POLITIEKE SLUIPMOORDE IN SUID-AFRIKA (8)

Lees reeks by Politieke sluipmoorde in SA

DIE SMIT-MOORDE (3)

Robert Smit het in die verkiesing vir Springs gestaan en daarom 'n tydelike kantoor in Springs gehad. Die NP 'n huis in Wezdalaan gehuur tot ná die stemdag waar Robert en Jeanne-Cora tydelik ingetrek het terwyl hulle kinders in Pretoria gebly het met familielede wat by hulle kom bly het vir hierdie tyd. Jeanne-Cora het Robert op alle moontlike maniere ondersteun, ook om voltooide dokumente en verslae te tik want sy was die enigste mens wat hy met vertroulike inligting kon vertrou.

Robert het vir die eerste maal begin vrees vir die gevolge van die lywige verslag wat hy moes opstel in opdrag van Vorster. Soos wat die verslag vorm aangeneem het, het die feite 'n realiteit geword. Skielik het die lewelose bladsye verander in prominente politici, eggenotes, pa's en mans wat alles kon verloor, selfs lank tronktoe gestuur kon word. Die onthullings sou die NP-regering in algehele chaos dompel en sy oorlewingskrag tot die uiterste beproef. Smit het begin vrees nie net vir sy eie veiligheid nie maar ook vir dié van sy vrou.

By sy huurhuis het die deurklokkie gelui. Jeanne-Cora het na die muurhorlosie gekyk en besef dat die besoeker te vroeg is.

Sy het deur die venster nie net een man soos verwag nie maar drie mans op die stoep sien staan. Dit was maklik om die vorm van die groot man te herken, maar die ander twee was vreemd. Sy het na die voordeur gestap, die sleutel gedraai en die deur oopgemaak. Op haar groet en uitnodiging het die besoekers ingestap. Die twee vreemde mans is uitlanders, het sy besef.

"Robert is nog op kantoor maar sal nou hier wees," het sy gesê.

Dit was sowat 'n uur ná sonsondergang toe Smit by die huis kom. Dit het hom opgeval dat daar geen voertuig in die straat geparkeer is nie, ook dat al die gordyne dig getrek en die vensters almal toe is – nie Jeanne-Cora se gewoonte om op so 'n mooiweersaand alles so vroeg toe te maak nie. Die voordeur was egter nie gesluit nie, die woonkamer leeg en Smit het na sy vrou geroep. Harde musiek het vanuit 'n vertrek geklink.

Toe Smit die toe slaapkamerdeur se handvatsel wou oopdraai is dit stadig van die binnekant af oopgedraai. Die kamer was skemer en 'n groot figuur het voor hom opgedoem.

"Hallo, Dok," het die groot man gesê. "Ons het vir jou gewag." Die regtermou van die groot man se hemp was gevlek en hy het 'n lang mes in sy hand gehou waarvan druppeltjies bloed soos trane van die blink lem afgedrup het. Dit was toe dat dr Robert Smit voetstappe agter hom gehoor het.

Toe hy omswaai het hy in die loop van 'n pistool gekyk. Die man het 'n swart gebreide mus op sy kop gehad.

"Wat... wat gaan aan?"
"Kom asseblief in, Dok," het die groot man gesê.

Smit het asof gehipnotiseerd vorentoe geloop. Op die dubbelbed het Jeanne-Cora gelê, hande agter die rug vasgemaak. Sterk arms het hom van agter gegryp en dieper die kamer ingestamp. Deur wolkenewels het Smit besef wat hulle met sy vrou gedoen het, en nou ook met hom...

Die groot man het Smit se aktetas op die tafel gesit en na die yskas in die kombuis geloop.

"Aha, dis my gelukkige aand," het hy gesê toe hy 'n bottel uithaal, 'n lang sluk bier in sy keel gooi en die halfleë bottel op die tafel neersit.

"En wat het ons hier?", het die groot man gevra terwyl hy 'n kannetjie rooi spuitverf uit 'n rak haal. "Perfek!" het hy gesê terwyl hy in bloedrooi die letters RAU TEM op die wit kombuisteëls spuit.

"Reg, kom ons gaan!" Hy het die aktetas opgetel en die BOSS-agent met die twee huursoldate het nie eers die moeite gedoen om die voordeur agter hulle toe te trek nie.

Dit was ná middernag toe Van den Bergh se telefoon lui.

"Alles het volgens plan verloop, jy sal môre sien."

Smit se motorbestuurder, Daniël, het soos gewoonlik om sewe-uur by die Smitwoning opgedaag. Anders as gewoonlik was die deur oop en harde musiek het in die kombuis gespeel. Die bierbottel en die rooi letters teen die muur het bevestig dat iets ernstig verkeerd is.

Hy het in die gang afgeloop, geroep, maar daar was geen reaksie nie. Hy was nie voorbereid op die grusame toneel wat hom in die hoofslaapkamer ingewag het nie...

Twee lede van die uniformtak was die eerste polisiemanne wat aangekom het en die huis in is. Toe hulle uitkom het die sersant oor die radio gevra dat die offisier aan diens en speurders onmiddellik na die adres gestuur word. Binne minute het 'n wit Chevrolet agter die eerste polisievoertuig stilgehou. Speursersant Glen Edwards was in sy middel-dertigerjare en 'n deurwinterde polisieman. Intussen het kaptein Thinus Nicholson van die bedrogeenheid ook gearriveer en die twee speurders is saam na die hoofslaapkamer. Albei speurders het al talle moordtonele ondersoek en elkeen is anders as die vorige, maar die een waarna hulle nou gestaar het was uitermate wreed en walglik. Selfs die steekwonde was klinies, asof hulle afgemete hoeveelhede dosisse moes toedien. Die egpaar is gemartel voor hulle lewe met 'n enkele koeël in tipiese teregstellingstyl beëindig is. Die speurders het aanvanklike aantekeninge gemaak om die koue feite en hul eerste waarnemings op rekord te kry. Twee lede van die forensiese afdeling moes die toneel vir leidrade fynkam, foto's neem en na vingerafdrukke soek.

Nicholson en Edwards is na die studeerkamer wat in 'n vreeslike toestand was. Die moordenaars moes iets baie spesifieks gesoek het. Lêers en papiere het oor die lessenaar en vloer gestrooi gelê. Die lessenaar het skeef gestaan en merke op die mat het getoon dat dit weggeskuif is. Sertifikate teen die muur het alles skeef gehang, die kluis in die muur was oop en die mat het vol papiere gelê.

Alle ander kamers was netjies en onaangeraak.

In die kombuis het die twee speurders dadelik oor die ses letters bespiegel en dit as 'n leidraad gesien. Die bierbottel het ook 'n tikkie hoop verskaf om die moordenaars vas te trek.

Nadat die motorhuis en tuin ondersoek is, het Edwards na Smit se kantoor gery en sy ondersoek daar voortgesit.

Hendrik van den Berg was daardie oggend vroeër as gewoonlik op kantoor nadat die polisie hom as hoof van BOSS oor die moorde ingelig het.

"Dankie, ek sal iemand van my departement stuur om met die ondersoek te help."

Hy het brig Suiker Brits gebel wat die oorkoepelende hoof van al die moord- en roofeenhede landwyd was. Die BOSS-agent wat eindelik gestuur is om die polisie by te staan was Deon Preuyt, een van die departement se politiek korrekte ondersoekers wat met baie spesifieke instruksies daar opgedaag het...

(Vervolg)

 

 

BRON: DIE LANG GENERAAL, deur Alan D Elsdon.