deelgeneem.”

Die leier van die opposisie in die Rhodesiese parlement, Chad Chipunza, het hom heftig uitgelaat toe hy verneem het watter reaksie dr. Verwoerd se dood in die Zambiese parlement ontlok het.

“In my ganse politieke loopbaan,” het hy gesê, “het ek nooit van sulke skokkende en walglike gedrag gehoor nie. Dr. Verwoerd was sonder twyfel die grootste leier wat Afrika nog voortgebring het. Dit is onnodig vir my om te sê dat Suid-Afrika se onmeetlike verlies dwarsoor die wêreld gevoel sal word.”

Tiperend van die haat en venyn wat teen dr. Verwoerd gedurende sy bewind in die buiteland opgebou is en in die dae na sy dood onkeerbaar oorgeborrel het, is ’n foto-artikel wat in die Amerikaanse tydskrif Life oor dr. Verwoerd verskyn het. Die artikel is aangebied onder die opskrif “Gewelddadige einde vir die apostel van Apart­heid”, en is geskryf deur Anthony Sampson, gewese redakteur van die Johannesburgse Nieblanke tydskrif Drum.

Die artikel lui onder meer dat wyle dr. Verwoerd meer as enige wêreldfiguur die simbool was van “roekelose Wit heerskappy.”

Die blad sê hy was die apostel van apartheid, ’n onderdrukkende beleid wat met polisiestaat-doeltreffendheid toegepas is om die twaalf miljoen Nieblankes in Suid-Afrika magteloos te hou en om hulle streng van die 3,4 miljoen Blankes te skei.

Sampson skryf voorts: “Verwoerd - wie se rassistiese leerstelling die grootste deel van die wêreld afgestoot het - was op die kruin van sy politieke mag toe hy dood is.”

Hy vra dan waaraan dr. Verwoerd se vaste geloof en sy mag toegeskryf kan word en antwoord: “Omdat hy in ekstreme vorm die eienskappe van die twee miljoen Afrikaners versinnebeeld het. Hy het geglo dat syne ’n uitverkore ras is en kon daarom nie deur die wêreldmening van koers gebring word nie. Hy het die eenvoudige geloof gedeel van die mense wat opgegroei het met die Bybel en die geweer. Dit het dikwels gelyk of hy praat uit ’n tyd van drie eeue gelede, voor die gedagtes van die verligtheid en die liberalisme.

“Die saak van apartheid was vir hom ’n soort godsdiensoorlog. Agter sy professorale kalmte was hy ’n politieke fanitikus. In die gespanne atmosfeer van Suid-Afrika het dit hom gehelp om ’n soort diktatuur tot stand te bring - die wette wat die Swartman onderdruk, het die vrye Blanke ook getref.”

The Telegram van Toronto het Life probeer oortref in sy haat jeens dr. Verwoerd. Onder ’n prominente opskrif “Meer onderdrukking, nog wreder”, begin die berig: “Wrede, genadelose onderdrukking van die Bantoe en liberale Blankes - nog erger as voorheen - doem vandag op in Suid-Afrika as ’n regstreekse nasleep van die sluipmoord op Eerste Minister Hendrik Verwoerd.”

In ’n ander artikel skryf The Telegram: “Dit is belangrik om te besef dat dr. Verwoerd haat, gegriefdheid en ’n groeiende en gevaarlike onderstroom van gefrustreerde geweldpleging in die land gebou het.”

In ’n derde artikel word gesê: “Jy kan nie mense in die tronk gooi sonder om hulle te verhoor, hulle martel en selfs vermoor, hulle basiese voorregte ontneem, hulle tweedeklas burgers maak en eintlik in slawe verander sonder om ’n vergiftigde atmosfeer te skep nie.”

Die Toronto Star het ’n artikel gepubliseer onder die opskrif “Die man is dood - sy monster groei.” In die artikel word onder meer na die eerste aanslag op dr. Verwoerd se lewe verwys en dan word geskryf: “Maar Verwoerd het gelewe. Hy het gesê God het hom gespaar. En die monster apartheid lewe. Nou is die man dood. Maar die monster lewe nog.”

