DIE HELDIN VAN GRAHAMSTAD

Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis

HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS

Daar is soveel ware heldeverhale in ons volksgeskiedenis wat ons kan inspireer om self heldedade te verrig in dié tyd waarin ons leef dat ons gerus ‘n paar daarvan kan gaan opdiep. Sommige soos Die Heldin van Grahamstad mag minder bekend wees as dié van Dirkie Uys of Racheltjie de Beer (waarby ons mettertyd kom), dalk omdat hierdie gebeure in Britse geledere alhoewel op ons eie bodem afspeel:

Elizabeth Salt wat in die geskiedenis as die Heldin van Grahamstad bekend staan, was ‘n Franse nooi Covare van geboorte, en sy het later met sersant Salt, ‘n Britse soldaat, in die huwelik getree. Sy was ongeveer vier en dertig jaar oud toe sy haar kordaatstuk op 22 April 1819 tydens die Slag van Grahamstad verrig het.

Tienduisend Xhosa-krygers stroom die heuwels af. Die veerpluime dans op hulle koppe; om hul arms en bene dans die bande ossterte saam. Hulle ratel die assegaaie en slaan op die skildvelle, en hulle skree en skree.

Onder wag die dun lyn verdedigers: driehonderd Britse soldate en dertig burgerlikes, mans en seuns. En daar is die vroue en kinders.

Dis nege-uur in die môre. Die Xhosas kom al nader – honderd tree, vyftig, veertig, vyf-en-dertig. Toe kraak die eerste sarsie, en die voorste ry aanvallers kantel. Twee klein kanonne saai die dood nog verder. Die Xhosas huiwer en koes agter hul skildvelle weg. Weer maai die dood.

So slinger die geveg die hele oggend heen en terug. Die Britte het twee punte om te verdedig: die dorpie self, en ook die Oostelike Kaserne, ‘n myl weg: die Xhosas storm bankvas. Veral die manne van die Kasterne loop swaar deur: net sestig sterk. Hulle laai en skiet, laat en skiet sonder ophou.

Maar wat is nou aan die gang? Deur die gevegsrumoer kom die mense in die dorp skielik agter dat die skote by die kasterne al yler val. En daar is g’n teken dat die Xhosas wyk nie.

“Hulle kruit is op!”

Dis al verklaring. Die mense kyk mekaar verslae aan. Die Kaserne is heeltemal afgesny. Sonder kruit is hulle verlore.

“Ek sal gaan.” Dis ‘n jong vrou van kort in die dertig wat so praat. Elizabeth Salt is haar naam, die Franse vrou van ‘n Britse sersant.

“Maar jy kan dit mos nooit doen nie! Jy soek jou dood!” roep die mense onthuts uit.

Elizabeth Salt het al ‘n vaatjie kruit op haar skouers getel. “Die Xhosas is krygsmanne,” sê sy kalm. “Hulle sal ‘n weerlose vrou nie molesteer nie.”

“Dis wat jý dink!” maak die mense beswaar.

Maar Elizabeth stap – En hulle volg haar met die oë, uit die kring van vriend en makker, uit die beskutting van kanon en geweer, uit tussen die assegaaie in.

Die swart krygers kyk haar verbaas aan. Hulle weet nie wat sy wil doen nie; hulle weet nie waarheen sy gaan nie. Maar dis ‘n vrou. Nog nooit het hulle ‘n vrou koelbloedig doodgemaak nie. In die hitte van die geveg, ja; in die oorwinningsroes sal hulle platvee wat voorkom. Maar nie só nie.

En Elizabeth stap, rustig sonder om haar te haas. Elizabeth stap die myl tussen die Xhosas deur totdat sy haar kosbare vrag voor die luitenant in bevel by die Oostelike Kaserne neersit.

“Dankie mevrou,” sê hy. Gretig gryp elke verdediger sy porsie kruit. Die Xhosas storm met hernieude geweld. Hulle dring tot in die kaserneplein deur. Met swaar verliese word hulle teruggeslaan. Nou kan hulle nie meer nie, en hulle draai om.

Die Slag van Grahamstad is gewen. En die Oostelike Kaserne is gered – danksy Elizabeth.

Hulle noem haar die Heldin van Grahamstad.