ANDRIES HENDRIK POTGIETER

ONS EIE HELDE (2)

Dr JP  Botha

Lees reeks by Ons eie helde

Van Hendrik Potgieter, die leier van die tweede trek, wat die Kaapkolonie vroeg in 1836 verlaat het, is meermale gesê dat hy maar altyd na die noorde gehunker het omdat hy in Natal nooit enige heil gesien het nie, aangesien hy hierdie gebied as nog te na aan die Engelse beskou het.  Maar dit is bo alle twyfel waar dat hy dié pionier is wat die republikeinse gebied wes van die Drakensberge vir die Voortrekkers gewen het.  Hy het die gebied tussen die Vet- en die Vaalrivier van die naturellekaptein Makwana vir die Voortrekkers geruil, die Oorvaalse streek van die naturellegevaar gesuiwer en vir die Voortrekkers bewoonbaar gemaak.

Ek stel Potgieter verder self aan die woord:

My trek, wat die Tarka teen die end van 1835 verlaat het, het aanvanklik net uit 35 weerbare mans bestaan, maar dit het op pad gaandeweg aangegroei.  Naby die huidige Smithfield het ‘n trek uit Colesberg onder Sarel Celliers by ons aangesluit.  Ons trek het toe al 200 siele getel, waaronder ook Stephanus, Gert en Casper Kruger.  Laasgenoemde was die vader van die latere staatspresident Paul Kruger.

Ons het tot by Thabansjoe beweeg en daarvandaan stadig tot aan die Vetrivier.  Hier het ek vir 49 beeste van die Batuang-kaptein Makwana, die noordwestelike Vrystaat vanaf die Vet- tot aan die Vaalrivier geruil en later die Republiek Winburg hier geproklameer.  Ek wou graag vir hierdie gebied verbinding met die see bewerkstellig, deur met die Portugese in Lourenco Marques in aanraking te kom.  Daarom het ek ‘n ekspedisie georganiseer om in die noorde na Louis Trigardt en Jan van Rensburg, die leiers van die eerste trek, te gaan soek om saam met hulle deur die Portugese gebied, handelsverbinding met die see te soek.  Ek het Trigardt by die Doornrivier aan die Soutpansberg gekry.  Hy het belowe om daar te wag tot ek kom.

Ek was weer op 28 Augustus 1836 met my ekspedisie by die Vaalrivier terug en moes ontdek dat die Matebele-opperhoof, Mzilikazi, drie dae tevore ons vooruitgeskowe laertjies aangeval het. ‘n Aantal van ons mense het in my afwesigheid reeds deur die Vaalrivier beweeg en in twee groepe laer getrek.  In die grootste een daarvan was 30 weerbare manne en seuns onder aanvoering van  Johannes Botha en Hermanus Steyn.  Hulle het die aanval wat deur ongeveer ‘n duisend Matebeles geloods is, afgeslaan.  Die ander laertjie, onder aanvoering van die Liebenbergs, is onverhoeds gevang en ongeveer 24 mense is daar vermoor en drie kinders deur die Matebeles weggevoer.

Ek het besef dat dit maar Silkaats se voorhoede was en dat ons spoedig ‘n  verwoede aanval te wagte kon wees.  Daarom het ek ons mense dadelik almal in twee groot groepe laat saamtrek, die een by die Vetrivier en die ander by die plek wat later Vegkop genoem is.

Hier by Vegkop het ‘n sesduisend uitgesoekte vegters onder Silkaats se hoofgeneraal, Kalipi, ons goedverskanste laer op 16 Oktober 1836 aangeval, maar kon nie deurdring nie. Daar het egter 500 van hulle rondom die laer gelê toe Kalipi na ‘n uur se verwoede aanval die aftog blaas.  Hulle het al ons trekosse en ander vee weggevoer.  Ek het met ‘n patrollie uit die laer gejaag en  hulle tot sononder agtervolg, maar kon niks van ons vee weer terugkry nie.

Die toestand in die laer het na ‘n paar dae uiters haglik geword weens die stank van die ontbindende lyke, sodat die mans maar naderhand die waens een-een weggesleep het, voordat daar uiteindelik vir ons hulp opgedaag het.  Maritz het vanaf Thabansjoe vir ons weer trekosse gestuur.

Die Matebelegevaar moes uitgewis word.  Ek en Maritz het vroeg in Januarie met ‘n kommando van ongeveer ‘n honderd manne vir Silkaats in sy hoofkraal, Mosega, gaan aanval.  Ons het die Matebeles holderstebolder op die vlug gedryf, hul statte verwoes en duisende stuks  vee teruggeneem.

In April 1837 was  ons reeds 5 000 siele bymekaar by Thabansjoe toe Piet Retief met meer as 100 families daar opdaag.  Hy is gekies as goewerneur van die Trekkers en Maritz as landdros.  Hulle het besluit om Natal toe te trek, maar ek het besluit om nog verder noordwaarts te gaan. Toe kom daar nog ‘n trekgeselskap van meer as 100 siele onder Piet Uys by Thabansjoe aan.  Ek het Uys beweeg om saam met my weer vir Silkaats te gaan aanval, want die Matelegevaar moes uit die weggeruim word.