Vanuit Nederland, waarvandaan dr. Verwoerd se ouers geëmigreer het toe die ontslape Premier drie jaar oud was, is net soveel haat en venyn teen dr. Verwoerd uitgegiet. So byvoorbeeld het die Gereformeerde Kerk van Nederland geweier om die Kerk in Amsterdam, waar dr. Verwoerd in 1901 gedoop is, beskikbaar te stel vir ’n gedenkdiens ter ere van die ontslape Eerste Minister.

Onder die Engelssprekendes in Suid-Afrika kan die houding van die twee hoofstrome van die bevolkingsgroep nie beter opgesom word as deur die menings van twee bekende Engelse skrywers nie.

Op Saterdag, 10 September 1966, het wyle G.H. Calpin, skrywer van There are no South Africans, in ’n artikel in Die Vaderland gesê: “Ek kan nie dink aan Suid-Afrika sonder dr. Verwoerd nie.”

Op 26 September 1966 skryf Alan Paton in The Star: “Dr. Verwoerd het liberaliste en liberalisme verafsku en het dit openlik gesê. Liberaliste verafsku die beleid van apartheid en sê dit open­lik.”

Gelief en gehaat. Gelief onder die Afrikaners en daardie Engels­sprekendes wat saam met die Afrikaners gestreef het na ’n veilige tuiste en voortbestaan in Suider-Afrika; gehaat onder daardie Engelssprekendes wat dit nie aan die Blankes gegun het nie.

Maar hoe ook al na die man Verwoerd gekyk word, oor een feit sal nooit gestry word nie: die agt jaar van dr. Verwoerd se premierskap was van die mees veelbewoë tydperke in Suid-Afrika se geskiedenis. Dit was veelbewoë, maar dit was ook vormend. As daar ooit ’n politieke leier in Suid-Afrika was wat die gebeurde en geskiedenis van sy eie land en ook buite sy land se grense gevorm het, dan was dit dr. Verwoerd. Maar hyself is nooit deur daardie gebeurde hervorm of verander nie omdat, soos dr. Dönges dit gestel het, hy al daardie dinge kon gedoen het omdat daar sekere essensiële beginsels was waaraan hy hom vasgebind het.

Dr. Verwoerd se premierstydperk was inderdaad ’n epogmakende agt jaar. Dit het gestrek van ’n praktiese hantering van die Nieblanke vraagstuk, altyd met die primêre oogmerk om die voortbestaan van die Blankedom te verseker, oor die eerste aanslag op sy lewe in 1960 heen; sy besluit om van Suid-Afrika ’n Republiek te maak; die Macmillan-winde van verandering in Afrika; die referendum; die historiese Statebondskonferensie van Maart 1961 waar dr. Ver­woerd nie bereid was om sy land te laat verneder deur ’n tierende en onvolwasse groep Uhuru-leiers nie; die felste aanslag van die Kommunisme in Suid-Afrika; die Transkei-ontwikkeling; die Suid- wes-saak, Rhodesië en nog vele ander geskiedenismakende gebeurtenisse.

Op 30 Maart 1966 het dr. Verwoerd as politieke leier sy laaste verkiesing gevoer. Vir hom was dit ’n persoonlike triomf wat nog nie weer ge-ewenaar is nie. In hierdie verkiesing het die Afrikaner en Engelssprekende in groot getalle hulle vertroue gestel in ’n man wat deur sy dade van die vorige jare getoon het dat hy hom nie deur elke wind van verandering laat rondstoot nie. Hy het vir die meeste mense in Suid-Afrika die simbool geword van ’n volk se bestaanswil. Vir Suid-Afrika se vyande was hy die een man wat tussen hulle en Suid-Afrika en sy mense gestaan het. Daarom is sy verdwyning van die politieke toneel in baie vreemde kringe gewens, bespreek en sekerlik ook beplan.

Vir die mense in Suid-Afrika het die naam Verwoerd sinoniem geword met die krag en veiligheid van Suid-Afrika. In die harte van sowel Afrikaanssprekendes as Engelssprekendes het hy ’n plek ingeneem wat nie begrens is deur die enge partypolitieke verdeling van die tyd nie. Daartoe het die eerste aanslag in 1960 op sy lewe en sy wonderbaarlike herstel waarskynlik tot groot hoogte bygedra. Vir sy eie mense was die totstandkoming van ’n republiek nog ’n daad wat hom aan sy volk gebind het.

