JOPIE FOURIE

ONS EIE HELDE

Lees reeks by Ons eie helde

Dr JP Botha

" In die vorige oorlog het ek teen die Engelse geveg totdat ek swaargewond in die hospitaal beland het.  Onderwyl ek daar as gewonde gevangene gelê het, het 'n Engelse offisier my met die kolf van sy rewolwer geslaan en my verwond.  Dit het my afkeer in die Engelse nasie versterk, maar ek het my bedwing omdat ek gehoop het dat die Engelse met ons sou saamwerk om weer 'n voorspoedige Suid-Afrika ná die oorlog te help opbou...  Eers het ek 'n baie hoë dunk gehad van generaal Louis Botha en akkoord gegaan met sy siening dat samewerking tussen ons Afrikaners en die Engelse noodsaaklik is vir die heropbou van ons land... My teleurstelling in generaal Botha het egter gegroei... dit het nou met 'n skok vir my duidelik geword dat hy nie meer die Afrikaner van ouds was wat ek geken het nie...  Toe het ek geweet dat hy en generaal Smuts hul Afrikanerharte vir Engelse harte verruil het... Die gebeurtenisse van die aand van 10 Oktober het finaal van my 'n rebel gemaak...  Ek voel baie hartseer oor my arme onderdrukte volk en oor die broederbloed wat alreeds gevloei het, maar ek kan nie anders handel nie... Die doodvonnis is dus in my afwesigheid oor my uitgespreek en bekragtig en generaal Smuts, Minister van Verdediging, het gesorg dat die versoekskrifte wat vir my gepleit het, hom eers na my dood bereik deurdat hy homself onbereikbaar gemaak het. "

Aan die noordelike hang van die mooi ou Magaliesberg waar die bosveld se doringbome

 geleidelik verwissel in karee, soetdoring en blinkblaar-wag-'n-bietjie, is die plaas Hartbeesspruit geleë waar ek, Joseph Johannes Fourie op 28 Augustus 1878 gebore is.   Ek het in die plaasskool te Wildebeeshoek my eerste skoolonderrig ontvang en daarna ek meneer Louis se skool in Pretoria besoek het.  In 1893 het ek en generaal Joubert se seun en nog 'n paar ander Transvalers na die Grey College in Bloemfontein gegaan.  Hier het ek drie jaar lank studeer, maar in 1896 teruggekeer en nadat ek deel gehad het aan Jameson se gevangeneming te Doringkop, weer my studies te Stellenbosch gaan voortsit.

Daarna was ek in Pretoria in die kantoor van die Ouditeur-generaal werksaam totdat die Tweede Vryheidsoorlog uitgebreek het en ek aangestel is as rapportryer in die personeel van kommandant-generaal Joubert.  Ek het in hierdie hoedanigheid die hele Natalse veldtog meegemaak.  Volgens generaal Joubert en sy offisiere het ek my in menige geveg met onverskrokkenheid en kalmte onderskei en my medeburgers tot die stryd aangevuur.  Wanneer daar iemand nodig was om 'n paar manne in die uitvoering van 'n buitengewone diens te lei, het die keuse gewoonlik maar op my geval, hoe moeilik die omstandighede ook al was.  Ek was gewillig om met geesdrif en vasberadenheid my deel by te dra tot die verdediging van ons volk se vryheid.

Na die inname van Pretoria deur die vyand, is ek vir besondere rapportdiens in die afdeling van advokaat Ewald Esselen weswaarts gestuur en na afhandeling van hierdie opdrag, het ek na my bekende ou Magaliesberg teruggekeer.  Ek het by ons kommando aangesluit en na die hoëveld vertrek, om onder my oom, kommandant Willem Pretorius, van die wyk Hoëveld, Heidelberg te dien.

Ek is in 'n skermutseling noord van Pretoria in die been gewond en gevange geneem.  Na 'n paar pynlike operasies het ek darem weer herstel, maar moes daarna maar tevrede wees om half mank te loop.  Gelukkig het dit my beweeglikheid so min gestrem dat ek nog kon presteer as een van die uithaler voetbalspelers in Pretoria se eerste span.

