MET RYPERD EN MAUSER (15)

Dr JP Botha

Lees reeks by Met Ryperd en Mauser

NA DIE VRYSTAAT

Toe ons Veldkornet, Roelf van Tonder bespeur dat ons korporaalskappie, wat maar uit vyftien man bestaan het, baie gelukkig is en gereeld ons plig doen, roep hy ons bymekaar en vra of ons kans sien om na die Vrystaat te gaan en daar vir ons ‘n klompie perde te gaan opkoop.  Hierdie versoek het by ons algehele byval gevind.

Daarop kry ons verlof om ons perde ‘n paar dae op Koedoesfontein te gaan voer en te laat uitrus, want daar was nog hawer te kry.  Intussen het ons die paar stukkies klere wat ons nog besit het, in orde gebring vir die reis en toe laat vat.  Die enigste vervoermiddel vir ons kos, klere en komberse was ‘n ligte kar.

Al die plase waarlangs ons getrek het, was sonder uitsondering verlate en deur die vyand geplunder, die woonhuise reeds afgebrand en die landerye verniel.  Daar het maar min lewensmiddele oorgeskiet vir die vegtende en vlugtende Boerevolk wat soos wese op eie vaderlandse bodem blootgestel is aan die roofsug van ‘n sogenaamde beskaafde nasie.

Ons is oor Kwaggashoek en Tweebuffelsgeskiet tot op ‘n plaas van kommandant Vermaas waar ook alles verlate was, maar naby aan die woonhuis was ‘n stukkie mooi groen gras waar ons perde die nag in kom wei.

Vroeg die volgende oggend het ons weer vertrek en laat die middag by ‘n waterstroompie afgesaal om eers die moegheid af te spoel en ‘n keteltjie te kook.  Gewoonlik het jy sommer jou sakdoek as handdoek gebruik en dan oor ‘n bossie oopgesprei om weer te droë.

Toe ons daarvandaan vortgaan het ek my sakdoek per ongeluk vergeet.  Een van die ander kêrels het hom egter raakgesien en saamgebring.  Nadat ons daardie aand die perde gespan en klaar geëet het moes ek voor die “kajuitraad” verskyn.  Die sitting van hierdie skynhof het ons dikwels saans ure lank pret en vermaak verskaf.  Wanneer een van die burgers ‘n misstap begaan het, moes hy voor die kajuitraad verantwoording doen.  Dit het uit ‘n “landdros”, ‘n “publieke vervolger” en ‘n  “dokter” bestaan en die straf is gewoonlik in die vorm van slae toegedien.  Die “dokter” moes die persoon na die vel van die vonnis deeglik ondersoek om kamma vas te stel of die veroordeelde die straf wat die “landdros” hom opgelê het, sou kon verduur.  Sy ondersoek het gewoonlik só verloop:  “Kom laat my voele de pols.  Steek uit de tong!” ensovoorts.  Hy bevoel hom ewe ernstig en keur die straf goed of gedeeltelik goed.

Daar word groot eerbied gedurende die sitting van die hof verwag en niemand is toegelaat om te lag of luimige aanmerkings te maak nie.  Die aanklag teen my was dat ek weens nalatigheid my sakdoek langs die pad laat lê het en sodoende ‘n slegte voorbeeld aan die ander burgers gestel het.

Ons het net tot op die ernstigste stadium van ons hofsitting gevorder waar ek skuldig of onskuldig moet pleit, toe ons skielik perdehoewe hoor dreun en ‘n klompie ruiters met die pad reg op ons sien afkom.  Die hof het onmiddellik vanself op onseremoniële wyse verdaag.  Die meeste van ons loop ‘n ou kraalmuur storm en die res laat nael na die perde toe.  Toe die vreemdelinge so te sê op ons was, skree ons hulle tot halt.  Hulle hou vlak voor ons stil.  Gelukkig was dit ‘n brandwag-patrollie van ons eie mense.  Hulle was ook maar skoon uitasem geskrik want dit was ‘n niksvermoedende klompie wat niemand hier te wagte was nie.

So het ek die straf op my ernstige “misdaad” vrygespring, want die saak is nooit later teen my hervat nie.

Hiervandaan het ons oor Wolmaransstad getrek, waar ons die nag in’n kerk geslaap het vir skuiling teen die reën, wat die heelnag hard neergestort het.

Die volgende dag is ons deur die Vaalrivier die Vrystaat in.  Naby die Transvaalse grens was geen enkele perd ter kry nie en ons moes dus nog veel verder gaan.  ‘n Paar dae lank het ons geen mense gewaar nie, maar kom toe op die plaas van ‘n sekere Janse.  Ons tref hom tuis aan, want hy het toe pas teruggekeer ten einde vas te stel hoeveel van sy besittings nog nie deur die vyand verwoes is nie.

