MET RYPERD EN MAUSER (5)

(Lees reeks by Met Ryperd en Mauser)

MAFEKING "AANGEVAL"

Dr JP Botha

Gedurende die paar maande wat ons klompie Mafeking verlaat het, het daar twee gebeurtenisse plaasgevind wat meldenswaardig is:  Daar het ‘n oproep van die Kommandant-Generaal gekom om soveel as moontlik van die Mafekingse burgers na Colenso te stuur, waar die oorwig van die vyand al haas gedreig het om te veel vir die weerstand van die Boeremagte te word.  Hulle is toe soontoe.

Verder het die vyand ‘n aanval gewaag op een van ons forte, wat die “Platboomfort” genoem is.  Die fort was  tussen ‘n aantal jong doringboompies geleë.  Die vyand het vroeg in die môre, toe dit pas lig was, reeds begin om die fort aan te val.   Hulle het daarin geslaag om in die donker reeds so na aan die fort te kom dat dit nie lank geneem het vir ‘n paar van die tommies om tot bo-op die dak van die fort te vorder nie.  Hulle wou bo-oor klouter om by die deur in te kom! 

  Maar hoe astrant die aanval ook al was, die burgers het hulle nie van stryk laat bring nie en hulle dapper verweer.  Die geveg het so lank aangehou dat die perdekommando van die laer af ook ‘n deeltjie daarvan  kon meemaak.  ‘n Aantal van die vyand het daar bly lê en sou nie weer die drankies wat hulle besieling vanaf Mafeking tot bo-op die platboomfort was, proe nie. Hulle het soos die ou jong gesê het, lekkerlyf uit die wêreld gegaan en hul laaste fort gestorm.

*                              *                            *

Nadat ek ‘n bietjie van die malaria herstel het, is ek weer Mafeking toe en het toe daar met ‘n burger maats gemaak wat alleen by sy wa was en my ook graag vir ‘n maat wou hê. Sy naam was Frans du Toit. Later het ek verneem dat ons veldkornet, Johannes Eloff hom moes kommandeer, voordat hy so ver gekom het om die wapen teen die Engelse op te neem.

Intussen is genl. Cronjé, wat later by Modderrivier moes oorgee, ook met sy kommando na die Vrystaat opgeroep. Ons kommando’s by Mafeking het toe onder generaal Snyman van Marico. gestaan.

Gedurende hierdie tyd het ‘n sekere kapt. Eloff by Mafeking aangekom en ‘n klompie vrywilligers bymekaar gemaak om die dorp te bestorm en in te neem. Dit was aan die begin van Mei 1900.  Eloff se manne is aangesê om teen elfuur die aand vir die aanval gereed te wees. Hulle moes die geveg begin deur die oggend van 12 Mei teen dagbreek die Barolongstat wat tussen ons en die dorp gelê het, aan die brand te steek. Dit sou vir ons perdekommando onder genl. Snyman die sein wees om tot die aanval oor te gaan.

Vroeg die volgende môre staan ons perdekommando toe gereed, nie baie ver van die swart stat af nie. Na ‘n rukkie begin die dag te breek en meteens hoor ons die mausers praat terwyl dik rookwolke soos offers in die vroeë môre skielik die lug begin instyg.

“Daar’s die rook!” skree ‘n paar van die burgers. Elke man staan met die teuels oor sy arm gehaak en wag nou net met senuweeagtige spanning op die bevel om tot handeling oor te gaan.

Iemand wat nog nooit tevore in sy lewe aan so’n geveg deelgeneem het nie, kan hom nooit voorstel watter koorsagtige haas om te begin jou beetpak nie.

 

Die burgers se oë bly verwagtend op die offisiere gevestig. Laasgenoemdes gaan egter eers opsy om krygsraad te hou. Intussen gaan die ontketende geveg al hoe dieper in die dorp in, onderwyl ons perdekommando maar nog steeds houtgerus staan en wag. Dit word naderhand tienuur, elfuur, twaalfuur en in die dorp self hoor jy nog so af en toe ‘n verdwaalde skoot val.

Naderhand trek ons perdekommando maar weer terug laer toe, gee die perde goed voer en begin die keteltjies te kook. Dié aand moes ons perdekommando om die dorp heen waghou sodat daar glo nie van die vyand se geledere moes ontsnap en vryraak nie!  Dog nog ‘n hele rukkie voor twaalfuur die nag kry ons ‘n rapport van die laer af dat Eloff en meeste van sy manskappe deur die vyand gevange geneem is.  ‘n Klompie van hulle het egter daarin geslaag om weer uit die dorp te vlug en by ons kommando aan te sluit.

Vir my het die hele wyse waarop die sogenaamde “aanval” plaasgevind het as ‘n belaglike klugspeletjie voorgekom. Een van my vriende, Jacobus Opperman, wat aan die aanval deelgeneem het, het my later vertel watter wedervarings hulle in die dorp te beurt geval het. Volgens Opperman was dit vir die klompie burgers sommer kinderspeletjies om in die dorp self te kom. Nadat hulle die stat byna sonder enige verset van die vyand deur is, is hulle nog steeds sonder om te veg die dorp in.  Die vyand was blykbaar skoon verras en oorbluf en het geen aanval allermins vanuit die stat verwag nie. Hulle het in hul bomskuilings gevlug en kon, toe hulle hul oë uitvee, nie meer op die Boere skiet nie, want dié was alreeds tussen hulle forte deur, die dorp in. Hul forte het aan die dorp se kant geen skietgate gehad nie en dit sou nie raadsaam wees om die kop aan hierdie onbeskutte kant uit te steek nie.

Opperman en sy maters wis nie wat om te doen nie. Vir die aangestelde offisiere het die burgers weinig ontsag getoon en elkeen het gemaak wat hy wou.  Sommige kêrels trek die Engelse se perde uit die stalle en ry in die dorp rond.  Al gou het ‘n paar van hulle ‘n voorraad whiskey ontdek en begin toe om fees te vier. Na ‘n rukkie het hulle die gevaar waarin hulle hul bevind het, skynbaar vergeet, want die vyand was nêrens te sien nie.  Kort voor sononder het die leemetfordkoeëls egter ‘n einde aan die pret gemaak. Die straf wat hulle moes ondergaan vir die skade wat hulle aan die Engelse se drankvoorraad berokken het, was om as gevangenes verder saam met die vyand in Mafeking te bly en saam te eet aan die perde- en donkievleis wat toe ook alreeds skraps begin word het.

Die ander manne, vertel my vriend, moes onder ‘n stortbui koeëls deurvlug en het tog daarin geslaag om die loop van die Moloporivier te bereik. Sy walle is nie hoog nie en hulle moes deurgaans op hande en voete in die modderige water kruip om die koeëls, wat gedurig om hulle gefluit het, vry te spring. Toe begryp ek waarom hy soos ‘n otjie gelyk het wat in die modder rondgerol het.

So het die laaste poging wat ons gedurende die beleg van Mafeking aangewend het om die dorp te verower in ‘n volslae mislukking geëindig.  Waarom ons perdekommando nooit so vér kon kom om aan te val  nie, begryp ek vandag nog nie. Moontlik was daar ‘n gegronde rede voor.