Die oorlog het verbygegaan en ons republieke het ons kosbare vryheid verloor.  Ek is met Susanna Engelmohr getroud en ons het op ons ou familieplaas gaan woon.

Ek het met belangstelling en afwagting waargeneem wat verder op politieke gebied in ons geteisterde land sou plaasvind.  Ek het 'n baie hoë dunk gehad van generaal Louis Botha se prestasies as militaris en sy bekwaamheid as staatsman.  Die feit dat ons so gou na die verpletterende oorlog in 1906 al weer selfregering kon kry en in 1910 in die Unie van Suid-Afrika kon ontwikkel, het ek as prestasies voor sy deur gelê.  Ek het ook hartlik akkoord gegaan met sy siening dat samewerking tussen ons Afrikaners en die Engelse noodsaaklik is vir die heropbou van ons land.

Na die totstandkoming van die Unie se weermag het ek daarby aangesluit en kaptein van die 13e Regiment geword.  So wou ek my land dien en help om weer uit die naweë van die oorlog op te staan en te ontwikkel.  Maar toe breek die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uit en generaal Botha laat die Unie se parlement besluit om Engeland teen Duitsland te steun.  Toe generaal Hertzog daarteen protesteer, word hy uit die kabinet gesit.  Dit kon ek nie goedkeur nie.  Ek het in 1912 generaal Hertzog se vergadering by De Wildt bygewoon en volkome saamgestem dat Suid-Afrika se belang eerste gestel moes word, bo dié van Engeland.

My teleurstelling in generaal Botha het gegroei en ek het my voorgeneem om voortaan fyn op hom te let, want dit het nou met 'n skok vir my duidelik geword dat hy nie meer die Afrikaner van ouds was wat ek geken het nie.  Ek het nog altyd gehoop dat ons Afrikaners en die Engelse in vrede saam in hierdie wonderlike land van ons sou leef, maar op 10 Oktober 1914 het daar 'n ding in die Operagebou in Pretoria plaasgevind wat my oortuig het dat so iets onmoontlik was.

Ek en my vriend, Oswald Teichmann, was daardie aand saam in die stad.  Hy was my buurman en ons wou nog dieselfde aand weer na ons plase terugkeer, maar die weer het so kwaai opgesteek dat ons besluit het om maar oor te bly tot die volgende môre.

Ons het in die middag verneem dat president Kruger se verjaarsdag dié aand met 'n funksie in die Operagebou herdenk sou word.  Ek het gedink dat my rybroek en baadjie nie deftig genoeg was om daarin gekleed na hierdie geleentheid te gaan nie en toe het ek maar 'n beskeie sitplek op die galery gaan inneem waar ek nie so maklik opgemerk sou word nie.  Maar hier op die galery waar ek en nog meer van my vriende ons bevind het, was toe ook 'n groot aantal ongewenste persone teenwoordig wat doelbewus hierheen gekom het om hulle minagting en afkeer te demonstreer teen alles wat 'n sweem van Afrikanernasionalisme gedra het.

Onderwyl ds Herman van Broekhuizen besig was om die byeenkoms met gebed te open, het die klomp uitvaagsels begin skree:  "Britains never, never shall be slaves!" en "Rule Britannia."  Ek sien toe dat hulle van plan was om die verrigtinge heeltemal te verongeluk, want toe daar 'n sangkoor op die verhoog optree, begin hulle luidkeels allerhande straatliedjies sing.  Ek het toe op die been gekom en tussen hulle deur beweeg en in Engels 'n beroep op hulle gedoen om tog respek te betoon vir die geleentheid wat die Afrikaners besig was om hier te herdenk.  Ek moes skree om myself te midde van die lawaai hoorbaar te maak.  Toe generaal Beyers begin praat, het ek vir hulle gesê as hulle nie na hom wil luister nie, moet hulle die saal verlaat.  Ek het vir hulle gesê ons Afrikaners het nog nooit 'n Engelse feesgeleentheid met sulke stuitlike en vieslike gedrag ontwrig nie en sal dit ook nooit doen nie.  Ek het 'n beroep op hulle gedoen om hulle laakbare gedrag te staak.

