DIE MENS H F VERWOERD

Johan Dorfling

Talle boeke is al oor dr Verwoerd geskryf, tog is dit nog nie omvattend genoeg om hierdie grote te beskryf nie. Het iemand al gepoog om 'n lys op te stel van al die boeke en artikels oor dr Verwoerd?  Steeds word nog boeke opgestel en meer aandag deur middel van skrywes en meedelings deur teenstanders van sy uitstekende staatsmanskap die lig laat sien, sodat die naam Verwoerd bly leef. Die boeke en artikels wat tot dusver oor dr Verwoerd geskryf is, beloop minstens honderde en nog is dit nie die einde nie. Hulle wat hom probeer afkraak, slaag daarin om sy gestalte nog groter te maak omdat dit wat hulle probeer voorhou, juis groter aansien aan hom verleen. Volkvreemde woordvoerders poog baie hard om deur die stewige skans van sy diepsinnigheid te dring, maar elke aanval stel hulle in die verleentheid. Sy skitterende denke is net eenvoudig te ver bo hulle vlak.

 

Dr G D Scholtz was as kollega en vriend bykans 30 jaar ten nouste by dr Verwoerd betrokke. In sy deeglike biografie oor dr Verwoerd het hy inligting verstrek wat nie algemeen bekend was nie. Hy het toegang gehad tot die Verwoerdversameling waaronder 'n groot getal briewe wat dr Verwoerd van Afrikaners (oud en jonk) ontvang het, van Engelssprekendes, van Kleurlinge, van swart mense en van verskeie buitelanders wat groot agting vir hom gehad het. Sommiges het ruiterlik erken dat hulle voorheen teen sy beleid gekant was, maar nadat hulle sy redenasies goed deurdink het, het hulle besef dat hy werklik briljant was.

Wat ook minder bekend is, is die kere waar dr Verwoerd "gewone mense", sonder om aandag te trek, gehelp het met probleemoplossings waar dit verdienstelik was. Hy het daaroor stilgebly en nooit probeer om daarmee gewildheid te bekom nie. Wat volg, kom uit die biografie oor dr Verwoerd.

Dr Verwoerd sou in die agt jaar dat hy Eerste Minister was, ook 'n menigte toesprake oor allerlei sake van nie-politieke aard moes hou. Dit was hierdie toesprake wat andermaal getoon het hoe groot sy intellek was. Byna elkeen van hierdie toesprake was vol skitterende en oorspronklike gedagtes wat alleen kon ontstaan het by 'n man met groot gawes wat hom in elke aspek van die lewe kon verdiep. Dr Verwoerd het met sodanige toesprake ongetwyfeld op uitmuntende wyse daarin geslaag om sy toehoorders na hoëre geestelike sfere te neem en hulle met lewenswerklikhede in aanraking te bring waarvan baie miskien nie bewus was nie. Ook in hierdie toesprake word 'n mens getref deur die wyse waarop hy steeds die verband tussen sake kon sien.

Dit is algemeen bekend dat staatsmanne wêreldwyd se toesprake deur hulle sekretarisse opgestel word nadat die sekretaris inligting oor die onderwerp by 'n kundige verkry het. Nie dr Verwoerd nie. Hy het oor soveel kennis beskik en by beginsels gehou sodat hy self sy eie toesprake voorberei het. Van heelwat van hierdie toesprake het die onderwerpe bewaar gebly. Hy het die gewoonte gehad om, voordat hy 'n belangrike toespraak moes hou, hom in stilte terug te trek, daaroor te dink, en 'n raamwerk op te stel. Van die aantekeninge wat hy vooraf gemaak het, het hy uiters selde gebruik gemaak.

Omdat dr Verwoerd so 'n besielende spreker was en omdat die gedagtes wat hy meermale voor sy gehoor gelê het, getuig het van die feit dat hy 'n oorspronklike denker was, is hy voortdurend versoek om by die een of ander besondere geleentheid wat aan die een of ander saak gewy was, op te tree. Onder meer het hy toesprake gelewer oor die geskiedkundige of estetiese betekenis van ou geboue. Verder het hy toesprake gelewer oor die wonder van Afrikaans, asook oor landbou, nywerhede, 50-jarige herdenking van die Unie van Suid-Afrika, padwerke en tonnels, opgaardamme, by vierings soos Krugerdag en Geloftedag, mynbou, die betekenis van die kind vir die kerk en die volk, die wetenskap, en nog talle ander onderwerpe.

Dr Verwoerd was dwarsdeur sy lewe met 'n sterk diensmotief besiel. Hy wou al sy kragte en talente in die diens van sy land en volk stel, terwyl hy self nederig op die agtergrond wou bly. Hy wou dien en nie gedien word nie. Dit was hom egter nie beskore nie omdat sy brilantheid deur alle volke raakgesien is, al wou hulle hom uit nydigheid afkraak, iets waarin niemand tot vandag toe nie kon slaag nie. Hy wou graag sien dat elke volkgenoot met 'n soortgelyke diensmotief besiel sou wees.

Met dank aan dr G D Scholtz vir aanvullende inligting uit sy boek.