MET RYPERD EN MAUSER (14)

Dr JP Botha

Lees reeks by Met Ryperd en Mauser

JAN GANSOOG SE VERBEELDING

Ons Rustenburgers was aan die einde van Mei 1901 nog orals op die plase versprei toe daar ‘n berig van generaal Kemp kom dat daar ‘n groot Engelse mag op Vlakfontein staan.  Veldkornet van Tonder kon darem naastenby ‘n honderd man bymekaar kry en ons sluit toe by die Krugersdorpers van kommandant Claassen en die Pretorianers van kommandant Oosthuizen aan, tesame met die orige magte van generaal Kemp.

Na ons die vorige dag so hier en daar met die vyand slaags was en hulle hul bes gedoen het om ons vanaf ‘n veilige afstand met hul kanonne te bestook, kry ons die oggend berig dat die vyand vanaf Vlakfontein met ‘n sterk berede afdeling in ons rigting aankom.  Ons neem dadelik posisie in maar die Engelse bly vassteek aan die anderkant van ‘n uitgestrekte vlakte,  buite trefafstand van ons kleingeweervuur en begin om ons stellings met twee kanonne te peper.

Ons magte was oor ‘n taamlike groot afstand tussen die rantjies versprei en dit was dus moeilik om presies te weet wat by elkeen van ons afdelings aan die gang was.

Skielik sien ek dat daar aan die regterkant van ons Rustenburgers rook begin opstyg en besef toe dat van ons mense die gras aan die brand gesteek het.   Die wind trek gelukkig in die vyandelike rigting en gou-gou was die vyand agter ‘n vlammende rookgordyn bedek.  Ons sien hierin ‘n gulde geleentheid om hulle ongesiens te nader en volg kort agter die vlamme oor die nog smeulende afgebrande graspolle.  Elke man is gereed vir gebeurlikhede.  Toe ons reken die vlamme behoort al baie naby die vyandelike stellings te wees, gee ons die perde die teuels en duik deur die vuurgordyn.  Nou was ons deur verstikkende rookwolke en knetterende vonke omring en was ook meteens tussen die vyand wat ons agter die vuur lê en inwag het.

Maar met die aanrollende vuur moes hulle gou die hasepad kies.  Dog ‘n klompie van die voetgangers verdedig die kanonne met heldemoed totdat ‘n afdeling van ons burgers onder Van Deventer tot by die twee grofgeskuts deurdring en hulle afneem.  Daarop begin hy die vlugtende Engelse met hulle eie kanonne te peper!  Ons stoot vinnig vorentoe aan op die Engelse kamp af, waar die vyand reeds al begin gereedmaak om voet in die wind te slaan.  Onderwyl ons al skietende die een rantjie na die ander verower, word daar opeens op een van ons flanke uit ‘n ander rantereeks heftig op ons gevuur.  Ons dink toe dat ons in ‘n hinderlaag gelok is en generaal Kemp gee bevel om terug te val omdat ons nie in staat sou wees om met ons handjievol in hierdie omstandighede vol te hou nie.

Ons probeer toe die vyandelike afdeling wat skuins van agteraf die wêreld vir ons so warm maak, onder die koeëls kry, maar ontdek toe tot ons verbasing en wrewel dat dit van ons eie mense was  onder veldkornet Du Toit, wat ons vir Engelse aangesien het.

Was dit nie vir hierdie ongelukkige voorval nie, sou ons seker die vyand ‘n goeie hou toegedien het.  Hulle was seker baie verbaas om te gewaar dat ons meteens terugtrek nadat ons hulle al skoon op loop gejaag het.  Hulle het toe ook dadelik hierdie nuwe wending in die geveg tot hulle voordeel omskep deur vinnig terug te keer en hul kanonne in veiligheid te bring.  Ons was in elk geval nie toegerus om hierdie grofgeskut met ons saam te neem nie.

Ons het egter vasgestel dat die vyand tydens die verwarring onder eie geledere, wat ontstaan het as gevolg van ons onverwagse vuurtaktiek, ook op hul eie mense geskiet het.  Daar het darem ‘n groot aantal van hulle dié dag op die Vlakfonteinse vlakte bly lê.

Daarna moes ons kommando’tjie noordwaarts beweeg terwyl genl Kemp in ‘n ander rigting moes laat spat, want die vyand het met ‘n groot oormag troepe probeer om ons in te sluit maar ons kon darem daarin slaag om te ontkom.

‘n Rukkie na die tyd is ons klompie burgers onder Van Tonder en Van Heerden toe na Van Heerden se plaas om ons perde ‘n bietje te laat rus, want daar was goeie gras en heerlike koeltebome.  Ons het die plek “Brommerdraai” genoem omdat daar ‘n mag der menigte van hierdie lastige insekte was.  Die brommers het hul eiers in ons komberse gelê en selfs ons tabakrolletjies het besmet geraak.

Op ‘n sekere dag moes ons op bevel voor die huis van Van Heerden bymekaar kom om sekere bevele wat deur die Generaal uitgereik is, aan te hoor.  Daarna het ons Van Tonder-kommando’tjie weer na ons wyk teruggekeer met die doel om te sien of ons nie verbytrekkende Engelse oral in die omgewing kon lastig val nie en ook om die swart spioene te laat agterkom dat ons weer terug is en dat hulle in hul pasoppens moet bly.

Ons kom op Lemoenfontein, naby Bokfontein aan en besluit om ons perde ‘n paar dae lank daar te voer omdat daar nog ‘n bietjie hawer verkrygbaar was.

