VOORTREKKER-PIONIERS (12)

Dr JP Botha

Lees reeks by Voortrekker-pioniers

Die skeuring in die gemeenskap  (3)

Hierdie daad van die hoofkommandant het ten gevolg gehad dat sy teenstanders die  volgende dag onder leiding van Hans van  Rensburg gewapend op Strydfontein opgedaag het om die loslating van Burgers te eis.

Die gevaar van ‘n noodlottige burgeroorlog het twee dae gedreig om ‘n aaklige werklikheid te word, maar gelyk is op 13 Februarie aan albei kante besluit om vier verteenwoordigers aan te stel in ‘n poging om tot ‘n vergelyk te kom.  Die agt afgevaardigdes het namens hul partye besluit dat al Potgieter se persoonlike dokumente en die oorspronklike notule van die volksraad die volgende Saterdag aan die hoofkommandant oorhandig sou word nadat daar behoorlike afskrifte van gemaak is.  Jacobus Burger sou onmiddellik vrygestel word, waarna almal hul wapens sou neerlê en geen vyandelikhede meer sou pleeg nie.  Daar is verder ook afgespreek om op 24 Februarie 1847 ‘n publieke vergadering by die raadsaal op die dorp te hou, waar die geskille verder uit die weg geruim sou word.

Op die afgespreekte dag het die hoofkommandant twee verteenwoordigers, Frans Pretorius en Louis van Wyk, gestuur om die papiere in ontvangs te gaan neem.   Hulle het egter onverrigtersake teruggekeer en daar is beweer dat Johannes Grobler selfs van hulle wou weet of hulle dan nie gedoop is nie, omdat hulle dan van plan sou wees om die dokumente te verbrand.

As gevolg van die versuim van die volksparty om sy belofte na te kom,  het Potgieter hom nou gereed gemaak om die staatsdokumente met geweld te bemeester en met die oog daarop het hy sy mense begin opkommandeer.  Hy was nou gladnie meer van plan om die publieke vergadering wat belê is om die geskille uit  die weg te ruim, by te woon nie en het dan ook nie daar opgedaag nie, al het die vier volksraadsverteenwoordigers hom op 24 Februarie skriftelik daaraan herinner dat die publiek volgens die ooreenkoms van die 13e te Ohrigstad vergader was om die geskille uit die weg te ruim.  Dit was nou aan die vier verteenwoordigers van elkeen van die partye gelaat om die moeilikhede op te los en die publiek te oortuig van die regverdigheid van elkeen se saak en hulle het nie op hulle laat wag nie.

Eers het die vier verteenwoordigers van die volksraadsparty, JC Klopper, JH Grobler, DJ Joubert en JF Schutte, op die 20e aan Potgieter geskryf dat hulle nie op die vorige Saterdag die dokumente kon oorhandig nie omdat hulle eie volksraadspartyondersteuners hulle die papiere met geweld hebben ontnomen en hulle dus nie die ooreenkoms kon nakom nie.  Die volksraadsondersteuners het self vier dae later by monde van JC Esbag, WA Bester en sewe ander in ‘n brief aan die Potgietermense laat weet dat hulle nooit van plan was om die dokumente te oorhandig nie, maar dat hulle dit aanvanklik beloof het net om bloedvergieting te voorkom.

In hul aantwoord het die vier verteenwoordigers van die Potgieterparty, PFJ Pretorius, PC Minnaar,  JGS Bronkhorst en MJ Fourie as voorwaarde tot samewerking die afstand van die dokumente geëis en die teëparty as verraaiers bestempel, maar die volksraadsparty het botweg geweier om aan hierdie eis te voldoen en het verklaar dat die dokumente aan die volksraad behoort, dat Potgieter se “hoofbestierderskap” deur die raad geweier is, dat Burger se gevangeneming verraderlik was, dat hulle hul nie aan ‘n éénmanregering sou onderwerp nie en het verder ‘n onpartydige ondersoek geëis om te bepaal aan wie die dokumente werklik behoort het.