Toe laat hulle 'n Union Jack van die galery af in die saal neer.  Die vlag het skaars grond gevat of hy word stukkend geskeur.  Dit het 'n geveg ontketen met vrot eiers en tamaties en met stoele wat stukkend geslaan word.

Daar het 'n paar Engelse hulle by my gevoeg en my ondersteun deur die spul onordelikes te betig en te vra dat hulle hul tog as gentlemen moes gedra.  Die lawaai het uiteindelik darem soveel verminder dat generaal Beyers sy toespraak kon voltooi.

Teen die einde van die samekoms daag die polisie onder bevel van majoor Trew by die saal op en sê dat daar 'n woedende skare buite die saal wag.  Die vergadering het verdaag en Trew en 'n paar konstabels moes vir generaal Beyers 'n pad oopveg om by sy motor te kom.  Een van generaal Beyers se helpers is twee maal met 'n mes in die rug gesteek en sy motor se bande is stukkend gesny.  Onderwyl die motor op pap bande wegbeweeg, het die polisie hul geveg teen die beserkte aanvallers voortgesit.

Tydens die rumoerige byeenkoms het 'n prokureur uit die saal geglip en oorgestap na die Pretoria-klub, waar generaal Smuts hom toe bevind het.  Hy het vir Smuts vertel wat in die Opera-gebou besig was om te gebeur en gevra of hy ons nie teen die woedende skare kon laat beskerm nie.  Hy vertel dat generaal Smuts net gelag het.  Daar is dus geen ondersoek na die voorval ingestel nie en die oproermakers is nie vervolg nie.

Die volgende môre - dit was Sondag - het ek na 'n vriend van my in Gezina gery en vir hom gesê dat die skokkende gebeure van die vorige aand vir my bewys het dat die Engelse nog steeds daarop uit was om ons Afrikaners te vertrap en so sal dit bly.  Ek het gevoel of alles wat ek al jarelank vergeet het en alles wat ek ernstig probeer het om te vergeet en te vergewe, nou weet nuut en onkeerbaar deur my bloed pomp.

Voordat ek tot handeling sou oorgaan, wou ek eers seker maak of die regering se beleid bo enige twyfel so onsimpatiek teen ons Afrikanervolk se vryheidstrewe gedraai het en daarom het ek op 24 Oktober 1914 'n onderhoud met generaal Louis Botha gaan voer.  Toe het ek geweet dat hy en generaal Smuts hul Afrikanerharte vir Engelse harte verruil het en dat hulle die volksopstand wat toe al reeds besig was om vorm aan te neem, gaan onderdruk.  Maar ek kon die vuur in my nie blus nie en het besluit om na my mense te gaan en vir ons vaderland en ons vryheid te veg.  Die gebeurtenisse van die aand van 10 Oktober het finaal van my 'n rebel gemaak.

Die Sondag na 24 Oktober het ek en my broer Johannes na Klipfontein gegaan waar ek daardie aand 'n groot klomp mense toegespreek het.  Generaal Beyers was alreeds in die veld en ek het gesê ek gaan ook.  Byna almal van hulle was feitlik onmiddellik gereed om die veldtog onder my as kommandant te begin en verder onder bevel te staan van generaal JJ Pienaar.

So het ek aktief begin deelneem aan die rebellie wat toe al aan die gang was.  Ek en my klein kommando'tjie het aan sowat tien skermutselings met die regeringstroepe deelgeneem.  Ek het in al hierdie botsings nooit aanvallend opgetree nie.  Voor die slag wat op Sandfontein plaasgevind het, het ek aan my manskappe gesê:  "Burgers, ek voel baie hartseer oor my arme onderdrukte volk en oor die broederbloed wat alreeds gevloei het, maar ek kan nie anders handel nie.  Ek moet gehoor gee aan die verhewe idee van
vryheid, reg en geregtigheid.  Vir my is my vryheid en my volk alles.  Dit is nie deur die uitbreiding van glorie of van grondgebied nie, maar vir die voortbestaan van ons godsdiens, taal en  ons nasionaliteit en vir ons vryheid."

