Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ghandi het op 'n keer gesê: "Julle Christene het 'n dokument in julle besit met genoeg dinamiet daarin om die hele beskawing op te blaas; om die wêreld onderstebo te keer, om vrede na hierdie oorlggeteisterde wêreld te bring. Maar julle lees dit asof dit net goeie literatuur is!" Wat 'n skandvlek op ons Christendom!
VERRAAD VAN SMUTS EN BOTHA…
…OM GENERAALS DE LA REY, BEYERS, DE WET EN KOMMANDANT JOPIE FOURIE TE VERMOOR.
Generaal Maritz se ooreenkoms met die Duitsers
en die Rebellie van 1914
Toe Maritz hierdie ooreenkoms (die oorspronklike is in Afrikaans vertaal en hier onder te lees) met die Duitsers van Suid-Wes-Afrika op 17 Oktober 1914 aangegaan het, was die moontlikheid nog groot dat alle bepalings daarin vervat, aan albei kante uitgevoer kon word, want die rebellie teen Louis Botha se deelname aan die Europese oorlog aan Engelse kant en sy plan om Duits-Suid-Wes te gaan aanval, was besig om sterk weerstand te ontwikkel in die rebellie wat daardeur ontketen is.
Die Unie van Suid-Afrika het met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 reg gehad om uit die maalstroom van oorlogvoerendes te bly, maar Engeland het die Unie gevra om die Duitse hawens aan die weskus en Windhoek te gaan beset en hulle sterk radiosenders buite werking te stel.
Louis Botha het ingewillig en die Volksraad het hom met 92 teen 12 stemme gesteun, totaal onder sy misplaasde Britse invloed en onbewus wat sou volg.
Generaal Koos de la Rey was nie daarmee gediend nie. Daar het veral in die Vrystaat en Wes-Transvaal ontsteltenis geheers oor die regering se planne. Minder as ‘n jaar tevore, is op 16 Desember 1913, die Vrouemonument te Bloemfontein, ter gedagtenis aan die groot aantal vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe agv van die Engelse omgekom het, onthul. Daar was duisende Afrikaners wat onder geen omstandighede vir Brittanje die wapen sou opneem nie. Generaal CF Beyers, hoof van die weermag, het sy pos bedank. Generaal De la Rey het die burgers van Lichtenburg opgeroep om op 15 Augustus 1914 byeen te kom.
Tydens die vredesonderhandelinge by Vereeniging in 1902 na afloop van die Eerste Vryheidsoorlog, het Botha vir De la Rey en De Wet omgehaal om die stryd te staak, met die belofte dat met die eerste geleentheid waar Engeland weer in ‘n Europese oorlog betrokke raak, hulle, die generaals, die vryheid van die Republieke weer sou kon terugvat.
Met daardie belofte in gedagte het De la Rey die middag van 15 September saam met Beyers in ‘n motor uit Pretoria vertrek. Hulle sou oor Johannesburg na Potchefstroom gaan om sake met die weermag te reël. Toe die motor by Langlaagte by ‘n beheerpunt nie wou stilhou nie, het die polisie gevuur en generaal De la Rey dodelik getref. Hy het in sy vriend, generaal Beyers se arms gesterf. Die padblokkade was glo opgestel om ‘n rowerbende te vang maar dit was ‘n front. Die groot skare van duisende mense wat sy begrafnis op Lichtenburg bygewoon het, was diep bewoë en het die regering die skuld gegee vir die ou krygsman se dood. Hulle het gesê en geweet dat hy opsetlik doodgeskiet is omdat sy aanhang en invloed groot was en Smuts en Botha bang vir hom was.
Sy dood het ‘n wydverspreide onrus tot gevolg gehad. Oral in Wes-Transvaal en ook in die Noord- Vrystaat is oproerige vergaderings gehou. Majoor JCG Kemp en luitenant-kolonel SG Maritz het betrokke geraak. Kemp was in bevel van ‘n oefenkamp by Potchefstroom en Maritz by een te Kakemas.
Maritz het op 20 Oktober 1914 met sy manskappe die grens oorgesteek en hom by die Duitsers gevoeg en op eie houtjie gerebelleer. Botha het reeds op 12 Oktober krygswet afgekondig en die burgers opgeroep om die rebellie te onderdruk. Toe het die ontevredenes in die Vrystaat en Transvaal hulle eie kommando’s op die been gebring. Hulle het by Kopjes op 22 Oktober 1914 besluit dat generaal De Wet in die Vrystaat en generaal Beyers in Transvaal die leiding sou neem. Binne enkele dae was feitlik elke dorp in die Noord-Vrystaat deur die rebelle beset en Wes-Transvaal aan die rebelleer. In die Vrystaat was hul getal sowat 7 000 man. In Transvaal was dit ongeveer 3 000 en in Kaapland om en by 2 000, wat die wapen in verdediging teen die regering opgeneem het.
