MET RYPERD EN MAUSER (16)

BROKKIES UIT ONS KOMMANDOLEWE

(Lees reeks by Met Ryperd en Mauser)

Dit was nou al diep in Oktober 1901.

Nadat ons ‘n paar dae op Kwaggashoek gerus het, ontvang ons berig dat daar ‘n Engelse kamp op Rondawelskraal staan en dat die vyand soos gewoonlik weer besig is om met behulp van hul swart handlangers die graan op die omliggende landerye te verwoes.  Die vyand het met sekels die koringare afgekap en maak toe gereed om met die grootpad langs na Groot Marico  te trek.

Generaal Kemp gee bevel om hierdie Engelse troep êrens te gaan voorkeer en aan te val.  Ons trek die Maricorivier by Koedoesfontein deur en hou al links van die rivier deur die berge tot naby Rietvlei, waar ons die nag slaap. Vroeg die volgende môre was ons bokant Rietvlei,  in die rante by Kleinfontein se nek en wag die vyand in.

Die vorige dag was klein groepies burgers van Van Tonder besig om hier en daar in die rante die snuffelende Engelse patrollies te blaker, toe twee kêrels skielik op ‘n spioen afkom wat ‘n klein entjie van hulle af langs ‘n ou kraal houtgerus met ‘n verkyker voor die oë die omgewing bespied.  Een van die verkenners wou hom dadelik ompiets, maar sy maat gewaar dat die Kakie nog ander planne in die mou voer.  “Nee man, laat hom maar eers die laaste sopie van sy lewe drink,” sê hy, onderwyl die Engelsman niksvermoedend ‘n botteltje uit sy sak haal en die inhoud na sy lippe bring.  Eers toe hy dit weer “veilig” teruggeplaas het, knal die mauserskoot . . .

Die son was al op toe die Engelse begin om deur die Maricorivier te trek.  Tussen ons en die pad waarlangs hulle kom, was ‘n digte lap bome.  Ons wag tot hulle regoor ons kom voordat ons van die rant af agter die bedekking van die bome begin storm.  Ons jaag in ‘n uitgestrekte linie langsmekaar en toe ons tussen die bome deur aankom, begin die vyand op ons te vuur.  Hulle maak die wêreld vir ons warm met ‘n stuk of drie kanonne, maar ons slaag daarin om ‘n hele paar volgelaaide waens af te keer en die bome in te dryf.  Die kanonne was gou-gou stil en ‘n afdeling van ons perdekommando sit toe die Engelse se ruiters agterna.  ‘n Menigte van die voetgangertroepe het van die waens af na die berg se kant toe gevlug en agter die groot klippe op die rantjie gaan skuil, skaars honderd -en-vyftig tree van die pad af.

Ek en ‘n paar van my maats haak haastig ons perde se teuels aanmekaar en draf nader. Toe begin ons die stof daar tussen die klippe losskiet.

Skielik word my swaer, Roelf Joubert, wat langs my besig was om te veg, deur ‘n koeël in die linkerbors getref. Hy kyk my nog vir laas meewarig aan en sê stameland aan my dat dit ‘n doodskoot is.  Hy stap eers nog ‘n paar tree en sak toe inmekaar.

Ons hou nog maar aan met skiet op die klompie Kakies teen die rantjie, skaars ‘n honderd tree van ons af.  Maar toe sien ons dat die manne aan ons linkerkant begin retireer.  Ons wis nie wat agter die rantjie aangaan nie, maar die vuur van die vyand word meteens al hoe hewiger.  Ons ontdek dat byna al ons manne al getrap het en dat die vyand nog net op ons paar vuur.  Dat ons almal sonder ‘n skraap daar uit is, was net aan die feit te danke dat die Kakies werklik hopelose skuts was.  Later sou ons ontdek dat die vyandelike voetgangers en artilleriste wat by die waens en die kanonne oorrompel is, nooit ontwapen is nie, met die gevolg dat hulle dadelik daarna weer aan die geveg kon deelneem.

