DÍT WAS DE WET:

"Ry!” sê De Wet aan sy kommando. "Kyk daar is ou skuim op die water. Die rivier styg en tel weer die ou skuim op wat teen die walle agtergebly het.”

Uiteindelik is almal deur. ’n Geweldige gejuig gaan op: "Vrystaat bo!”, "Prys die Heer met blye galme!”, "Hoera, hoera!” Agter hulle kom !n bruin wal water oor die rivieroppervlakte aangedreun. Die vyand is afgesluit.

Hoewel genl. De Wet nie daarin geslaag het om die Kolonie binne te val en die Engelse daar te bedreig nie, laat die feit dat hy aan so ’n oorweldigende oormag ontkom het, sy roem hoër as ooit styg.

Die Amerikaners, Nederlanders, Franse en selfs die Russe prys De Wet. Hy word geloof in liedjies, rympies en staaltjies wat in die wêreldpers verskyn. Selfs die Engelse doen daaraan mee!

Daar word vertel van drie verkenners wat hy by Lindley gevange geneem en aan hul bevelvoerder teruggestuur het met ’n briefie: "Dear Sir, please chain up these three devils, as I catch them every day. Yours, Christiaan De Wet.”

In Londen staan ’n straatventertjie waar foto’s van die Generaal verkoop word. Toe ’n klant die koevert oopmaak is daar net ’n blanko kaartjie binne-in. Hy wil by die verkoopsmannetjie weet wat aangaan. Die kêrel het sy antwoord reg: "Yer can’t find De Wet,
guv’nor? No more can anybody else find him!”

En De Wet sê: "Kan dit moontlik wees? Kon ons alles verduur wat ons verduur het? Ja, want die hele geskiedenis van die oorlog is ’n Godswonder van begin tot einde. Sy naam word geloof!”

Dít was De Wet!