DUITSE WESIES (9)

GENL SMUTS DIE STOK IN DIE SPEEK (2)

(Lees vorige aflewerings onder Duitse weeskinders 1948 )

Werner (Shellack) van der Merwe

Om sake verder te bemoeilik het die meeste skenkers na aanleiding van die regering onder Smuts se besluit daarop aangedring dat hulle donasies aan hulle terugbetaal word. So byvoorbeeld, het die voorsitster van die plaaslike komitee van Swellendam, mev ME Rothmann, die bestuur versoek om al die geld wat sy ingesamel het (450 pond) terug te stuur sodat sy dit aan die donateurs kon terugbesorg. Mev Rothmann het die hoop uitgespreek dat sake spoedig 'n meer gunstige wending sou neem en dat sy die geld dan weer aan die Fonds kon oorhandig.

In die lig van die ongunstige wending wat sake geneem het, was die dagbestuur verplig om die donasies aan die skenkers terug te stuur, maar daar is nietemin besluit dat gelde slegs op uitdruklike aanvraag uitbetaal sou word. Die bestuur was van mening dat die geld wat tot in daardie stadium ingesamel was en nie op aanvraag aan die skenkers terugbetaal moes word nie, vir noodlenigingswerk ten behoewe van Dietse kinders aangewend kon word. Etlike bestuurslede was byvoorbeeld ten gunste van die gedagte dat weeshuise in Duitsland gefinansier word. Daar is aangetoon dat die Langlaagte weeshuis grootliks gefinansier was met geld wat die Duitse volk na die afloop van die Tweede Vryheidsoorlog aan die Afrikaners geskenk het.

Toe die dagbestuur op 2 Oktober 1946 vir die 13e keer in die Afrikaanse Koffiehuis ontmoet het mnr Combrink die lede meegedeel dat die waarnemende premier, mnr Hofmeyr, ingewillig het om op 9 Oktober 'n afvaardiging van die DKF te woord te staan. Hierdie mededeling van die voorsitter het die bestuur meer positief gestem en daar is dadelik 'n afvaardiging aangewys om die Fonds se saak aan Hofmeyr te stel.  Die afvaardiging het bestaan uit dr AJ Stals (wat as woordvoerder sou optree), dr WM Nicol (die NGKerk se verteenwoordiger op die dagbestuur), mev Judith Pellisier (voorsitster van die Oranje Vroue Vereniging) en Schalk Botha. Die dagbestuur het verder besluit dat dit 'n goeie idee sou wees om ook 'n skriftelike memorandum op te stel en aan Hofmeyr voor te lê. Hy kon dan na afloop van die onderhoud rustig die doelstellings van die Fonds bestudeer. Mnr Wennie du Plessis is versoek om so 'n skriftelike memorandum op te stel.

Omdat die dagbestuur daarvan bewus was dat die regering nouliks tot die uitsluitlike immigrasie van Duitse kinders sou instem, is die memorandum sodanig bewoord dat daar vir Dietse kinderimmigrasie in die algemeen voorsiening gemaak is. So byvoorbeeld, is daar onder andere, aangevoer dat die DKF daarvan bewus was dat die regering sou wou weet waarvandaan die kinders kom en daarom is dit gestel: "Dat hy (die DKF) hom met die oog op alle sielkundige en opvoedkundige faktore, sou wil bepaal tot die Dietse bevolkingsgroepe. Volgens gedane navraag is dit onwaarskynlik dat enige kinders uit Nederland beskikbaar sal wees of geneem sou mog word sodat dit duidelik is dat die kinders hoofsaaklik betrek sal moet word vanuit Duitsland, Oostenryk en miskien Vlaandere."

Die memorandum het die netelige kwessie van getalle eweneens vermy en bloot aangevoer dat die Fonds graag soveel kinders na Suid-Afrika wou bring as wat hy kon bekostig en waarvoor daar geskikte pleegouers gevind kon word.

Toe die DKF se afvaardiging op 9 Oktober vir Hofmeyr ontmoet, het dr Stals die woord gevoer. Hy het die doelstellings van die DKF indringend aan Hofmeyr verduidelik en dit beklemtoon dat die Fonds nie die regering om geld gevra het nie maar dat dit in die eerste plek om toestemming gehandel het. Indien die regering egter bereid sou wees om die Fonds geldelik te ondersteun sou dit natuurlik ten seerste waardeer word. Die Fonds was egter gretig dat die regering sy toestemming aan kinderimmigrasie moes verleen en die Fonds met die praktiese uitvoering van die skema bystaan. So byvoorbeeld, sou die Fonds dit hoog op prys stel indien die regering as tussenganger tussen die Fonds en die geallieerdes, onder wie se beheer Duitsland en Oostenryk gestaan het, kon optree. Verder sou die Fonds graag wou hê dat die regering hom met die keuring en die vervoer van die kinders behulpsaam wees. Uiteraard wou die Fonds die weeskinders onder sy toesig in volle ooreenstemming met die landswette van die Unie deur pleegouers laat aanneem. Ook in hierdie verband sou die Fonds die ondersteuning van die regering waardeer, maar Stals het Hofmeyr gewaarsku dat die regering nie onredelike eise aan die Fonds moes stel nie. Dit is ongelukkig nie bekend wat die Fonds met onredelike eise bedoel het nie, maar die vermoede bestaan dat die Fonds nie wou gehad het dat die regering aan hom voorskrifte rakende die soort kind en pleegouer moes neerlênie.