Sy weiering om Suid-Afrika te laat verneder in ’n Statebond waaruit alle rede verdwyn het, waarin primitiewe instinkte hoogty gevier het en waarin ’n gees van dienstigheid aan en kapitulasie voor die eise van Uhuru oorheersend geword het, het miskien nie by alle seksies van die Suid-Afrikaanse bevolking op daardie oomblik die ondersteuning gekry wat dit verdien het nie. Maar sy optrede in Londen in Maart 1961 het nie afbreuk gedoen aan die groeiende agting vir die man Verwoerd nie. Die teendeel is waar. Ook in die oë van hulle wat sy opponente was, denkendes in die beskaafde wêreld, het dr. Verwoerd in statuur gegroei en het hy internasionale aansien verkry.

Sy politieke sege van 30 Maart 1966 het dr. Verwoerd in die Suid-Afrikaanse politiek onaantasbaar gemaak. Ten tyde van sy heengaan was hy ook op die tinne van gesag en prestige op die internasionale vlak. Dit kan inderdaad met stelligheid verklaar word dat die inter­nasionale politieke toneel wat die Westerse wêreld betref, op daardie oomblik deur drie name oorheers is: Charles de Gaulle, Konrad Adenauer en Hendrik Verwoerd.

Dr. Dönges het gelyk gehad toe hy in sy huldeblyk aan dr.Verwoerd twee internasionale gebeurtenisse uitgesonder het wat dr. Verwoerd op internasionale vlak tot groot hoogtes gevoer het. Dit was die Rhodesiese kwessie en die Suidwes-saak in die Interna­sionale Hof in Den Haag.

Toe mnr. Ian Smith, Rhodesiese eerste minister, op 11 November 1965 sy land onafhanklik verklaar het na maande van mislukte onderhandelings met Brittanje, het die oë van die ganse wêreld na een man gedraai. Daardie man was dr. Verwoerd. Want die vyande en die vriende van die Blanke bewind in Rhodesie het geweet dat sonder Suid-Afrika se bystand Rhodesie se onafhanklikheid nooit verseker kon word nie.

Skrywer het die geleentheid gehad om twee dae na mnr. Smith se onafhankliklieidsverklaring na dr. Verwoerd te luister. Dit was ’n openbare vergadering in die hart van die Engelssprekende wêreld in Suid-Afrika. Reeds buite die grense van Pietermaritzburg kon ’n mens daardie aand die geladenheid van die oomblik aanvoel. Een vraag was op almal se lippe: Wat gaan Verwoerd doen?

Daardie aand in die Pietermaritzburgse stadsaal was ’n onvergeetlike oomblik. Engelssprekendes wat beslis nie aan dieselfde politieke party as dr. Verwoerd behoort het nie, het die Eerste Minister luid en staande toegejuig toe hy in die fynste diplomatieke taal aan Suid-Afrika, aan Rhodesië, aan Brittanje en almal wat daarby belang gehad het, die versekering gegee het dat Suid-Afrika nie sy eie bloed oorkant die Limpopo in die steek sou laat nie.

“Ons glo nie aan boikotte nie; Suid-Afrika sal nie ’n skakel wees in die boikotketting nie,” het hy met nadruk verklaar. En met groot erns en opregtheid het hy verwys na die bloedband tussen sy mense en baie van die Blankes in Rhodesië.

Dit was ook die tema van sy toespraak in die Volksraad op 25 Januarie 1966 toe hy oor Rhodesië en Suid-Afrika gepraat het.

“Ons glo”, het hy daardie dag in die Wantrouedebat gesê, “dat Swart regering oor Blankes in Rhodesië tot vernietiging en chaos sal lei . . . Niemand kan meer simpatiek staan teenoor daardie mense, Blankes, wie se politiek bedreig word . . . Sal ons glo dat die Blankes van Rhodesië ontbeerlik is wanneer dit ons beleid is? Sal ons nie bewus wees van die gevare as Blanke heerskappy vervang word nie?

