GENERAAL KOOS DE LA REY (7)

Lees reeks by Generaal Koos de la Rey

Onbeantwoorde vrae rondom generaal De la Rey se dood

Saam met hom na die graf het generaal Koos de la Rey die antwoorde op ’n klomp vrae geneem waaroor ons net kan bespiegel. Die grootste vraag is natuurlik of hy sou rebelleer as hy bly leef het?

As sy spore oor die laaste 72 uur van sy lewe versigtig nagegaan word, is daar ’n paar leidrade wat opgevolg kan word.

Vroeg Saterdagoggend 12 September 1914 stuur hy ’n tel­egram uit Kaapstad aan sy seun Hennie in die burgermagkamp op Potchefstroom. “Verwag my Maandag te Potchefstroom.” Die telegram bereik sy seun dieselfde dag nog.

De la Rey se volgende kontroleerbare optrede die Saterdag laat die telegram vreemd voorkom.

Hy het vir hom plek op die trein oor Bloemfontein na Pretoria bespreek. ’n Reis met hierdie trein het destyds 50 uur van Kaapstad na Pretoria geduur. Terwyl die trein van Kaapstad oor Kimberley by Potchefstroom stilgehou het, het die trein oor Bloemfontein Potchefstroom en Johannesburg misgery.

Die trein waarop De la Rey geklim het, het sewe uur die aand van 12 September 1914 uit Kaapstad se stasie na die noorde vertrek. As alles voorspoedig verloop het, was die trein Maandagaand om nege-uur, 14 September 1914, in Pretoria te wagte. Selfs onder die beste omstandighede was daar geen manier waarop De la Rey reeds Maandag op Potchefstroom kon wees met die trein wat hy uit die Kaap gehaal het nie.

Hy moes dit besef het. Hoekom dan die telegram?

De la Rey het nooit die Maandag op Potchefstroom opgedaag nie. Maar niemand was blykbaar bekommerd daaroor nie. Selfs 24 uur later, op Dinsdagaand 15 September, gaan slaap sy seun Hennie reeds voor nege-uur die aand rustig. Later die aand word hy wakker gemaak met die nuus dat sy pa geskiet is.

Met reg kan gevra word of die optrede van Hennie de la Rey dié was van 'n redelike seun wie se bejaarde vader reeds meer as 24 uur laat vir ’n belangrike afspraak was.

Het De la Rey die Maandagoggend van 14 September van Bloemfontein, waar die trein ’n halfuur gestaan het, laat weet dat hy nie meer Potchefstroom toe kan kom nie? Dit is moontlik, maar hoekom maak Hendrik de la Rey geen melding van so ’n boodskap in sy geskrifte nie? Trouens, hy is baie beslis dat toe hy sy pa op die stasie op Potchefstroom gaan groet het voordat die generaal Kaap toe is, dit die laaste keer was wat hy met sy pa gepraat het.

Die bespiegeling verduidelik nog nie waarom De la Rey in die eerste plek die telegram gestuur het nie. Hy moes toe reeds besef het dat hy nooit betyds op Potchefstroom kon kom nie.

’n Moontlikheid hier is dat De la Rey met ’n parlementêre pas trein gery het en dat hy nie vooraf bespreek het nie. Dan bestaan die moontlikheid dat hy eers nadat hy reeds uit die Kaap vertrek het, besef het dat die trein nie oor Potchefstroom sou gaan nie. So ’n moontlikheid kan verduidelik hoekom hy te goeder trou die telegram gestuur bet. Dit verduidelik egter nie waarom Hennie de la Rey so rustig was selfs nadat sy pa 24 uur laat was nie.

Is dit moontlik dat Hennie de la Rey bloot Siener van Rensburg se woord aanvaar het dat die generaal nie Potchefstroom toe sou kom nie? As die moontlikheid aanvaar word, moet ook aanvaar word dat die invloed wat Siener van Rensburg in Wes-Transvaal gehad het selfs groter moes gewees het as wat selfs sy grootste ondersteuner vandag aan hom toeskryf.