Generaal De Wet het weswaarts beweeg met die doel om by Maritz aan te sluit, maar hy moes uiteindelik op 1 Desember 1914, met net ‘n paar man by hom, naby Kuruman aan Botha se Afrikanertroepe oorgee. Hier kon die donker magte agter die skerms nie daarin slaag om De Wet om die lewe te bring nie maar het hy bitter gely in die tronk.
Generaal Beyers, wat uit Wes-Transvaal na die Vrystaat beweeg het, se mag is herhaaldelik aangeval en verstrooi. Beyers is met ‘n paar man by hom, deur Botha se troepe agtervolg. Beyers is in die Vaalrivier dood, onderwyl hy en sy manne deur die rivier geswem het om hul agtervolgers te ontduik Die front was dat hy verdrink het, maar daar is vas geglo deur diegene wat weet, dat hy gesterf het deur ‘n koeël wat hom getref het.
Met Beyers se dood en De Wet in die tronk, was die rebellie feitlik onderdruk in die Vrystaat en Transvaal. In die omgewing van Pretoria was daar egter nog ‘n paar manne wat hardnekkig voortgeveg het en die regeringstroepe swaar verliese toegedien het. Hulle aanvoerder, kommandant Jopie Fourie, het nie as weermagoffisier bedank toe hy by die rebelle aangesluit het nie. Toe Jopie na ‘n hewige geveg op 16 Desember 1914 uiteindelik die wapen neerlê, is hy voor ‘n krygshof gedaag en ter dood veroordeel. Afrikanerleiers het om begenadiging en versagting van hierdie vonnis gepleit. Jan Smuts, die minister van verdediging, wou hulle nie te woord staan nie en het letterlik gaan wegkruip tot die moord afgehandel is. Jopie Fourie is op Sondagmôre, 20 Desember 1914 onregverdiglik voor ‘n vuurpeleton tereggestel. Toe eers het Smuts weer te voorskyn gekom.
In die verre noord-weste van Kaapland het Maritz nog uitgehou saam met Kemp. Maritz het daarna na Suid-Wes gevlug en Kemp het op 2 Februarie 1915 met sy eie en Maritz se mag oorgegee. Daarna is die 1914-rebellie beëindig want die leierskorps is geëlimineer.
Daar het 190 rebelle en 132 regeringsmanne gesneuwel. Van 12 000 rebelle is 281 voor die hof gedaag. Tronkstraf (maksimum 7 jaar) en boete (maksimum 2 000 pond) is opgelê. Alle rebelle-gevangenes is voor die einde van 1916 vrygelaat, maar Botha en Smuts is voortaan deur ‘n groot deel van die Afrikaners gebrandmerk as handlangers van Brittanje en verraaiers van die Afrikaner, soos ook die geval was.
So het daar niks tereggekom van die bepalings van die ooreenkoms wat generaal Maritz met die goewerneur van Duits Suid-Wes-Afrika in 1914 gemaak het nie, so jammer!
OOREENKOMS
Aangegaan deur en tussen die Keiserlike Goewerneur van Duits Suid-Wes-Afrika, as verteenwoordiger van sy eerbiedwaardige Majesteit, die Keiser van Duitsland, en Generaal SG Maritz, wat namens en ten behoewe van ‘n aantal offisiere en manskappe handel, wat bereid is om Suid-Afrika onafhanklik te verklaar, te wete:
- Generaal SG Maritz het Suid-Afrika onafhanklik verklaar en die stryd teen Engeland begin.
- Die Regering van Duits Suid-Wes-Afrika erken alle Suid-Afrikaanse strydmagte wat teen Engeland veg, as oorlogvoerende magte en sal hulle na verdere ooreenkoms teen Engeland ondersteun.
- Indien hulle daarin slaag om Brits Suid-Afrika geheel of gedeeltelik onafhanklik te proklameer, sal die Keiserlike Goewerneur alle middels aanwend om hierdie staat of state so spoedig moontlik deur die Duitse Ryk erken te word en aan die algemene vredesluiting deel te neem.
- In agneming van sodanige verleende hulp, sal die nuwe staat of state geen beswaar hê indien die Duitse Ryk Walvisbaai en die eilande wat teenoor Duits Suid-Wes-Afrika lê, in besit neem nie.
- Die Dal-pad van die Oranjerivier sal in die toekoms die grens vorm tussen Duits Suid-Wes-Afrika en die Kaap.
- Die Duitse Ryk sal nie beswaar maak indien die nuwe staat Delagoabaai in besit neem nie.
- As hierdie opstand misluk, mag die opstandelinge vir asiel na Duitse gebied vlug, waar hulle as Duitse bondgenote behandel sal word.
Aldus gedaan en geteken te Keimoes op die 17e Oktober 1914.
Geteken: S G Maritz
B von Sastrow, Keiserlike Magistraat, as verteenwoordiger van die Keiserlike Goewerneur van Duits Suid-Wes-Afrika.