Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis
HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS
Hansie Smal was een van ons minder bekende maar merkwaardigste kinderhelde – avontuurlustig, doodsveragtend voor gevaar, maar ook moedig in die lewe van elke dag, en trou tot die dood toe. Hier is 'n beskrywing van een van sy talle heldedade:
DIE LUIPERD
Om die hoek van die doringtakkraal kom ‘n seuntjie. Hy het ‘n leerbroek aan met driekwartpype en ‘n leerbaadjie, en ‘n slapranthoed flapper om sy ore. Hy is skraal gebou en tingerig, niemand sal glo dat hy al tien jaar oud is nie. Maar tog lyk hy bruingebrand en gesond, en sy hele gesig lag. Dit kan ook nie anders nie want hy sit op die blaarkant van ‘n kriebostak met ‘n riem aan die ander punt vas, en die riem weer aan ‘n tuig, en die tuig om die lyf van ‘n yslike boerbok-kapater wat ooplê dat sy baardjie stroom in die wind. Dis Hansie Smal op sy “slee” – soos hy dit noem.
Die kapater kan nie versuim nie, want die voorslag van Hansie se swepie byt geniepsig. Die dier kan ook nie gaan waar hy wil nie, want in sy linkerhand hou Hansie ‘n riem waarmee hy hom stuur.
So glip hulle verby die takkraal waar die vee saans ingekeer moet word en die vure die hele nag deur brand om hulle teen leeu en luiperd te beskerm. En tog kom die rowers telkens maar weer met hul buit weg. Daar is veral één luiperd wat die afgelope tyd so astrant raak dat niemand meer met hom raad weet nie.
Hulle skop stofwolke langs die wa en tente uit, en agter die kookskerm van dekgras en pale waar sy moeder juis besig skree sy iets wat die seuntjie gelukkig nie kan hoor nie want anders sou hy moes gehoorsaam.
Al doller en doller gaan dit af rivier toe. Die tak het nie meer veel blare aan nie en Hansie voel hoe sy broek se sitvlak al plek-plek grondvat. Net betyds hou hy in want sy klere is wel sterk maar as daar skade aan kom, sal verduidelik nie help nie; sy ma is ‘n streng vrou.
Hansie maak die bok met ‘n lang riem aan ‘n krieboomstam vas sodat hy nie wegloop nie, maar darem kan wei. Toe swaai hy die boog van sy skouer af, trek ‘n pyl uit die netjiese koker en sluip behoedsaam soos ‘n geoefende jagter weg om ‘n tarentaal te gaan soek. Tog wil die booghout vandag nie so gemaklik in sy linkerpalm pas nie, en die vingers van sy regterhand vroetel half ongeduldig oor die veerstert van die pyl. Dit was altyd lekker om so op sy eie manier te jag maar nou het sy pa hom gewys hoe om met ‘n geweer te skiet. Die geweer was te swaar vir sy arms en hy moes die kolf sommer op sy skouer laat rus.
Sy oog het nou die korrel en die visier op die boog maklik gekry en toe hy aftrek, tuimel die voël.
Droomverlore haal Hansie sy regterskouer op. Dis nog altyd seer van die geweer se skop – maar dit was die moeitewerd.
Die Smals is Voortrekkers. Hul waens het ver uit die ou Kolonie deur die Grootrivier geloop, en nou staan die mense klompies-klompies hier op die walle van die Vetrivier, terwyl die voormanne eers die land dieper in verken om die koers te bepaal.
Hansie jaag ‘n troppie tarentale op, maar hulle is te rats vir hom en vlieg skellend weg. “Ek moet die honde gaan haal dat hulle die spul uit die bome kan dryf. En dan – ‘n geweer,” dink Hansie. Leëhande ry hy terug na die staanplek toe.
Hansie se pa kom net by die tent uit. “Ons stap ‘n bietjie oor na oom Tobias-hulle toe,” sê hy vir die seun. “Daar is siekte, en jou ma wil gaan kyk. Pas nou vir Boetman en Sussie mooi op. Ou-Speelman sal darem ook ‘n ogie hou.” Ou-Speelman is ‘n bruinman wat die lang trek uit die Kolonie meegemaak het.
“Julle kinders gedra vir julle, gehoor?” sê sy ma, tjalie oor die skouers toe sy agter Abraham verskyn. “Ek wil niks moeilikheid hê nie.”
“Ja, Pa. Nee, Ma,” sê Hansie.
‘n Rukkie gaan dit goed en die kleintjies speel tevrede, maar Hansie het nie veel erg aan dolosse en poppe nie. “Kom ons vat die honde af rivier toe,” stel hy voor.
Nie te lank nie of hulle het ‘n groot trop tarentale in ‘n hoë boom vasgekeer, maar Hansie se pyltjies kan nie daar bykom nie.
“Wag julle hier,” sê hy vir sy boetie en sussie. “Ek gaan net gou die geweer haal.”
“Ma slaan jou dood!” sê Sussie.
“En pa,” voeg Boetman by.
Maar Hansie is al klaar weg.
Dit kos fyn oorleg om die skietgoed uit die watent te kry sonder dat Ou-Speelman iets agterkom, maar Hansie het vir alles ‘n plan. Kort voor lank drafstap hy in die paadjie af rivier toe met die kruithoring oor sy skouer, ‘n sak vol lopers, en die swaar ou voorlaaier in altwee hande vasgeklem.
Sy boetie en sussie hardloop Hansie tegemoet, “Die tarentale het gevlieg,” sê Boetman. “Maar die honde blaf nou daar anderkant.”
“Kom,” sê Hansie, en die twee tou agterna.
‘n Entjie van die boom af laai Hansie eers die geweer. Dan sluip hy behoedsaam nader en loer in die takke op. Nêrens is daar ‘n tarentaal in sig nie, en teleurgesteld wil hy net sy geweer laat sak toe hy dit sien.
Tussen die blare deur gloei twee oë groen. ‘n Bek vol glimwit tande snou. Die kolletjieslyf versmelt met die lig en skaduwee van die blaredak, maar algaande kan Hansie die buitelyne tog onderskei. Dis ‘n tamaai luiperd, ‘n knewel. Dit moet hy wees wat al die skade in die veekrale aanrig.
Die boetie en sussie kom agter dat daar iets verkeerd is, en hulle trap terug. Die honde blaf met nuwe woede noudat hulp opgedaag het.
Hansie oorweeg en besluit. Hy weet dat die luiperd dodelik gevaarlik sal wees as hy misskiet of hom net kwes. Daarvoor het hy al genoeg jagverhale om die kampvuur gehoor, maar hy gaan hierdie plunderaar ook nie sommer so laat wegkom nie.
Hansie lê versigtig aan soos sy pa hom gewys het, en hy vuur.
Toe vul die luiperd se stem die hele dag met ‘n briesende geluid wat oorgaan in ‘n hoë, dun gejammer.
In hul vrees klou die twee kleintjies aan mekaar vas en begin huil. ‘n Hond spring tjankend weg, en ‘n ander blaf-blaf onseker.
Dan word die geluid stil. Met ‘n gedruis van blare en ‘n dowwe slag tuimel die groot lyf voor Hansie se voete op die grond neer.
Dit was ‘n doodskoot.
Hansie het later amper deurgeloop omdat hy dit durf waag het om so iets aan te vang. Maar die bure wat kom kyk het, kon hom darem losgepleit kry. Vir so ‘n kordaatstuk verdien ‘n mens mos nie ‘n pak slae nie.
Uit Die Afrikaanse Heldeboek – Pieter W Grobbelaar