Deur G Norval uit sy boek “In die Smeltkroes”
Daar was etlike bejaarde burgers bo 65 jaar wat vir oorlogsdiens aangemeld en aktief aan die Engelse oorlog deelgeneem het. Aanvanklik het bejaardes opdrag gekry om belangrike plekke in die begin van die oorlog te bewaak. Later het sommige bejaarde burgers vrouelaers opgepas en beskerm teen moord- en rowerbendes wat in afwesigheid van die burgers op plase rondgesluip het. Alle bejaarde burgers wat in Britse hande geval het, of hulle geveg het al dan nie, was in oorsese kampe in Bermuda en Ceylon geïnterneer.
Een merkwaardige bejaarde, was ‘n 80-jarige ou oom, wie se naam ongelukkig nie opgeteken was nie en wat sy staal gedurende Julie 1900 gewys het tydens die omsingeling van duisende Oos-Vrystaters in die Brandwaterkom tussen Fouriesburg en Ficksburg. Soldate van die Skotse Lovat Scout regiment het die nanag van 24 Julie voor sonop Retiefsnek in die Witteberge uitgeklim en met sonopkoms het hulle geen Boere by die nek aangetref nie. Maar daar was een oubaas wat met ‘n ou poenageweer (‘n 1880 Martini Henry) en ‘n bokvelbandolier met 300 patrone, op die soldate aangelê het.
Hy was man alleen, sonder jas, kombers of warm kledingstuk, ‘n man wat die koue nag en sneeustorms getrotseer het om sy deel te doen om die vyand te knou. Skielik het hy ‘n skoot afgetrek wat deur die kranse heen en weer ge-eggo het. ‘n Skot het geval en daarna het nog Skotte met tussenposes teen die ysbedekte skuinste afgerol, terwyl eggo’s galm deur die berge en valleie. Die Skotte kon nie uitmaak waarvandaan die skerpskutter skiet nie en sarsie op sarsie was na elke bossie en rots afgevuur.
Dan maar weer: “kadoeeee…. kadoeeee….” en nog ‘n Kakie rol van die skuinstes af. Uiteindelik het die Skotte sy posisie bepaal, hom bekruip en gehensop. Tot hul verbasing en verwondering, het hulle ‘n 80-jarige oom met wapens uit toeka se tyd gevind nadat hy 150 patrone op hulle gevuur het. Hulle het slegs ‘n knapsak met ‘n paar droeë mielies daarin gevind toe hulle hom deursoek het. Hierdie ou oom het beslis ‘n standbeeld of ten minste ‘n medalje verdien.
“...yerr be brave, but ye should’ne bin’ shooting hon us, we’re Scots, yerr friends, ol’ grandad. Had dem Brits or Aussies caught yer, ye would be done fer, dey doont take no shootin’ on dem lightly.”
Wat sy lot verder was, is onbekend. Teen die einde van Julie was bykans 4000 Vrystaters naby Fouriesburg gevang, maar op daardie stadium van die oorlog was alle burgers bo 65 jaar huistoe gestuur, terwyl die res na Ceylon verskeep is. Moontlik was die ou brawe oom ook vir eers huistoe en dalk eers later oor die see gestuur, toe alle manlike persone van 8 tot 80 as bannelinge weggestuur is.
De Jager skryf oor die 70-jarige TJC Bothma van Frankfort wat ‘n Britse kolonne voorgelê het: Die Britte was oppad met gevange vroue en kinders na Heilbron konsentrasiekamp. Hy het ‘n paar Kakies van hul perde afgeskiet en daarna het die Kakies hom van alle kante bestorm en doodgeskiet. Baie mense wat in benoudheid verkeer of terugslae ervaar, mag voel dat hulle niks meer het om te verloor of om voor te lewe nie en kan desperaat optree. Wat ookal die rede, dit verg ‘n brawe man om ‘n oormag aan te vat met die wete dat dit jou lewe gaan kos.