ONBEVREES DWARSDEUR DIE VUUR

Daar word dikwels oor die naam Koos van der Merwe grappies gemaak maar in hierdie ware verhaal het ‘n sekere jong Koos van der Merwe in alle erns en baie dapper, ‘n pragtige heldedaad verrig.

Koos en sy ouers het in die Vereniging-distrik gewoon. Dit was die jaar 1953, hy was vyftien jaar oud en in standerd agt.

Koos was op 'n dag in Augustus per fiets op die pad toe hy sien hoe 'n verwoestende veldbrand vyf beeste in 'n kamp vaskeer. Die hitte was so erg dat hulle benoud en amper histeries was. Koos het van sy fiets afgespring en dwarsdeur die vlamme na die beeste gehardloop met die idee dat hy hulle terug deur die vuur sou jaag, maar daarvoor was hulle nie te vinde nie. Toe begin Koos om een van die beeste se stert so styf op te wen dat die pyn te veel vir die arme dier was. Hy het deur die vlamme gebars, en natuurlik het die ander vier vinnig gevolg. Koos is sommer saam met die laaste bees deur die vuur gesleep maar sy broek was halfpad afgebrand en ook sy fiets toe hy daar kom.

Koos se beloning was egter genoeg: die stadsraad van Vereniging het vir hom 'n nuwe fiets gegee, die Dierebeskermingsvereniging het aan hom 'n silwer horlosie gegee, en Die Voortrekkerbeweging waarvan hy lid was, het aan die hom die Reddingsboei, 'n medalje vir dapperheid, oorhandig.