Die regeringstroepe het ons weer op 23 November by Hammanskraal met 'n oormag aangeval, maar ons kon redelik heelhuids daarvandaan ontkom.  Die onheil het my en ons klein kommando'tjie egter op Woensdag, 16 Desember 1914 getref toe ons klein laer by Nooitgedacht  deur troepe onder bevel van kolonel NJ Pretorius en 'n afdeling van die polisie onder bevel van majoor Trew aangeval is.  Hier het 10 regeringsmanne gesneuwel en hulle het ook nog 'n verlies gely van 21 gewondes.  Ons het 2 gesneuweldes en 4 gewondes te betreur gehad, maar 45 van my makkers en ek self het in die hande van ons vyand geval.  Generaal Pienaar het gelukkig met drie manskappe ontsnap.  Ons 46 rebelle is die volgende dag met perderuiterbegeleiding te voet na Hornsnekstasie aangejaag, waarvandaan ons per trein na die tronk in Pretoria geneem is.

Die dag daarna, op Vrydag, 18 Desember, staan ek toe voor 'n veld-krygsraad wat in Pretoria in sitting was, tereg op 'n aanklag van verraad.  My prokureur, Fred Kleyn, het vir advokaat Van Hees opgedra om my by te staan.  Later het advokaat dr Gey van Pittius uit sy eie bygekom om ons te ondersteun.

Die staat was baie haastig om sy saak die volgende dag, Saterdag 19 Desember af te sluit, maar het darem aan my geleentheid gegun om die hof toe te spreek.  Ek het onder ademlose stilte van die talryke aanwesiges in die hof opgestaan en gesê dat ek graag wil verduidelik waarom ek op die 16e Desember 'n gewapende mag teen die Britse troepe in die veld gehad het.  Ek is 'n gebore Transvaler, gebore onder die republikeinse vlag.  In die vorige oorlog het ek teen die Engelse geveg totdat ek swaargewond in die hospitaal beland het.  Onderwyl ek daar as gewonde gevangene gelê het, het 'n Engelse offisier my met die kolf van sy rewolwer geslaan en my verwond.  Dit het my afkeer in die Engelse nasie versterk, maar ek het my bedwing, omdat ek gehoop het dat die Engelse met ons sou saamwerk om weer 'n voorspoedige Suid-Afrika na die oorlog te help opbou.  Maar in die afgelope jare na die oorlog het ek nog geen teken van enige samewerking van hul kant af gewaar nie.  In teendeel, ek het ondervind dat waar die Engelse enigsins 'n kans gekry het om ons Afrikaners te verontreg en seer te maak, dit vir hulle blykbaar nog altyd 'n baie groot plesier was om te doen.  Ek daag enige Engelsman uit om te bewys dat ek nie die waarheid praat nie.

Toe daar 'n tyd gelede sprake was van oorlog in Duits-Suidwes, het ek nie daarteen beswaar gemaak nie, alhoewel ek daarteen gekant was, want ek kon nie insien waarom ons regering oorlog moes verklaar teen Duitsland wat ons nog nooit enige kwaad aangedoen het nie.  Ek kon nie insien waarom ons jong Afrikaners moes veg om Engeland se eer te handhaaf nie.  As ons dink aan die Slagtersnek-moord, aan Bloedrivier in Natal en die moord op ons grense te Piet Retief deur die swartes, onder aanvoering van Engelse offisiere gepleeg, en as ek dink aan die 30,000 vroue en kinders wat vermoor is, sien ek nie in waarom ek Engeland se eer moet ophou nie en ek daag enige man uit om te bewys dat ek verkeerd is.

Ek weet die regering beskou my as 'n rebel en is in my teleurgestel.  Maar ek is ook in die regering teleurgestel, wat ek gehelp het om daar te stel en waarvoor ek my bloed opgeoffer het.  Daar word van gelyke regte gepraat.  Gaan maar na die tronk en kry 'n gewone kwitansie vir 'n pyp en kyk of daar één woord Hollands op verskyn.  Waar kom die gelyke regte dan in?