Die volgende raaisel het nie met die generaal se bewegings te make nie, maar is tog interessant om te weet. Die Senaat het op Saterdagmiddag om halfdrie begin sit. De la Rey het om ongeveer vieruur aan die woord gekom en sy toespraak in Hollands gehou. Hierdie toespraak word volledig weergegee in die Hollandse verslag van die verrigtinge van die Senaat op 12 September 1914. In die Engelse weergawe van die verslag word belangrike dele van De la Rey se toespraak egter weggelaat.

Die aanhef tot sy toespraak met die beroep op kalmte in die land, kom glad nie in die Engelse teks voor nie. So ook nie die slot van die toespraak waarin De la Rey waarsku dat daar mense is wat na hom om leiding opsien en aan wie hy verslag moet doen nie. Hierdie foute kan nie met swak vertaalwerk wegredeneer word nie. Die teks van die toespraak verskil wesenlik.

Die Hollandse weergawe is die toespraak van ’n man wat vrede nastreef, terwyl die Engelse teks as die toespraak van ’n aggresiewe mens oorkom. Was dit in iemand se belang dat die Engelse teks so ’n skewe weergawe van die toespraak weergee? Indien wel, in wie se belang was dit?

Die volgende raaisel is waarom De la Rey op Germiston van trein verwissel het. Sy trein was ongeveer twee uur laat en dit was eers na sewe-uur die aand toe hy op Germiston afgeklim het en ’n ander trein na Johannesburg gehaal het.

Die vraag is krities, want nadat De la Rey op Germiston van die trein geklim het, het hy vir 20 uur verdwyn.

Die enigste ooggetuie oor De la Rey se verwissel van trein is ene PJ Joubert of dan “Joubertjie” soos Manie Maritz hom genoem het. Joubert het as tussenganger vir Maritz met die Duitse administrasie in Windhoek opgetree en was nou toevallig saam met De la Rey op die trein.

In Maritz se My Lewe en Strewe verskyn die volgende verklaring van PJ Joubert [p 147]:

“Die aand op Parkstasie besluit hy [De la Rey] om nie oor te gaan na Pretoria nie, aangesien hy onder verdenking staan by die regering en aangesien daar alreeds sprake was van ’n rebellie, ens.”

Nou weet ons dat die trein na Pretoria nie oor Johannes­burg gegaan het en nie by Parkstasie aangedoen het nie. De la Rey het op Germiston van trein verwissel.

Ons weet dat die Eerste Minister De la Rey gesoengroet het voordat hy in Kaapstad op die trein geklim het en dat hy vir die eerste deel van die reis rustig met die hoofregter van die Unie van Suid-Afrika gesels het. As ons aanvaar dat Joubert hom bloot met die stasies misgis het en Parkstasie en Germiston verwar het, moet ons na die rede kyk hoekom die generaal van trein verwissel het.

Joubert beweer dat De la Rey dit gedoen het omdat hy onder verdenking by die regering was en dus, by implikasie hoewel hy dit nie eksplisiet sê nie, dat De la Rey aan die vlug voor die polisie was.

Maak dit sin?

Joubert beweer ook in dieselfde verklaring dat Beyers twee offisiere opdrag gegee het om hom op Pretoria se stasie te ontmoet. Aangesien die trein laat was, het die offisiere gaan slaap en was hulle nie meer op die stasie toe hy daar gearriveer het nie.

Wat Joubert ons wil wys maak, is dat die hoof van die Weermag twee offisiere opdrag gegee het om hom op die stasie te kom ontmoet. Dat toe dit laat word die twee offisiere bloot besluit het om te gaan slaap!

Maak dit sin?

