MET RYPERD EN MAUSER (1)

‘N OUDSTRYDER VERTEL

Ons bied aan u hiermee in 'n aantal aflewerings die eerste van 'n baie interessante reeks vertellinge van ‘n oudstryder uit die Tweede Vryheidsoorlog, Johannes Botha, wat as bittereinder ná die Oorlog sy ervaringe in die stryd te boek gestel het onder die titel  Met ryperd en Mauser. Botha begin  by die uitbreek van die Oorlog:

NA MAFEKING

Omstreeks aan die begin van Oktober 1899 het die wekroep tot die burgers van die twee Republieke om hul land teen die onregverdige bedreiging van Groot-Brittanje te verdedig, weerklank gevind in die hart van elke reggeskape Boer.  In ons Rustenburgse distrik was hierdie oproep voldoende om elke burger aan sy dure plig te herinner.  Kommandering was nie nodig nie.

Ek was toentertyd 26 jaar oud en nog ongetroud.   Ons eerste groepe het uit vier maats by een wa en ‘n span osse bestaan.  Die ander kêrels was Gert Myburgh, Ockert Booysen en Abraham Cloete, ‘n onderwyser uit die Kaapkolonie.  Die eerste bevele wat ons ontvang het was om na Lichtenburg te trek.  Die waens las oral langs die pad aan totdat ons naderhand al ‘n hele handvol was.  By my wa was ek die enigste perderuiter, maar teen hierdie tyd het ons laertjie al uit ongeveer ‘n honderd ruiters bestaan.  Die offisiere sou ons eers vorentoe te Lichtenburg ontmoet.

Onder ons geledere was soos reeds vermeld ‘n sekere Abraham Cloete, wat onderwyser op Swartruggens was.  Een van die burgers merk toe terloops op:  “O, meester is ook hier!”

"Nouja, wat het jy dan van my gedink?” kom die skynbaar verontwaardige weervraag.  “Ek is mos my ma se kind.  Sal ek nou by die huis bly sit as my volk in gevaar verkeer en my land my nodig het?”  Hierdie gesprekkie was van belang in die lig van latere gebeurtenisse. Te Lichtenburg aangekom, sluit ons toe by kmdt. Steenekamp van Rustenburg aan. My veldkornet, Johannes Eloff, was ‘n man vir wie ek baie respek gehad het.

Reeds vroeg in die môre begin ons laer toe in die rigting van Mafeking beweeg.  Ek kan my nie herinner dat ek al ooit weer in my lewe soveel stof soos daardie dag moes verduur nie.  Vir veiligheid en spoed moes die walaer al padlangs trek.  Die perdekommando het met vier-vier ruiters langs mekaar getrek.  Die grond het ‘n donkerrooi kleur gehad.  Dit was baie droog en die stof het dik en los gelê.  Ongelukkig was die wind ook nog reg van voor, sodat die stofdampe soms so verstikkend om jou heen gewalm het dat jy die naaste ruiter aan jou skaars kon sien,

Ons het aanhou trek tot by Malmaniesoog.  Die burgers se beswete gesigte was teen hierdie tyd so met stof besmeer dat jy net ‘n persoon se oë in sy kop kon sien blink!  Die offisiere het dit veel beter getref omdat hulle op die voorpunt was.

Komdt. Steenkamp het met sy  mense op Buurmansdrif laer getrek en generaal Snyman van Marico, aan die Malopo, bokant die dorp. Genl Cronjé  het aan die suidekant van die dorp posisie ingeneem, waarvandaan hy later met ou Long Tom die lewe vir die Engelse in Mafeking baie onplesierig gemaak het.

‘n Paar dae na ons aankoms daar het ons perdekommando in die rigting van die dorp uitgetrek om te sien of ons nie die Engelse uit die dorp kon lok nie. Ons wou ook die omgewing verken ten einde vas te stel waarvandaan dit die beste sou wees om ‘n aanval te loods.

Toe ons by die Rhodesiese spoorlyn kom, bespeur iemand ‘n trein in aantog en skree:  “Daar kom die trein!”  Die burgers het toe onmiddellik aan weerskante van die spoor ‘n hele entjie teruggetrek en posisie ingeneem. Dit het blykbaar in die smaak van die Engelse geval, want die trein kom nog vinnig aangestoom alhoewel hulle van ons bewus was. Toe hy vir die mausers onder skoot kom trek ons op hom los.  Ons sien dat die trein meteens tot stilstand kom, terwyl ‘n trok wat voor aangehaak was, losraak en nog ‘n goeie afstand bly voortrol.  Toe trek die trein vinnig terug.