“Indien ons leefwyse bedreig sou word; indien daar ’n poging sou wees om die heerskappy van die Blanke hier te beëindig; indien ons ’n stryd om voortbestaan moes voer waarin ons sou moes veg om te oorwin of te sterf - dan is ek heeltemal oortuig dat die Rhodesiërs in hulle eie omstandighede niks minder vasberadenheid aan die dag sal lê nie.”

Die een belangrike skakel in die aanslag teen die Blankedom van Rhodesië het ontbreek. Te midde van die grootste risiko’s vir sy eie land het dr. Verwoerd voortgegaan - nie met groot gebaar en luid van woord nie - om die Blankes van Rhodesië se voortbestaan in die stormagtige maande onmiddellik na UDI te verseker, want hy het geweet dat as hierdie voorpos sou val, die vyand aan die poorte van Suid-Afrika sou staan.

Rhodesië het die storms wat om hom gewoed het in daardie eerste maande na onafhanklikwording, al die magte van die internasionale wêreld wat teen hom gemonster kon word, met welslae afgeslaan. En mnr. Ian Smith sal ongetwyfeld die eerste persoon wees om te erken dat dit vir hom en sy regering ’n bomenslike taak sou wees sonder die morele en materiële onderskraging van Suid-Afrika onder leiding van dr. Verwoerd.

Was dit dan ’n wonder dat pres. Kaunda en sy ministers in die Zambiese parlement hulle uitbundigheid nie in toom kon hou toe hulle op 6 September 1966 van die dood van dr. Verwoerd verneem het nie?

Maar as daar een enkele faktor was wat dr. Verwoerd na die tinne van gesag en internasionale aansien gestoot het en hom op sowel die plaaslike as die buitelandse toneel in ’n feitlik onaantasbare posisie geplaas het, was dit die verloop van die Suidwes-Afrika-saak in die Internasionale Hof in Den Haag.

In 1961 het Liberië en Ethiopië die saak teen Suid-Afrika oor Suidwes-Afrika in die Wêreldhof aanhangig gemaak. Kortliks het die aanklag teen Suid-Afrika daarop neergekom dat Suid-Afrika se bestuur van Suidwes-Afrika onwettig was en dat hy daarom uit Suidwes-Afrika moes trap. Vir enige leek was dit duidelik wat ten grondslag van hierdie veldtog gelê het. Dit was nie op Suidwes- Afrika self dat die begerige oë gerig was nie, maar op Suid-Afrika.

Vir vyf jaar het hierdie aanslag teen Suid-Afrika in die Wêreldhof gewoed. In daardie tyd is elke denkbare afskrikmiddel teen Suid- Afrika ingespan om die Republiek en die Verwoerd-bewind te beweeg om sy bande met Suidwes-Afrika los te maak.

Daar was avonture soos dié van die Fabricat-sending en sy mislukte poging om per vliegtuig in Suidwes-Afrika te land; daar was die Carpio-klug wat sy klimaks in ’n hospitaalbed in Pretoria bereik het en ’n aanklag daarna van Carpio dat gif in sy koffie gegooi is; daar was die velerlei plannetjies wat in die binnekamers van die linkse magshebbers in die VSA gesmee is om Suid-Afrika en dr. Verwoerd te intimideer; daar was die berugte invalsplan van die Carnegie Endowment for International Peace, ’n haarfyn uitgewerkte militêre aanslag teen Suid-Afrika; daar was mnr. Harold Wilson, wat nou weer in Brittanje aan bewind is, se weiering om ’n Buccaneer-kontrak na te kom - tot groot skande vir homself.

Die massamedia van die vyandige buitewêreld het teen die Verwoerd-bewind getier. Die rolperse van die VSA het oortyd gewerk om een na die ander giftige propagandistiese publikasie teen die Blanke bewind in Suid-Afrika die lig te laat sien.

