Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In ons land sedert 1994 het ons geleer hoe lyk goeie sekuriteitsheinings om ons huise om misdadigers uit te hou, maar ons kan nie heeltyd daarbinne bly nie. God se evangelie werk ook so: dit beskerm ons terwyl ons daarbinne bly maar Hy wil hê ons moet dit uitdra, nie vir onsself hou nie.
BROKKIES UIT DIE BOEK – OUMANSLAND. (9)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Fritz Jordaan het besluit om te bly. Hy het lank gewerk en hard betaal vir hierdie huis, en hy bly net hier.
Dis ‘n ouerige huis wat hy gedurende naweke en vakansies opgeknap het. Hy kan nie onthou wanneer laas was hulle iewers heen nie, want al hulle geld en bonusse is in die huis belê. Dis ‘n aangename, warm, vriendelike huis, op ‘n burger-erf. Onder die motorafdak staan ‘n tienjaar-oue Ford Ranger vier-by-vier en ‘n veertig jaar oue Mercedes 280 E. Hy onderhou dit self, want daar is niks met sy hande verkeerd nie.
Vanoggend het hy vroeg opgestaan en net as die son sy kop bokant die huise se dakke uitsteek, is die gedreun van sy grassnyer hoorbaar. Op, af, omdraai, volgende driekwart meter gras gesny. Hy hou van die gevoel van grassny, dis ontspannend, sy gedagtes kan loop neem en hy hou van die reuk van die varsgesnyde gras. Aan die einde van die ry skakel hy die masjien af en vat die vol bak om dit in die komposgat te gaan gooi.
Hulle is amper selfversorgend, hy en Flossie, sy vrou. Haar groentetuin sorg vir al hulle groente, behalwe vir uie. Met die bak in sy regterhand loop hy tussen die afdak en die huis verby. Voor die buitehek staan meer as dertig manne en vroue, met hulle kenmerkende berette op, oorpakke en die party se logo op die linkerbors.
“Ja, kan ek help?”
“Jy kan. Dis mos net jy en jou se vrou wat hier bly. Ons is baie en ons het nie plek nie. Dis tyd dat ons hierdie huis vat.”
Fritz voel ‘n koue gelatenheid oor hom kom. Hy merk dat sy regterhand bewe, maar nie uit vrees nie, eerder oor die besef dat dit wat hy so lank verwag het, uiteindelik gebeur.
“Nou goed, ek gaan net die remote van die hek haal.”
Hy loop die huis binne, sê vir Flossie sy moet haar wapen by haar hou en in die huis bly. Dan loop hy kluis toe, haal sy Beretta Model 84 in 9mmK kaliber uit en ‘n Franchi semi-outomatiese haelgeweer. Dis met een skoot SSG, een slug, weer SSG en so aan, gelaai. Hy loop daarmee by die voordeur uit, sluit die deur en die veiligheidshek agter hom en loop tot tien meter voor die buitehek.
“Ek gee julle dertig sekondes, dan begin ek skiet.”
Die leier van die molesmakers is ‘n korterige, gesette man met ‘n ewe ronde, blink gesig.
“Jy sal nie, ouman. Ek weet jy bluff net. Skiet as jy wil.”
Fritz trek die spangreep van die haelgeweer agtertoe eh haal die veiligheidsknip, net voor die sneller, af.
Die mense deins nie terug nie. Hulle het hierdie ding al vantevore gedoen en maak daarop staat dat wetsgetroue mense huiwer om te skiet. Hulle is bang om opgesluit te word, vir die tronk en wat daar met hulle gebeur. Ook hierdie man sal, soos al die ander, maar net terugstaan en wag dat hulle sy eiendom inkom, bleekgesig en bang, met smekende hande voor hom en pleidooie dat hulle kan vat wat hulle wil, maar hulle lewens moet gespaar bly – asseblief tog!
Hulle begin ruk aan die hek, totdat hulle hom van die spoor af gelig kry en dan storm hulle binne.