Op 10 Oktober vanjaar het ek na 'n konsert in die Operagebou gegaan, wat ter gedagtenis aan ons geagte president Kruger, op sy verjaarsdag gehou is.  In plaas van om na musiek en toesprake oor die lewe van president Kruger te luister, het ek daar 'n klomp vuil skelwoorde gehoor.  Onderwyl 'n dominee 'n openingsgebed gedoen het, is Rule Britannia in ons kele afgestamp en is drie dames op die verhoog met vrot eiers gegooi.  As dit Britse gelykheid is, dan wil ek nie daaronder leef nie.  Dan is dit vir my 'n groter eer om hier as gevangene te staan, as om 'n offisier in die Engelse leër te wees.  Wat ek gedoen het, is met oop oë en uit eie vrye oortuiging.  Ek is selfs vandag nog oortuig daarvan dat daar nog genoeg mense in die veld is om Suid-Afrika te red.

Daarna het ek my omgedraai na my broer Johannes, wat langs my op 'n stoel gesit het en die hof meegedeel dat alles wat Johannes gedoen het onder my invloed plaasgevind het.  Hy het my bevele en opdragte uitgevoer en daarom vra ek dat die hof in aanmerking moet neem dat hy nog jonk is.  Hy is my jongste broer en hy glo in my.

In hierdie stadium van die hofverrigtinge het ek oor die aanwesiges heen gekyk en die aandagtige maar bekommerde uitdrukkings op die gesigte van my kennisse en vriende wat daar gesit het, opgemerk.  Toe sê ek dat as daar vandag in hierdie hof Afrikaners teenwoordig is wat net soos ek voel en nie godloënaars is nie, sal hulle hul in geen ander woorde as myne kan verdedig nie.  Ek kan nie vals wees nie.  Ek kon dit nog nooit in my lewe wees nie en God sal verhoed dat ek dit ooit word.  My dade het dit bewys. Ek is nie van plan om die hof om genade te smeek nie.  Die genade van my God wat my gelei het, is genoeg.  Maar ek vra net dat die manskappe wat onder my gedien het, genadig behandel sal word.  Hulle was sterk onder my invloed.

Daarna het ek gaan sit, onderwyl daar 'n paar oomblikke lank doodse stilte in die hof geheers het.  Die gespanne atmosfeer was nog voelbaar toe kolonel Moorhead op versoek van advokaat Van Hees die hof moes inlig oor wanneer dit beskou word dat 'n man wat opgeroep word, werklik op aktiewe diens sou wees.

Toe die provoosgeweldige verkies om te swyg en nie die hof toe te spreek nie, het advokaat Van Hees vir my verdediging die hof se aandag gevestig op die feit dat die hof nie oortuig is dat ek op aktiewe diens was nie en gevolglik geen jurisdiksie in hierdie saak het nie en dat ons beskuldigdes voor 'n siviele hof moet teregstaan, want 'n beskuldigde moet op werklike aktiewe diens wees om deur 'n veld-krygsraad verhoor te word.  Hy sê dat die aanklag teen my ook nie een van hoogverraad kan wees nie, maar hoogstens van verraad, wat selde met die dood gestraf word.  Hy is oortuig daarvan dat die hof my broer nie die swaarste straf sal oplê nie, want hy verkeer onder my invloed.  Hy vestig die aandag van die hof op die feit dat ek nie om genade gevra het nie en die mense uitgedaag het om te bewys dat ek nie deur hoë gevoelens gelei is nie.  In elke land is daar mense wat die nasionale vaderlandsliefde bo alle voorregte stel wat die oorwinnaar aan hom toegeken het, en dat by my, kommandant Fourie, my liefde vir my land bo alle ander dinge gaan.  Hy dring by die hof aan om my gevoelens oor die landsomstandighede in ag te neem, ook in die lig van generaal Botha se kennisgewing van 10 Desember, waarin hy nie net die publiek nie, maar ook sy offisiere en troepe aanmaan om te vergewe en te vergeet.

Van Hees het ten slotte gesê hy hoop dat die hof genade sal betoon aan my jong broer en die manskappe wat onder my gedien het en daardeur uitvoering sal gee aan die regering se voorneme om die mense wat teen hom gekant was, te vergewe.

Die hof het daarna verklaar dat hy die vonnis sal oorweeg en toe verdaag.  Ons is na ons selle by die aanklagtekantoor teruggeneem om die Vrydagnag daar in aanhouding deur te bring.