Daar het ongeveer twintig van ons burgers geval.  Hierdie manne was feitlik almal Rustenburgers, want ons afdeling moes die vyandelike flank aanval wat die beste agter die klippe verskans was.  Ons het ons gesneuweldes eers daar agtergelaat en ons gewondes na ‘n skooltjie te Oberholzerskloof vervoer waar hulle verpleeg sou word.  Daarop het ons teruggekeer en ons dooies op Bokkraal begrawe.

Hier by die skooltjie het vir my ‘n vreugdevolle verrassing gewag.  ‘n Paar families wat weer vir die Kakies aan die vlug was, het vir ‘n dag of drie met hul waens hier vertoef.  Ek loop toe weer my nooientjie, die pragtige sewentienjarige Annie Venter, my verloofde, raak.  Sy was bekend as Mooi Annie.  Ons sou seker al teen hierdie tyd getroud gewees het, maar die uitbreek van die oorlog het my planne in die wiele gery, sodat dit maar eers na die vredesluitng kon plaasvind.

Daardie vorige middag toe ons kommando na Rietvlei deur die rante die vyand tegemoet trek, het Hendrik Diederiks met sy seuns en skoonseuns stilletjies agtergebly met die doel om na die slag verby is, op die gevegsterrein na hartelus te kom buit.  Hulle het natuurlik gereken dat ons die Engelse troepemag op die vlug sou jaag en wou toe agter die vegtende burgers aan, hul kans waarneem.  Toe die vyand van Rondawelskraal af na Kleinfontein-nek beweeg, het hulle op ‘n veilige afstand agterna gekom en verskyn toe op die toneel pas nadat ons reeds laat spaander het, waarop die Kakies hulle begin lood oplê sodat hulle ‘n vinnige aftog moes blaas, sonder enige buit.

Nieteenstaande ons gevoelige lewensverlies, kon ons onsself darem troos met die ryk buit van ‘n stuk of vyf-en-twintig volgelaaide waens en ‘n groot aantal muile en perde.

Veldkornet Van Tonder is intussen as kommandant aangestel.

By die ambulans van ons kommando was ene dokter Van der Merwe wat voor die Oorlog op Lindleyspoort gewoon het.  Dit word vertel dat hy in die Oorlog sy woning eenkeer besoek het en toe ‘n swarte heerlik aan die slaap in sy bed aangetref het.  Hy het die oortreder toe glo ‘n entjie teen die rant uitgeneem, aan ‘n boom vasgebind en keel afgesny!  Vir die waarheid hiervan kan ek egter nie instaan nie, maar ons het opgemerk dat ‘n gewonde Kakie van hom as ambulansdokter maar deurgaans onsimpatieke behandeling ontvang het.  Dit was gewoonlik die moeite werd om na sy gereelde kommentaar oor die Engelse nasie te luister.

Ons het ook ‘n veldprediker gehad, ‘n meneer Roux, wat sendeling van ons kerk te Mabieskraal was.  Gedurende die laaste gedeelte van die Oorlog het hy en sy jong seun, Jerrie, met ‘n ligte verewaentjie (spider) en twee perde pal by ons in die veld gebly, maar het dikwels van die een kommando na die ander gegaan en het dikwels dienste vir die burgers gehou.

As daar ‘n berig kom dat die Engelse in aantog was, gee hy haastig aan sy seun bevel:  “Jerrie, gee die spaaider olie en draai vas die moere!”  Nie lank daarna nie jaag hulle dan wild oor die vlaktes, oor klippe en deur slote om buite bereik van die vyand te bly.

By die kommando van generaal Kemp was ook nog ‘n ander veldprediker, proponent Naudé.  Op Sondae, wanneer die vyand ons nie lastig geval het nie, het ons gewoonlik ‘n entjie van die laer af gegaan om Bybelstudie te doen met mnr Naudé as leier.  Hierdie godsdiensoefening het vir ons in ons beproewing baie beteken want dit was ‘n tyd waar al ons hoop op uitkoms alleen op die Hoërhand gevestig was.