Ons het dadelik besef dat daar iets buitengewoons aan die gang moes wees en het nie soos die Engelse gehoop het, die trein bestorm nie, maar gewag om te sien wat sou volg. Meteens sien ons ‘n gemengde rook- en stofwolk van die aarde af opslaan en onmiddellik daarmee hoor ons ‘n geweldige donderslag wat die grond onder jou voete laat tril het. “Dinamiet!” skree die Boere terwyl ons staan en kyk na die plek waar pas tevore nog die trok gestaan het. Die Engelse het dus verniet hulle “ammunisie” vermors want tot op daardie stadium was daar nog niemand van ons beseer nie.

‘n Troepe-afdeling van die Engelse uit die dorp het toe hierna ‘n poging aangewend om ons mense aan te val. Die wêreld lê daar baie plat en gelyk en die baie kleinerige doringboompies wat daar staan het dit vir ons moeilik gemaak om die getal van die vyand wat ons aangeval het, te skat, maar ons het hulle goed die mauserlood opgelê,  waarna hulle weer so stil-stil terug is, die dorp in.

Een van my ooms, Andries Botha, is die dag daar gewond – sy been bokant die knie afgeskiet.  Hy het daarna nog elf maande gely voordat hy dood is.

Die volgende dag het ons perdekommando weer in die rigting van Mafeking uitgetrek. Die verstandhouding het onder die burgers bestaan dat ons die dorp dié dag sou gaan inneem.  Ons jong klompie het ons klaargemaak om die Engelse te wys wat die Boere met ‘n mauser kon doen.  Ons het ons die stryd min of meer so voorgestel:  Toe kêrels, daar’s die Engelse!  Jaag storm tot op ongeveer ‘n vyftig of ‘n honderd tree, spring af en vuur tot julle die wit vlag sien, of tot hulle almal platgeskiet is.

Ons begin toe om in ‘n wyduitgestrekte linie langs mekaar te trek.  Nie te ver nie of ons ontvang bevele om eers stil te hou.  Die krygsraad  begin beraadslaag onderwyl ons wag.  Na ‘n rukkie kom die bevel weer:”Voorwaarts!”  Maar ons is nog nie behoorlik die volgende bult oor nie, of ons is weer genoodsaak om stil te hou sodat die offisiere kan krygsraad hou.

Hierdie prosedure het my naderhand begin verveel.  By ‘n leë huis het ek ‘n ligte ronde stoel met ‘n leuning raakgeloop en in my arm gehaak. Elke keer as die bevel kom om stil te hou, het ek afgeklim en ewe gemaklik voor my perd op my stoel gaan sit onderwyl die offisiere beraadslaag. Hulle het my dit seker beny!

Ek wil geensins te kenne gee dat ek myself as ‘n groot held beskou het nie, maar ek en my maters was teen hierdie tyd al heeltemal seker dat ons voormanne geen voorneme koester om ons té naby aan die gevaar te bring nie. Later het ons verneem dat die offisiere besluit het om die Engelse te probeer uithonger, aangesien dit minder bloedverlies sou meebring as ‘n direkte aanval op die dorp.  Daarom het ons gedurende die nag begin om so na as moontlik aan die dorp ‘n aantal skanse op te rig sodat ons die dorp van al kante kon insluit en vaslê. Dit was 15 Oktober 1899.

Na hierdie paar dae van eerste oorlogondervinding kon ‘n mens al so hier en daar bespeur watter kêrels in staat sou wees om die komende stryd  in al sy  onverbiddelike meedoënloosheid te trotseer, terwyl jy ook verbaas gestaan het om te sien hoe gou sommige persone wat pas ‘n paar dae vantevore nog die monde vol gehad het van die heldedade wat hulle sou verrig, se gedrag reeds die teendeel begin bewys het.

Na enkele dae het die oormoedige meneer Cloete hom reeds vryelik deur sy spanmaats laat bedien, terwyl hy die gewoonte gehad het om smôrens besonder laat die watent waarin hy geslaap het, te verlaat. Daarna het hy dan ewe gemaklik sy ontbyt, wat deur ons ander vir hom voorberei is, kom nuttig.

Op ‘n sekere oggend toe die burgers van die hele laer al ‘n geruime tyd besig was om perde te vang, voer te gee en vir ons kos te berei – alles aksies wat taamlik luidrugtig plaasgevind het -  lê Cloete nog lekker in sy toegeknoopte tent en slaap.  Ek stap nader en skree:  “Cloete! Cloete!”

Toe hy tevoorskyn kom, sê hy nors:  “Julle gee mens nou werklik nie eers kans om in die oggend jou godsdiens te hou nie!”

Ek sê toe: “Dit moes jy vanmôre vroeg al gedoen het terwyl dit nog stil was. Die Here het geen behae in ‘n luiaard wat lê en slaap tot die son hom eers vuurwarm gebraai het nie!”

Daarna het dit ‘n bietjie beter gegaan maar die voorvalletjie het daartoe bygedra om Cloete se gesindheid teenoor my te vertroebel.