Maar te midde van dit alles - te midde van die oplaaiende kreet van “Verwoerd must go!” - het dr. Verwoerd onbeweegbaar gestaan en geweier om hom te laat intimideer. In daardie tyd het hy aan die wêreld getoon dat, verre daarvandaan om die bande tussen Suid-Afrika en Suidwes-Afrika los te knip, hy juis daardie bande nouer wou bind. Suidwes-Afrika het saam met die Blankes van Suid-Afrika in die referendum van 1960 gestem oor die konstitusionele vorm van Suid-Afrika. Aan die gebied is verdere erkenning verleen deur verteenwoordiging in die regering deur middel van ’n portefeulje van Suidwes-Afrika-aangeleenthede. Die Odendaal- kommissie is aangestel om dr. Verwoerd se resep vir die oplossing van die Bantoevraagstuk ook daar aan te wend. Op velerlei ander maniere is die band tussen Suid-Afrika en Suidwes-Afrika nouer gebind.

In Julie 1966 het die Internasionale Hof in Suid-Afrika se guns uitspraak gelewer. Die aantygings van Liberië en Ethiopië is verwerp en Suid-Afrika het amptelike sanksionering van die hof van die Verenigde Volke ontvang om met sy administrasie van Suidwes-Afrika voort te gaan. Oor Suid-Afrika se reg om Suidwes-Afrika as ’n integrerende deel van Suid-Afrika, feitlik as ’n vyfde provinsie, te administreer, kon daar ná hierdie uitspraak nie meer gekibbel word nie.

Vir die vyande van Suid-Afrika was hierdie uitspraak ’n ernstige slag, waarskynlik die ernstigste wat hulle nog getref het. Hulle was lam geslaan; al hulle aksies en planne is die nek ingeslaan. Suid-Afrika het in ’n onaantasbare posisie gestaan.

Dr. Verwoerd se statuur as staatsman en leier het oornag grade gestyg.

By die vyande van Suid-Afrika was daar een sekere wete: hulle sou nooit hulle doelwit kon bereik om tot binne die poorte van Suid-Afrika te vorder solank die man Hendrik Verwoerd die brug tussen hulle en die Blanke nasie in Suid-Afrika beset het nie.

As daar vóór die Suidwes-saak dikwels die kreet “Verwoerd must go!” gehoor is, het daardie kreet ná die hofuitspraak nog luider opgeklink. Dit het die histeriese refrein van ’n linkse wêreldpers geword.

Op Dinsdagmiddag, 6 September 1966, het Demitrios Tsafendas met vier goedgemikte dolksteke reggekry wat Suid-Afrika se vyande gewens, bespreek en beplan het. Die man wat die bestaanswil van die Blankedom in Suider-Afrika versinnebeeld het, is in sy bank in die Volksraad deur ’n sluipmoordenaar neergevel.

Die moord op dr. Verwoerd moet gesien word in die wye politieke verband wat ver buite Suid-Afrika se grense strek. Dit moet gesien word in die verband van die magspolitiek in wie se weg hier­die fiere staatsman en volksman gestaan het as simbool van ’n volk se onverwoesbaarheid en vryheid.

In die aanslag op Suider-Afrika, en vanuit die aanslag op Suider-Afrika ook die aanslag op Suid-Afrika, waarvan die moord op dr. Verwoerd deur ’n kommunis ’n onmiskenbare deel is, het die kommunistiese en linkse magte met drie faktore, drie lewensmagte, te doen gekry, want binne elke gegewe faktor in die politieke botsing is daar in die sentrale punt ’n lewensmag waaromheen daardie faktor wentel.

In hierdie Suider-Afrikaanse situasie was daar drie basiese lewens­magte. In die eerste plek was daar die Brits-historiese trots wat hom gevestig het in Afrika en wat in die vyftigerjare veral verteenwoordig was deur die Britse Konserwatiewe Party onder die leiding van sir Winston Churchill en die man wat saam met hom gewerk het, sir Anthony Eden.

Dit was die een lewensmag binne hierdie Suider-Afrikaanse situasie. Daarnaas was daar die Portugese vasberadenheid en doelgerigtheid onder die regime van Salazar-Caetano, ook twee figure waar die een maar net die keersy van die ander was.

