POLITIEKE SLUIPMOORDE IN SUID-AFRIKA (3)

(Lees reeks by Politieke sluipmoorde in SA)

LANG HENDRIK SE GUNSIE VIR DIE CIA

"Sê vir die generaal ek hoop hy brand in die hel!"  In Suid-Afrika het Hendrik van den Bergh hardop uitgebars van die lag toe dit aan hom vertel is. Die lot van die dubbele agent in die hande van die KGB was voorspelbaar."

Vroeg in Julie 1967 het 'n senior CIA-agent Hendrik van den Bergh besoek. Tot die mees onlangse voorval het die twee mans 'n professionele, dikwels wedersyds voordelige verhouding gehad. Die Amerikaner het by 'n venster gestaan en oor Pretoria gekyk.

"Wat het jy vir die Rosenthals gesê?" wou hy weet.

"Oor ons pragtige land," het Van den Bergh sarkasties gevra, "of oor hul pragtige dogter?"

"Oor Audrey se besoek," het die agent geantwoord.

"Net dat die CIA ons nie oor hul daaglikse bedrywighede inlig nie."

"Ons moes jou waarskynlik in ons vertroue geneem het."

"Oor haar besoek of oor haar sending?" het Van den Bergh hom uitgedaag.

Die CIA-man het geweet dis 'n gevaarlike vraag.

"Oor haar besoek," het hy versigtig geantwoord.

Van den Bergh het tydmors met woordspeletjies verpes.

"Ek is seker jy moet geweet het sy is hier," het die Amerikaner gewaag.

"Ek is bly ek het nie," het Van den Bergh met 'n pokergesig gesê, "anders het ek dalk een van my manne op daardie vliegtuig verloor."

Die agent het geweet dit het geen sin gehad om meer te probeer wys word nie. Bruwer was 'n minder belangrike CIA-agent. Hy het die agentskap gevra om hom te help om potensieel dodelike inligting te bekom. In daardie stadium het die CIA nie geweet Hendrik van den Bergh was die onderwerp van die ondersoek nie. Hulle het beter as enige ander intelligensie-agentskap in die wêreld die lang man se reputasie geken. Almal het geweet hoe gevaarlik dit sou wees om Van den Bergh in sy eie agterplaas te pak. Die Rietbok-vliegtuigongeluk was net nog 'n voorbeeld van hoe verbeeldingryk hy was. Dit het bewys wat hy kon orkestreer wanneer hy homself en sy domein wou beskerm Terselfdertyd het dit die CIA een van sy beste Afrika-agente gekos. Die Duitsers se gesegde was in die kol: "Lol met Hendrik van den Bergh, en jy doen dit op eie risiko!"

Die CIA het op die harde manier geleer en moes nou vergoed. Van den Bergh self het hulle alte dikwels herinner aan wat met die Weste sal gebeur as Suid-Afrika se rykdom, veral sy goud, uraan en diamante, in die hande van die swart mense of die kommuniste val. (Dit was toé – nog ver van 1994...)  Dit was nou tyd vir reguit praat.

"Ons het jou hulp nodig," het die besoeker gesê.

Die agent het vertel hoe die CIA Juri Loginof, 'n suksesvolle Sowjet-sakeman, gewerf het. Tot onlangs is hy as een van die CIA se beste agente beskou, maar dit was bedrieglik. Die Rus het 'n noodlottige fout gemaak, en die Amerikaners het ontdek hy is 'n dubbele agent wat vir die KGB werk. Die CIA is op die verkeerde voet gevang en wou die verraaier aan die pen laat ry.

Lank voor die Amerikaner klaar gepraat het oor sy voorstel, het Van den Bergh besluit. Die maneuver sou sy status plaaslik én internasionaal verhoog. Terselfdertyd kon hy 'n kommunistiese vark in 'n donker put smyt. Die optrede sou die talmende herinnering aan die Rietbok help uitwis.

"Reg," het hy gesê, "kom ons kry dit gedoen. Ons kan die fyner detail later bepreek. Maak net seker jou man is op die 20e van die maand hier om aangekeer te word."

"Is daar iets spesiaals omtrent die datum?" wou die CIA-man weet.

"Dit was 'n baie gelukkige dag in 1944. Ons kan net so wel die datum hier in Suid-Afrika goed benut," het Van den Bergh gesê.

Terug in Amerika het dieselfde CIA-agent Juri Loginof opdrag gegee om vir 'n paar roetinetake na Suid-Afrika te gaan. Dit moes op 'n bepaalde dag uitgevoer word.

Op 20 Julie 1967 het die minister van polisie met trots in Pretoria aangekondig dat 'n Russiese spioen in Suid-Afrika aangekeer is. Die KGB-agent was ten tye van sy arrestasie besig om waardevolle inligting vir die "Sowet-Unie in te samel."  Die spioen is betrap waar hy foto's van strategiese geboue geneem het, waarskynlik vir intelligensie- of sabotasiedoeleindes.

Vir die Suid-Afrikaners was dit asof die land se eie 007-draaiboek voor hul oë ontvou. Die feit dat 'n Russiese spioen in hul midde gevang is, het die verbeelding wild op loopgesit. Dis aan die media gelek dat Van den Bergh se briljante speurvermoë direk tot die arrestasie gelei het. Die episode was 'n herhaling van Mandela se arrestasie, waartydens die CIA die gebeure agter die skerms gemanipuleer het.