Minister Hofmeyr het die afvaardiging duidelik laat verstaan dat hy nie by magte was om aan die Fonds toestemming vir sy skema te verleen nie, en dat slegs genl Smuts daaroor kon besluit. Wat Hofmeyr wel kon doen, was om aan die afvaardiging te verduidelik waarom die regering in die eerste plek die skema afgekeur het. Hy het daarop gewys dat die regering sy eie immigrasieskema beoog het wat onder andere ook weeskinders ingesluit het. Daarom kon die regering nie toelaat dat private ondernemings soos die DKF hulle vir dieselfde doelstellings beywer nie (nogal deurskynend...).  Om kinderimmigrasie suksesvol deur te voer, het Hofmeyr verduidelik, was dit noodsaaklik dat daar 'n langtermynplan opgestel word aangesien daar geen waarborg was dat die publiek na vyf, tien of self vyftien jaar nog 'n private onderneming met dieselfde entoesiasme sou steun nie. Dit kon dus daartoe lei dat die regering uiteindelik in alle geval die volle las van sodanige onderneming moes dra.

Mev Pellisier het die regering se probleme in hierdie verband begryp maar sy het Hofmeyr daarop gewys dat dit die DKF se oogmerk was om baie 'jeugdige' kinders na die Unie te bring en "dat hulle in die volk opgeneem sal word." Omdat die DKF verder voornemens was om die kinders deur pleegouers te laat aanneem, sou dit  beteken dat die regering geen geldelike verpligtinge vir die versorging van die kinders op sy rekening hoef te neem nie. Ds Nicol het aan Hofmeyr die versekering gegee dat die NGKerk sy volle steun aan die DKF se skema verleen het en dus tesame met die Fonds die verantwoordelikheid vir die suksesvolle uitvoering van die plan aanvaar het. Hofmeyr was oënskynlik met hierdie versekerings tevrede want hy het onderneem om, sodra genl Smuts uit die buiteland terugkeer, weer die saak aan hom voor te lê.

Die dagbestuur moes vyf maande wag voordat daar weer van die regering verneem is.  In Maart 1947 het Smuts se private sekretaris die dagbestuur in kennis gestel dat sedert die Fonds die eerste keer die regering om toestemming genader het, die omstandighede baie verander het. Die regering het intussen sy eie immigrasiebeleid neergelê en die nodige aanvoorwerk daarvoor was reeds in 'n gevorderde stadium. Dit was die regering se beleid dat alle immigrasie na die Unie deur die amptelike kanale moes geskied. Vir die DKF was dit dus noodsaaklik om sy skema in oorleg met die regering te beplan. Omdat kinderimmigrasie deel van die regering se totale immigrasiebeleid was, was dit vir die Fonds wel moontlik om sy skema met die medewerking van die regering te loods.

Die Smuts-bewind het dus in beginsel die gedagte van kinderimmigrasie na Suid-Afrika goedgekeur. Waaroor daar egter nog onsekerheid  bestaan het, was of die DKF se doelstellinge met die regering se planne ooreengekom het. Ten einde te bepaal of dit wel die geval was, het dr Stals toe die Minister van Volkswelsyn gaan spreek, ene mnr HG Lawrence. Die Minister het hoegenaamd geen beswaar teen die DKF se oogmerke gehad nie en gevolglik is die hele saak na die Tesourie verwys met die opdrag om op die finansiële aspekte van die onderneming in te gaan. Hoewel sake 'n baie positiewe wending geneem het, was die dagbestuur nie baie optimisties nie aangesien dit vir die DKF in die eerste plek om Duitse kinders gegaan het en daar vertroulik verneem is dat Smuts, soos verwag,  nie sou toelaat dat Duitse kinders na Suid-Afrika gebring word nie.

Die DKF se pessimisme was egter op hierdie tydstip ongegrond, want tydens die 16e vergadering van die dagbestuur op 6 September 1947 is daar 'n skrywe van die Sekretaris van Volkswelsyn ontvang waarin die Fonds meegedeel is dat die regering dit goedgekeur het dat 100 Duitse wesies na Suid-Afirka gebring kon word. Presies twee jaar nadat Nellie Liebenberg en Theo Schumann die plan van Duitse kinderimmigrasie vir die eerste keer met belangstellendes bespreek het, het die regering sy verlof vir sodanige onderneming gegee.

Die stigterslede (veral dr Schumann) wou graag 10 000 Duitse kinders na die Unie bring om, soos dit jare later gestel is, "hier ons volkslewe te kom verryk." Daar kan dus met 'n redelike mate van sekerheid aanvaar word dat die Fonds teleurgesteld was oor die regering die aantal Duitse kinders tot 100 beperk het – politieke redes natuurlik die logiese oorsaak. Die vraag het egter ontstaan of die dagbestuur dit nog as lonend beskou het om ter wille van 100 Duitse wese met sy skema voort te gaan, veral in die lig van die feit dat meer as twee jaar sedert die einde van die oorlog reeds verloop het . Die DKF het weliswaar gevoel dat dit wel die moeite geloon het. Ander oorwegings het egter by die bestuurslede 'n rol gespeel, soos daar in die volgende aflewering verduidelik sal word.