En in Suid-Afrika was daar die derde lewensmag. Dit is die onkreukbaarheid en doelgerigtheid van die Nasionale Partyregering soos verteenwoordig deur Strijdom en Verwoerd as die keersy van een basiese mag.

Hierdie drie lewensmagte in die Suider-Afrikaanse situasie was die punte waarop die hele linkse aanslag saamgetrek was.

Dit is geskiedenis dat die Churchill-Eden-mag in Brittanje verwoes is deur die gebeurtenisse rondom die Suez-krisis toe Anthony Eden daar wou optree en die Amerikaanse inmenging Brittanje as ’n moondheid wat hom nog in die wêreld kon laat geld, totaal vernietig het. Daarmee is Anthony Eden ook vernietig.

En toe, in die opvolging van Eden, is ’n man gekies - Harold Macmillan, ’n man wat met die regse steun (hy het Eden in die Suez-krisis gesteun) in Brittanje as leier van die voortsetting van die Brits-historiese tradisie gekies is.

Byna een van die eerste dinge wat Macmillan gedoen het, was sy Afrika-reis waarop hy aan die Blankes kom vertel het van die winde van verandering wat oor die wêreld gewaai het. Op grond van daardie aanspraak van verandering het hy begin om die hele Britse tradisie te verraai. Verandering het die verskoning vir verraad geword. Die man wat met regse steun gekies is om die Brits-historiese tradisie voort te sit, het dit met die regse steun gaan ver­raai. Kenia, die Kongo en wat daarop gevolg het, staan aangeteken as die bewyse van hierdie verraad.

In geografiese volgorde is dit nou ook reeds geskiedenis dat die Caetano-bewind op 25 April 1974 omvergewerp is met verraad deur ’n man in die leer - genl. Antonio de Spinola. Almal weet wat dit beteken. As ’n man in uniform in opstand kom teen die wettige regering of die bestaande regering, is dit hoogverraad. En vir hoogverraad is daar net een straf: hy word sonder enige verhoor doodgeskiet. Dit was wat Spinola gedoen het. Terwyl sy land in ’n oorlog was teen die kommuniste, het hy gegaan en die regering omver­gewerp. En vandag is Portugal besig om niks anders as ’n satellietstaat van die kommuniste te word nie.

Die derde lewensmag - die Strijdom-Verwoerd-mag - is gebreek deur die sluipmoord op dr. Verwoerd deur die kommunis Tsafendas.

Die sluipmoord op dr. Verwoerd is waarskynlik enigte tyd miskien belangriker in die Suider-Afrikaanse situasie as wat selfs die verraad van die Britse tradisie was, of miskien nou die vernietiging van die Caetano-bewind. Van die drie faktore in ons geografiese onmiddellikheid was die weerstandsvermoë van sowel die Portugese as die Rhodesiërs afhanklik van die mate waarin hier in Suid-Afrika deur die Blanke nasionalis weerstand gebied sou word.

As hierdie tradisie van Strijdom en Verwoerd in stand gehou kon word, sou dit ’n versterkende invloed dwarsdeur Suider-Afrika kon gehad het. Daarom is dit ook betekenisvol dat, van die drie gebeurtenisse wat plaasgevind het, hierdie een miskien die skokkendste van almal was.

Dit is in nabetragting van die moord op dr. Verwoerd en die ontwikkelinge daarna in Suider-Afrika dat wyle sen. Tienie Bekker se eenvoudige woorde in sy huldeblyk aan dr. Verwoerd in die Senaat weer helder tot Suid-Afrika spreek. “Ons sal nog baie dae”, het hy gesê, “wanneer daar beslissings geneem moet word, vir onsself vra: Wat sou dr. Verwoerd oor hierdie probleem gesê het?”

Dit was toe die dae verby was waarin die vraag gestel is, dat die volle krag van die ramp van daardie Dinsdagmiddag voelbaar deur Suid-Afrika begin trek het. Toe daar nie meer gevra is: “Wat sou dr. Verwoerd oor hierdie probleem gesê het?” het sen. Trollip se woorde sinvoller geword.

Suid-Afrika is om 2.15 nm. op 6 September 1966 in sy hart gesteek.


EINDE

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1422 gaste aanlyn