Uiteindelik het die twee partye, moeg van die twisgeskryf wat tot niks gelei het nie, elkeen ‘n afvaardiging benoem wat bestaan het uit ses persone om ‘n ooreenkoms ter beslegting van die verskille op te stel vir goedkeuring en bekragtiging deur die publiek.  Dat dit slegs van heel voorlopige aard sou wees, was van die staanspoor af duidelik want die twee teenpartye het onversoenlike standpunte gehandhaaf waarvan hulle nie geneë was om af te wyk nie.

Die Potgietermanne se houding, gegrond op die besluit wat met die trek na Ohrigstad geneem is, was dat Potgieter opperkommandant was, dat alle kommandante van elders hulle aan hom sou moes onderwerp en dat die raadsparty op geen groter besitsreg op die bewoonde gronde aanspraak kon maak as hulle teenstanders nie.

Hierteenoor het die mondstukke van die volksraad die oppergesag van die hoofkommandant in twyfel getrek en dié standpunt verkondig dat, ofskoon almal gelyke aanspraak op die grond in die gebied besit, elkeen sy plaas slegs deur vergunning van die volksraad besit, wat deur die publiek en die hoofkommandant daartoe gemagtig is.

Die ooreenkoms wat op 2 Maart 1847 deur albei die partye goedgekeur en deur die twaalf afgevaardigdes onderteken is, was dan inderdaad niks anders as ‘n wapenstilstand waardeur niks besleg is nie.  Daar is naamlik besluit dat die wapens neergelê sou word  en ieder party stil en rustig naar huis sal terugkeeren en dat die Hollander Smellekamp, in wie albei partye ‘n grondelose vertroue gestel het, as arbiter in die saak sou optree.  Totdat hy eendag opdaag, sou nie een van die twee partye intussen gedwonge wees om die regeringsvorm van die ander te erken nie.  Daar sou egter militêre samewerking wees wanneer ‘n inval van enige inboorlingstam die veiligheid van die nedersetting bedreig.  Dit skyn asof die volksraad hiermee wou erken dat die militêre organisasie van Potgieter vir die veiligheid van Ohrigstad onontbeerlik was.

JJ Burger, die leier van die volksraadsparty, het van die wapenstilstand gebruik gemaak om Smellekamp wat hy reeds in 1842 in Natal ontmoet het, ten gunste van sy party te probeer beïnvloed.  Op 10 April 1847 het hy naamlik ‘n brief aan hom gerig waarin hy dit voorstel asof die bestaande moeilikhede en onenigheid daaruit voortgespruit het dat die Potgieterparty so lank sonder wet en orde geleef het en dat hulle al ongewoon daaraan geraak het en dit derhalwe nie kon vind met die volksraadsparty wat voorstanders van beskawing en gereëlde wette was nie.

In dieselfde gees het ander lede van die volksraadsparty hulle daarop bly toelê om Potgieter swart te smeer en onder verdenking te probeer bring.  So het AJ de Lange bvoorbeeld die hoofkommandant van allerlei vergrype teenoor naturelle by die raad kom verkla, terwyl  veldkornet  JL du Preez  weer beweer het dat Potgieter die plan sou opgevat het om die hulp van Sekwati en Sebitiela teen die volksraad in te span.  Die begerigheid van die raad om hierdie nuwe spoor te volg, blyk uit die feit dat daar selfs ‘n verklaring van die baster Doris Buis in dier voege afgeneem is om die beweerde wandaad van Potgieter te probeer staaf.

Ten slotte het prominente lede van die volksraadsparty hulle persoonlik na Wes-Transvaal, na die omgewing van Potchefstroom en Mooirivier begewe om die saak van die volksraad aldaar te propageer.  Hulle het gewerk onder leiding van JH Grobler, wat met dié doel voor oë  in 1947 vanaf Ohrigstad na Potchefstroom afgereis het.  Hy is ‘n jaar later deur nog drie ander persone gevolg wat Mooirivier en omstreke sou deurgaan met die doel om het publiek aldaar in te ligten aangaande onze Staats aangelegenheden. Blykens alle getuienis het hulle sukses behaal.  Potgieter, die pionier van Wes-Transvaal het as gevolg van hul propaganda heelwat gesag in daardie geweste ingeboet.  Selfs van sy ou ondersteuners soos landdros JH Visagie het van hom afvallig geword en die tweedrag te Ohrigstad het nou ook na die weste versprei.