Hier op Bokfontein het ‘n sekere Frederik Buitendag gewoon, ‘n broer van Matthys Buitendag wat kort tevore saam met my by Slypsteenkoppies amper deur  die Engelse vasgekeer is. Maar hy was van ander stoffasie as sy broer en ons het hom lankal nie meer op kommando gewaar nie.  Sy oudste broer Casper was alreeds onder die Engelse en het boonop nog die skanddaad gepleeg om die skuilplek van sy eie ou vader aan die vyand te gaan verraai!

Ons het die dag by Frederik se huis gaan snuffel, maar kon uit sy vrou niks aangaande hom wys word nie.  Daardie aand gaan ‘n paar van ons jongkêrels die huis omsingel.  Ons deursoek die hele gebou maar kon nêrens ‘n teken van hom gewaar nie.  Net toe ons maar weer aanstaltes wou maak om te loop, trek een van die kêrels ‘n wakis wat in die hoek van die slaapkamer gestaan het, opsy en lê amper op sy rug van pure verbasing:  Onder die kis was daar ‘n gat in die vloer, groot genoeg vir ‘n man om in te sit.  Daar sit Buitendag toe soos ‘n uil in sy nes, terwyl die kis die hele tyd sy wegkruipplek bedek het!

Moenie praat watter jolige gelag en gespot hy toe moes verduur nie.  Ons het hom maar laat loop, want kon nog geensins bewys dat hy reeds verraad gepleeg het nie.  Na die oorlog het ons hom nie weer te sien gekry nie.

Onderwyl ons nog daar vertoef, bereik ‘n berig ons dat ‘n Engelse mag oor Magatosnek aan die nadertrek is.  Ek word toe saam met korporaal Jan van Niekerk, bygenaamd “Jan Gansoog”  met ‘n klompie burgers deur ons veldkornet na Moedwil gestuur om by ‘n ruie koppie dié nag te gaan brandwag staan.  Die pad wat na Lemoenfontein lei, het daar uitgedraai en ons moes rapport maak met watter pad die vyand kom.

Ons het ons perde agter die koppie vasgemaak en ‘n paar man daar laat bly om hulle op te pas, terwyl ons ander op die koppie gaan slaap het.  Ons laat twee man waghou wat telkens deur ander afgelos moes word.

Omstreeks middernag word ons skielik deur die Korporaal gewek met die onaangename tyding dat die Engelse ons al byna omsingel het en dat ons onmiddellik moes trap as ons nie gevang wil wees nie.  As ‘n man so skielik op jou nugtermaag gewek word, moet jy tog glo wat die wag vertel.  Ons is holderstebolder met komberse en al die koppie af na ons perde toe en laat dadelik spat.

‘n Paar honderd tree verder roep ons halt om vas te stel of die Engelse met die Lemoenfonteinse pad sou kom.  Maar daar gebeur niks nie.

Toe dit naderhand lig word, gaan ons terug om te sien of die vyand dan met die grootpad verby is, maar ons vind geen spoor van hulle nie.  Toe sien ek ‘n klompie aasvoëls wat oral in die bome sit en weet toe dadelik dat hulle die oorsaak van die Korporaal se benoudheid was, want elke keer as een van die ou langnekke na ‘n geriefliker sitplekkie verskuif, klap hy met sy vlerke en die Korporaal het geglo hierdie geluide kom van die vyand wat dan besig sou wees om ons te omsingel.

Daar het toe rusie tussen ons en die Korporaal plaasgevind en ‘n klompie van ons besluit toe dat Jan Gansoog afgesit en ‘n korporaal uit ons eie geledere gekies moes word, dog die Veldkornet wou nie aan ons sin voldoen nie; ons moes maar teen wil en dank onder hom dien.  Daarop besluit ons om pal te staan. Die Veldkornet vra toe of ons vyftien kêrels dan kans sien om die werk van dertig man te doen, waarop ons hom dit eenparig verseker.  Hy gee ons toe toestemming om onder ons ‘n korporaal te kies. My makkers wys my aan as hul keuse, wat ek my toe maar laat welgeval het, want ek het geweet dat ek op elkeen van hulle persoonlik kon staat maak.

Nie lank hierna nie het ons kommando’tjie op Renosterfontein aan die Maricorivier, voor die poort by Riekertsdam met ‘n Engelse mag slaags geraak.  Die vyandelike oorwig het daarin geslaag om ons te omsingel.  Al uitkoms was om langs ‘n ou paadjie tussen die rivier en die krans waarop die vyand reeds was, te perd een-een deur te jaag, skaars ‘n honderd meter onderkant die leemetfordbekke verby.  Die afstand moes natuurlik vir die Engelse te naby gewees het, want hulle skiet keer op keer veilig oorheen!

Onderwyl ons nog besig was om feitlik een-een uit die vyand se omsingeling te ontsnap, het ‘n paar burgers vanaf ‘n koppie, ongeveer ‘n duisend tree van ons af, op die Engelse begin vuurmaak. Skynbaar was die vyand in staat om op die groot afstand beter raak te skiet, want toe hulle die paar Boere se vuur beantwoord, word een van ons manne, Jan Diederiks, gewond.  'n Gedeelte van die Engelse mag was toe ook al besig om daardie koppie te omsingel  sodat die paar burgers so vinnig moes veiligheid soek dat hulle nie in staat was om die gewonde saam te neem nie.

Ons het hom vroeg die volgende oggend daar dood aangetref.  Sy wonde was nie van ‘n ernstige aard nie, maar dit was winter en die bitter koue het seker toe sy dood bygedra.