Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Here het dit so beskik dat ons sy Woord het, daardie Handboek waarin nie net alles opgeteken is wat ons nodig het vir ons saligheid nie, maar ook elke enkele reël wat ons nodig het om hier op aarde 'n 'suksesvolle' lewe te lei – of ons nou 'n sake-onderneming wil begin, of ons kinders reg wil opvoed, of enige ander saak, ALLE VOORSKRIFTE is in sy Woord beskikbaar.
RACHELTJIE DE BEER
Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis
Die verhaal van Racheltjie de Beer is een van die merkwaardigste verhale van dapper kinders in ons geskiedenis. En tog het, sover bekend, nie 'n enkele persoon wat eerstehandse kennis omtrent haar besit het, die gebeurtenis waarvan hier vertel word, op skrif gestel nie. Eers later is die verhaal opgeteken. Voorheen is die verhaal net van mens tot mens oorvertel, maar diegene wat dit vertel het, was so seker dat dit wel gebeur het dat 'n mens moeilik aan die waarheid daarvan kan twyfel. In vandag se tyd van verraaiers, lafaards, toegeërs, oorgeërs, selfsug, narsisme en swakkelinge is dit nodig om weer klem te lê op die heldedade in die geskiedenis van ons volk in 'n tyd toe mense nog vir mekaar omgegee het en mekaar nie oorgelewer, gekruisig en gewetenloos in die steek gelaat het nie. Lees dan hierdie bemoedigende verhaal van so 'n dapper jong meisie.
Dit was, volgens oorlewering, om en by die helfte van die 1840’s toe dié geskiedenis hom op ‘n plaas aan die Transvaalse kant van die Drakensberge afgespeel het. Die gesin De Beer het hier by ‘n vriendelike boer oorgestaan terwyl die vader nog besig was om ‘n geskikte lap grond te soek waar hulle self kon gaan huis opsit. Dié deel is een van die koudste streke in die hele bewoonde Suid-Afrika.
Dis gure winternag met stormwind en reën, en tussendeur vlok die vlae sneeu. G’n mens of dier sal onbeskut bly leef nie, en almal skuil so diep en warm weg as hulle kan teen die ysige geweld. Maar onder teen die spruitwal is daar tog ‘n late wandelaar, ‘n meisie van skaars twaalf.
En sy is nie alleen nie. In haar arms dra sy ‘n seuntjie van ‘n jaar of ses. Sy moes verdwaal het want sy strompel blindelings. Die seuntjie bly kerm.
“Toemaar, Boetie,” troos sy, “ek sal jou warm hou.”
Hulle het ‘n kalfie gaan soek wat agtergebly het, vanaand toe die beeste kraal toe gebring is, terwyl die wolke dreigend nader maal.
“Kyk jy hier onder by die spruitjie rond,” het haar pa vir haar gesê.
“Ek sal daar oorkant langs ‘n draai omstap.” Toe wou haar boetie opsluit ook saam, en die meisie het sy hand gevat.
Hulle het fluks gevorder, hoewel hulle niks gekry het nie, totdat die nag hulle oorval het – en die storm. Die seuntjie kon nie verder loop nie, en sy het hom opgetel.
‘n Vyftig tree ver worstel sy en hoop verby die hoop dat daar ‘n stem sal wees, of ‘n geweerskoot dalk, of iewers tog ‘n vonkie vuur wat wink. Maar alles bly nagswarte duisternis, en dit is net die wind wat roep.
Die meisie kan nie meer nie. Sy is so moeg. As sy net êrens ‘n skuilplaas kan kry. Koorsagtig kruis sy die veld toe haar veldskoen teen ‘n miershoop stoot. Sy gaan staan. Dis die enigste skans op hierdie barre vlakte. Haarself sal dit nie red nie, dit weet sy, en die sekerheid is ‘n verligting ná die twyfel. Maar haar boetie! Die seuntjie huil nou rukkerig want die koue pyn.
“Toemaar, Boetie,” paai sy weer en laat hom op die grond afsak. Moeisaam maak sy die skaapvel-karossie oor sy skouers los, want haar vingers is styf en dom, en wikkel dit om sy verkluimde bene. Dan trek sy haar eie lang rok uit en haar onderrok om hom nog warmer toe te dek.
Die meisie gryp om haar rond totdat sy ‘n skerp gepunte klipskerf kry, en soos haar moeder haar geleer het wanneer hulle ‘n veldoond maak om brood te bak, hol sy die miershoop uit. Die inspanning van die arbeid verhit haar trae bloed, en die werk kom tog eindelik klaar.
“Toemaar, toemaar Boetie,” sus sy die kleine terwyl sy haar wolonderhemp bo-oor die ander klere vir hom aantrek. Versigtig lê sy hom diep in die miershoop neer, so veilig en beskut as wat sy dit in hierdie nag kan doen.
Daar is nog net één ding oor voordat sy ook sal rus. Die meisie vly haar met haar rug teen die opening in die miershoop aan om so die storm met haar naakte lyf nog verder af te keer.
Die wind het effe bedaar, en die sneeu val vinniger en hoop in drifsels teen haar op, maar sy voel haar liggaam nie meer nie. Net haar hart is lig en warm. Sy swewe.
Die volgende oggend met ligdag en kalmer weer toe haar mense haar daar kry, het Racheltjie de Beer lankal in die dood verstyf.
Maar haar boetie lewe.