Ons het met ‘n verenigde kommando van 360 burgers, vergesel van osse- en perdewaens aan die begin van November 1837 noordwaarts vertrek.  Ons het hom in sy tweede hoofkraal, Kapain, gaan aanval.  Ons het in ‘n negedaagse slag vanaf Meseg tot anderkant Kapain die vyand verslaan en hulle voortgedryf deur die Dwarsberge se eerste poort en tweede poort en toe hulle nog aan die vlug was in die rigting van Derdepoort, het ons maar omgedraai.

Ons het die Matebele totaal verslaan en Mzilikazi of Silkaats se mag vir goed gebreek en Transvaal van sy moord- en roofbendes gesuiwer.

Retief en Maritz  het met hul mense na Natal getrek en  Sarel Celliers het hulle met sy groep gevolg. Later het Piet Uys ook daarheen verhuis. In Februarie 1838 het ons berig ontvang van die verraderlike moord op Retief en sy manne in Dingaanstat en van die treurspele wat by Bloukrans en Boesmansrivier plaasgevind het.  Ek het ‘n kommando op die been gebring en in Natal by Piet Uys aangesluit om die Zoeloes vir al hierdie moorde te gaan straf.  Ek en Uys sou ons burgers afsonderlik aanvoer.  By Italeniberg is ons in ‘n hinderlaag gelok, wat ek gelukkig betyds gewaar het.  Uys was egter ‘n bietjie te voortvarend en is met sy manne deur die Zoeloes omsingel, maar ons het daarin geslaag om vir hulle ‘n pad oop te skiet waarlangs hulle kon uitvlug.  Piet Uys self, sy seuntjie Dirk en agt burgers kon ongelukkig nie ontkom nie en het die dag daar gesneuwel.

Ek is terug na my wêreld in Transvaal en het aan die Mooirivier op Oudorp, Potchefstroom, ‘n nuwe aanleg gemaak.  Ons het beoog dat dit die hoofstad van ons Voortrekkerrepubliek moes word, maar nadat Andries Pretorius Dingaan by Bloedrivier verslaan het, het hy en die Trekkers daar die Republiek  Natal opgerig en het ons aan die westekant van die Drakensberg deel daarvan uitgemaak.  Maar toe die Republiek na drie jaar in 1843 deur die Engelse geannekseer word, het  ek vir hulle laat weet dat hulle anneksasie my nie tref nie en dat ek hier in Transvaal volkome onafhanklik bly.

Ons kon nou nie meer op die Natalse hawe vir handelsdoeleindes reken nie, want dit was nou in Engelse besit en daarom is ek in 1843 met ‘n kommissie na Delagoabaai om met die Portugese te gaan reëlings tref.  Toe ons daar aankom, het ons ‘n predikant, ds. Ham, daar ontmoet, wat bestem was om ons Voortrekkers geestelik te kom versorg.  Ds Ham is daar afgelaai deur ‘n sekere JA Smellekamp, wat met die skip die Brazilië, deur ons Hollandse vriende gestuur is om met ons Trekkers handel te dryf.  Smellekamp het eers Port Natal aangedoen, want hy het nie geweet dat die hawe nie meer in ons besit was nie.  Die Engelse wou hom nie daar toelaat nie en daarom het hy na Delagoabaai geseil waar ons ds Ham toe aangetref het.  Daar was ook ‘n onderwyser vir ons op die skip, ene Martineau, wat intussen op see oorlede is.  Ds en mevrou Ham het in Lourenco Marques agtergebly en gehoop om ons Trekkers in die binneland op een of ander manier te bereik, maar tydens haar bevalling is mev Ham en haar baba albei in Lourenco Marques oorlede, terwyl ds Ham malaria opgedoen het.  Onder hierdie omstandighede het hy nie meer kans gesien om saam met ons te gaan nie en wou hy maar liewer na sy vaderland terugkeer.

Smellekamp se koms na Delagoabaai het my laat besluit om weer ‘n kommissie daarheen te organiseer om met die Portugese te gaan onderhandel oor handelsmoontlikhede.  Ek het die tog in die somer van 1843 van agter die Magaliesberg met 80 Winburgers en Potchefstromers onderneem, maar weens vol riviere en die tsetsevlieggevaar, moes ons omdraai en tot die winter van 1844 wag voordat ons weer op die lang, ongebaande pad na Delagoabaai was met ‘n aantal ossewaens en gedeeltelik te perd.

Toe ons uiteindelik die berg oor is en na die seevlakte begin afdaal, het ons die waens weens die moeilike terrein onder die sorg van die helfte van ons geselskap gelaat en met die res die tog te perd voortgesit tot in die baai, waar ons gelukkig vir Smellekamp aangetref het na sy terugvaart vanaf Batavia en hy op die punt gestaan het om na Holland te vertrek.