Mnr Naudé was egter nie net ‘n blote prediker nie maar hy het wakker aan al die gevegte deelgeneem. Later het hy sy ervarings opgeteken in sy boek “Vechten en vluchten van Beyers en Kemp.”

*                     *                          *                       *

‘n Jaar vantevore is my moeder met vyf kinders, deur die Engelse gevang en na Mafeking se kamp gestuur.  Een van my vader se bure, Piet Wolmarans, het hulle in hul veilige skuilplek in die kloof gaan opsoek, nie ver van ons woning af nie en hulle toe wysgemaak dat die Engelse besig was om elke kloof en krans te deursnuffel en al die vroue wat nie by hul huise was nie, sou vang en aan die swartes sou oorlewer.  Hulle sou dan besluit het om die vroue wat in hul huise was met rus te laat.  My moeder het seker sy verraderlike wolhaarstories geglo.  Hulle het toe huis toe gegaan, waar die Kakies hulle kort daarna kom vang en weggeneem het.

Vantevore het Wolmarans op die plaas kom kos soek en toe hy niemand daar aantref om iets aan hom te verskaf nie, het hy tot hierdie daad oorgegaan.  Sy eie familie het egter veilig in die klowe weggekruip. Waar my moeder hulle geskuil het, kon geen perderuiter heen deurdring nie en die grot was baie goed beskut teen vyandelike oë.  Na die Oorlog het ons ons klere en ander artikels wat ons daar gebêre het in onbeskadigde toestand daar gaan terughaal.

Een van die vroue wat so vasberade in die klowe rondgevlug het om uit die hande van die vyand te bly, was tant Martha van Niekerk, die vrou van kommandant Louw van Niekerk van Groot Marico.  Hulle het op Doringkraal gewoon.  Wanneer sy agterkom dat die vyand besig is om haar werf te nader, het sy gereeld met die kinders teen die ruie rant vlak agter die huis uitgevlug en tussen die digte bosse weggekruip.

Op ‘n sekere dag het dit weer gebeur maar klein Louw, haar jongste seuntjie van skaars twee jaar oud, huil aanhoudend totdat sy moeder naderhand uit radeloosheid en uit vrees dat die Engelse hom sou hoor, begin plan maak het om hom dan maar teen wil en dank keelaf te sny, want sy het geredeneer dat dit beter sou wees om slegs een oudjie af te gee as om almal spoedig in die kamp ‘n gewisse hongerdood tegemoet te laat gaan!

My vader was nog steeds by ons  in die veld.  ‘n Klompie van ons wat nie meer familie tuis gehad het nie, het soms wanneer ons afgelos word om ons perde ‘n paar dae te laat  rus, saam in ‘n leë huis gaan vertoef.  By hierdie geleenthede het ons dan ons koring wat die vyand nog nie verniel het nie, geoes en met die perde uitgetrap, dit in beesvelle toegewerk en in die klowe gaan bêre.

Dan het ons ook sommer die geleentheid benut om ons perde se hoefysters na te gaan en ons skoene te versool of om nuwes te maak.  Hier en daar het ons nog ‘n smit gehad wat êrens ‘n blaasbalkie weggesteek het en dus vir ons hoefysters kon maak.  Ons het dit met selfvervaardigde spykers aan die perde se hoewe geheg.  Ons het die spykers gemaak van die dik draad waarmee ons telegraaflyne vroeër gespan is, maar wat kort voor die Oorlog deur dunner koperdraad vervang is.  Hierdie nuwe draad het die Engelse gedurende die Oorlog tydens hul vernielingswerk geknip. Hiervan het ons weer spykertjies gemaak om ons skoene mee te versool.