Daardie Saterdag is verskeie versoekskrifte in die stad rondgestuur waarin gevra is dat indien die doodvonnis oor my en my broer uitgespreek word, dit nie voltrek moet word nie.  'n Afvaardiging is saamgestel om hierdie versoekskrifte aan die Minister van Verdediging te oorhandig.  Hulle was dr DF Malan, ds C Neethling, ds HS Bosman, Jan (generaal) Joubert, dr AE Grunberger en dr Gey van Pittius.

Hulle het verneem dat generaal Smuts nie meer op Pretoria was nie, maar op sy plaas te Irene, en hulle moes skriftelike toestemming van kommissaris Truter verkry om na Irene te mag gaan, want die regering het mos toe alreeds krygswet afgekondig.  Toe hulle by generaal Smuts se plaas aankom, het 'n vroulike bediende vir hulle kom sê dat die generaal 'n endjie gaan stap het.  Sy weet nie waarheen hy is nie en wanneer hy weer sal terugkom nie.  Hulle het ruim 'n halfuur daar gesit toe hulle die dreuning van 'n motor agter die huis hoor.  'n Rukkie daarna het die bediende weer kom sê dat die generaal skielik deur die Verdedigingsdepartement na Pretoria geroep is en die motor gestuur het om hom te kom haal.

Hulle het toe na Pretoria teruggekeer en besluit dat dr Malan, ds Bosman en ds Neethling die versoekskrifte aan generaal Smuts persoonlik moet oorhandig, maar hulle kon nie daarin slaag om 'n onderhoud met hom te reël nie en het die versoekskrifte toe aan luitenant Louis Esselen gegee, wat beloof het om dit aan generaal Smuts voor te lê.

Intussen het mevrou Joubert, die weduwee van generaal Piet Joubert, en my eie ou moeder die Saterdagmiddag ure lank in 'n motor rondgery in 'n poging om 'n onderhoud met generaal Smuts te verkry, maar hoe hulle ook al na hom gesoek het, hulle kon hom nie opspoor nie.  Ook luitenant Esselen kon nie daarin slaag om hom persoonlik te spreek nie, maar het uiteindelik om 10 uur die aand met hom telefonies kontak gemaak.  Generaal Smuts het toe aan hom gesê dat hy die versoekskrifte die volgende môre (Sondag) om 10 uur kon oorhandig.  Toe sou dit egter van geen nut meer wees nie.

Ek was daardie Saterdagaand in my sel aan die slaap, toe 'n beampte om 9 uur my kom wakker maak het. Hy het gesê:  "Joseph Fourie, you are to be shot tomorrow morning at daybreak."  Die doodvonnis is dus in my afwesigheid oor my uitgespreek en bekragtig en generaal Smuts, Minister van Verdediging, het gesorg dat die versoekskrifte wat vir my gepleit het, hom eers na my dood bereik.  Sou dit nie in elk geval maar tevergeefse moeite gewees het nie?

Ek het toe gevra dat ds Neethling van Eloffsdal na my toe moet kom.  'n Dokter Davis het opgedaag en aangebied om aan my 'n slaapmiddel te gee, wat ek geweier het, want ek wou graag die volgende ure in voorbereiding op my dood deurbring..

Toe ds Neethling opdaag, het ek gevra dat ds Bosman ook asseblief moet kom.  Ek het hom gevra om my ouers van my doodvonnis in kennis te gaan stel en die nag saam met hulle in gebed deur te bring.  My versoek dat my broer wat in die sel langsaan toegesluit was, by my toegelaat moes word, is toegestaan.  Ek was dankbaar om meer as 'n halfuur lank van hom afskeid te kon meem.

Om 12 uur die nag is ek per motor na die plaaslike gevangenis oorgeplaas.  Ds Neethling het my vergesel.  By my aankoms het die sipier op my versoek my van 'n tafel en papier voorsien, sodat ek deur die verdere loop van die nag, wanneer ek en ds Neethling nie in gebed verkeer het nie, 'n paar afskeidsbriewe kon skryf.  Die onverwagte mededeling dat ek tot die dood veroordeel is, was vir my 'n groot skok, maar ek het in gebed tot berusting gekom en uiteindelik die Here gedank dat Hy my waardig genoeg ag om vir Hom en ons vaderland te sterf.