Kom ons kyk na ’n ander moontlikheid. Beyers het twee offisiere opdrag gegee om De la Rey op die Pretoriase stasie te ontmoet en na hom te bring. De la Rey vertel aan “Joubertjie” van die twee offisiere wat in Pretoria op hom wag en versoek hom om aan die offisiere te verduidelik dat hy reeds op Germiston van die trein geklim het. Nadat De la Rey in Johannesburg aangekom het en nog voordat die trein van Kaapstad af Pretoria bereik het, bel hy Beyers op en verduidelik aan hom dat hy van trein verwissel het om Joubert af te skud. Beyers onttrek die offisiere aan die stasie en toe Joubert in Pretoria aankom, is daar geen offisiere meer aan diens nie.

Maak dit sin?

Die enigste werklike leidraad oor hoe hoog Beyers De la Rey werklik aangeslaan het, verskaf Joubert, waarskynlik onwetend, self in sy verklaring. Hy vertel dat hy op 15 Sep­tember Beyers in sy kantoor gaan spreek het en dat hy daarna saam met Beyers na dié se broer se huis in Walkerstraat in Sunnyside is.

Hierna stuur Beyers hom terug hotel toe sodat hy nog die eenuur trein na Johannesburg kon haal. Met Joubert uit die weg stuur Beyers sy vrou en sy bestuurder om De la Rey in Johannesburg te gaan haal.

As Joubert so ’n groot vriend en vertroueling van Beyers was as wat hy voorgee, sou Beyers hom per trein na Johan­nesburg laat reis en oomblikke later sy vrou en bestuurder op dieselfde roete stuur? Waarskynlik nie.

Ons volgende raaisel is om vas te stel wat De la Rey gedoen het vandat hy ongeveer nege-uur die aand van 14 September 1914 by die Victoria Hotel aangekom het, tot halfvier die volgende middag toe Beyers se vrou hom gaan haal het.

Die eerlike antwoord is; niemand weet nie. Na De la Rey se dood het vriend en vyand stories te vertel gehad oor die generaal en wat hy aan wie wou luister, meegedeel het. Niemand het egter na vore gekom en beweer dat hy in die tydperk met hom in kontak was nie.

Hier is ’n moontlikheid:

Nadat De la Rey die aand van 14 September 1914 by kamer 15 van die Victoria Hotel aangekom het, het hy dadelik vir Beyers opgebel. Hy het Beyers gewaarsku dat Joubert onderweg is en hom ook versoek om sy seun op Potchefstroom te laat weet waar hy is. Beyers het op sy beurt waarskynlik vir De la Rey versoek om te bly waar hy is en belowe om hom te laat haal sodra hy Joubert kon afskud.

Die rede hoekom De la Rey en Beyers so gretig was om van Joubert ontslae te raak is eenvoudig. Joubert wou aan Beyers kom vertel van die onderhandelinge wat hy namens Maritz in Windhoek met die Duitse administrasie gevoer het.

Beyers was in daardie stadium nog amptelik hoof van die Suid-Afrikaanse Burgermag. Om aan Joubert enige vorm van erkenning te verleen, sou hom medepligtig aan ’n daad van hoogverraad gemaak het. As gekwalifiseerde prokureur was Beyers baie goed hiervan bewus.

Op 15 September 1914 dien Beyers sy bedanking as kommandant-generaal om twaalfuur die middag in. Dan eers begin hy die wiele aan die rol sit om De la Rey te laat haal.

Hierin is ook ’n raaisel. Aangesien Beyers nie self vir De la Rey wou gaan haal nie, hoekom het hy nie sy bestuurder en sy vrou reeds vroeg die oggend gestuur nie? Hoekom wag tot hy klaar bedank het en self beskikbaar was en toe tog sy vrou stuur?

Die moontlikheid het ons reeds bespreek dat hy Joubert eers wou afskud voordat hy De la Rey laat haal. Kon daar nog ’n rede wees? Is dit moontlik dat hy bang was dat De la Rey hom sou ompraat om nie te bedank nie? Kan dit wees dat hy doelbewus eers wou bedank voordat hy De la Rey sien?