Juri Loginof is in eensame aanhouding deur Van den Bergh en twee van sy kollegas ondervra. Die media is tot die frustrasie van die opgewonde joernaliste heeltemal in die duister gehou oor die vordering en in Moskou het dit 'n donker wolk oor die KGB se hoofkantoor laat skuif. Daar is niks ergers as om te moet raai wat agter die klankdigte deur van 'n ondervragingskamer gebeur nie. Indien 'n agent in aanhouding die name van ander agente uitlap, is dit noodsaaklik dat hul veiligheid verseker word. Terselfdertyd wou die KGB nie oorreageer en gevestigde en strategies geplaasde KGB-agente onttrek nie.

In Januarie 1968, ná ses maande se eensame aanhouding en genadelose ondervraging, het Loginof steeds geweier om te erken hy is 'n KGB-agent. Sy enigste reaksie op die tallose vrae en beskuldigings van spioenasie was eenvoudig om sy kop te skud. Hy het blatant geweier om 'n enkele vraag te antwoord of in enige mate met sy ondervraers te kommunikeer. In een stadium het een van die gefrustreerde polisiemanne die Rus se mond met twee lepels oopgedwing.

"Kan jy dit glo!" het hy geroep, "die kommie het sowaar 'n tong!"

Loginof het geweet as hy die geringste betrokkenheid by Sowjet-spioenasie erken, sal sy lewe waardeloos wees. Hy sal "ontbeerlik" word, 'n gevreesde term in spioenasiekringe.

Van den Bergh het besef Suid-Afrika kan nie veel baat by Loginof se voortgesette aanhouding nie. Hy het 'n gawe plan bedink en sy eweknie in die CIA gekontak. Die Amerikaner was beïndruk. Toe die lang man die volgende dag die ondervragingskamer binnestap, het dit gelyk of hy 'n lotery gewen het.

"So, meneer Loginof, jy weier steeds om saam te werk."

Die Rus het stilswyend voor hom uitgestaar.

"Wel, dit maak nie regtig saak nie," het Van den Bergh met 'n breë glimlag gesê. "Wanneer ons môre met die media praat, gaan hulle heeltemal 'n ander storie hoor."

Loginof het sy kop opgetel.

"Hulle sal van 'n spioen hoor wat 'n operasanger geword het."

Loginof het vir die eerste keer reaksie getoon. Sy oë het vernou.

"Ek gaan die wêreld meedeel dat Juri Loginof oor al sy vieslike spioenasie-sondes gebieg het."

"Jy kan dit nie doen nie!" het Loginof gegil, "ek het niks beken nie!"

"O, jy kan tog praat?" was Van den Bergh se sarkastiese antwoord. "Dan gaan ek jou op 'n bord aan jou regering aanbied, in 'n uitruilprogram."

Die Rus het begin bewe en sy mondhoeke het geruk. Hy het goed geweet wat op hom wag as die KGB glo hy het iets laat val. Terselfdertyd het die genadelose Van den Bergh geweet hy kon net so wel die spioen ter dood veroordeel het.

"Ná môre sal jou naam deur die modder wees en jou KGB-kollegas in Moskou sal hul oogtande gee om jou in die hande te kry."

"Jy kan dit nie doen nie," het Loginof uitgeroep, "jy kan nie!"

"Laat ek jou iets vertel, boet," het Van den Bergh op sy stadige, berekende manier gesê en elke woord beklemtoon, "in hierdie land kan ek enigiets doen."

In 'n seldsame onderhoud met uitgesoekte lede van die media, het Van den Bergh van sy departement se klinkende sukses vertel. Hy het vertel Juri Loginof het oor sy KGB-bedrywighede gebieg. Meer nog, die Rus het ten volle saamgewerk deurdat hy sensitiewe inligting bekend gemaak het. Nog arrestasies word verwag.

In Moskou het dié nuus koue rillings langs meer as een KGB-baas se rug afgestuur. Daar is niks ergers as 'n agent wat verraad pleeg nie. En dit was nog erger om nie presies te weet watter inligting hy aan die vyand geopenbaar het nie. Die lang man het gesê die deurbraak kon internasionale reperkussies hê.

Twee jaar ná sy arrestasie, in Julie 1969, is die ongelukkige Loginof na Duitsland geneem. By 'n grenspos tussen Oos- en Wes-Duitsland het die KGB-spioen geweier om uit die voertuig te klim. Die Wes-Duitsers moes die worstelende Rus oor die stuk niemandsland dra. 'n Groep KGB-ondervraers het angstig gewag.
Toe Loginof oorhandig word in ruil vir 11 ander spioene, het hy na sy bewaarder gedraai met dié woorde: "Sê vir die generaal ek hoop hy brand in die hel!"

In Suid-Afrika het Hendrik van den Bergh hard uitgebars van die lag toe dit aan hom vertel is. Die lot van die dubbele agent in die hande van die KGB was voorspelbaar...

Van den Bergh het sy notaboek nader getrek:
Datum: Julie 1969
Naam: Jurie Loginof (KGB)
CIA/BOSS
Uitgelewer

 

BRON: DIE LANG GENERAAL deur Alan D Elsdon.