Gedurende die nag het ek aan een van die amptenare in Engels gesê:  "Nou moet ek sterf omdat ek getrou gebly het aan die dinge waarvoor ek gebore is en waarvoor ek geveg het.  Daar word nie genade aan my betoon nie, maar ek was die seun wat met die witvlag gestuur is om dr Jameson se oorgawe te gaan aanvaar, en nou is hy Sir Starr-Jameson, terwyl ek doodgeskiet word."

Ek het by die tafel gesit en begin skryf.  Een van my briewe het ek aan my talryke Afrikanervriende gerig en gesê dat teen die tyd dat hulle hierdie skrywe lees, is ek reeds by my hemelse Vader.  Ek vertrek om vyfuur hiervandaan op my reis na die ewigheid, saam met die getroue Leidsman en Vriend, Jesus.  Ek het almal bedank vir die vryheidsboom wat geplant is en met my bloed benat word.  Dit sal 'n groot boom word wat heerlike vrugte dra.  Wees getrou aan u volk, u tradisies, aan u godsdiens en aan u God.  Die Here sal u lei en die pad aanwys waarheen u moet gaan.  Skryf op my grafsteen: VIR GOD EN VADERLAND.  Ek is nog jonk en die lewe is nog soet, maar ek dank God dat Hy my losgemaak het.  Ek het nog heelwat meer aan hulle geskryf en afgesluit met die bede dat God met ons almal sal wees totdat ons mekaar weer sal ontmoet.

In 'n Bybel wat ek nog by my gehad het, het ek geskryf:  "20 Desember 1914  -  Joseph Johannes Fourie, doodgemaak omdat hy vir God en vaderland gestry het.  Dierbare vrou, moeder, vader, broers en susters, laat dit vir julle tot troos wees, die Here roep my.  Die tyd wat Hy aan my op hierdie aarde gegee het, is verby.  Moenie oor my treur nie.  Ek sterf vir 'n edel saak. Vertrou op die Here.  Hy sal u troos en uitkoms skenk.  Hulle wat op God vertrou, het seker nie op sand gebou nie.  My geliefde familie, soek u troos in die Here.  Hy is genadig en barmhartig."

Ek het die behoefte gehad om nog veel meer wat op my hart gelê het vir laas met my familie te deel en verder geskryf:  "Pretoria Gevangenis, Kwart oor drie van 20 Desember 1914.  Dierbare ouers!  Dierbare vrou!  God sal vrede in u harte gee.  Hy sal u in u beproewinge troos.  Ek gaan van u weg.  Die Here is my Leidsman deur die donker dal van die dood.  Ag!  Moenie treur nie.  Lees Psalm 121 as troos vir u almal.  God is goed en magtig.  Die Here sal u geloof versterk.  Ag geliefdes, ek voel so bekommerd oor Hannes in hierdie donker dae. Bid vir hom!  Dra my groete oor aan al die getroue familie.  Sê vir hulle God is my Leidsman.  My doel was heilig.  As ek iets op hierdie aarde gedoen het wat nie goed is nie, sal God my vergewe.  Hy  het my hand gevat.  Hy lei my na stille waters, Psalm 23.  Dierbare Susie, vertrou op die Here.  Hy sal jou troos.  My dierbare eggenote, dink altyd aan my as jou Jopie van ouds. Vergeef maar al die ou swakheidjies en werp jou lot op die Here.  Hy kan help, Hy alleen.  Dit is nou halfvier en teen dagbreek vertrek ek hiervandaan.   Daar is dus nog een uur oor.  Ag!  Ds Neethling se teenwoordigheid is vir my so'n groot bemoediging.  My dierbare vrou, gaan woon by Pa en Ma.  Vertroos hulle, wees vir hulle 'n dogter, help hulle op hul oudag!  Mag God met jou wees tot ons mekaar weer ontmoet.  Groete, met liefde van Jopie Fourie."

