Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis
HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS
Stephanus Johannes Paulus Kruger, die ou President van Transvaal, was ‘n vreeslose mens – selfs toe sy naam nog maar Paultjie was. Saam met sy ouers het hy die Groot Trek meegemaak, en die gebeurtenis wat hier beskryf word, het in die jaar 1839 in die Noord-Vrystaat plaasgevind. Ses man ry deur die veld – plus die seun, maar Paultjie Kruger word nog nie bygereken nie, al het hy ook sy geweer saamgebring. Hulle agtervolg ‘n leeu, ‘n uitgegroeide mannetjie volgens sy spore, wat besig is om snags onder die osse te plunder. Leeujag is ‘n mans se werk, en Paultjie is nog skaars veertien.
Die mans verdeel in twee groepe van drie elk, en Paultjie bly by sy pa-hulle.
Die leeu het ‘n goeie voorsprong, en hulle is al drie uur in die saal voordat die groot kat tussen die bossies beweeg. Dadelik spring die drie mans van hulle perde af, draai die diere se koppe weg van die leeu sodat hulle nie dalk skrik en op loop gaan nie, en bind die teuels aan mekaar vas. Paultjie maak ook so.
Vader Kruger is die aanvoerder, en hy deel bevele uit: “Jy links om,” en “Jy regs!
Saam beweeg die drie mans behoedsaam weg. Net vir Paultjie is daar nie werk nie. Geweer oor die knieë gaan hy by die perde sit en hou die spulletjie dop.
Die leeu storm. Ai, dis mooi om hom so liggies oor die aarde te sien beweeg met sy liggaam los en vry, en sy mane woes in die wind. Dis eintlik jammer dat hy die dood in hom dra, en jy sy lewe im jou hande moet hou.
Maar skielik is daar nie meer kans vir sit en kyk nie. Die leeu het onverwags weggeswaai voordat een van die mans nog ‘n skoot kon inkry, en nou kom hy reg op die perde af.
Paultjie spring orent en lê aan. Die leeu wip in die lug. ‘n Oomblik hang die geel vlek hoog en dreigend oor hom. Toe ruk die koeël aan die dier se lyf. In ‘n beteuterde hopie stort hy voor die seun se voete neer, die magtige spiere nou willoos slap. Vader Kruger-hulle kom nader gehardloop, maar dis nie meer nodig nie.
“Mooi seun!” sê die vader.
“Dis jou eerste leeu.”
“Ja pa. Dankie pa,” sê Paultjie.
Die ander drie mans het die skoot gehoor, en hulle kom ook kyk.
“Mastag, maar dis ‘n knewel!” sê oom Hugo, klim van sy perd af en buk om die dier se venynige slagtande te meet.
Paultjie bedoel niks kwaads daarby nie, en hy wil seker maar net wys dat hy g’n leeu bang nie. Dis waarhom hy die dier ewe ongeërg in die pens skop.
Dit moes hy nie gedoen het nie. So ‘n dooie dier het nog lug in sy longe, en die skop dwing dit oor sy stembande uit.
Die leeu gee ‘n laaste brul.
Daar waar hy reg voor die leeu se bek op sy hurke sit, los oom Hugo die tandemetery skieliker as wat hy daarmee begin het, en hy slaan reg agteroor.
“Jou uilskuiken!” skree hy woedend toe hy weer orent kom, en hy wil Paultjie net kort en klein vat.
Laggend keer die ander mans hom.
“Die kind het dit nie met opset gedoen nie,” sê sy vader.
“Ja”, beaam die ander mans.
Paultjie mag nie openlik lag nie, en daarom gaan hy maar liewers die perde losmaak.
Ja, daar is meer as een rede waarom sy eerste leeu onvergeetlik gaan bly.
Uit Die Afrikaanse Heldeboek – Pieter W Grobbelaar