Gelukkig kry ons by hom ‘n klompie mielies vir ons perde en ‘n paar skape om op pad te slag, asook goeie raad oor watter koers ons moes trek om nie die vyandelike kolonnes raak te loop nie.

Hiervandaan is ons oor verskillende plase tot aan die Modderrivier, waar ons omgedraai het.  Alhoewel die burgers van die Vrystaat ons oral baie gasvry ontvang het en hul bes gedoen het om soveel as moontlik van hul oorgeblewe perde aan ons af te staan, was dit maar meestal jong perde wat nog nie veel vir kommandodiens werd was nie.

Op ‘n sekere dag kom ons op ‘n plaas aan waar ons afsaal omdat ons perde toe al baie moeg was.  Die klein paadjies oor dik sandbulte op die Vrystaatse vlaktes het ons perde baie gemoor.

By die woonhuis was alles verlate, dog later kom die eienaar te perd daar aangery.  Die vleishonger het ons geknyp en ons verneem toe by hom of hy nie miskien aan ons ‘n slagdingetjie kon afstaan nie.

“Hier loop nog net een wilde hamel wat die Engelse nie in die hande kon kry nie.  As julle hom kan vang, kan julle hom maar slag.”

Ons stuur ‘n man te perd die veld in en laat hom aankeer.  Een van my maters kom na my toe en fluister:  “Hansie, ons kan nooit die skaap verloor nie; as hy weghol, moet jy hom skiet.”

Toe die hamel ons gewaar, spring hy om en daar trek hy, dog die volgende oomblik haak ek af en daar rol hy!  Die eienaar kyk ons verbaas aan en sê:  “Skiet julle Vaalpense dan skape ook?”

“As dit nie anders kan nie, ja, “antwoord ek.  Dit het gelyk of hy ‘n bietje teleurgesteld was.  Hy het seker maar gehoop dat ons nie die hamel in die hande sou kry nie.

Op ander plase waar ons nog mense aangetref het, het die waens waarmee die gesinne vir die vyand rondgevlug het, gewoonlik gereed voor die huise gestaan om by onraad te laat spaander.  Op een van die plase was ‘n paar waens met families bymekaar aan gereedmaak vir die vlug want hulle het toe juis berig ontvang dat ‘n Engelse patrollie in die omgewing aan die snuffel was.  Die tantes was baie goed vir ons en het ons met beskuit, meel en vleis oorlaai sonder dat ons daarom gevra het.

Nie veel verder nie tref ons ‘n paar waens in die veld aan wat alreeds vir die Engelse padgegee het en waar daar ‘n paar vriendelike nooientjies was.  Ons het saam met hulle ‘n paar oorlogsliedjies gesing, onder andere ook die een van die “Lady Roberts”,  die groot Engelse Kanon wat die Boere van die Engelse gebuit het.

Ons het hier ‘n paar dae vertoef om ons perde ‘n bietjie te laat rus en toe die terugtog hervat.  Ons het ongeveer sewentig perde met ons saam teruggebring.

Na ‘n maand se afwesigheid trek ons weer die Vaalrivier veilig deur en saal uiteindelik by Tweebuffelsgeskiet by ‘n bietjie water af waar die koelte van enkele wilgerbome ons ‘n aangename russie verskaf.  Ons stuur ‘n paar man na ‘n swart statjie ongeveer drie kilometer daarvandaan op ‘n bult om te kyk of hulle nie vir ons ‘n slagdingetjie kon raakloop nie.  Na ‘n rukkie sien ons hulle oor die bult aankom met drie hamels wat hulle aanjaag.

Toe die skape omtrent driehonderd tree van ons af was, spring hulle skielik om en jaag soos wilde diere weer terug.  Met die herinnering aan die petalje met die wilde hamel in die Vrystaat nog vars in die geheue, gryp ek my mauser en gaan sit. Ek kap die voorste een om, toe die tweede en ook die derde – drie voltreffers!  My maats was nie juis verbaas nie want hulle het geweet dat ek ‘n goeie skut was.

Ons kry vir generaal De la Rey met ‘n sterk perdekommando op Kwaggashoek, waar ons die perde aan veldkornet Van Tonder afgee en weer by ons kommando aansluit.  Vêrplie, my perd, was een van die weiniges wat in staat was om die lang tog heen en weer te voltooi. Die meeste van die ander perde het langs die pad agtergebly en moes deur vars perde vervang word.