Frits Jordaan het al lank hierdie scenario op verkillende maniere gesien afspeel in sy gedagtes. Hy besef die finaliteit van die sneller trek en die moontlike uiteinde. En elke keer het hy by dieselfde eindpunt gekom – hierdie is sy huis en sy eiendom, sy tuiste en kasteel dit sal net oorgevat word as hy nie meer daar is nie.
Vetgesig maak daarop staat dat vrees die man tot sy sinne gaan bring en hardloop oor die gevalle hek. Die volgende oomblik verdwyn sy gesig en die helfte van sy agterkop as die skoot bokhael hom tref.
Die tweede en derde skoot volg vinnig op mekaar. Daar is huiwering by die hek, nie net oor die bloed en stukke bene wat vlieg nie, die oorverdowende knal van die twaalf-boor geweer nie, maar ook die besef dat hulle verkeerd geraai het. Hierdie man gaan nie oorgee nie.
Eers huiwer die golf menselywe en dan kom hulle tot stilstand. Sewe van hulle groep lê op die grond en nog ‘n paar is sleg gewond van die swaar knoetse lood wat tussen hulle invlieg. ‘n Handvol begin weghardloop.
Daarna is die geweer leeg en hulle besef dit. Die huiwering kry nuwe momentum, en hulle beur weer vorentoe. Fritz hou die haelgweer in sy linkerhand, terwyl hy die pistool uit sy gordel trek.
Die klap van die kleinerige kaliber is plat en flou teen die gebulder van die haelgeweer, maar die rondte is effektief genoeg om die volgende een in sy spore te stuit. Skielik is daar die swaar knal van ‘n swaar-kaliber geweer en langs Fritz verby vlieg die koeël wat Flossie vyftien meter agter hom en twee langs sy kant getrek het; dis genoeg vir die mense wat nou halfpad binne die erf is, en hulle slaan op vlug. Fritz loop by die hek uit en skiet nog drie skote op die vlugtendes. Een struikel half, gryp sy sy vas en hardloop hinke-pink verder.
‘n Halfuur later hou ‘n wit Toyota dubbelkajuit voor die hek stil, met flitsende blou ligte en skreeuende sirene. Fritz het hulle verwag en skiet, sonder huiwering, deur die windskerm. Hy het Flossie se .303 en die koeël trek deur die windskerm, tref die polisiekaptein in die skouer, waarna dit deur die sitplek se rugleuning en die agterste venster vlieg. Die manne het genoeg gehad.
Die bakkie trek met skreeuende bande agteruit, tref die hek van die leegstaande huis aan die oorkant van die pad, voordat die drywer dit in eerste kan sit en met bekwame spoed die pad af vlieg.
“Wat maak ons nou, Fritz?”
“Nou sleep ons die lyke ‘n ent in die pad af met die bakkie, los dit daar dat ons dit nie kan ruik nie, sit die hek terug en sweis dit vas. Ons het genoeg groente en vleis en water, ammunisie en my dapper vrou om hier te bly. Hulle kan seker ons huis vat, maar nie sonder baie bloed wat nog sal vloei nie. Maar intussen is daar iets wat ek wil doen.”
“Soos?”
“Sal jy die groot gasbottel vir my hek toe bring?”
Fritz het die hek gaan toesweis met die kragopwekker. Dit vat ‘n hele ruk, want die sweismasjien trek baie krag, maar uiteindelik is hy klaar. Daarna grawe hy ‘n meter-diep gat voor die hek en sit die gasbottel daarin. Binne-in die nek van die gasbottel het hy ‘n vonkprop gedraai. Die bottel is so ‘n derde vol gas.
Hy het die Mercedes omgedraai, met sy neus na die hek toe, die elektriese kragspoel uitgehaal en op die bokant van die vonkprop gedruk, die gaskraantjie oopgedraai. Met die negatiewe draad vanaf die spoel na die bottel en die positief terug na die kar en battery, waarvan hy die enjinkap ooplaat om beskerming te bied, en ‘n stuk beton bo-op die bottel, begin hy en Flossie die Ranger pak. Dit bestaan uit klere, kos, slaapgoed, ammunisie, water en soveel oorlewingsmiddele as wat hulle in die bakkie en sleepwa kan kry.