Onderwyl ons klompie in die Vrystaat was, het daar in ons afwesigheid ‘n paar veldslae plaasgevind waarby ons toe natuurlik nie teenwoordig kon wees nie, soos die slag van Moedwil aan die Selonsrivier en Tweebosch waar lord Methuen gewond en gevang is.

By laasgenoemde geveg het ons mense ‘n goeie klompie muile en perde gebuit.  Burgers wat toe nie perde besit het nie, moes toe van die muile onder die saal leer.  Dit was vermaaklik om hulle te sien spring.  Daar was ‘n muil wat besonder wys was en elke man wat dit gewaag het om hom op te klim baie gou weer op die grond laat beland het.  Uiteindelik kom daar ‘n sekere Botha aangestap en sê:  “Gee hom ‘n bietjie hier vir my.” Hy spring op en die muil begin te spring en te skop asof sy lewe daarvan afhang maar die ruiter bly bo.  Die geskud en geruk was egter só geweldig dat hy nog verskeie dae daarna bloed gespuug het.

Die hensoppers wat by die Engelse aangesluit het, het hulle die taktiek geleer om ons vroeg in die oggend op die plek waar ons geslaap het, op ons nugtermaag te oorval.  Op hierdie wyse het die vyand daarin geslaag om kommandant Alberts aan die begin van Februarie 1902 met ongeveer honderd burgers op die plaas Suurfontein te omsingel onderwyl die manne nog almal vas aan die slaap was.  Hul gespande perde het ‘n entjie daarvandaan gewei.

Toe die burgers die dreuning van die aanstormende Kakieruiters hoor, het hulle haastig opgespring en hulle dapper teen die oormag verdedig maar hulle moes feitlik almal later noodgedwonge oorgee. Net ‘n paar kêrels het daarin geslaag om op perde van die vyand te ontsnap en weer by ons kommando aan te sluit.  Gelukkig het byna al Alberts se perde weer by ons uitgekom.

Twee van my neefs, Willie Botha en sy jonger broer Lewies, was onder die paar gelukkiges wat nie gevange geneem is nie.  Hulle het in een van die leë huise daar naby geslaap. Toe hulle die rumoer hoor en by die deur uitloer, spring ‘n paar Engelse vlak by hulle af. Willie fluister:  “Kom!” en spring kaalkop en sonder baadjie met sy kort leemetford en sy patroonband by die Kakies verby met Lewies kort op sy hakke.  Dit dreun toe rondom soos die ander burgers veg.  Willie sleep sy geweer agter hom aan in die rigting van die gespande perde wat toe verbouereerd heen en weer hardloop.  Die twee probeer om van die perde te vang,  maar kan nie een daarvan tot bedaring bring nie.  ‘n Aantal Engelse probeer ook om van die perde in die hande te kry.  Willie en Lewies keer een kant en ‘n Kakie aan die ander kant.  Dan merk laasgenoemde dat hy met ‘n Boer te doen het en skree:  “Hands up!”  Willie hou die een hand op en hou sy geweer in die ander.  Dit wemel egter van die Engelse tussen die perde.  Die Kakie skree aan ‘n makker: "Take the prisoner here!” en probeer weer om ‘n ander perd te vang.

Meteens gewaar Willie hul eie twee perde tussen die ander en roep hulle paaiend op die naam, waarop die twee gehoorsaam vir hul base gaan stilstaan. Hulle maak gou die span los en sit die halterrieme in die bek en spring op.

‘n Entjie verder sit ‘n Engelsman onder ‘n perd om sy span los te knoop.  Willie haak in die verbygaan die perd se toom in sy arm en die twee laat vat so al wat hulle kan.  Alhoewel bloots, met kaalkop en sonder baadjies, kom hulle veilig by ons kommando uit met die Kakieperd by, waarop ‘n goeie saal, komberse en saalsakke vol patrone was.

So is ons geledere weer met omtrent ‘n honderd man uitgedun, maar gelukkig het ons darem hul perde behou.  Ons het hulle aan burgers wat nie rydiere gehad het nie, uitgedeel.