Die volgende raaisel is wat De la Rey en Beyers agter geslote deure bespreek het nadat De la Rey in Pretoria aangekom het. Die enigste leidraad hier is Beyers se woorde tydens die begrafnis van De la Rey. Hy het daar gesê dat ongeag wat die mense mag dink, hulle nie rebellie gepraat het nie.

Kemp sê Beyers het nie die waarheid gepraat nie. Dit is moontlik. Maar as Beyers die waarheid gepraat het, wat het die twee generaals bespreek?

Hier wil ek ’n raaiskoot in die hoed gooi. Ek vermoed dat dit De la Rey lank geneem het om Beyers te oortuig om saam met hom plaas toe te kom.

Dit bring ons by die volgende vraag. Waarheen was die twee onderweg toe hulle die aand uit Pretoria vertrek het?

Alle getuies stem saam dat Beyers se vrou hard, maar tevergeefs, probeer het om De la Rey te oortuig dat hulle eers die volgende dag moes ry. Waarheen was die haas? En hoekom die haas?

Diegene wat De la Rey probeer voorhou as die leier onder die rebelliegesindes, staan daarby dat hy en Beyers na Potchefstroom op pad was, waar die manne net op De la Rey se koms gewag het om te begin rebelleer.

Teen dié siening is daar talle feite wat nie klop nie. Ons weet dat Beyers nie haastig was om te ry nie. Indien die twee generaals saam ’n rebellie bekook het en as daar ’n afspraak was dat hulle op Potchefstroom die vuurhoutjie in die kruitvat sou gooi, waarom Beyers se traagheid om die aand te ry?

Dan is daar nog die slapery van Hennie de la Rey. As hy op sy pa gewag het om met ’n rebellie te begin, sou hy beswaarlik vroeg gaan slaap het. Selfs Kemp, wat rebelliegesind was en lustig met die feite gekonkel het, beweer nooit dat hy die aand op die generaals gewag het nie.

Die storie dat die twee na Potchefstroom op pad was, het natuurlik sy oorsprong by Beyers self. Nadat hy net na die dood van De la Rey verklaar het dat hulle na Lichtenburg onderweg was, het hy later sy storie verander en gesê dat hulle na Potchefstroom op pad was. Hoekom? Ons weet nie.

Hoekom was De la Rey so gretig dat hulle in die nag moes ry? Nagryery was in 1914 ’n buitengewone ding. Die motors was nie ontwerp om werklik oor lang afstande in die nag te ry nie. Ook was garages nie geredelik in die nag oop nie. Daar sou moeilik met ’n Daimler van 1912 van Pretoria tot in Lichtenburg (of Potchefstroom) gery kon word sonder om weer langs die pad brandstof in te neem.

Hier was daar ’n moontlike verduideliking. Die motors het almal ruimte gehad vir sogenaamde “Jerry”-kanne. In die kanne kon ekstra petrol saamgery word. Beyers se motorbestuurder, Wagner, het later getuig dat die generaal hom opdrag gegee het om die motor vir ’n lang rit gereed te maak. Hoewel hy dit nie pertinent gesê het nie, het “gereed te maak” waarskynlik voorsiening vir ekstra brandstof ingesluit.

Hoekom?

Al antwoord wat aangebied kan word is dat Beyers beplan het om De la Rey saam met sy bestuurder na sy plaas te stuur. Die moontlikheid dat Beyers sou saamry het eers ná die samesprekings na vore gekom.

Hoewel daar nog baie onbeantwoorde vra rondom De la Rey en die rebellie bly bestaan, wil dit voorkom asof die rebelliegesindes die generaal na sy dood ongevraagd by die hare saamgesleep het. Dit wil voorkom asof hier ’n klassieke voorbeeld is waar die geskiedenis verdraai en aangepas is om te voldoen aan wat in ’n stadium polities korrek sou wees.

Vervolg...