‘n Uur en ‘n half later is daar die gedreun van ‘n groot diesel, gevolg deur kleiner enjins. ‘n Nyala pantserkar van die SAPD stop met suspensie wat wieg, voor die hek, weereens met sirenes en flitsende blou ligte. Dan druk die drywer die kar se neus teen die hek en sonder moeite druk hy die hekpale en ‘n lang stuk van die heining plat. Net sodra hy bo-oor die gasbottel is, druk Fritz die positiewe draad teen die battery se pool. Dit laat die vonkprop ‘n enkele helder vonk die gasbottel binneskiet. Die gevolglike ontploffing is meer as wat Fritz verwag het.
Baie mense het al die kinetiese krag van ‘n gasbottel onderskat. Die Nyala se neus lig hoog genoeg dat die hele voertuig agteroor val. Grond, vlamme, stukke beton en ander kartetse vlieg deur die lug teen ver meer as die snelheid van klank. Die twee bakkies wat naby die Nyala is loop ook onder die ontploffing deur. Die derde een, dertig meter verder in die pad af, jaag in tru-rat tot by die kruising in die pad, die drywer pluk die handrem op, rol amper, maar kry dit onder beheer, swaai om en jaag weg.
Fritz en Flossie kry nie kans om die verwagte skote af te trek nie; dis nie nodig nie. Hulle slaan die Ranger se deure toe en ry hek toe. Die gat wat die ontploffing gelaat het, is diep en hy sukkel om die bakkie en sleepwa daardeur te kry. Daar is gelukkig genoeg plek langs die platgetrapte heining en hulle kom deur, ry die verlate strate af en kies koers Hanglip toe.
Hulle is net betyds om Dawie se mense te kry, waar hulle vertrek na die basis bo-op die krans.
*
Ten spyte van die hitte geniet Nicolaas die rit. Hy is ‘n baie groot man en daarom loop hy vir lang tye langs die perd om hom te spaar.
Karel is ook weer in sy element. Hy galop met lang treë en ‘n swaaiende stert deur die gras en oor die klippe, sy groot ore flap op en af van pure lekkerkry, maar staan half orent as hy iets in die gras snuif. Hy jaag fisante en rotte op, en so af en toe ‘n haas. Hy is uit oefening van leeglê in die kamp, waar hy daagliks gevoer is en nie veel meer gedoen het as die kinders vermaak nie, maar nou haal die luiheid hom in. Teen laatmiddag is hy uitgeput en weier om verder te loop.
“So, Karel, gaan ons nie verder nie?”
Die plek waar hulle nou is, is net oorkant ‘n heuwel. Daar is ‘n klompie groot klippe, nie heeltemal rotse nie, en ‘n lappie nabome aan hulle agterkant.
“Wel, dis so goed soos enige ander plek, of hoe?’
Karel kyk hom oopmond aan, asof hy verstaan wat Nicolaas sê. Floors het begin om van die langer gras weg te trap en sleep, trek sy lippe op en eet met lang tande die groenigheid onder dit uit. Dis nie nodig om hom te knie-halter of vas te maak nie en Nicolaas saal af, haal die stang uit sy bek en roskam hom versigtig. Hy trek ‘n paar lastige bosluise uit die perd se lieste en trap hulle dood.
Dan maak hy fyn houtjies bymekaar, voer dit met dikker, droë takke en maak ‘n klein vuurtjie, wat hy ewe klein hou. Hy is alleen, maar nie eensaam nie. Hy het sy perd, sy hond, ‘n vuurtjie en les bes, twee ou, maar baie betroubare en akkurate wapens by hom. Wat meer wil ‘n man hê om gelukkig te wees?
Ja, hy weet, maar hy wil dit nie eens vir homself erken nie. Retha. Hy hoop sy pas haarself op.