Hy, en trouens ook die Portugese goewerneur, het ons aangeraai om ons net noord van die 26e breedtegraad, buite Engelse invloedsfeer en nader aan die Portugese hawe te vestig, sodat daar met Holland en ander lande ‘n gereëlde handel tot stand kan kom.  Ons het besluit om dit te doen en het met nuwe moed die lang terugreis aanvaar.

Toe ons die stroom bereik waar ons die walaer twee maande tevore agtergelaat het, was hulle weg.  Ons sou net ‘n maand wegbly en toe dit twee maande word en ons nie opdaag nie, het hulle gedink dat ons almal omgekom het.  Hulle het toe die rivier waar hulle gelaer was, die naam Treurrivier gegee en in ‘n treurige stemming die terugreis aangevang.  Hulle was egter nouliks by die volgende rivier toe ons perdekommando op pad van die baai af hulle inhaal, met die gevolg dat hulle hierdie rivier toe die naam Blyderivier gegee het.

Ons ekspedisie was teen Augustus 1844 weer te Magaliesberg terug en ek het toe reëlings begin tref vir ons verhuising na Oos-Transvaal.  Die mikpunt van ons trek was na ‘n plekkie wat spoedig nadat ons daar gevestig was, die naam Ohrigstad gekry het.  Dit is so genoem na Georg Ohrig, die Hollandse mede-eienaar van die handelsmaatskappy wat sy kantoorbediende, JA Smellekamp as opperstuurman met die skip, die Brazilië, na Port Natal gestuur het.

Ons nedersetting te Ohrigstad was feitlik van die begin af ‘n mislukking.  Die beoogde handel met die buitewêreld deur die Portugese hawe in Delagoabaai kon nie op dreef kom nie.  Ons het gehoop dat Smellekamp vir ons van Holland af in ons lewensbehoeftes sou voorsien, in ruil vir wat ons sou kon aanbied, soos velle, horings en ivoor.

Smellekamp was in 1848 weer in die hawe met ‘n skip, die Animo, met ‘n vrag handelsware, maar die Portugese wou hom nie laat land nie omdat hy nie onder Portugese vlag geseil het nie.  Vroeg in 1851 het hy sy laaste poging aangewend om ons te bereik toe hy met die Portugese skip, die Vasco da Gama, weer in die baai was.  Die artikels wat ons gebring het, was swak op prys en dié wat Smellekamp gebring het, was peperduur.  Daarby het die Portugese owerheid ‘n afsydige en onsimpatieke houding teenoor ons ingeneem.

Ons besoeke aan die baai het nooit ooreengestem met Smellekamp se aankoms aldaar nie.  Die pad na die baai was besmet met malariamuskiete en tsetsevlieë.  ‘n Tog na die baai was ‘n gevaarlike onderneming wat net in die winter met ‘n mate van sukses onderneem kon word.

Op Ohrigstad het twis en tweedrag gou sy kop uitgesteek.  Daar het ‘n aantal Trekkers uit Natal hier by ons ingetrek wat nie daar onder die Engelse juk wou buk nie.  Hulle het ‘n volksraad van agt lede gekies wat my nie as hoofkommandant en bestuurder van die nedersetting wou erken nie.  Toe die getwis tussen die Volksraadparty en die Potgieterparty te groot word, het ek my mense bymekaar gemaak en Ohrigstad vroeg in 1848 verlaat en aan die hang van die Soutpansberg op ‘n geskikte terrein ‘n nuwe dorp gestig en die nedersetting Schoemansdal aangelê.

Daarna het die volksraadaanhangers ook uit Ohrigstad weggetrek en op ‘n hoërliggende terrein ‘n nuwe dorp aangelê en dit Lydenburg genoem, omdat die malariamuskiet op Ohrigstad  baie menselewens geëis het.

Onderwyl ek en my aanhangers ons in Schoemansdal gevestig het, kon Andries Pretorius dit nie meer op sy plaas Welverdiend in Natal onder die Engelse uithou nie en het Natal met ‘n aantal volgelinge verlaat en hulle in die Rustenburgse wêreld gaan vestig. In 1848 het hy met die mislukte Slag van Boomplaas probeer om die Vrystaat uit die hande van die Engelse te verlos.  Omdat Pretorius daarna steeds gedreig het om die Vrystaters te hulp te snel, wou die Engelse hom daar weglok deur aan die Voortrekkers in Transvaal onafhanklikheid toe te ken deur die Sandrivierse konvensie van 16 Januarie 1852.

So het ek en hy, as die eerste twee kommandant-generaals van ons vrye Voortrekkerrepubliek, onder ‘n sentrale volksraad, begin om ons duurgekoopte, vrye land te dien.


***

Andries Hendrik Potgieter het daarna nog net een jaar geleef..  Hy het die laaste ses maande van sy lewe in sy huis op Soutpansbergdorp deurgebring en op 16 Desember 1852  sy laaste asem uitgeblaas.  Hy het met ‘n dankbare hart gesterf, want hy was bevoorreg om die totstandkoming  van die Voortrekkerrepubliek waarvoor hy hom so beywer het, verwesenlik te sien.