Ek het nog 'n ou dagboekie by my gehad waarin daar nog skryfplek was en daarin het ek onder andere geskryf:  "Dierbare vroutjie, Jopie gaan voor jou na onse Vader.  Daar is baie wonings. Wees getroos dat God my siel gered het van die hel.  ----Here Jesus, gee aan my dierbare vrou die nodige krag om hierdie beproewing te kan dra.  Vertroos haar en gee aan haar die nodige versekering dat ons mekaar in die hemel weer sal ontmoet.----  Aan my dierbare vrou, Susanna Fourie, van haar ou Jopie.  Vertrou op die Here van ganser harte!  Kus die kastydende hand van die Here, Amen.  God sal met ons wees tot ons mekaar weer sien, geliefde!  Troos jou daaraan dat Jesus my Leidsman is.  Hy gaan my vandag vergesel na sy Vaderhuis.  Daar is nou net tien manne hier verby om my af te sien na Gods huis.  Dag geliefde, ek gaan huis toe. Jopie.  My laaste wil is dat my dierbare eggenote alles erf wat ek besit.  Vader en Moeder, sien u dogter!  Groete van Jopie."

Ek het ook nog 'n brief geskryf aan my advokaat en prokureur en hulle bedank vir hulle pogings om my lewe te probeer red, alhoewel dit misluk het.  En dan het ek ook vir generaal Louis Botha geskrywe en vir hom gesê ek hoop hy voel nou lekker oor al die smarte wat hy my familie aangedoen het.  Hy was as Afrikaner my ideaal, maar ek is in hom teleurgestel.

Gedurende al hierdie nagtelike ure was ds Neethling by my in die sel.  Om kwart oor vyf het daar bevele van buite af opgeklink.  Ons het albei besef dat die uur van teregstelling aangebreek het.  Ek het opgestaan en gebid;  "O God, gee my die krag, gee my die moed.  Dit is alles wel met my, help my nou tot die einde toe."  Toe kom die balju binne en vra of ek nog enige beskikking wil maak.  Ek het versoek dat my lyk aan my familie gegee moes word, sodat hulle my behoorlik kan begrawe.

Ek het geweier om van dr Clarke enige medisyne te ontvang en te gebruik.  Ek het vir ds Neethling gesê hulle moet my tog nie in my gesig skiet nie.  Ek het 'n groot Afrikanerhart, met genoeg plek om in te skiet.

Toe ons die sel moes verlaat, sê ds Neethling dat hy daar sou bly om vir my te bid, maar ek het vir hom gesê dat dit vir my baie sou beteken as hy saam met my gaan.  Ons het by die deur uitgestap en toe ons by die agterkant van die tronk aankom waar die vonnis voltrek sou word, het ek hom 'n afskeidshanddruk gegee en gesê:  "Tot weersiens."  Daarna het ek op die stoel gaan sit, die doek om my oë gebind en met 'n vaste stem begin sing:  "Als wy de doodsvallei betreen, laat ons elk aardse vriend alleen."  Toe my laaste woorde wegsterf, het ek die skote hoor val.

Die Verdedigingsmag het dieselfde dag nog 'n verklaring aan die pers uitgereik waarin vertel is van Jopie-hulle se gevangeneming, verhoor en vonnisse, en dat sy broer s'n verander is na 5 jaar gevangenisstraf en dat Jopie se vonnis die môre om vyfuur in die gevangenis te Pretoria voltrek is deur 'n peleton van 12 man wat die teregstelling uitgevoer het; en dat die dood oombliklik was en dat die oorlede offisier sy dood met kalmte en sielskrag tegemoet gegaan het.

Vir die regering was die sogenaamde "Jopie Fourie-episode" hiermee finaal afgehandel, maar sou sy teregstelling en dood nie die vonk word wat sou bydra om die vuur van Afrikanernasionalisme weer aan die brand te steek en te laat opvlam in die hart van die oorlogsgeteisterde en verslane Boerevolk, om sodoende die sluimerende vryheidsideaal op die horison van sy volksbewussyn weer helder te laat skyn nie?  Dan sou sy dood vir God en sy vaderland nie tevergeefs gewees het nie.